Bron: Kompas, 2002. 2 bladsye.

'n Vergete Lied Om Gereformeerd te Wees in Alles

Trompet en musiek

Wanneer ons nadink oor Schilder se waardering van die Gereformeerde belydenis en belydenisgeskrifte, moet ons nie verwag om iets totaal nuuts of uniek by hom te vind nie. Schilder wou gewoon Gereformeerd wees. Hy het egter wel die gawe gehad om die aktualiteit van die belydenis vir ’n nuwe tyd met nuwe vrae raak te sien.

Schilder het die gawe gehad om die tradisionele formulerings van die Drie Formuliere van Eenheid opnuut vanuit die Skrif te belig en daarmee ’n vars appèl op mense se gewetens te maak. Vir sy eie geslag kon hy helder aantoon hoe aktueel die belydenis is vir vrae wat hul lewe elke dag diep geraak het. Veral na die ingrypende invloed van die Eerste Wêreldoorlog. Vrae van kerklike en polities/sosiale aard word dikwels op ’n verrassende, helder en persoonlike manier na vore gebring. Gereformeerd-wees het hy weer as ’n lied laat funksioneer – ’n lied vir ons hele lewe.

Eenheid in die Nodige, Vryheid in die Onnodige en in Beide die Liefde🔗

Kenmerkend van Schilder se werk as predikant en teoloog was dat hy die eenheid van die kerk van Christus op aarde begeer en hom daarvoor ingespan het. Ware eenheid is egter nooit ’n mensgemaakte saak nie. Kerklike eenheid is nie iets wat verkry word deur kerklike politiek waarin daar met die Christelike belydenis gewerk kan word asof dit ’n artikel is waarmee ons kan onderhandel nie. Eenheid en vrede wat verkry word deur ’n oënskynlike “ruimheid van hart” waardeur ’n deel van die Christelike belydenis prysgegee word, sal altyd uitloop in ’n engheid van hart teenoor elkeen wat wil vashou aan die Gereformeerde belydenis.

In 1932 skryf Schilder twee opvolgartikels oor die sinspreuk: in necessaries unitas, in non necessaries libertas, in utrisque caritas (eenheid in die nodige, vryheid in die onnodige en in beide die liefde) na aanleiding van ’n historiese studie van prof. A Eekhof. Prof. Eekhof het die oorsprong, betekenis en verspreiding van die spreuk nagevors. Schilder sien onmiddellik die belang hiervan vir die manier waarop baie in sy tyd omgegaan het met die Christelike belydenis. Sy vraag is wie die een is wat liefde bewys. Is dit die een wat sonder om na te dink ’n vriendelike gebaar maak om die eenheid te bewerk, terwyl die handhawing van die belydenis van die kerk van Christus as nie noodsaaklik geag word nie? M.a.w. is dit die een wat kerklik sy staanplek inneem waar nie een van die twee partye behoort te staan nie? Of word liefde bewys deur die een wat bid dat God hulle twee saam mag terugbring na die plek waar albei behoort te staan?

Kan daar ooit gewerk en geleef word met die gedagte dat Christelike liefde tot sy reg kom waar vasgehou word aan dit wat noodsaaklik is en waar vryheid aan mekaar gegun word in dit wat onnodig is? Kry die Christelike liefde in ’n saambring van hierdie twee gedagtes sy ware plek?

Wat is die Liefde?🔗

Schilder vra ’n paar indringende vrae oor die gebruik van hierdie spreuk in die soek na kerklike eenheid en bewys van liefde aan mekaar in die gemeenskap van die gelowiges. Wat is die nodige in die Christelike belydenis? Of wat is die onnodige? Kan ons ’n skeidslyn trek tussen die twee? Wat is ware Christelike vryheid? Wat is die liefde wat Christus ons beveel? Hoe kan ek aan my medegelowige die beste gee wat ek het? Mag ek ooit my medegelowige laat staan op ’n plek waar hy nie mág staan nie? Mag ek saamwerk in ’n eenheid waar noodsaaklike aspekte van die geloof as onbelangrik geag word? Schilder pleit dat die broeder wat opreg wil nagaan of daar in verantwoordelikheid voor God geleef kan word met hierdie spreuk, die geleentheid en vryheid daarvoor tog mag vra.

Histories het die Rooms-Katolieke, Remonstrante, Piëtiste en ook die Lausanne konferensie vir “Faith and Order” (voorloper tot die Wêreldraad van Kerke) in 1927 hierdie spreuk met instemming gebruik. As Gereformeerdes wil ons egter weet waarna die “nodige” verwys. Is dit wat “nodig” is vir ons verlossing? Of dalk iets anders? Of die onnodige – waarvoor is dit nie nodig nie? Of moet ons die onnodige eerder as die onduidelike verstaan? Of as die twyfelagtige? Schilder vra of dit dan Christelik is om dit wat vir my nog onduidelik is as twyfelagtig te beskou of selfs as onnodig te ag. Wanneer ons die gebod van God in konkrete situasies nie verstaan nie, gee dit ons tog nie die reg om die gevolgtrekking te maak dat ons God dan nie meer hoef te gehoorsaam nie. Is dit die liefde wat die wet van die Here vra?

musieknote🔗

Nootbalke, Noteskrif en Geloofsbelydenisse🔗

God is ’n komponis wat die musiek van die Christelike lewe gekomponeer het. Hierdie beeld leen Schilder by Eekhof. In ’n suiwer musiekstuk, is die komposisie een geheel. In feite is die onderskeiding tussen wat nodig en onnodig in ’n musiekstuk is, ’n belediging vir die Komponis. Verandering aan die noteskrif is niks minder as werk wat aan ’n bewerker van die musiek toegeskryf moet word nie. Dit mag nooit die doel van die Christelike belydenis wees nie. Dit is geen bewerking van die musiek wat God geskryf het nie. Die Christelike belydenis is niks minder as ’n lofoffer aan God (die Komponis!!) nie.

So staan dit tog in Hebreërs 13:15. Die vrug van die lippe wat sy Naam bely is geen “bewerking” van God se musiek nie, maar die sing van die lofoffer. God se musiek word nie aan ons gegee los van die lewende werklikheid van elke dag nie. God se musiek wil ons die lied van die Christelike lewe laat sing. Daarom is die onderskeid tussen “nodige” en “onnodige” dan ook geen les wat die Komponis ons voorhou nie. Dit is ’n menslike uitvinding wat mense hulself veroorloof het.

Die “nodige” is dan daarvan afhanklik of ’n groepie mense dit as belangrik ag en daaroor ooreenstemming bereik. Die “onnodige” is al die res. Daarin wil mense eenheid soek en ander in vryheid laat, want dit sou die ABC van die liefde wees. Schilder pleit egter daarvoor dat ons nie al te gou dele in God se komposisie met ons potlode doodkrap wat ons as onnodig beskou nie. Dit sou alleen maar bewys dat ons nog nie genoeg deurdronge is met wat God gesê (gekomponeer) het nie.

Een Ding is Nodig🔗

Die één ding wat nou werklik vir ons nodig is, is juis hierdie deurdronge wees van wat God gekomponeer het. Dit is tog hoe ons die woorde van die Here Jesus aan Martha in Lukas 10:42 moet verstaan. Die een ding wat nodig is, is nou juis die luister. Die gedurige bly hoor wat God te sê het. Sodat ons kan kom tot gehoorsaamheid. Dit is wat Martha moes leer. Maria het die goeie, die noodsaaklike, gekies. Sy het bly sit aan die voete van Jesus om álles te hoor wat Hy sê. Om te luister na die komposisie van die Christus. Sodat haar lewe ’n lofoffer aan God kan wees. Nie sodat sy haar bewerkings kan gaan maak van God se musiek soos wat Martha dit gedoen het nie.

Die Een wat nodig is, is Christus! Aan sy voete moet ons wil sit. Uit Hom en sy volheid moet ons wil leef. Christus het vir ons alles geword – wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing (1 Korintiërs 1:30). Hier sien ons wat liefde is – in die volheid van Christus. Is daar iets van Christus wat vir ons onnodig is? Kan Christus opgedeel word? Sonder Christus sal niemand die Here sien nie. Dit wat nodig is, is in Christus. En wanneer ons ons bewus word van ons sonde, sien ons hoe ons alles van Hom nodig het. Saam met Petrus wil ons dan uitroep dat Hy nie alleen my voete moet was nie, maar ook my hande en my hoof (Johannes 13:9).

Note teken

Die Christelike belydenis is vir Schilder die musiek van die lewe. God het gespreek. Sy Woord vir ons gegee. Hy het musiek geskryf. En dit was nódig. Noodsaaklik “om ons geloof daarna te rig, daarop te grond en daarmee te bevestig” (NGB Artikel 5). En die Woord is genoeg. Dít bevat die wil van God volkome en alles wat vir die mens nodig is om te glo vir sy saligheid, word daarin genoegsaam geleer (NGB Artikel 7). Dan bely ons dat dit verbode is om iets by God se noteskrif by te voeg of enigiets daarvan weg te laat. God het ’n volkome musiekstuk gekomponeer. In die Christelike belydenis wil ons God se komposisie en die Komponis bly eer.