Romeine 8:33 - Uitverkies
Romeine 8:33 - Uitverkies
Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?
Romeine 8:33
Daar staan dit! Daardie moeilike, en vir sommiges ʼn angswekkende, woord: ‘uitverkorenes’.
As daar één begrip uit die geloofsleer is wat tot misverstande aanleiding gegee het, dan is dit die woord ‘uitverkiesing’.
Die woord self is uit en uit skriftuurlik. In die brief aan die Romeine kom die woord en die begrip telkemale voor. Ook in die ander briewe van Paulus skram hy nie van dié woord weg nie. Efesiërs 1:4 is bekend:
in Hom [Christus] uitverkies”,
en in Handelinge 13 vers 48 lees ons:
daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.
Die misverstande is nie aan die woord te danke nie, maar aan hoe ons dit verstaan. En daar is heelwat slegte karikature van die begrip gemaak, met al die pastorale probleme wat daarmee saamgaan.
Daar is miskien lesers wat ook met die uitverkiesing ʼn ‘probleem’ het. Ons het wel belydenis van geloof afgelê. Daar is vir ons gesê: ‘Jy kan eers belydenis aflê wanneer jy weet dat jy uitverkies is’. Ander het die belydenisaflegging betreklik gemaak: jy lê belydenis af, maar dit beteken nie dat jy uitverkies is nie. Intussen stoei jy dalk met die vraag: ‘Maak dit saak as ek belydenis afgelê het en nie uitverkies is nie?’. Waarom staan daar in die teks nie ‘gelowiges’ nie? Waarom word die moeilike woord ‘uitverkorenes’ gebruik? Dit sou veel makliker wees. As ek dinge reg verstaan, is alle gelowiges immers uitverkore en kom alle uitverkorenes tot geloof. Waarom staan hier dan nie ‘gelowiges’ nie?
Die sin hiervan lê diep. Dit is waar, alle gelowiges is uitverkorenes en alle uitverkorenes word gelowiges. Waar die woord uitverkorenes gebruik word, gaan dit egter oor die werk van God.
Daar is nie ʼn enkele gelowige wat met die Here begin nie; maar die Here begin met elke gelowige as sondaar. Uitverkiesing beteken: die Here is die Eerste. Dit is sy wil dat sondaars tot geloof kom, en Hy het sy werk in hulle gewerk. Hulle bekeer hulle daadwerklik en glo inderdaad, maar net omdat die Here die inisiatief geneem het en Hy die Eerste was en steeds is.
Nou besef ons waarom die woorde ‘uitverkorenes van God’ juis in hierdie sin gebruik word. Die beskuldigings wat teen gelowiges ingebring word, raak ten diepste nie vir húlle nie, maar die werk van God. Die Here het begin, en Hy sal sy werk voleindig. Daarvan kan ons, en moet ons, seker wees.
Wanneer beskuldigings ingebring word, is dit ten diepste nie ʼn saak tussen die gelowiges en die beskuldigers nie, maar ʼn saak tussen die Here en ons beskuldigers. Die beskuldigers het met God self te doen, met sy wil en voorneme.
Wie goed hieroor nadink begryp dat die uitverkiesing nie bedoel was om mense te verskrik nie, maar juis om hulle te verseker: God staan in vir sy eie werk. Hy laat nie vaar wat sy hande begin het nie, ten spyte van alle beskuldigings.
Kan ons seker wees van ons uitverkiesing? Die antwoord is: vir seker. Die sekerheid van die geloof is die diepste grond van die sekerheid van ons uitverkiesing. Ons moet ewewel nie met die uitverkiesing begin nie. Dit is die fout wat baie maak. Prediking wat beheers word en uitgaan van die uitverkiesing, sal nooit twyfelende en aangevogte gelowiges tot sekerheid bring nie. Om eers die uitverkiesing te ken en dan eers die beloftes van God, is om die wa voor die perde te span. Op die manier word ʼn gemeente in onsekerheid gehou en die gebrek aan geloofsekerheid bevorder.
Die uitverkiesing is nie ʼn uitgangspunt nie, maar ʼn eindpunt. Dit behoort tot die verborge dinge wat God aan ons wil openbaar. Maar ons mag en moet van die geopenbaarde dinge uitgaan: die Here roep ons en gee sy belofte wat op ons voorhoof geskryf en verseël is, en in die prediking aan ons voorgehou word. Deur geloof in dié belofte, die toevlug tot die enigste saligmaker, sal die sekerheid groei: ook vir my. Die Here het begin. Alles kom van Hom. Soli Deo Gloria!