Deo volente
Deo volente
Soms, as ons oor ons planne vir die toekoms praat, voeg ons die woorde DV (Deo volente), “as die Here wil”, daarby. Soms word dit sagter uitgedruk, soos in my grootwordwêreld in die Noord-Karoo, met woorde soos: “as ons gespaar bly” of “as dit goed gaan”.
Hierdie uitdrukking(s) wil te kenne gee dat daar ’n voorwaarde en voorbehoud aan ons lewens voorafgaan. Soms hoor en lees ’n mens daarvan dat die een vir die ander vra: “Wat gaan jy met jou lewe maak?”, só asof elke mens volledig oor sy eie lewe beskik. Maar dis ’n groot misvatting om só te dink. Vir seker, ons persoonlike verantwoordelikheid as mense word vir geen oomblik deur die Here opgehef nie (Ps 119:109), maar ten diepste rus ons lewe altyd in groter hande (Ps 31:16) – en daarom is dit belangrik dat ons altyd die DV by al ons beplannings byvoeg of ten minste by dink.
Hierdie gedagte word veral in die brief van Jakobus, die broer van Jesus, sterk beklemtoon (4:13-17). Vir diegene – en hy dink hier eerstens aan handelsreisigers – wat sê dat hulle môre na hierdie of daardie stad sal gaan en vir ’n jaar daar sake doen en geld maak, herinner Jakobus daaraan dat hulle nie eers weet hoe hulle lewe môre sal wees nie (vgl. Spr 27:1); hulle moet eerder sê: “As die Here wil, en ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Wie die Here buite rekening laat, maak hom/haar skuldig aan misplaaste selfversekerdheid en grootpratery.
Jakobus herinner mense dus aan hulle eie verganklikheid en afhanklikheid van die Here. Wie meen dat hy/sy volledig oor sy eie lewe beskik, probeer self God speel en ondergrawe sodoende die fondamente waarop sy/haar lewe rus. Mens dink hier onwillekeurig aan die selfversekerdheid van die bouers van die Titanic, die “onsinkbare skip”, en watter skokgolwe dit nie deur die hele wêreld destyds gestuur het toe hierdie weelderige lynboot op 15 April 1912 in die golwe van die Noord-Atlantiese oseaan verdwyn het nie.
Ons moet dus altyd in ons lewe rekening hou met die wil van God. Die groot vraag is egter: Wat wil God? En hoe ken ons die wil van God?
Drieërlei onderskeiding⤒🔗
Hieroor is deur talle teoloë op diepsinnige wyse geskryf. Persoonlik help dit my om hier van drie onderskeidings gebruik te maak, maar onmiddellik daarby op te merk dat hierdie drie aspekte onskeibaar is en altyd ten nouste met mekaar in verband staan.
Daar is eerstens die groot raadsplan van God met sy skepping en met mense. Hierdie groot plan van God kan ons nie in menslike formules vasvang en in alle opsigte deursigtig maak nie (vgl. Gen 50:20; Deut 29:29; 2 Kor 12:8-9). Dis vir ons as mense ’n voldoende gerusstelling om te weet dat alles in die hande van God is, dat niks toevallig gebeur nie, dat alles ten goede meewerk en dat God met sy skepping op weg is na die groot voleinding (NGB 13, HK 10).
Tweedens is daar die heilswil van God. Dit is sy bedoeling dat die evangelie van die koninkryk in die hele wêreld verkondig sal word, dat mense hierdie evangelie omhels en ’n nuwe lewe ontvang (o.a. 1 Tim 2:4; 2 Pet 3:9).
Derdens is daar sy wetswil, sy wil dat sy kinders en sy kerk volgens sy wet van liefde sal leef; dat hulle God bo alles en met alles en hulle naaste soos hulleself sal liefhê. Dit wil sê, die enige, ware God sal eer, op die regte wyse sal dien, sy Naam reg sal gebruik, ’n feesdag sal hou; kinders hulle ouers sal eer, mense mekaar nie sal vermoor nie, mans en vroue mekaar nie in die huwelik sal verkul nie, mense nie sal steel nie, die waarheid sal praat en nie slegte begeertes sal hê nie.
Om die wil van God in ons daaglikse lewe te ken, is nie ’n vanselfsprekende saak nie (Ef 5:17). Die Heilige Gees moet ons daarin help (Kol 1:9). Ons weet ten minste dat ons heilig (d.w.s. anders as die wêreld) moet lewe en ons van onsedelikheid moet weerhou (1 Tess 4:3; 1 Joh 2:17). Indien God nie ons denke verander nie, sal ons nooit kan onderskei wat sy wil is en wat vir Hom aanneemlik en volmaak is nie (Rom 12:2).
Hierdie laasgenoemde aspek bring ons op die terrein van die etiek en die Christelike lewe, met al sy nuwe uitdagings en probleemstellings. Waarop ons egter hier aan die begin van die nuwe jaar die aandag wil vestig, is veral op die eerste aspek van God se groot plan met sy skepping, die wêreld, ons land en ons as mense. Want ook in hierdie geval gaan dit vir ons om die wil van God.
Veral in tye van nood en krisis voel ons om saam met Jesus te bid – al besef ons dat sy gebed absoluut uniek is: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matt 26:29). “Soos U wil”, dit was vir Jesus die bepalende faktor.
Hiermee bly Hy dus getrou aan die gebed wat Hy ook vir sy dissipels geleer het: “Laat U wil geskied.” Nie ons eie wil nie, maar die wil van God moet die deurslag gee in ons lewe en sterwe. So was dit by Jesus en so moet dit ook by ons as sy navolgers wees. Al lei hierdie wil ons ook deur donker dieptes na ’n nuwe dag.
Deo volente. Mag ons almal dié provisio van Jakobus hierdie nuwe jaar met ons saamdra, mag ons nooit daarvan vergeet nie en dit by elke nuwe stap, elke nuwe poging, elke nuwe projek en elke nuwe reis in ons harte uitspreek.
As die Here wil. Mag dit ons motto vir 2008 wees!