Kerk en stad
Kerk en stad
Stede word maklik deur Christene as ‘n bedreiging ervaar. Die stad is dikwels ‘n plek waar die kerk ‘n klein minderheid geword het. In ons omgewing is dit nie anders nie. Al te maklik is ‘n negatiewe houding van die kerk teenoor die stad eerder kenmerk as die uitsondering. Stede word gesien as plekke waar mense hulle geloof verloor. Stede ont-kerk. Dit is mense se indruk. Die gevolg is maklik ‘n “anti-stad” houding. Kerk en stad staan in só ‘n houding teenoor mekaar. Ons voel nie altyd gemaklik met die evangelie in só ‘n omgewing nie. Dit laat ‘n mens maklik in jou dop terugkruip. Maklik uit vrees.
Graag na die stad!⤒🔗
Hoe anders is Paulus se houding. Hy het ‘n hart vir die stad gehad. Vir ‘n heel besondere stad. Die stad Rome. Dit was in Paulus se tyd die middelpunt van die wêreldryk; die magtige Romeinse Ryk. Alle paaie het na Rome gelei. Rome was die sentrum van ekonomie, kultuur, politiek, maar ook van afgodery. Maar Paulus het ‘n hart vir die plek gehad. Hy wou baie graag al eerder die stad gaan besoek het (Romeine 1 : 8 – 15). Juis in die kultuursenttum van die Romeinse Ryk sou Paulus só graag die evangelie wou verkondig. Hy is nie skaam om met die evangelie in die stad te kom nie (Rom. 1 : 16 – 17). Die rede waarom Paulus nog nie in Rome was nie, is nie dat hy om watter rede dan ook verleë voel met die evangelie in die stad nie.
Vrug van Pinkster←⤒🔗
Paulus skryf aan die begin van sy brief aan die gemeente in Rome oor wat vanaf Pinksterdag gebeur het. Die Gees het uit Jode en nie-Jode ‘n heilige volk vir Christus bymekaargemaak. Daarmee wys die Heilige Gees Jesus Christus aan as die seun van God. Soek mense in Rome godeseuns? Dan moet hulle hul oë oopmaak. Die werk van die Gees is rondom hulle sigbaar!! Sedert Christus se opstanding uit die dood en die uitstorting van die Gees doen die Gees sigbaar wondere op aarde. Hy rig mense se aandag op Jesus as seun van God. Deur geloof in Jesus Christus, kom mense uit alle nasies weer tot gehoorsaamheid aan die Skeppergod.
In Paulus se dae het dit op ‘n magtige manier gebeur. Jode en heidene kom kragtig tot geloof en bekering. Die onstaan van ‘n gemeente in die stad Rome, is ‘n teken van die krag en mag van die Gees wat mense heilig. Nie net in Jerusalem en Judea nie, maar ook in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld werk die krag van die Gees wat uitgestort is. Selfs tot in Rome!! Daarom spreek Paulus hulle op besondere manier aan: “ook julle het geloofsgehorosaamheid gekry; geroepenes van Jesus Christus - geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is” (1:6-7).
Ons moet dit nie sommer so by ons laat verbygaan nie. Die feit dat Paulus die apostelskap gekry het om gehoorsaamheid te kry onder die heidene en die feit dat daar ‘n gemeente van Christus in Rome was, is heel besonder. Daar is absoluut niks vanselfsprekends aan nie. Nie alleen dat dit iets is wat deur die Gees van God bewerk is nie. Maar daarmee het iets gebeur wat nog nooit voorheen gebeur het nie. Die evangelie van God se genade het na die nasies gegaan!! Israel is nie alleen meer ‘n “heilige nasie” nie. Sedert Pinksterdag heilig die Gees mense uit alle nasies. Dit is alleen deur daardie genade-wonder dat die evangelie ook u en my via Europa bereik het.
Die Gees en die nasies←⤒🔗
Kan u nou Paulus se verlange verstaan om ook in Rome te kom en die evangelie daar te verkondig? Dáár in die stad wat in menige opsig die middelpunt van die magte teen die kerk van Christus was, wil Paulus getuie wees van die Gees se werk onder die volke. Die heerskappy van die seun van God onder die volke wil hy aanskou! Daarom het Paulus ‘n hart vir die stad. Hy kruip nie in sy dop uit vrees of skaamte vir die evangelie nie. Die wêreldregeersentrum sal ook voor die mag van die seun van God moet buig.
Paulus dank God dat daar al reeds in Rome gehoorsaamheid aan God gekom het. Paulus bid en smeek die Here of hy nie tog uiteindelik ‘n geleentheid sal kry om in Rome die evangelie te verkondig nie. Vir die gelowiges in Rome wil Paulus só graag gaan versterk en ook deur hulle bemoedig word. Rome was vir Paulus nog altyd prioriteit in sy beplanning. Hy wou nog altyd só graag in Rome ‘n gemeente gaan plant. Hoe mooi om dit te kan doen in die hoofstad van die volkerewêreld van daardie tyd.
Geen skaamte vir die evangelie nie←⤒🔗
Dit is duidelik – Paulus het geen vrees om in die stad met sy evangelie te kom nie. Hy is nie bang dat sy evangelie dit nie sal kan oorleef in die wêreldstad, Rome, nie. Hy het male sonder tal probeer om daar uit te kom, maar hy was nog elke keer deur die Gees verhinder. Die gemeente in Rome moet weet – die rede waarom Paulus nog nie in die stad gekom het nie, is nie omdat hy hom skaam vir die evangelie nie!! Met die evangelie staan ons as skuldenaars teenoor alle mense (1:14). Teenoor nie-Jode en Jode; teenoor geletterde, geleerde en ongeletterde mense! Onder ál hierdie groepe mense wou Paulus vrug vir die evangelie insamel. Die evangelie is óók vir die stadsmense. Vir geleerde en gekultiveerde mense.
Krag van God vir elkeen wat glo ←⤒🔗
Daar is een groot rede waarom Paulus nie bang was om met die evangelie die wêreldstad in te vaar nie. Hy skaam hom nie vir die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God. Die magtige keiserstad kan aangedurf word met die krag van die evangelie. Dit is veel meer as mensekrag – dit is ‘n krag van God. Die evangelie is geen brutale gewelddadige krag nie, maar ‘n genade-krag tot redding. Dit is self ‘n krag – ons hoef dit nie kragtiger te maak as wat dit is nie.
Die krag daarvan is die feit dat die geregtigheid van God daarin geopenbaar word. Nie die reg van die heersers van Rome nie, maar die trou van die Here God kom na ons in die evangelie. Geen bedreigende mag nie, maar reddende krag wat in geloof aangeneem kan word. Kyk hoe duidelik het dit al by die Jode geword!! Hulle het eerste geglo. Hulle is vir ons gegee as voorbeelde wat hulle hoop op die genade van die Here God gestel het. Dit is nou niks anders nie. Eers vir die Jode, maar nou ook vir ons wat nie-Jode is. Dit groei “van geloof tot geloof” (1:17). Dit begin in Jerusalem, Judea, gaan verder tot by Samaria en ook uiteindelik tot by die uithoeke van die wêreld.