Psalm 11
Psalm 11
As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?
Ps. 11:3
Dawid vergader met sy hoë amptenare en offisiere. Of hierdie kabinetsvergadering of krygsraad voor of na sy troonsbestyging plaasgevind het, weet ons nie. Die historiese agtergrond van hierdie psalm is moeilik om te rekonstrueer. Een ding is duidelik: die toestand in die land is baie kritiek. Dit lyk of die hele samelewing in duie stort. Daar is soveel aanslae, lis en geweld dat die toestand buite beheer raak en dit lyk asof die rewolusie gaan wen. In die raadsaal van die koning word vergader. Wat moet gedoen word?
In hierdie psalm kyk die koning terug na daardie kritieke dae. Hoe goed onthou hy dit! Hy weet nog noukeurig wat sy raadgewers hom geadviseer het. Hy onthou sy eie antwoord. In hierdie psalm beskryf Dawid in digvorm daardie aangrypende gebeurtenis. Die landsituasie, bespreking op hoë vlak, reaksies van amptenare en koning, trek saam in ons teksvers: As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? Hierdie benouende vraag was die belangrikste punt op die agenda tydens die bespreking van die koning met sy hoë amptenare. Hierdie vraag is vandag in ons situasie ook uiters aktueel. Dit is 'n vraag wat leef in baie harte. Wat moet ons doen noudat die fondamente aangetas, omvergewerp word? Dawid gee ons self die antwoord. Ja, ons kan sê: Christus gee vir ons die antwoord, want dit is Hy wat Dawid tot hierdie psalm geïnspireer het.
In hierdie psalm is daar twee partye. Die goddelose staan teenoor die regverdige. Die goddelose is hier die man wat met God geen rekening hou nie. Wat doen hy? Kyk na vers 2. Hy loods sy aanvalle op die regverdige. In die donker skiet hy na die opregtes van hart. Die regverdige is die vrome, die godvresende wat vashou aan die Here en aan sy verbond. Dit is maar weer die ou stryd tussen die saad van die slang en die saad van die vrou.
En kyk, wat doen die goddeloses? Hulle ruk aan die fondamente, die pylers van die samelewing. Met fondamente word hier bedoel die pylers waarop die samelewing rus. In Israel as teokratiese staat was dit God se verbond, al die reëls en wette wat God neergelê het om die samelewing te orden. Daar was huwelikswette, reëls vir die gesin, voorskrifte vir die godsdiens, verordeninge vir die samelewing, sodat wet en orde gehandhaaf kon word en die Here gedien kon word
Wat doen die goddeloses nou, die vyande van die koning? Hulle breek dit af, hulle ondermyn dit en hulle doen dit op 'n geraffineerde manier in die donker, lees ons in vers 2. Die regverdiges, hulle wat God dien en vrees, raak benoud. Dawid vra op die vergadering: wat kan die regverdige doen? Hoor die advies van die raadgewers. Hulle is nie onnosel nie. Hulle weet waarvan hulle praat. Hulle som die situasie baie goed op. Die gevaar is groot. Ernstig word die volksbestaan bedreig. Hulle advies is: Koning, u moet vlug. Gee pad, vlug na die berge. Daar is u tuis, daar is u veilig. U weet hoe u uself daar kan wegsteek voor die vyand. Koning, wees verstandig, wees realisties. Luister na ons raad!
Die antwoord van Dawid se raadgewers is egter 'n ongeloofsantwoord. Hulle redeneer in die horisontale vlak. Hulle wil die koning in die isolement dryf, of soos Calvyn skryf: soos 'n verrotte lid afsny van die liggaam van die kerk. Gee pad, u staan magteloos teenoor hierdie gees van ondermyning en rewolusie.
Vandag verkeer ons veelsins in dieselfde situasie as koning Dawid in Psalm 11. Wat is die mees kenmerkende van die tyd waarin ons lewe? Dat die fondamente omgegooi word. Dit is nie alleen hier in ons land die geval nie. Dit is 'n wêreldverskynsel.
Laat ek die fondamente noem waarop ons samelewing as pylers rus. Daar is die pyler, die fondament van die godsdiens, van huwelik, gesin, kerk, regstaat. Ons kan byvoeg: kultuur, taal, onderwys. Wat sien ons? Aan hierdie fondamente word geruk. Aan almal net 'n paar voorbeelde: Ons sien hoe in verskillende kerke die fondament onder daardie kerke losgeruk word. Die gesag van die Woord van God word ondermyn. So stort mos die hele gebou in mekaar? Ons sien dit duidelik daar waar die gesag van die Bybel nie meer aanvaar word nie. Naas en in die plek van die huwelik word alternatiewe samelewingsvorme bepleit soos 'n homofiele huwelik of saamwoon sonder om getroud te wees. In die Nederlandse Dagblad het 'n rukkie gelede 'n artikel verskyn oor lotery. Die skrywer wys dan daarop dat dit die einde beteken van 'n christelike kultuur. Hy toon ook aan hoe dobbellus die samelewing ondermyn. Kinder- en gesinsverwaarlosing is die gevolg. Hierdie voorbeelde kan met baie ander aangevul word. Dit is duidelik dat dit die fondamente van ons samelewing omgooi. Dit is 'n proses wat al lank aan die gang is en nou in 'n soort stroomversnelling gekom het.
Wat moet ons doen, vra Dawid? Wat moet die regverdige, die kind van God, die gelowige doen? Ons kan luister na die advies van Dawid se raadgewers: vlug na die berge, soek die isolement, sonder jou af, kruip met 'n boekie in 'n hoekie. Maar dit is ongeloofsadvies. Dawid wys daardie raad dan ook radikaal af. Hy gee 'n ander antwoord op sy eie vraag, 'n geloofsantwoord. Ons hoor dit reeds in die eerste vers van hierdie psalm. By die Here skuil ek. God, die God van die verbond, is vir my 'n toevlug in die nood. Nie die berge nie, maar die Here is vir my 'n rots wat altyd vas bly staan. God is vanaf die vroegste jare vir ons 'n vlug- en skuilplek in gevare.
Hoor tog hoe Dawid sy geloof in God bely! Hy noem drie dinge: God regeer, God toets en God oordeel. God is Koning, God is Keurder en God is Regter. Eers wys hy op God se woonplek en sy koningskap. Die Here is in sy heilige paleis. Die troon van die Here is in die hemel. Dit is 'n geweldige belydenis. Ek dink aan die pragtige woorde van Calvyn. Hy het êrens geskryf: Al storm dit op aarde, dit is rustig in die hemel. Maar wat doen die Here in die hemel, wat doen Hy vanaf sy heilige troon? Hy kyk na die aarde. Sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. Hy maak onderskeid tussen die mense. God sien die regverdige en die goddelose. Hy sien ook ons. Dawid getuig daarvan in die vorige psalm. Ps. 10:14: "U het dit gesien; want u aanskou moeite en verdriet". God sien u swaarkry, die probleme waar u mee worstel, die moeite van die lewe, ook om siel en liggaam aan mekaar te hou, die hartseer wat u getref het, die sorg omdat die fondamente van die samelewing omgegooi word.
Ja, hoekom kyk die Here na sy kinders? Nie net om te kyk hoe dit gaan nie, maar Hy kyk om te help. Ons lees in 2 Kron. 16:9: "want die Here – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie sê hart onverdeeld op Hom gerig is". Vervolgens sê Dawid dat God ons ook toets. Hy wil weet of ons hart wel volkome op Hom gerig is.
Maar God kyk ook na die goddeloses, die mense wat Hom nie dien en vrees nie. Hy haat hulle, hulle wat geweld liefhet. Vir hulle wag die oordeel. God is ook die Regter. Dawid beskryf die gerig wat oor hulle kom in woorde wat ons laat dink aan die verwoesting van Sodom en Gomorra (vers 6).
Ons kry in hierdie geloofsgetuienis van Dawid reeds 'n profetiese heenwysing na Jesus Christus. Hy is mos die koning wat alle mag in hemel en op aarde ontvang het. Hy is ook die Regter wat sal kom om te oordeel.
Wat vra die Here van ons in 'n tyd soos hierdie, noudat die fondamente van die samelewing aangetas word? Ten eerste geloof – geloof dat God in Christus Jesus regeer. Wat is geloof, hoe werk dit? Geloof is om te skuil, om soos Dawid by die Here te skuil. In skuiling soek sit ook die gedagte van vlug. Geloof is om die toevlug tot die Here te neem. Tot Hom te vlug in gebed, te vlug na sy Woord om daar krag en troos en moed en volharding te vind.
In die tweede plek vra God van ons om opreg van hart te wees, om geregtigheid lief te hê. Waarvan kan ons dan seker wees? Hulle sal God se aangesig sien. Ons kan ook in die Statenvertaling lees: God sal die opregtes aanskou. Hy sal sy aangesig oor hulle verhef. Hierdie verklaring pas die beste by die hele psalm. Ons moet nie moedeloos word nie, ook nie paniekbevange nie. Die Here regeer. Hy toets ons. Hy kyk waarop ons vertrou. Op die vraag wat ons moet doen, is daar net een antwoord. Ons moet soos Dawid gelowig sê en beoefen: By die Here skuil ek.