Sondag 8: Heidelbergse Kategismus
Sondag 8: Heidelbergse Kategismus
Lees Johannes 17
⤒🔗
Geheimenis, maar nie Onbelangrik nie←⤒🔗
Die Geloofsbelydenis van Atanasius, een van die drie ekumeniese belydenisgeskrifte, wat ons as kerke ook aanvaar, handel in 'n groot mate oor die leer van die Drie-eenheid. En wanneer die leer in hierdie belydenisgeskrif uiteengesit is, dan volg daar 'n heel radikale stelling, wat eintlik 'n herhaling is van wat reeds aan die begin van die belydenis gesê is: Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid voel. As ons werklik gered wil word, moet ons dus so glo oor die Drie-eenheid. Maar ons moet eerlik vir onsself vra watter plek ons geloof in die Drie-eenheid in ons lewens inneem. Is ons bewustelik daarmee besig? Is dit nie maar bloot 'n manier waarop ons die Kategismus wil indeel volgens drie dele nie?
Nee, ons het hier te doen met 'n saak in ons belydenis waarmee die hele christendom staan of val. 'n Teoloog soos prof Bavinck noem dit die kern van die christelike geloof. Miskien is ons eerste reaksie dat ons dit alles nie so heeltemal interessant en belangrik vind nie. En selfs al sou dit vir ons nog interessant wees, bly dit vir ons een van die grootste geheimenisse. Maar die feit dat dit vir ons 'n geheimenis bly, maak dit nie om daardie rede onbelangrik vir ons nie. Selfs die openbaring van God se liefde in Christus word, nadat dit vir ons bekend gemaak is in Christus, in die Nuwe Testament steeds 'n geheimenis genoem. Hoe kan dit wees dat God ons so liefhet? Dit is 'n geheimenis; ons sal dit nooit in sy diepte kan verstaan en naspeur nie. Dit is en bly vir ons 'n geheimenis. Maar dit is nie onbelangrik nie.
Die eerste paar eeue na Christus se lewe op aarde, daardie deel van die kerkgeskiedenis, kan in 'n groot mate beskryf word rondom die stryd van die gelowiges om hierdie deel van ons geloof te bewaar, die geloof in God, die drie-enige God. En die een punt waarop die kerk aangeval is en ook vandag bedreig word, is juis ons geloof in die Drie-eenheid. En ons hoef nie so ver te gaan soek as die Jehova-getuies voordat ons met hierdie problematiek gekonfronteer word nie. Elkeen wat hom nie onvoorwaardelik wil onderwerp aan die getuienis van die Woord van die Here nie, sal ook dadelik 'n probleem hê met die getuienis van die Skrif oor God as drie-enig.
Want in die Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons dat die leer oor die Drie-eenheid wel ons verstand te bowe gaan, maar dat ons dit aanvaar en glo op grond van God se Woord. Ons begryp dit nie alles nie. Maar God maak Hom so bekend. En daarom glo ons dit.
Hy Praat Deur Sy Woord←⤒🔗
Terwyl daar maar een God is, waarom praat ons van die Vader, die Seun en die Heilige Gees? Ons enigste antwoord is dan: "Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het". Wat 'n groot versekering! En tog het baie daarmee 'n probleem dat ons nêrens in die Bybel die woord "Drie-eenheid" vind nie. En dit is ook so dat daar geen enkele teks is wat die woord gebruik nie. Maar dit neem nie ons troos weg, dat ons God so mag ken nie.
Om die gevolgtrekking te maak dat, nadat ons gesien het dat die woord "Drie-eenheid" nie in die Bybel voorkom nie, daar dan ook geen drie-enige God is nie, sal 'n groot rampspoed vir ons geloof wees. Een van die grootste redes waarom so baie mense die wêreld deur nie meer kan glo in die drie-enige God nie, en praat van God se sogenaamde "afwesigheid" uit hulle lewens, is te wyte aan die feit dat hulle God nie meer aanvaar as die drie-enige God nie. Êrens het daar 'n leemte in hulle lewe gekom waar God nie meer met hulle praat nie. Hulle het met 'n aspek in hul lewe te doen gekry, waar God nie meer teenwoordig is nie. Omdat hulle die Drie-eenheid verloën. Wanneer die geloof in een God wat na ons toe kom in die Vader, die Seun en die Heilige Gees, verdwyn, dan word ons hele lewe 'n groot warboel. Dan word ons net soos die Hindoes en ander heidene wat 'n menigte gode aanbid en vereer, net om seker te maak dat daar geen onderdeel van hulle lewe is wat deur een of ander god beheer word waaraan hulle dalk nie eer gee nie. Dan word die lewe kompleks en moeilik. Hulle moes ook baie gode hê, want hulle het met soveel lewensituasies te doen, wat hulle op 'n manier probeer verstaan. Daar moet vir hulle 'n god van oorlog, van vrede, van liefde, van die see, van die son, van die wind en van die stilte wees. Die hele lewe waarmee hulle te doen kry, was geen eenheid nie. Dit is geen eenvoudige lewe nie. Hulle het elke dag te doen met 'n duisend gode wat aanspraak op hulle maak en wat hulle tevrede moet hou en waarmee hulle hul steeds weer moet versoen. Wat 'n komplekse, onbegryplike lewe. Vir elke aspek van hul lewens moet daar 'n nuwe god wees.
Toe Paulus die Griekse filosowe op die Areopagus in Athene ontmoet, het hulle geen probleem gehad om ook na Paulus se boodskap oor sy God te luister nie. Hulle het mos in elk geval 'n altaar gehad vir "die onbekende god". Stel jou voor dat daar 'n god was, waarvan hulle nog nie gehoor het nie, wat 'n aanspraak kan maak op hulle lewe. Daarom was hulle bereid om na Paulus te luister; miskien het hy iets te vertel oor hierdie god. Dan kon hulle ook vir hom nog offers laat opgaan. Daar mag dalk 'n situasie in hulle lewe homself voordoen waarvoor hulle nog nie 'n god aanbid en geëer het nie. Maar Paulus praat dan met hulle oor die bekering tot die een God. Bekering tot die Vader deur sy Seun wat Hy gegee het. Hy roep jou, sê hy aan die mense wat soveel gode aanbid. Bekeer julle nou deur Christus tot hierdie een God.
As ons die pad van geloof in die drie-enige God verlaat, sal ons ook in chaos beland. Dieselfde chaos, waarin die Wêreldraad van Kerke en die hele moderne ekumeniese beweging beland het; wat nie eers meer met sekerheid kan of wil sê dat daar alleen verlossing deur Christus is nie. Ook durf hulle geen uitspraak maak dat die God van die Bybel die enigste ware God is nie. Sê nou maar daar is dalk 'n onbekende god wat hierdeur geaffronteer voel?
As ons chaos wil hê, dan moet ons kyk na die veelgodedom van die heidene en nie struikel oor die duidelike, eenvoudige leer van die Skrif oor die drie-enige God wat ons uit die Bybel leer ken nie. Die Bybel is geen ingewikkelde handboek wat ons moeilike dinge oor God wil leer en vertel nie. Maar as ons wel die Bybel lees, kan ons nie anders nie as om te sien dat daar net een God is: "Hoor, Israel, die HERE onse God is 'n enige HERE" (Deuteronomium 6:4). Dit word vir Israel voorgehou teenoor die heidene met hulle veelgodedom, met die groot versameling gode wat hulle aanbid het. 'n God vir die reën; die Baälsdiens wat ook 'n veelgodedom was, met sy vrugbaarheidsgode. In daardie situasie sê God vir sy volk: Hoor, Israel, julle God is net een Here. Julle hoef nie baie gode tevrede te stel nie. Julle hoef nie, soos die Kanaäniete, julle kinders te offer vir die vrugbaarheidsgode nie. Julle het een Here, vrees Hom, dien Hom. Luister na sy Woord, aanbid Hom soos Hy vra. Die lewe van God se kinders is eenvoudig. Nie asof daar geen ander gode was nie, maar omdat Israel in die situasie was, dat hulle tot veelgodedom verlei kon word. Hulle was blootgestel aan die Baäls van die Kanaäniete. Daarom leer die Here ons ook in sy wet: "Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie."
Maar hierdie een God is gelyk ook drie Persone. In Jesus se hoëpriesterlike gebed vir ons, bid Hy: "En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het" (Johannes 17:3). Hy bid verder dat die Vader Hom sal verheerlik met die heerlikheid wat Hy gehad het, "voordat die wêreld was", want toe was die Seun reeds daar. Die Vader en die Seun werk saam ter wille van ons verlossing. By die doop van Jesus in die Jordaan kom die Heilige Gees ook nog op Jesus om vir altyd by Hom te wees. Uit God se Woord sien ons Wie Hy is en hoe Hy is vir sy kinders. Hy is die drie-enige God.
Kennis van die Geloof←⤒🔗
Hierdie kennis is 'n kennis van die geloof. Jy hoef geen teoloog te wees om te sien dat God drie-enig is nie. Hoewel ons gelees het van die Vader se Naam wat verheerlik moet word deur die Seun en die Seun deur die Vader, dink ons nie dat ons besig is met meer as een God nie. Inteendeel! Jesus bid hier juis dat sy dissipels een in die geloof kan wees, sodat hulle een kan wees soos wat die Vader en die Seun Een is. Die Vader in die Seun en die Seun in die Vader. Ons kan net nie anders as om te bely dat God Een is en Hom tog aan ons bekend maak as drie Persone nie. En so is God ook werklik. Dit is nie maar bloot hoe ons na Hom kyk, omdat ons mense is met 'n beperkte verstand nie. Hy maak Homself so aan ons bekend.
Juis hier is vir ons so 'n groot troos. Ons hele lewe waar ook al op aarde of in die heelal, in die hemel, is 'n lewe voor die een God van hemel en aarde. Daar is geen honderde of duisende gode vir wie ons op 'n manier moet probeer behaag nie. Hoor, Israel, die Here julle God is 'n enige Here! In ons hele lewe en bestaan het ons met hierdie een God te doen.
En daar is geen deel van my lewe wat Hy nie versorg nie. Wie gee vir ons kos om te eet en te drink, gesondheid en nuwe lewe elke dag? Dit is ons liefdevolle hemelse Vader! En wie bevry ons van alle bose magte en bewerk vir ons versoening van ons sonde? Dis hierdie selfde Vader wat vir ons sorg; wat sy Seun vir ons gegee het sodat ons bevry kan word van ons sondes. Dieselfde Een! Dit is dieselfde Vader en die Seun, wat sy Heilige Gees vir ons gegee het, sodat ons kan leef as kinders van God in elke aspek van ons lewens. Sien u hoe ons hele lewe omvang word deur een God? Ons hele lewe is veilig in die hande van ons enige Here — Vader, Seun en Heilige Gees.
Die Werking wat Ons In Onsself Voel←⤒🔗
In die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 9, bely ons dat ons sowel uit die getuienis van die Skrif as uit die werking daarvan, veral die werkinge wat ons in onsself voel, weet dat God drie-enig is. Daarmee wil ons sê dat ons belydenis oor die Drie-eenheid nie los staan van ons daaglikse lewe nie. Ons kry elke dag in ons wedervaringe, in ons ervaring en uit wat ons in die Skrif lees, te doen met hierdie drie-enige God; ons word elke oomblik met Hom gekonfronteer. Wanneer ons God in die Bybel ontmoet as die drie-enige God, dan bly ons lewens nie onaangeraak nie. Die Bybel is nie 'n dooie boek soos 'n ensiklopedie wat ons interessante inligting oor 'n God gee wat een en drie is nie, waaroor ons kan gaan spekuleer en vrae vra wat ons nooit kan en sal beantwoord nie. Dit is nie waarvoor die leer van die Drie-eenheid vir ons gegee is nie. Maar dit is ons gegee sodat ons kan weet Wie hierdie God is met Wie ons elke dag in alles te doen het. As ons God uit die Bybel leer ken as Vader, Seun en Heilige Gees, dan staan dit nooit los van die geloof in Hom nie.
En hierdie geloof is die werking wat ons in onsself voel, sê die Nederlandse Geloofsbelydenis. Dit wat ons voel is die werk van die Gees in ons. Hier is nie sprake van ervaring sonder geloof nie. Alle goeie ervarings wat ons het, sal altyd geloofservarings wees. En die ervaring van die geloof is 'n ervaring wat ons duidelik wys dat ons in alles met een God te doen het. In werklik alles het ons met God te doen.
Die God wat ons gemaak het en die God wat ons verlos en die God wat ons heilig, is dieselfde God. God die Vader het die wêreld gemaak deur die Woord. Dit is sy Seun. Dit is Hy, die Woord, wat vlees geword het en onder ons kom woon het. Die God met Wie ons te doen kry in die skepping, is dieselfde God wat ons verlos van ons sonde. Dit is dieselfde God wat ons elke dag op aarde as sy kinders versorg met die goeie. Geen deel van ons lewe kan ons isoleer van ons Enige God nie. Hy is so naby aan ons dat dit soms voel asof ons Hom kan aanraak. Dit sê Paulus aan die mense in Athene. In Hom beweeg ons en is ons en bestaan ons. In alles in die lewe, waarmee ons te doen kry, kry ons met die drie-enige God te doen. Hy is so naby aan ons as ons deur die geloof voel hoe Hy ons lewend maak uit die sonde; wanneer Hy ons verstand verlig om die evangelie te begryp, soos die Here Lídia se verstand oopgemaak het om die woorde van die apostel Paulus te kan glo. Ons ervaar dit wanneer ons deur God geregverdig en geheilig word.
Kennis van God is geen droombeeld nie. Dit is 'n groot werklikheid dat ons die enigste Here werklik kan en mag ken. Dan sal dit wees asof alles waarmee ons te doen kry, 'n stempel op het: "Deur God gemaak". Elke nuwe dag sal dit uitroep: "'n Gawe van God"! Elke keer wat ek in geloof my sonde bely, sal dit wees asof Christus voor my oë gekruisig word en ek die skuldbrief wat my aankla, teen die kruis gespyker sien. Elke klein gebeurtenis van my lewe sal ek herken as volmaakte wil van my Vader in die hemel.
Elke tree gevorder op die pad van heiligmaking sal my laat staan voor die besef van die werking van die Gees in my lewe. Ons God is nie 'n droombeeld nie. Hy is die grootste werklikheid waarmee ons ooit te doen sal kry. Wanneer die predikant sy hand oplig om die seëngroet uit te spreek namens die Here, sal dit wees asof 'n stem vanuit die hemel met my praat en my God se genade laat ontvang. Elke preek waarin die evangelie van Christus getrou gebring sal word, sal wees asof Christus se bloed oor die gemeente gesprinkel word om ons te bevry van ons sonde, ons skoon te was.
Waar ons belydenis van die Drie-eenheid uit ons lewe verdwyn, daar verdwyn die werklikheid van God se omgang met ons totaal uit ons lewe. Hierdie God kom so naby aan ons dat Jesus in sy gebed in Johannes 17 kan sê dat Hy in ons is en ons in Hom woon. Ons mag weet dat waar Hy in die hemel is, ons selfs saam met Hom sal wees. Die Vader het ons geskep, en bewaar ons in alle omstandighede. Die Seun het vir ons gelewe en gesterf, en verlos ons van die mag van die bose. Die Heilige Gees werk met en in ons om ons te laat deel in alles wat die Vader vir ons beloof het en die Seun vir ons verdien het. Hierdie Here is ons God en Hy is 'n enige Here!