2 bladsye.

Transformasie

Sixtynse kapel

Dit mag vir baie 'n vraag wees of transformasie in die samelewing wel so noodsaaklik is. In die kerk is dit egter 'n absolute vereiste.

Paulus skrywe oor transformasie in 2 Korinthiërs 3:18: “Ons sal na die beeld van Christus verander (letterlik: getransformeer) word.” Maar dan moet ons eers die beeld van Christus voor ons hou. Hoe lyk hy?

’n Outentieke beeld van Jesus is egter nie beskikbaar nie. Die skrywers van die Nuwe Testament en ook die vroeë Christelike outeurs het geen pogings onderneem om Jesus se uiterlike te beskryf nie. Op grond van Jesaja 52:14 en 53:2b het baie kerkvaders tot die oortuiging gekom dat Jesus nie skoon van gestalte was nie. Hierdie gedagte is later ook in die beeldende kuns tot uitdrukking gebring.

Deur die eeue was daar die behoefte om ’n voorstelling te maak van Jesus as mens. Op fresko’s, ikone, muurskilderinge is Jesus afgebeeld. Beroemd is die voorstelling van Christus in ’n mosaïek van die Aya-Sofia te Istanboel. Op die fresko “Die laaste oordeel” van Michelangelo in die Sixtynse Kapel word Christus as Wêreldregter in die eindoordeel afgebeeld. In die meer as 400 Russiese en Oekraïense Ortodokse Kerke in Kiev is daar derduisende, op hout geskilderde, afbeeldinge van Christus wat as ikone vereer word.

Ons wat in die gereformeerde tradisie staan, het altyd die portretvorming van Jesus ten sterkste teengestaan. Maar wanneer ons nog huisgodsdiens hou en die Aandsang 50 wat slegs vir huislike gebruik by die Skrifberymings gevoeg is, sing, dan sing ons: “O Vader, laat u liefde ons blyk, o Seun, maak ons u beeld gelyk.”

Dan moet ons tog weet hoe lyk Jesus se beeld. Paulus skrywe in Romeine 8:29 dat ons uitverkies is en God ons bestem het om aan die beeld van sy Seun gelykvormig te word. En in 2 Korinthiërs 3:18 spreek die apostel oor ’n verandering, ’n transformasie wat ons moet ondergaan om aan die beeld van Christus gelyk te word. In die Griekse Bybel gebruik Paulus vir “beeld” die woord “eikoon” waarvan “ikoon” afgelei is.

Waar vind ons die beeld van Jesus? In sy boek, Du Bapt me la Plenitude, L’oeuvre du Saint-Esprit en notre temps, gee die bekende John R.W. Stott die antwoord. Hy skrywe dat die portret, die beeld van Jesus in Galásiërs 5:22 te vinde is. Jesus was vol van die Heilige Gees. Hy het die Gees sonder enige beperking van die Vader ontvang (Joh. 3:34). Daarom was die vrug van die Gees ook so duidelik in sy lewe sigbaar. Die vrug is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Ons moet let op die enkelvoud: vrug. Dis soos ’n blom met nege blare. Nege blare wat vassit aan die een stam, die vrug van die Gees.

Stott wys daarop dat daar by die vrug van die Gees drie reekse van drie eienskappe is:

  • Die eerste drie – liefde, vreugde, vrede – het betrekking op die verhouding met God.

  • Die tweede drie – geduld, vriendelikheid, goedhartigheid – het betrekking op die verhouding tot die naaste.

  • Die derde groep – getrouheid, nederigheid, selfbeheersing – het betrekking op onsself.

Wanneer ons die Bybel lees en die beeld van Jesus voor ons oprys, dan sien ons dat hierdie vrug van die Gees in negevoudige ontplooiing in die lewe van Jesus in volmaaktheid tot uitdrukking kom.

Ons as gelowiges is egter ook geroep om hierdie beeld te vertoon.

Jesus se beeld moet in ons lewe sigbaar word. In ons verhouding tot God, tot ons naaste en tot onsself moet die nege blare van hierdie blom gesien kan word. Stott spreek in hierdie verband van ons “Christelike persoonlikheid”.

blom

Hierdie vrug is in sy oorsprong bonatuurlik. Dit is die vrug van die Gees. Maar in sy ontwikkeling is die vrug natuurlik. Dit is die vrug van die Gees. Dit gaan oor menslike eienskappe. Stott wys daarop dat in ’n tyd soos hierdie die getuienis van die kerk met die daad so belangrik is.

Vertoon ons Lewe die Vrug van die Gees? Is Jesus se Beeld in Ons Lewe Sigbaar?🔗

Hoe sal dit gebeur? Paulus gee die antwoord in Gálasiërs 6:8: “Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” Daar is ’n ou gesegde: “Saai ’n gedagte en jy sal ’n daad oes; saai ’n daad en jy sal ’n gewoonte oes; saai ’n gewoonte en jy sal ’n persoonlikheid oes; saai ’n persoonlikheid en jy sal die ewige lewe oes.” So vind daar transformasie plaas. So word die beeld van Christus gevorm. Dit is ’n proses. Om te saai op die akker van die Gees, beteken dat ons in alles wat ons doen, ons laat lei deur die Heilige Gees. Ons laat die Gees ons gedrag bepaal. Ons moet ons lewe deur die Gees laat beheers (Gal. 5:16). So ontstaan daar ’n “Christelike persoonlikheid”.

’n Kerk waarin baie lidmate in so ’n transformasieproses opgeneem is, is ’n lewende en ’n getuiende kerk. So ’n kerk sal selfs die transformasie in die samelewing gunstig kan beïnvloed.