Matteus 26:50 - Die Vry Gevangene
Matteus 26:50 - Die Vry Gevangene
Hulle het Jesus gevange geneem.
Matteus 26:50
Ons hoor gereeld van skending van menseregte. In baie lande is dit nie ongewoon dat mense gemartel word nie. Met ʼn gevangene wat weerloos aan jou oorgelewer is, kan jy doen wat jy wil.
Ek het hieraan gedink toe ek in die hospitaal ʼn lumbale punktuur moes ondergaan. Ek het gevoel hoe ek magteloos word. Ek moes my oorgee. Op daardie oomblik het ek gedink: ‘Dis so goed dat hier mense is wat my met sorg omring’. Terselfdertyd was daar die gedagte: ‘Dit moet erg wees wanneer jy so in die hande van mense wat jou kwaad wil aandoen, oorgelewer sou wees’. Jy is magteloos, hulle gaan hulle gang.
Jesus ʼn gevangene⤒🔗
So het dit met Jesus gegaan. ʼn Hele polisiemag, gewapen met swaarde en stokke, kom Hom arresteer. Dan stap die verraaier na Hom toe en gee Hom sy Judaskus. “Vriend, waarvoor is jy hier?”, vra Jesus. En dan gebeur dit. “Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Jesus en gryp Hom.” Hulle het dit nie sagkens gedoen nie. Van daardie oomblik af is Jesus sy vryheid kwyt. De vryheid wat Hy altyd gebruik het om goed te doen aan mense. Hulle gryp Hom om Hom kwaad aan te doen. Jesus het ’n gevangene geword. Die dissipels se eerste reaksie was: dit kan nie en dit mag nie! Een van hulle trek sy swaard en slaan daarmee. Hy tref die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. ’n Dwase wanhoopsdaad. Het hy regtig gedink dat hy Jesus uit die hande van hierdie oormag kan bevry?
Gebondene van die Vader←⤒🔗
“Sit jou swaard in sy plek terug... “ (vs. 52), sê Jesus. Hy is nie met hierdie hulp gediend nie, want Hy is nie ’n swaard-Messias nie. As Hy hulp wou hê, sou Hy die hulp van die hemelse leërmagte kon inroep. Maar Hy doen dit nie. “Hoe sou die Skrifte dan vervul word... ?” (vs. 54). Dít is waaroor dit vir Jesus gaan. Nie wat Hy nou graag vir Homself wil hê nie, maar wat sy Vader van Hom vra. Hy is die gebondene van sy Vader. Daarom het Hy ook in Getsémané gebid: “...nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (vs. 39). Die hele lewe van Jesus het in daardie teken gestaan. Hy het sy lewenspad uit die Skrifte gelees, uit die Woord van God. Daardie Woord het Hom gevoed en daarin het Hy sy krag gesoek. Op dié pad sal Hy ook nou gaan.
Die gevangene is vry←⤒🔗
Daarom is Jesus, die weerlose gevangene, tog vry. Om Hom staan die polisiemag met stokke en swaarde, maar dit beïndruk Hom nie. Wanneer sy dissipel ook ’n swaard trek, is dit Hy wat met gesag sê: ‘Sit terug jou swaard.’ Ondanks die boeie bly Hy in beheer. Hoe is dit moontlik? Hoe kan ’n magtelose so vrymoedig bewapendes tegemoet gaan?
Die wapenrusting van God←⤒🔗
Maar Jesus is nie ongewapen nie. Hy staan daar in die wapenrusting van God. Dit is waarvoor Hy in Getsémané gebid het. Nie om aan lyde te ontkom nie, maar om die geestelike wapenrusting aan te trek. Biddend het Hy die nabyheid van sy Vader gesoek, om deur Hom versterk te word. Hy het sy dissipels ook opdrag gegee om dit te doen. “Waak en bid...” (vs.41). Maar hulle het geslaap. Daarom is hulle nou magteloos, en daarom trek Petrus sy swaard. Hy het nie ’n ander wapen nie. In die hele geselskap is Jesus die enigste wat werklik bewapen is. In sy hart dra Hy die swaard van die Gees, dit is die Woord van God. So sal Hy die Skrifte vervul.
Dit alles het Jesus vir sy dissipels, wat geslaap het in plaas van om te bid, en nie geweet het hoe om die Woord van God, die swaard van die Gees te hanteer nie, gedoen. Hy het dit ook vir ons gedoen, wat net soos hulle is. Dit is ook vir ons so moeilik om in die geestelike stryd die swaard van die Gees te hanteer, en ons is ook so traag in gebed, in die soeke na wat God van ons vra. Jesus het die pad alleen geloop. Hierdie gedeelte loop dan hierop uit: “Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug” (vs. 56).
Maar Hy het verder gegaan. Jesus die gevangene. Jesus die Vrye. Om ons vry te maak.