Ware berou begin by die liefde van God
Ware berou begin by die liefde van God
“My seun, God is nie kwaad vir jou nie, maar jy is kwaad vir God”. Dit is heel treffende woorde van ‘n anonieme broeder aan Martin Luther in die Augustynse klooster in Wittenberg. Luther sou later in sy lewe met groot dankbaarheid daaraan terugdink. Van selfs nog groter hulp was een van die professore aan die jong Universiteit van Wittenberg, dr. Johannes von Staupitz. Aan sy eie studente vertel Luther later dat as Staupitz hom nie gehelp het nie, sou hy weggeruk wees na die verderf en daar gelaat wees. Die rede vir hierdie dankbaarheid van Luther teenoor Staupitz, is dat dié hom geleer het wat ware berou en bekering is.
Staupitz het die sekerheid van die vergifnis van sonde vir die sondaar nie gefundeer in enersyds die gesag van die kerk of andersyds die sondaar se daad van berou nie. Hy sien agter die berou van die sondaar en die kerk wat die vryspraak van sonde kan verkondig, die genade van die Here wat alles voorafgaan. God het sy genade aan ‘n gevalle mensdom reeds bewys in die wonde van Christus. Die probleem, soos Staupitz dit verwoord, is nie hoe om sondaars voor God aanvaarbaar te maak nie. Die eintlike probleem is nou om God “aanneemlik” vir sondaars te maak. Dit is nie iets wat ‘n mens kan doen nie – nie deur eie selfondersoek, heldetoewyding aan goeie werke, gebed of selfgemaakte “berou” nie. Net God kan Homself “aanneemlik” maak vir sondaars.
Die agtergrond vir hierdie manier waarop die ware berou verwoord word, is die praktyk van die bieg en berou in die Middeleeue. Vir baie kerklidmate het daar talle vrese geleef rondom die bieg. Luther was self ook die slagoffer daarvan. Hy het tye van verskriklike vrees en geestelike beproewing deurgegaan. Na hierdie tye verwys hy self as tye van “aanvegting” (Anfechtungen). Hy het die vrees gehad dat God finaal die rug op hom gekeer het. Is sy berou oor sy sondes, bekering en gebede nie deur die Here verwerp nie? Hierdie vrees kom veral voort uit die tradisie wat alle aandag gefokus het op die gemoedstoestand van die persoon wat sy sondes kom bieg het ; sy opregtheid, die volledigheid van sy belydenis, en die besef van die grootheid van sy sondes was onder die vergrootglas geplaas. Al hierdie dinge was voorgehou as voorwaardes waaraan voldoen moes word om toegang te kry tot die genade van die Here. In een van die handleidings oor ware berou, word die volgende selfs as voorwaardes genoem vir enige hoop op vergifnis van sonde : “Ware christene moet hulle self toewy aan werke van genoegdoening deur uitroepe om hulp, smekings, gee van aalmoese, marteling van die liggaam, ens.”
Hoe staan dit nie in skrille kontras tot die oproepe van die profete in die Skrif nie: “As julle jul bekeer, bekeer jul tot My”. Daaroor gaan dit tog in ware berou en bekering – terugkeer tot die Here wat Homself aan ons kom gee in sy Seun wat versoening kom doen het vir sondaars. Oor hierdie terugkeer na ‘n genadige God, skryf Luther aan Staupitz om hom te bedank vir die wyse pastorale adviese wat hy aan Luther gegee het. Staupitz het soos ‘n stem uit die hemel geklink toe hy vir Luther daarop wys dat ware berou en bekering by die liefde van God begin. Waar sondebelydenis voorheen ‘n saak van verskrikking was, word dit nou ‘n geval dat niks soeter in sy ore was as die woord “berou” nie. Die oproep tot bekering word werklik soet soos heuning wanneer daarvan nie gelees word in die biegboeke van die kloosters nie, maar wanneer ons daarvan lees “in die wonde van die soetste Verlosser”.
Hiermee verwerp Luther alle voorbereiding wat ‘n sondaar kan of hoef te maak om Christus te ontmoet. Geen “voorwaarde” vir genade word gestel nie. Ware voorbereiding vir genade is nie die voorbereiding wat sondaars deur hulle berou en belydenis van sonde probeer maak nie. Veel eerder gaan dit oor die voorbereiding wat God maak deur die genadige verkiesing van sondaars, hulle roeping in Christus en die gawes van God. Berou en gebrokenheid is nie die voorwaarde om genade te mag ontvang nie, maar die vrug van God se genade in ons lewens.
Staupitz beklemtoon daarom tereg dat God sy genade gee aan “ware” sondaars. Nie skynheilige sondaars nie. Nie sondaars wat dit in elk geval is nie, maar juis hulle wat hulself as sondaars voor die Here kom stel. Mense wat kom erken dat God regverdig sal wees as Hy hulle nou sou veroordeel. Die probleem met die eie geregtigheid van die sondaar, volgens Luther, is nie dat dit onvoldoende of besmet is nie ; al is dit ook beide! Ons eie geregtigheid is in die lig van die evangelie irrelevant! Vir ons om geregverdig te word is nie geregtigheid van ons eie ‘n voorwaarde nie ; slegs sondes van ons eie is voorwaarde. God se genade kan slegs gegee word vir sondaars wat niks anders het om aan die Here te offer as hul sondes nie. Dit is die goeie nuus van die evangelie – God vra van ons slegs sondes. Sondes waaroor ons ware berou het in die lig van God se liefde vir sondaars in Christus Jesus.
Bekering en berou is daarom geen lang pad waarlangs ons moet stap om aan die einde daarvan vir Christus te ontmoet nie. Bekering is veel eerder ‘n lewenslange pad wat ons moet stap in die lig van die Lam wat sy lig oor ons lewens laat skyn. Niemand kan hom tog in berou tot God wend, wat nie die sekerheid het dat God hom in genade ontvang nie!! Niemand het ooit opregte berou waar hy nie leef uit die werklikheid dat die koninkryk van God naby gekom het in Christus nie. Dit is immers die boodskap van Christus self wanneer Hy sy openbare optrede begin : “Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom”. Waar Christus naby aan sondaars kom, kan ware berou wees.