Kan God Berou Hê?
Kan God Berou Hê?
⤒🔗
ʼn Lastige Vraag←⤒🔗
Die meeste mense is geneig om die vraag in die titel van hierdie artikel dadelik ontkennend te beantwoord: natuurlik kan God nie berou hê nie, anders was Hy nie God nie. Dit is tipies iets mensliks om berou te kan hê. Onder berou verstaan ons om spyt te wees of om ongelukkig te wees oor iets waarvan jy sê: dit was sleg, dom, sondig; as ek langer hieroor nagedink het sou ek dit nie so gesê of gedoen het nie. Agter berou lê daar meestal iets van sondige onwil of skuldige onwetendheid. Dit kan tog onmoontlik van God gesê word? Ons is egter verras as ons hoor dat daar meer as 35 keer in die Ou Testament oor God se berou gepraat word.
Maar sê die Skrif dan nie self dat daar by die Here, die Vader van alle lig, geen verandering of sweem van ommekeer is nie (Jakobus 1:17)? Dit lyk asof die Bybel op hierdie punt teenstrydig is. Dan voel dit of jou geloofsgrond onder jou voete wankel: ʼn God, wat berou kan hê, is ten diepste onberekenbaar en willekeurig. Onsekerheid of selfs angs is dan die gevolg.
“Wegvertaal”←⤒🔗
Al vroeg in die kerkgeskiedenis sien ons dat mense moeite gehad het met die gedagte van God se berou. Die heel eerste vertaling van die Ou Testament, die Griekse Septuaginta, het hierdie probleem maar net “weg” vertaal: in plaas van ‘berou’ is daar byvoorbeeld ‘om genadig te wees’ vertaal. Dit is ook tiperend die mening van die joods-Alexandrynse geleerde Philo, ʼn tydgenoot van Jesus. Hy het in ʼn geskrif oor die onveranderlikheid van God gestel dat dit die grootste goddeloosheid is om te beweer dat God emosionele eienskappe het. As reeds hierdie wyse filosoof bo wispelturigheid verhewe is, hoeveel te meer God. Bowendien is goddelike kennis volmaak. Die gebrekkige manier van praat in die Skrif (om mensvormig oor God te praat) is die gevolg van God se aanpassing aan ons mense. God is soos ʼn dokter wat juis omdat hy wil genees, ook soms ‘bedrieglik’ kan praat. As daar geskryf staan dat God hom vertoorn, is dit nie waar nie, maar dan handel God soos ʼn vader wat slegs skynbaar sy kind haat. Ook as daar staan dat God berou het, is dit nie regtig so nie. Aldus Philo.
God kry Berou oor Saul←⤒🔗
Nou gaan kyk ons na die Bybel. ʼn Duidelike voorbeeld vind ons in die teksgedeelte 1 Samuel 15. Saul kry die opdrag om Amalek, met alles wat hy het, met die banvloek te tref (vers 1–9). Hulle het egter alles wat veragtelik en vervalle was met die banvloek getref, die res word as buit saamgeneem. Dat Saul Agag, die koning van Amalek, gespaar het was ʼn teken van sy eersug: so ʼn gevange koning lyk goed met so ʼn segepraal. God se gebod is op hierdie manier verontagsaam. Eers nadat Samuel herhaaldelik daarop aangedring het (verse 14, 16–19, 22–23) erken Saul sy skuld (vers 24). Die breuk is onherstelbaar. ʼn Teken hiervan is die afgeskeurde slip van sy mantel (vers 27) en hulle geskeide weë aan die einde van die geskiedenis (vers 34).
God sê: ‘Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van my afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie.’ (vers 11). Ook die slotwoord van hierdie hoofstuk (vers 35) vermeld God se berou oor die koningskap van Saul: ‘en die HERE het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.’ God het berou, nie omdat Hy iets verkeerds gedoen het nie, maar omdat Saul iets verkeerds gedoen het. Die berou van God kenmerk die einde van sy verkiesende handeling aan Israel via Saul. Maar tegelykertyd neem God die besluit dat Israel ʼn koningskap sal kry (1 Samuel 8:7, 9, 22) nie terug nie! In vers 28 word daar vir Saul gesê dat die koningskap oor Israel nie deur God opgehef word nie, maar aan ʼn ander, ʼn beter koning (Dawid), gegee sal word. Hier sien ons dus wat God se berou inhou: ʼn verandering in God se handelswyse, ʼn gedeeltelike terugkom op ʼn gedane saak om die saak des te beter te kan voortsit.
Saul moet Nie Dink dat God Berou het Nie←⤒🔗
In dieselfde hoofstuk 1 Samuel 15, tussen die woorde oor God se berou in vers 11 en 35, staan daar ʼn teks waarin gestel word dat God geen berou het nie. Vers 29: ‘En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie’. Hoe is dit moontlik in een en dieselfde skrifgedeelte? Uit die voorafgaande blyk, dat Saul ʼn taamlike goedkoop skuldbelydenis aflê in die trant van “laat ons dit nou maar vergeet” (vers 25). Saul het min verstaan van wie God is en trek God neer na sy menslike vlak. Hy wil ʼn kompromie aangaan. Maar hy misgis hom duidelik. God se oordeelswoord (vers 28) dat ʼn ander oor Israel koning sal word, is ernstig, (vers 29) so maak die profeet dit baie duidelik aan die koning. God kan nie vermurwe word nie, Hy kom nooit op sy woord terug nie. God is nie oppervlakkig of onstandvastig soos ʼn mens nie, dat hy die een oomblik dit en die volgende oomblik iets anders sê nie.
Aanvullend en Nie Teenstrydig Nie←⤒🔗
So het die gedagte van God se berou in 1 Samuel 15 twee kante wat al twee waar is, wat mekaar nie korrigeer nie maar aanvul. Aan die een kant dat God berou het oor Saul (verse 11 en 35) – maar dit beteken nie willekeur of onsekerheid nie (vers 29). Aan die ander kant dat God geen mens is, om te lieg en sy woord te berou nie (vers 29) – maar dit beteken nie dat God nie kan reageer en sy handelswyse kan verander nie (verse 11 en 35). Om saam te vat: God se berou is ʼn werklikheid, ʼn reaksie op menslike skuld – maar hierdie berou is nie ʼn wispelturige of willekeurige berou, soos menslike berou nie.
Bileam as Vergelyking←⤒🔗
Ons vind presies dieselfde gedagte in Numeri 23:19, in die middel van die geskiedenis van Bileam. Balak vat vir Bileam saam van die een punt na die ander, in die hoop dat hierdie beroepsvervloeker tog net Israel daar onder in die dal nie sal seën nie, maar sal vervloek. Miskien sal dit volgende keer wel werk, so redeneer Balak. Jy sou dit inderdaad so kon probeer by die dienskneg van ʼn willekeurige godheid. Maar hierdie God wat Bileam laat praat is anders. ‘God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ʼn mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?’ (vers 19). So sê Bileam: Jy, o Balak hoef werklik nie te dink dat God wat my die seën oor Israel laat uitspreek, ʼn bietjie later daaroor berou sal hê nie. Hy is God en geen mens nie. Net so min as in 1 Samuel 15:29 beteken dit dat God geen berou kan hê nie, maar wel dat God nie op ʼn menslike manier berou kan hê nie.
Gevolgtrekking←⤒🔗
ʼn Vergelyking met ander plekke in die Bybel waar daar sprake is van God se berou lei ons tot die gevolgtrekking dat God se berou nie dieselfde is as menslike berou nie. Daar is wel ʼn sekere ooreenkoms, naamlik dat berou ʼn verandering in handelswyse met hom saambring en gepaard kan gaan met hewige emosies (sien bv. Genesis 6:6). Maar daar is nog ʼn groter verskil: God se berou kom nooit voort uit die besef van tekortkoming of skuldige onwetendheid nie. Die vertaling ‘berou’ in ons Bybelvertalings moet dan ook as ʼn noodvertaling beskou word. ʼn Groot aantal tekste gee duidelik aan dat dit verkeerd is om God se berou op een lyn met menslike berou te stel (Numeri 23:1; 1 Samuel 15; Hosea 11; Hebreërs 6:18; Titus 1:2 en Jakobus 1:17). Die twee ‘reekse’ van God se berou en van God se onberoulikheid is nie teenstrydig nie, maar vul mekaar aan. Die reeks oor God se berou gee aan, dat die Here ʼn lewende God is, wat kan reageer op die mens en nie ʼn statiese abstrakte God is nie; die reeks oor God se onberoulikheid gee aan, dat hierdie berou van God geen willekeur inhou nie en dat in alles God se heilsplan onverminderd voortgaan. Met ʼn enigsins gebrekkige vergelyking sou ons kan dink aan twee terme uit krygskuns: strategie en taktiek. Die strategie is die hele plan, volledig vanaf die fase van die gereedmaking tot en met die omskrywing van die krygsdoel. Die taktiek omvat die geheel van die krygsverrigtinge wat daarop gerig is om die strategie te kan realiseer. Tydens die stryd kan die taktiek baie keer verander, terwyl ʼn goeie krygsheer tog vashou aan sy strategie. So sou jy die Bybelse gedagte oor die berou van God min of meer kan beskou: dit gaan oor aksies op die vlak van die taktiek (God het geen berou), terwyl die groot strategiese plan vasstaan (God kan berou hê).
Die Lewende God←⤒🔗
Die betekenis van die prediking aangaande God se berou is groot. Hierdie vorm nie ʼn struikelblok nie maar ʼn pêrel in die Bybelse Godsopenbaring. Hierdeur word dit duidelik dat elke vergeesteliking of abstrakmaking van die beeld wat ons van die Here God het, onmoontlik is – omdat God ʼn lewendige God is. Hy is nie die onbewoë Beweger van Philo, ʼn rekenaar-God van yskristal nie. Hy is ook nie ʼn God wat jy maar kan jy-en-jou nie. Hy is die bewoë Heer wat in sy lewendige omgang met hierdie wêreld en spesifiek met sy volk, sy weg gaan, nie staties maar naby-reagerend, terwyl Hy Homself bly in sy heiligheid en liefde.