Misdaad
Misdaad
“Ons kan nie meer so aangaan nie”, “genoeg is genoeg”, “die regering kom nie sy verantwoordelikheid na nie”, “misdadigers het die plek van die regering oorgeneem”, “niemand is meer veilig nie”, “almal het weerlose teikens geword” – dit is maar enkele van die uitroepe wat daagliks gehoor word, in koerante te lees en op televisie te sien is.
Landsburgers ervaar vloedgolwe van misdaad wat ongekende afmetings aanneem. Die misdaadstatisiek wat die regering met lang tussenposes en met groot traagheid beskikbaar stel, word weerspreek deur die daaglikse ervaring van mense in dorpe en stede, in townships en plakkerskampe, in voetpaaie en op snelweë, in taxi’s en op treine.
Misdaadstatistiek is moeilik bekombaar, maar uit beskikbare gegewens is die volgende prentjie saamgestel:
- Suid-Afrika word beskou as een van die misdadigste lande ter wêreld en neem die derde plek uit 96 lande in ten opsigte van moord, tweede ten opsigte van seksuele misdade en eerste ten opsigte van verkragtings (in 2004-2005 is meer as 55 000 klagtes van verkragting by die polisie ingedien, terwyl baie min verkragters skuldig bevind word).
- In Suid-Afrika word byna elke halfuur ’n persoon vermoor, meer as 20 000 per jaar.
- Sedert 1991 is ongeveer 2 000 boere op plase vermoor (volgens ’n radio-berig in Mei word daar tans twee boere per week vermoor).
- Sowat 40% van die Suid-Afrikaanse jeug tussen 12-22 jaar was al die slagoffer van misdaad of geweld.
- Daagliks word 34 motors en meer as twee vragmotors gekaap (d.w.s. 12 434 motors en 930 vragmotors per jaar) – met die hoogste vlakke in Gauteng.
- By 30% van sterfgevalle in Suid-Afrika is die gebruik van vuurwapens ter sprake.
Die vraag is: Wat is die taak van die kerk – en van Christene – in hierdie verband? Lyk my ons moet onderskei tussen ’n korttermyn- en ’n langtermyntaak.
Korttermyn⤒🔗
Die voorkoms van misdaad is van so ’n ernstige aard dat korttermynoptrede noodsaaklik is. Drie sake verdien hier aandag:
Eerstens ’n dag van verootmoediging, ’n biddag vir vrede in ons samelewing. Sodanige oproep moet van die kerke uitgaan en ál die kerke in ons land moet daaraan deelneem. In die gebede moet die Here gevra word dat Hy ons samelewing genadig sal wees, ons land sal seën, die regering wysheid en wil sal gee, die polisiediens sal aktiveer en misdadigers se harte sal verander.
Tweedens moet daar van al die kerke ’n profetiese getuienis teenoor die regering uitgaan, naamlik dat die regering nie naastenby sy verantwoordelikheid ten opsigte van die bekamping van misdaad nakom nie. As die regering die wil het, kan die golf van misdaad in een maand, in een week, ja, binne 24 uur gebreek word. Deur middel van padblokkades en soektogte in ons townships, dorpe en stede kan in een nag meeste van die onwettige wapens deur die polisie – desnoods versterk en uitgebrei – opgeruim word.
Derdens moet daar – nog vanjaar, miskien op ’n bepaalde vakansiedag – ’n landswye en vreedsame protesoptog gereël word wat soos ’n Meksikaanse golf deur die land swiep, van Kaapstad tot Beitbrug. Hierdie protesoptog moet ’n duidelike sein aan misdadigers uitstuur dat alle burgers elke vorm van misdaad verwerp en hulle wil beywer vir ’n veilige en vreedsame samelewing.
(Ek weet van ten minste drie sulke protesoptogte wat reeds gehou is: op 24 September 2003 in Pretoria (waaraan ek self deelgeneem het), op 30 November 2004 in Johannesburg en op 4 Mei 2006 in Kaapstad.)
Langtermyn←⤒🔗
Op die langer termyn kan op die volgende gefokus word:
Ten eerste moet aan die oorsake van misdaad besondere aandag gegee word. Die oorsake is wyduiteenlopend, maar dit sluit onder andere die volgende in: armoede, werkloosheid, dwelmgebruik, geldmaak (sindikate), kriminele oriëntasie, wraak en ’n totale gebrek aan ’n sosiale morele lewenshouding. Kerke kan in hierdie verband ’n besondere bydrae lewer, aangesien hulle ’n boodskap bring en ’n evangelie verkondig wat elkeen van bogenoemde oorsake op ’n unieke wyse behandel.
Ten tweede behoort die polisiemag uitgebrei en die funksionering daarvan drasties verbeter te word. Dit geld trouens vir ons totale regsisteem. Want dit help nie misdadigers beweeg vrylik rond sonder om gevang te word nie: dit help ook nie hulle word gevang nie, maar vanweë swak regspleging kom hulle los; dit help ook nie hulle word in tronke gesit om kort daarna weer te ontsnap nie.
Goeie rehabilitasieprogramme in ons tronke kan ook ’n belangrike bydrae lewer om misdadigers ná tronkstraf weer in die samelewing te laat inpas.
Ten derde moet aandag gegee word aan die byna totale gebrek aan morele en samelewingswaardes in ons land, met ander woorde die gebrek aan ’n etiese gedragskode waarmee kinders kan opgroei en wat deel kan vorm van hulle lewensuitkyk en lewenswyse.
Die Tussenkerklike Raad van die Afrikaanse Kerke het verlede jaar ’n kommissie aangewys wat so ’n gedragskode moet saamstel, wat tans daarmee besig is en wat ook samewerking ondersoek met die regering se Program Morele Herlewing.
Die woord is tog waar: Die verandering van hart is die hart van verandering.
Ons het onlangs die tienjarige bestaan van die nuwe Grondwet herdenk, ’n grondwet wat hom eksplisiet uitspreek ten gunste van menswaardigheid, vryheid en veiligheid. Maar ’n wet op papier beteken niks indien dit nie op die markplein van die lewe toegepas word nie.
Ons land is siek van misdaad. Dis nóú die tyd dat Christene, en kerke, sal opstaan, sal bid en praat, profeteer en protesteer, sal duidelik maak: tot hiertoe en nie verder nie, nóú is die dag om op te staan teen alle vorme van misdaad. Ons wil nie die hel sien losbreek in Suid-Afrika nie, ons wil iets sien deurbreek van die Koninkryk van God, waar daar vrede en vryheid, reg en geregtigheid, versoening en harmonie in die samelewing aanwesig is.