Wat maak die kerk kragteloos?
Wat maak die kerk kragteloos?
Ons Here Jesus Christus het gesê dat ons die sout van die aarde en die lig van die wêreld moet wees (Matt. 5:13,14) . Daarmee het Hy ons geleer dat die kerk 'n roeping het om koers aan 'n rigtinglose wêreld te gee en smaak aan 'n samelewing wat in uitsigloosheid verval het.
In dieselfde asem het Hy egter ook gewaarsku dat die sout laf kan word — kan verslaan. Dan, sê Hy, deug dit vir niks meer nie (Matt. 5:13). Wanneer die kerk self nie meer smaak het nie, kan dit nie aan die samelewing smaak gee nie, kan dit nie sy roeping in die wêreld vervul nie. Dan het die kerk, om die moderne cliché te gebruik, "irrelevant" geword.
Maar wat maak die kerk smaakloos? Wat laat die kerk sy krag verloor? Daar is verskeie oorsake wat 'n mens kan aanwys.
Wie nie sterk standpunt inneem nie⤒🔗
Om sout van die wêreld te kan wees, moet die kerk bereid wees om sterk beginselstandpunt in te neem. Dit op sigself is miskien moeiliker as wat dit klink. Want in die moderne wêreld met sy "New Age"-mentaliteit is mense wat sterk standpunt inneem, ongewens. Mense moet hulle stem laat hoor, ja, maar dit moet altyd ‘n paaiende en strelende stem wees. So nie, is jy 'n "skei-breker" of "pretbederwer."
Wanneer die kerk onder hierdie druk sou begin swig en maar net 'n paaiende en strelende stem laat hoor, het die sout laf geword. Kenmerkend van so 'n kerk is dat dit nie meer die moed van die oortuiging het om sterk standpunt in te neem nie - nie na binne nie en ook nie na buite nie.
Na binne die weg van minste weerstand←⤒🔗
Na binne word maar die weg van die minste weerstand gevolg:
- die tug word met die slap hande van Eli hanteer;
- om vredeswil word dit maar geduld as daar wanklanke van die preekstoel af sou begin opklink: vreemde verskynsels in die erediens word vredesonthalwe maar aanvaar;
- oor die algemeen word onordelike optrede nie teengestaan nie "want ek wil tog nie na 'n moeilikheidmaker lyk nie."
Al wat die kerk dan oor het, is 'n kerklike organisasie wat 'n rimpellose oppervlakte na buite vertoon. Oor die beginsel van kerkwees is daar weinig kommer oor.
Na buite die wêreld napraat←⤒🔗
Die kerk wat nie meer met die moed van die oortuiging na binne kan optree nie, kan dit ook nie na buite doen nie. Na buite wil dit ten alle koste net nie konfronterend optree nie. Daarom sal dit redes begin soek: waarom dobbelary nie meer so erg is nie;
- waarom pornografiese tydskrifte en rolprente maar toegelaat kan word;
- waarom Sondagsport geduld kan word;
- waarom kommunisme nie meer 'n bedreiging is nie;
- waarom ander godsdienste nie meer as vals en heidens beskou moet word nie . . .
Wanneer die kerk so begin optree, het dit sy eie stem ingeruil op dié van die wêreld. Dan is dit die hande van Esau, maar die stem is die stem van Jakob. So 'n kerk oefen nie meer sy profetiese taak in die wêreld uit nie. In plaas daarvan om Christus na te praat, het die kerk 'n blote naprater van die wêreld geword.
←⤒🔗
Soek eers die koninkryk van God←⤒🔗
As die kerk sou hoop om op hierdie manier relevant in die wêreld te bly, wag daar ontnugtering. Op die ou einde het die wêreld ook maar min erg aan 'n kerk wat nie die moed van die oortuiging het om sy eie beginsels te handhaaf nie. Dan word die sout wat laf geword het, onder die mense se voete vertrap.
Buitendien is dit nie die taak van die kerk om eie eer en aansien in die wêreld te soek nie. Die Here se opdrag is ondubbelsinnig dat ons só in die wêreld moet optree dat die wêreld niemand anders nie as ons Vader wat in die hemel is, sal verheerlik (Matt. 5:16).
Biddend werk←⤒🔗
Laat ons daarom bid – en bly bid – dat God aan ons in ons swakheid die genade en die krag sal gee om maar net 'n klein bietjie hiertoe by te dra: dat die wêreld die eer aan niks of niemand anders as aan Hom sal gee nie. Laat ons bid – en bly bid – dat Hy aan ons die ywer en die volharding sal gee om sy evangelie te bly verkondig, onverswak, onvervals. As ons die krag en die genade daartoe ontvang, dan is ons uit Bybelse perspektief nooit irrelevant in die wêreld nie, want ons is soos goeie sout wat aan die wêreld smaak gee.