Bron: Die Kerkblad, 1987. 2 bladsye.

Ouerbetrokkenheid by die Katkisasie

ouer en kind

Elke Gereformeerde ouer beloof by die doopvont, met die hele gemeente as ge­tuie, dat hy sy kind in die Gereformeerde leer sal onderrig en ook sal laat onderrig.

Die woord 'en' beteken nie dat wanneer ouers hulle kinders laat onderrig, dit as alternatief gestel word vir die onderrig deur die ouers self nie. Ouers bly verantwoor­delik vir die onderrig, al word dit ook deur die kerk (via die katkisasie) onder­neem. Om dié rede word dit van beide vader en moeder verwag en vereis om by die katkisasie be­trokke te wees.

Gereelde Bywoning🔗

Om by die katkisasie betrek te wees, kom daarop neer dat ouers 'n aktiewe bydrae tot hierdie aspek van die opvoeding lewer. Dit is nie voldoende om maar net te sorg dat kinders die katkisasie gereeld weekliks bywoon nie. By­woning van die klasse, sonder om deeglik voorbe­reid daar aan te kom, skep 'n tweeledige probleem:

  1. omdat die katkisant nie op hoogte is van wat in die klas plaasvind nie, strem hy die gewenste gang van die lesaanbieding.

  2. die katkisant wat swak ­of onvoorbereid die katkisasie bywoon, voel hom as gevolg daarvan ontuis, met die gevolg dat hy al­gaande 'n weersin daarin ontwikkel.

Dit is dus die heerlike taak van die ouer om toe te sien dat sy kind deeglik voor­bereid die katkisasie by­woon. En dit hang van die onderrig van die ouer af in watter mate katkisante die volle voordeel uit die katkisasie kan trek.

Wanneer Voorberei?🔗

Wanneer moet hierdie on­derrig plaasvind? Sondag­oggend voor kerk? Nee, een of ander vaste tyd be­hoort elke weeksaand af­gesonder te word wanneer ouers en kinders gesa­mentlik die katkisasieles bespreek en bestudeer. Dit sal beslis inbreuk maak op die TV program, maar indien ouers van hierdie onderrig gebruik maak om werklik met hul­le kinders te kommuni­keer, sal dit vir beide ouers en kinders die kos­baarste oomblikke van die dag wees. Daar sal beslis meer na hierdie tydjies uitgesien word (en dit sal bowe-al van meer waarde wees) as die beste pro­gram wat die kykkassie kan droom om te wees!

Veral wanneer u kind in die belydenisklas is, is hierdie tye wat daagliks vir voorbereiding afgeson­der word, van die grootste belang. Die dooplidmaat staan dan op die drumpel van volle lidmaatskap. Wie kan hom beter leiding bied na die (vir hom onbe­kende) lewenservaring van volle lidmaatskap as sy ouers self, wat so lankal daarmee vertroud is? En dit mag die ouer waar­skynlik self tot nadenke stem oor hoe hy sy lid­maatskap beleef, en reg daaraan laat geskied.

Ouers is Opgewasse🔗

So dikwels word katkisa­sie met die skool vergelyk, selfs daarmee gelykge­stel. Dit is één rede waar­om ouers, veral as hulle kinders groter word, hulle nie meer met katkisasielesse help nie.

Ouers weet dat hulle nie meer hulle graad 10-kind met vakke soos wiskunde of biologie kan help nie, ge­volglik onttrek hulle hulle ook ten opsigte van katki­sasie-onderrig. So 'n inge­steldheid is begryplik.

Dit is egter juis hier waar die een groot verskil tussen skool en katkisasie na vore tree. Ouers is nie altyd voldoende gespesia­liseerd om hulle kinders in hulle akademiese skoolop­leiding te help nie. Dit is egter heel anders gesteld met die onderrig wat die katkisasie aanbied.

gesin

Op grond van die struk­tuur van die akademiese onderrig, word elke skool­vak minstens drie keer per week behandel, sodat leerlinge gereeld daarmee in aanraking kom. Daarenteen word die katkisasie slegs een keer per week aangebied, met die gevolg dat die kontak daarmee met lang tussenposes plaasvind. Ten spyte van die gereelde aandag wat op skool aan die vakke ge­gee word, vergeet die kind tog wat met hom behandel is. Daarom moet hy ge­reeld huiswerk kry – wat dikwels so gespesialiseerd is dat die ouer hom nie daarmee behulpsaam kan wees nie. Ten opsigte van die katkisasie is dit daar­om die taak van die ouer om gedurende die week die katkisasielesse daag­liks met sy kind te behan­del, om sodoende die on­derrig in te skerp.

Opregte Belangstelling🔗

Betrokkenheid van die ouer behoort egter dieper­liggend te wees as slegs die onderrig. Stel die ouer soveel belang in die katki­sasie-onderrig as in die skoolonderrig? Vra vader en moeder na afloop van die katkisasie met werkli­ke opregte belangstelling hoe dit in die klas gegaan het? Het u kind die vrymoedigheid om met entoe­siasme te se: "Weet Pa en Ma dat daar 'n Rigter was wat links was?" Dan het daar iets besonders uit die katkisasieles na vore getree wat 'n hele bespre­king op dreef bring.

Is u as ouer só betrokke by die katkisasie dat u kind dit wat hy daar ge­leer het, met u wil deel, daaroor wil gesels? Indien dit wel die geval is, is u werklik by die katkisasie-onderrig van u kind betrek, en ontvang u die ge­deeltelike beloning vir die onderrig waarmee u daag­liks besig is.