Jeremia 6:16 - Die Ou Paaie
Jeremia 6:16 - Die Ou Paaie
Vra na die ou paaie… en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.
Jeremia 6:16b
Jeremia profeteer in ’n donker tyd. Die verbondsvolk keer sy rug op die Verbondsgod. Die maat van die sonde is vol. Die oordeel is onafwendbaar. Juda, die tweestammeryk, sal in ballingskap weggevoer word.
Die kwaad wat die HERE se toorn opwek, is die volk se verlating van die ou paaie. Ou dinge is outyds, sê die mense. Nuwe tye, nuwe sedes. Die Woord van God word by ’n nuwe situasie aangepas, in stryd met die bevel: Pas die lewe aan by die Woord.
Die profeet roep die afvalliges tot bekering. Staan op die weë, die kruispaaie. Staan net stil in julle gejaagde lewe. Bepeins watter rigting die regte een is. Beproef julle, elkeen persoonlik. Vra na die ou paaie.
Die ou paaie… Dit is eerstens die wet, die tora, wat die HERE eeue gelede deur Moses geopenbaar het. Hy sê: Hou my gebooie om in my weë te wandel en My te vrees (Deuteronomium 8:6; vergelyk 5:33; 10:12-13). Dink aan die geskiedenis van die goue kalf toe hulle gou afgewyk het van die weg wat Ek hulle beveel het (Deuteronomium 9:12). Daar het omtrent drieduisend man omgekom (Eksodus 32:28), ’n waarskuwende voorbeeld vir mense wat die evangelie by hulle situasie aanpas. Die HERE laat Hom nie gebruik nie.
Die ou paaie is tweedens God se roemryke dade in die verlede. Vergeet dit nie, sê die HERE. Vertel my werke en my wet aan julle kinders sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat gebore word, dit aan hulle kinders kan vertel. So sal die volgende geslagte op God vertrou, sy dade nie vergeet nie en sy gebooie bewaar (Deuteronomium 6:7; Psalm 78:3-7). Godvresende ouers en kinders staan saam. Daar ontstaan nie ’n generasiegaping tussen hulle nie.
Jeremia roep die kerkvolk terug na die HERE, die God van Moses. Hy is die enigste wat die menselewe en die wêreldgebeure altyd in sy hande het. Hy lei die geskiedenis. Na die opstanding van Christus regeer die Vader deur Hom. Hy het alle mag in die hemel en op die aarde ontvang (Matteus 28:18). Sy regeerbeleid is nie willekeurig nie. Nee, Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Hebreërs 13:8).
Die profesie oor die ou paaie betuig: Die historie is een, want God is een en sy Woord is een. Die Heiland sê: Die Ou Testament getuig van My (Johannes 5:39; vergelyk Lukas 24:25-27; 1 Petrus 1:10-11).
Die offerwette in Levitikus verduidelik die betekenis van die versoenende lyde en sterwe van Hom wat in sy vernedering die hoëpriester, die altaar en die offer in een persoon was. Die boek Deuteronomium verkondig die vernuwende werk van sy Heilige Gees wat die hele menselewe herskep.
Daar bestaan geen teenstelling tussen die ou en die nuwe verbond nie (NGB, artikel 25). Die Nuwe Testament is die waarheid, die vervulling van wat in die Ou Testament as skadu afgebeeld is (Johannes 1:17). Vra na die ou paaie. Lees nie alleen die Nuwe Testament of Bybelstukkies nie, maar die hele Skrif om die heerlike dade en wil van God te verstaan.
Ons kennis van die ou paaie is die toetssteen vir die gelowige beoordeling van die geskiedenis. Op die beginsels van die Woord, waaruit ons voorgeslag gelewe het, bou ons vandag voort. Die evangelie dring ons tot afwysing van afdwaling en ongeloof wat uit die historie oorgelewer word.
Vra na die ou paaie, ook in ons vaderlandse geskiedenis. Toe Jan van Riebeeck ’n verversingstasie aan die Kaap gestig het, het hy die Statebybel in sy hand en hart saamgebring. Dit was die leiding van God.
As ons vandag nie by dié ryk verlede aansluit nie, gaan die dreigende woord van die Here Jesus in vervulling: Dit sal vir Tirus en Sidon, vir Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle wat weier om op die geseënde verlede voort te bou (Matteus 11:20-24).
Die profesie oor die ou paaie is geensins ’n belemmering vir vooruitgang nie. Ons God is immers die Alfa en die Omega (Openbaring 1:8). Hy skakel sy volk in by sy gang van die A na die Z. Die Alfa: die historie begin in die tuin van Eden (Genesis 2:8-15). Die Omega: dit eindig met die neerdaling van die stad, die Nuwe Jerusalem, uit die hemel (Openbaring 21:9-27). God kom van die tuin tot die stad. Tussen die begin en die einde vind ontwikkeling plaas. Die mens is geroepe om die aarde te ontgin (Genesis 1:28), as medewerker van God (1 Korintiërs 3:9).
Die HERE beveel sy kinders om progressief én konserwatief te wees. Strewe na vooruitgang én vra na die ou paaie. Bou in die gesin, in die skool, in die kerk, in die staat, in die daaglikse werk op die beginsels van die evangelie. Hou nie, uit vrees vir ekonomiese regressie en teenstand in die wêreld, die Bybel angsvallig uit julle vernuwingsprogramme weg nie. Wees Skrifgetrou op alle lewensterreine.
Wie vra na die ou paaie om daarin te wandel, mag ekonomies en andersins die wind van voor kry, maar vind die belangrikste in die lewe: rus vir die siel. Christus haal in sy prediking die laaste gedeelte van ons teks aan.
Sy juk is sag. Sy las is lig. Hy alleen skenk rus (Matteus 11:29), lewensrus, -veiligheid, -sekerheid, -geborgenheid.
O land, o volk, vra na die ou paaie. Die geskiedenis is een, want God is een en sy Woord is een. Die God van Adam, van Noag, van Abram, van Moses, van Dawid, van die profete, die Vader van ons Here Jesus Christus, van die apostels, van die kerkreformatore, van Jan van Riebeeck – Hy is ons God, vir ewig en altyd.
Ken sy dade en norme uit sy Woord. Ken dit uit die Ou én die Nuwe Testament. Bou voort op die Skrifbeginsels waarop ons vadere gebou het. Dan word die belofte vervul: Wat die toekoms ook al mag bring – die kerk, die volk en ons nageslag sal by die God van die ou paaie die ware rus vind.