Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 1 Die uiterlike hulp- en ondersteuningsmiddels waardeur God ons tot die gemeenskap met Christus uitnooi en ons daarin hou
Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 1 Die uiterlike hulp- en ondersteuningsmiddels waardeur God ons tot die gemeenskap met Christus uitnooi en ons daarin hou
1. Redes vir die noodsaaklikheid daarvan dat daar 'n kerk moet wees.⤒🔗
In die vorige boek is verduidelik dat Christus ons s'n word deur die geloof in die evangelie en dat ons daardeur in die heil en ewige geluksaligheid wat deur Hom gebring is, deel. Omdat ons egter in ons onkunde en traagheid - en hierby voeg ek ook wispelturigheid -, uiterlike hulpmiddels nodig het om die geloof in ons te verwek, dit te laat aangroei en na sy doel te laat vorder, het God ook hierdie hulpmiddels bygevoeg om ons swakheid in aanmerking te neem; en om die verkondiging van die evangelie van krag tot krag te laat gaan, het Hy hierdie skat by die kerk gelaat. Hy het herders en leraars ingestel om diegene wat aan Hom behoort, deur hulle mond te leer, en Hy het hulle met gesag toegerus.1 Kortom: Hy het niks nagelaat wat tot heilige eensgesindheid en opregte orde kon bydra nie.
Hy het ook sakramente ingestel en uit ervaring voel ons dat hulle uiters nuttige hulpmiddels is om ons geloof te koester en kragtig te maak. Omdat ons trouens nog in die kerker van ons vlees ingesluit is,2 bereik ons nog nie die rang van die engele nie. Maar God het Hom na sy wonderbaarlike voorsienigheid by ons, vermoë aangepas en ons 'n metode voorgeskryf om tot Hom te nader, al is ons nog ver van Hom af weg.
Ons onderwysmetode vereis daarom dat ons nou die kerk, die kerkregering, die orde in en die bevoegdheid van die kerk behandel; daarna ook die sakramente en ten slotte die burgerlike regering.3 Tegelyk moet ons godvrugtige lesers terugroep van daardie verminkings waarmee die Satan onder die pousdom alles wat God tot ons saligheid bestem het, vervals het.
Nou sal ek met die kerk begin. In die skoot hiervan wil God sy kinders versamel, nie alleen om deur die bystand en bediening daarvan gevoed te word so lank hulle suigelinge en kinders is nie, maar ook om deur die moederlike sorg daarvan gestuur te word totdat hulle wasdom bereik en uiteindelik die doel van die geloof bereik.4 Dit is ons immers nie geoorloof om dinge wat God saamgevoeg het, te skei nie,5 sodat die kerk ook vir diegene vir wie God hulle Vader is, hulle moeder is6 - en dit nie alleen onder die wet nie maar ook na Christus se koms soos Paulus getuig wanneer hy leer dat ons kinders van die nuwe en hemelse Jerusalem is.7
2. Die betekenis van 'ek glo die kerk' in die apostoliese geloofsbelydenis.←⤒🔗
Wanneer ons in die geloofsbelydenis bely dat ons die kerk glo, het dit nie alleen op die sigbare kerk wat ons nou behandel, betrekking nie maar ook op al God se uitverkorenes, en onder hulle word ook die wat reeds gesterf het, ingesluit. Die woord glo word daar geponeer omdat dikwels geen (ander) onderskeid tussen die kinders van God en onheiliges en tussen sy eie kudde en wilde diere waargeneem kan word nie. Dat die voorsetsel in deur baie mense bygevoeg word, berus op geen aanneemlike rede nie. Ek erken wel dat dit alledaagser en ook nie sonder steun van die ou bronne is nie omdat die Niseense geloofsbelydenis, soos dit in die Kerkgeskiedenis weergegee word, die voorsetsel wel invoeg.8 Ons moet nogtans na aanleiding van die geskrifte van die skrywers van ouds daarop let dat eenmaal onteenseglik aanvaar is dat hulle gesê het Ons glo die kerk en nie in die kerk nie. So sê Augustinus9 en daardie skrywer van ouds wie se werkie 'n Vertolking van die geloofsbelydenis10 onder Cyprianus se naam staan. En nie alleen dit nie, maar hulle merk ook op dat dit 'n onpaslike uitdrukking sal wees as die voorsetsel aangelap word; en hulle bekragtig hulle opvatting ook met gewigtige bewys.11 Ons getuig immers dat ons in God glo omdat ons gemoed in Hom as waaragtige God berusting vind en ons vertroue in Hom rus. Om te sê dat dit in die kerk is, is net so min paslik as om te sê in sondevergiffenis of in die wederopstanding van die vlees. Hoewel ek nie oor woorde wil stry nie, verkies ek dus om die juiste uitdrukking te gebruik wat gepaster is om die onderwerp tot uitdrukking te bring eerder as om aanstellerig formules aan te bied wat die onderwerp sonder rede verduister.
Die doel daarvan is egter dat ons moet weet dat, hoewel die duiwel geen steen onaangeroer laat om Christus se genade te verwoes nie, en hoewel God se vyande met dieselfde waansinnige drif daarteen woed, dit nogtans nie uitgeblus kan word nie, en dat Christus se bloed ook nie oneffektief gemaak kan word sonder dat dit die een of ander vrug voortbring nie. Ons moet dus ons oë na God se verborge uitverkiesing en sy innerlike roeping12 wend omdat Hy alleen weet wie syne is,13 en omdat Hy hulle onder sy seël ingesluit hou, soos Paulus sê, en omdat hulle sy tekens dra waardeur hulle van die verworpenes onderskei word.14 Maar omdat 'n baie geringe en veragte getal onder 'n ontsaglike menigte verskuil is en 'n paar koringkorreltjies in 'n hoop kaf verberg is,15 moet ons dit aan God alleen oorlaat om sy kerk te ken omdat die grondslag daarvan sy verborge16 uitverkiesing is. Dit is inderdaad ook nie voldoende dat ons die menigte uitverkorenes in ons gedagte en ons gemoed begryp nie maar ons moet ook daaroor nadink dat die eenheid van die kerk sodanig is dat ons waarlik daarvan oortuig moet wees dat ons daarin ingelyf is. Asons trouens nie onder Christus, ons Hoof, met al sy ander lede verenig is nie, bly daar vir ons geen hoop op 'n toekomstige erfenis oor nie.
Die kerk word daarom katolieke of algemene kerk genoem omdat daar nie twee of drie kerke kan bestaan sonder dat Christus verskeur word nie - en dit kan tog nie gebeur nie! Ja, al die uitverkorenes van God is so in Christus aan mekaar verbind17 dat, soos almal van een hoof afhanklik is, hulle net so in een liggaam saamgroei18 omdat hulle so saamgevoeg en van mekaar afhanklik is soos ledemate van een en dieselfde liggaam.19 Hulle word waarlik een omdat hulle in een geloof, hoop en liefde deur dieselfde Gees van God saamleef omdat hulle nie alleen tot dieselfde erfenis van die ewige lewe geroep is nie, maar ook omdat hulle geroep is om in een en dieselfde God en Christus te deel.20 Hoewel die droewige verwoesting waarvoor ons oral te staan kom, dus uitroep dat daar niks meer van die kerk oor is nie, moet ons weet dat Christus se sterwe vrug dra en dat God sy kerk wonderbaarlik bewaar asof dit in 'n skuilplek is.21 Aan Elia is byvoorbeeld gesê. "Ek het vir My seweduisend man bewaar wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie".22
3. Die betekenis van 'die gemeenskap van die heiliges'.←⤒🔗
Hierdie artikel van die geloofsbelydenis het in 'n sekere mate betrekking ook op die uitwendige kerk, sodat elkeen van ons broederlike eensgesindheid met al die kinders van God moet behou, aan die kerk die gesag wat dit verdien, moet gun en elkeen hom kortom moet gedra soos 'n skaap van die kudde. En daarom word die gemeenskap van die heiliges ook bygevoeg. Hoewel dit 'n deeltjie is wat oor die algemeen deur die ou skrywers agterweë gelaat is,23 moet ons dit nogtans nie ignoreer nie want dit druk uiters goed uit wat die kerk is. Dit is asof gesê is dat die heiliges met die verstandhouding in die gemeenskap met Christus versamel is om al die seëninge wat God hulle gun, wedersyds met mekaar te deel. Daardeur gaan die verskeidenheid van die genadegawes nogtans nie tot niet nie aangesien ons weet dat die gawes van die Gees verskillend verdeel word. En ook die burgerlike orde word nie daardeur verskeur nie aangesien dit elkeen geoorloof is om sy persoonlike besittings te hê. Dit is trouens noodsaaklik om die vrede onder mense te bewaar dat elkeen sy eie eiendom persoonlik en onderskeidelik moet besit.24 Die gemeenskap word egter bygevoeg omdat, soos Lukas dit beskrywe, die menigte gelowiges in hart en siel een is,25 en soos Paulus sê wanneer hy die Efesiërs aanspoor om een in liggaam en een in die Gees te wees aangesien hulle in een hoop geroep is.26 As hulle trouens waarlik oortuig is dat God hulle almal se gemeenskaplike Vader is en Christus hulle gemeenskaplike Hoof, kan dit nie anders as dat hulle hulle besittings wedersyds met mekaar deel nie omdat hulle deur broederliefde aan mekaar verbind is.
Nou is dit vir ons van die grootste belang om te weet watter vrugte dit vir ons sal dra. Ons glo die kerk immers sodat ons vas oortuig kan wees dat ons lidmate daarvan is.27 So steun ons saligheid trouens op vaste en bestendige pilare sodat, selfs al sou die hele wêreldstruktuur wankel, die kerk nooit in duie kan stort of tot 'n val kan kom nie. Ten eerste staan dit op God se uitverkiesing en dit kan net so min as sy ewige voorsienigheid verander of beswyk. Ten tweede is dit in 'n sekere sin met die standvastigheid van Christus verbind en Hy sal net so min toelaat dat sy gelowiges van Hom losgeskeur word as dat sy ledemate van Hom afgeskeur en verstrooi word. Hierbenewens is ons seker dat die waarheid altyd vir ons vas sal bly staan so lank ons in die skoot van die kerk ingesluit word. Ten slotte ervaar ons dat die volgende beloftes ons raak: "In Sion sal daar verlossing wees";28 "God sal vir ewig in Jerusalem bly sodat dit nooit sal wankel nie".29 Deelname in die kerk vermag soveel dat dit ons in die gemeenskap met God hou. Juis in die woord gemeenskap30 is daar die grootste vertroosting omdat, terwyl dit vas en seker is dat alles wat die Here diegene wat aan Hom en aan ons behoort, skenk, ons ook toekom, ons verwagting deur al hulle seëninge versterk word.
Om egter hierdie eenheid van die kerk te omhels, is dit, soos ons gesê het,31 nie nodig dat ons dit met ons oë hoef te sien, of met ons hande aan te raak nie. Die feit dat dit op die geloof gegrond is, behoort ons eerder te vermaan dat, aangesien dit ons begrip te bowe gaan, ons nie minder daaraan moet dink as wanneer dit aap en bloot sigbaar is nie. Ons geloof is ook nie slegter omdat dit iets wat onbekend is, herken nie. Ons word immers hier nie beveel om tussen verworpenes en uitverkorenes te onderskei nie - dit is trouens iets wat God alleen toekom en nie ons nie -, maar om in ons gemoedere vas en seker te bepaal dat almal wat vanweë die genade van God, die Vader, deur die werking van die Heilige Gees tot deelname in Christus gekom het, as God se eiendom en besondere besitting afgesonder is, en, aangesien ons ook onder hulle tel, dat ons ook in so 'n groot genade deel.
4. Die sigbare kerk is waarlik die gelowiges se moeder.←⤒🔗
Omdat ek my egter voorgeneem het om nou oor die sigbare kerk te praat, moet ons net uit die enkele woord moeder 32 leer hoe nodig, ja, hoe noodsaaklik dit is dat ons haar moet leer ken. Daar is trouens geen ander toetrede tot die lewe tensy die kerk ons in haar skoot ontvang, aan ons geboorte skenk, ons aan haar borste voed en ons onder haar beskerming en leiding bewaak33 totdat ons ons sterflike vlees afgelê het en soos die engele is nie.34 En ons swakheid laat immers ook nie toe dat ons van haar skool af weggaan voordat ons ons hele lewe haar leerlinge was nie. Hierby is daar buite haar skoot geen hoop op sondevergiffenis35 en geen hoop op saligheid nie,36 soos Jesaja37 en Joël38 getuig. Esegiël stem ook met hulle saam wanneer hy verklaar dat diegene wat God die hemelse lewe weier, nie onder God se volk getel sal word nie.39 Aan die ander kant word byvoorbeeld gesê dat almal wat hulle tot die beoefening van ware godsvrug bekeer, hulle name onder die bewoners van Jerusalem opskryf.40 In 'n ander psalm word daarom gesê: "Dink aan my, Here, in u welbehae vir u volk; besoek my met u verlossing dat ek die weldadigheid van ti uitverkorenes mag sien, dat ek my mag verheug oor die blydskap van u volk en dat ek my mag verbly met u erfdeel".41 In hierdie woorde word die vaderlike guns van God en 'n besondere getuienis van die geestelike lewe tot sy kudde beperk. Om die kerk te verlaat bring gevolglik altyd die verderf mee.
5. Die kerk is die middelpunt van Christelike onderwysing.←⤒🔗
Maar laat ons verder gaan en verduidelik wat by hierdie onderwerp hoort. Paulus skryf dat Christus, om alles te vervul, sommiges gegee het as apostels, ander as profete, ander as evangeliste en ander as herders en leraars om die heiliges vir hulle bedieningswerk tot opbou van die liggaam van Christus toe te rus42 totdat ons almal tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God sal kom, en tot volmaakte volwassenheid, en tot die maat van volledige volwassenheid van Christus.43 Ons sien hoe God wat diegene wat aan Hom behoort, in 'n oogwenk kan vervolmaak, nogtans nie wil hê dat hulle tot volwassenheid moet groei sonder die opvoeding van die kerk nie. Ons sien ook dat die manier waarop, dit moet gebeur, hier uitgedruk word: die verkondiging van die hemelse leer is naamlik op herders gelê. Ons sien dat almal aan dieselfde orde onderwerp word, naamlik om hulle met 'n vriendelike en leerbare gemoed deur leraars44 wat vir hierdie doel aangestel is, te laat regeer. En Jesaja het die koninkryk van Christus al lank tevore reeds met hierdie teken onderskei: "My Gees wat in jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal nooit uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders wyk nie".45 Hieruit volg dat almal wat die geestelike sielevoedsel verwerp wat van Godswee deur die hand van die kerk hulle aangebied is, verdien om van gebrek en honger te vergaan.
God gee die geloof in ons harte, maar deur sy evangelie as instrument. Paulus leer byvoorbeeld dat die geloof uit die gehoor is.46 So is die mag om te verlos ook in die hande van God47 maar, soos dieselfde Paulus getuig, verklaar en ontvou Hy dit in die verkondiging van die evangelie.48 Met hierdie doel was dit eertyds sy wil dat heilige byeenkomste by die heiligdom moes plaasvind sodat die leer wat deur die priester se mond oorgedra is, eensgesindheid in die geloof kon voed. Wanneer die tempel God se rus49 genoem word en die heiligdom sy woning50 , wanneer gesê word dat Hy tussen die gérubs sit,51 is hierdie voortreflike beskrywings op niks anders gemik as om respek, liefde, agting en eerbied vir die bediening van die hemelse leer te weeg te bring nie. Die aanskouing van 'n sterflike veragtelike mens sou andersins baie daaraan afbreuk gedoen het. Sodat ons dus kan weet dat 'n onwaardeerbare skat in houers van klei vir ons aangebied word,52 kom God self te voorskyn en, in soverre Hy die Skepper van hierdie orde is, wil Hy hê dat sy teenwoordigheid in hierdie instelling van Hom herken moet word. Nadat Hy sy volk dus verbied het om hulle met wiggelary, waarsêery, towerkunste, dodebeswering en ander bygelowe besig te hou,53 het Hy bygevoeg dat Hy iets sal gee wat vir almal voldoende behoort te wees, naamlik dat hulle nooit sonder profete sal wees nie.54 Soos Hy egter sy volk van ouds nie aan die engele oorgegee het nie, maar leraars uit die aarde opgewek het om waarlik die amp van engele te vervul, so is dit ook sy wil om ons vandag nog deur mense te onderwys. En soos Hy eertyds nie met die wet alleen tevrede was nie maar ook priesters as vertolkers daarvan gegee het sodat die volk die ware betekenis van die wet uit hulle mond kon soek,55 so is dit ook vandag sy wil dat ons dit nie slegs toegewyd moet lees nie maar Hy het ook leraars aangestel om ons daarmee te help.
Die voordeel hiervan is tweevoudig. Aan die een kant stel Hy ons gehoorsaamheid met die heel beste toets op die proefwanneer ons na sy dienaars asof na Hom self luister. Aan die ander kant neem Hy ook ons swakheid in ag wanneer Hy liewer deur vertolkers op rnenslike wyse met ons wil praat om ons na Hom te lok as om ons te oorstelp en ons van Hom weg te jaag. En alle godvrugtiges ervaar gewis uit die vrees waarmee God se majesteit hulle tereg platslaan, hoe voordelig hierdie alledaagse onderwysmetode vir hulle is. Diegene wat die indruk het dat die gesag van die leer as gevolg van die veragtelikheid van die wat geroepe is om hulle te onderwys, verydel word, bring daarmee net hulle eie ondankbaarheid aan die lig. Onder soveel voortreflike gawes waarmee God die mensdom versier het, is dit 'n besondere voorreg dat Hy die monde en tonge van mense waardig ag om vir Hom te heilig sodat sy stem deur hulle weerklank kan vind.56 Ons moet daarom op ons beurt nie afkerig wees om die heilsleer wat volgens sy opdrag en uit sy mond ons voorgehou word, te omhels nie want hoewel God se mag nie aan die uiterlike middele gebind is nie, het Hy ons nogtans aan hierdie alledaagse onderwysmetode verbind.
Wanneer dwaalgeeste57 weier om hieraan te hou, verstrik hulle hulle in veelvuldige verderflike strikke. Hoogmoed, afkerigheid of twisgierigheid dryf baie mense daartoe om hulleself te oortuig dat hulle deur die Skrif self te lees en dit te oorpeins voldoende vordering kan maak. So minag hulle die openbare byeenkomste en beskou die verkondiging (van die Woord) as oorbodig. Omdat hulle egter, so ver dit binne hulle vermoë is, die heilige eenheidsband probeer vernietig of afbreek, kan niemand van hulle die regverdige straf vir hierdie goddelose verbreking ontkom sonder om hom met verpestelike dwalings en die afstootlikste drogbeelde te betower nie. Dat die suiwer eenvoud van die geloof dus onder ons van krag tot krag mag gaan, moet ons nie beswaard voel om ons met hierdie beoefening van ons godsvrug besig te hou nie omdat God ons by die instelling daarvan getoon het dat dit noodsaaklik is en Hy dit grootliks aangeprys het. Selfs onder die iesegrimmigste honde58 is daar nog nooit iemand gevind wat sou sê dat ons ons ore vir God moet sluit nie, maar die profete en vroom leraars het in al die tye 'n swaar stryd teen goddelose mense gevoer59 omdat hulle hulle in hulle hardnekkigheid nooit daaraan kon onderwerp om deur die mond en die diens van mense geleer te word nie. Dit is dieselfde as wanneer hulle God se aangesig wat in die leer oor ons skyn, uitwis. Gelowiges is eertyds gebied om God se aangesig in die heiligdom te soek60 en dit word ook dikwels in die wet herhaal.61 Die rede daarvoor was dat die onderwysing van die wet en die vermanings van die profete vir hulle niks anders as die lewende beeld van God was nie. Paulus verklaar byvoorbeeld dat die heerlikheid van God in die aangesig van Christus in sy prediking skyn. 62
Afvalliges wat daarna hunker om die kerk te verskeur net asof hulle skape uit hulle stalle kan wegdryf en hulle in die kake van wolwe kan gooi, is daarom nog verfoeiliker. So ver dit ons aangaan, moet ons vashou aan dit wat ek uit Paulus aangehaal het, naamlik dat die kerk op geen ander wyse gebou word as deur die uitwendige verkondiging (van die Woord) nie, en dat die heiliges deur geen ander band aan mekaar verbind word as wanneer hulle deur eendragtig te leer en te vorder die kerklike orde wat deur God aan hulle voorgeskryf is, onderhou nie.63 Soos ek gesê het, is gelowiges eertyds onder die wet besonderlik met hierdie doel voor oë gebied om na die heiligdom te stroom want wanneer Moses oor die woonplek van God praat, noem hy die plek waar God die herinnering van sy Naam geplaas het, terselfdertyd die plek van God se Naam.64 Daarmee leer hy oop en bloot dat die plek sonder die leer van godsvrug geen nut het nie. Dit is ongetwyfeld ook die rede waarom Dawid met groot geestelike bitterheid kla dat hy deur die wrede dwingelandy van sy vyande verhinder word om die tabernakel in te gaan.65 Oor die algemeen lyk dit vir baie mense na 'n kinderagtige gekla want om sonder die voorhof van die tempel te wees, bring weinig skade mee en veroorsaak nie veel verlies aan plesier nie, mits ander genietinge maar beskikbaar is. Hy kla nogtans dat hy deur hierdie een ergernis, deur bekommernis en droefheid gekwel, gepynig en byna verteer word. Die rede daarvoor is naamlik dat niks vir gelowiges groter waarde het as hierdie hulpmiddel waarmee God diegene wat aan Hom behoort, geleidelik die hoogte in opvoer nie. Ons moet trouens ook daarop let dat God Hom altyd in die spieël van sy leer so aan die heilige aartsvaders vertoon het dat hulle Hom geestelik kon ken. Daarom word die tempel nie alleen sy aangesig66 genoem nie maar - om alle bygeloof te verwyder - ook die voetbank van sy voete.67 En dit is inderdaad 'n gelukkige ontmoeting in geloofseenheid68 wanneer alle gelowiges - van die oudste tot die jongste - na hulle Hoof streef. Al die tempels wat die heidene met 'n ander doel vir God gebou het, was louter ontheiliging van sy diens. Hoewel dit nie met eweveel stompsinnigheid was nie, het die Jode nogtans enigermate in dieselfde ontheiliging verval. Uit die mond van Jesaja69 wys Stefanus hulle trouens tereg dat God nie in tempels wat met mensehande gebou is, woon nie, ensovoorts,70 want deur sy Woord heilig God alleen tempels vir wettige gebruik. En as ons sonder sy bevel iets onbesonne aanpak, kleef daar dadelik aan sa 'n slegte begin ook bykomende versinsels waardeur die kwaad mateloos vermeerder word. Nogtans het Xerxes71 ondeurdag gehandel toe hy op advies van die wyse manne72 al die tempels van Griekeland verbrand of verwoes het omdat hy gemeen het dat die gode deur mure en dakke ingesluit word terwyl alles vir hulle oop en bloot moet wees.73 Net asof dit nie in God se mag is om op die een of ander wyse na ons neer te daal om naby ons te wees sonder om nogtans van plek te verander of ons aan die aardse middele te verbind nie! Nee, Hy is eerder by magte om ons met sekere middels opwaarts na sy hemelse heerlikheid te voer wat met oneindige grootheid alles vul en inderdaad ook bo die hemele strek.
6. Woordverkondiging en die Heilige Gees.←⤒🔗
Verder, omdat daar vandag 'n geweldige stryd ontketen is oor die doeltreffendheid van die (woord)bediening terwyl sommiges die aansien daarvan oormatig vergroot en ander volhou dat dit verkeerd is om iets wat aan die Gees behoort op 'n sterflike mens oor te dra74 - dit is as ons meen dat bedienaars en leraars in die verstand en harte van mense indring om die blindheid van hulle verstand en die hardvogtigheid van hulle harte te verbeter -, moet ons ook leer hoe hierdie geskil reg beëindig moet word. Die vraagstuk waaroor hulle aan albei kante stry, sal maklik sonder moeite afgehandel word deur uitdruklik op die verwysings te let waar God as Insteller van die prediking sy Gees aan die Woordverkondiging verbind en vrugte daaruit beloof;75 of aan die ander kant, wanneer Hy Hom van die uitwendige middels losmaak en die begin sowel as die hele verloop van die geloof vir Homself alleen opeis. Volgens die getuienis van Maléagi was die taak van die tweede Elia om die verstande te verlig en die harte van die aartsvaders tot die kinders om te keer, en ongelowiges tot die wysheid van die regverdiges.76 Christus verklaar dat Hy die apostels stuur om vrug uit hulle arbeid te dra.77 Petrus verklaar kortliks wat hierdie vrug is wanneer hy sê dat ons uit onbederfbare saad wederbaar word.78 Paulus roem derhalwe dat hy die Korintiërs deur die evangelie voortgebring het79 en dat hulle die seël van sy apostelskap is.80 Ja, meer nog, dat hy nie 'n bedienaar van die letter is wat slegs met die klank van sy stem mense se ore tref nie, maar dat die werking van die Gees hom gegee is sodat die leer nie nutteloos sou wees nie.81 Elders verklaar hy in dieselfde sin dat sy evangelie nie soseer in woorde nie, maar in krag geleë is.82 Hy bevestig ook dat die Galasiërs deur die geloof te hoor die Gees ontvang het.83 Kortom: in baie verwysings maak hy hom nie alleen 'n medewerker van God nie maar hy skryf hom ook die rol toe om saligheid toe te ken.84
Hy het dit alles egter nooit so ver gevoer dat hy selfs die geringste deeltjie daarvan sonder God aan homself sou toeskryf nie. Elders verduidelik hy dit byvoorbeeld kortliks: "Ons arbeid in die Here was nie nutteloos nie,"85 "volgens sy mag wat kragtig in my werk".86 Elders stel hy dit so: "Hy wat kragtig in Petrus vir die besnydenis gewerk het, het ook onder die heidene kragtig in my gewerk".87 Verder blyk ook uit ander verwysings dat hy niks afsonderlik vir bedienaars laat nie: "Hy wat plant, is niks, en hy wat natmaak, is niks, maar God wat laat groei".88 Net So: "Ek het meer as almal gewerk; nie ek nie, maar die genade wat God my gegee het".89 Ons behoort in elk geval daardie uitsprake te onthou waar God verligting van die verstand en hernuwing van die hart aan Homself toeskryf, en die vermaning rig dat dit heiligskennis is as iemand hom 'n deel van beide hiervan toe-eien.
Intussen sal iemand wat hom aanbied as leerbaar vir die bedienaars wat God aangestel het, uit die vrug daarvan agterkom dat hierdie onderwysingsmetode God nie sonder rede behaag het nie en dat hierdie juk van gematigdheid nie sonder rede op gelowiges gelê is nie.
7. Die sigbare en die onsigbare kerk.←⤒🔗
Ek meen dat dit uit die voorgaande besprekings en uit wat ons weet, inderdaad reeds duidelik is watter oordeel ons oor die sigbare kerk moet handhaaf.90 Ons het trouens gesê dat die heilige Skrif tweeledig van die kerk praat. Soms wanneer die Skrif die kerk vermeld, verstaan dit daaronder die kerk wat in werklikheid voor God is waarin niemand opgeneem is behalwe diegene wat deur die genadige aanneming kinders van God en deur die heiligmaking van die Gees waarlik ledemate van Christus is nie. En dan sluit dit weliswaar nie alleen die heiliges wat nog op aarde leef, in nie maar al die uitverkorenes wat van die begin van die wêreld af bestaan het.
Dikwels dui die Skrif egter met die woord kerk die hele menigte mense aan wat oor die wêreld versprei is en bely dat hulle een God en Christus dien. Ons word deur die doop ingelei om in Hom te glo. Deur deelname in die nagmaal getuig ons van die eenheid in die ware leer en liefde. In die Woord van God is ons eenstemmig en ons bewaar die diens wat deur Christus ingestel is, vir die verkondiging van hierdie Woord.
In hierdie kerk is daar egter ook uiters baie geveinsdes wat niks met Christus gemeen het nie behalwe die naam en die skyn. Daarin is ook uiters baie eersugtiges, gieriges, jaloerse mense, kwaadsprekers en sommiges met 'n baie onrein lewe. Hulle word wel tydelik geduld of omdat hulle nie wettig skuldig bevind kan word nie, of omdat streng tug nie altyd die krag het wat dit behoort te hê nie.
Soos ons dus moet glo dat daar 'n onsigbare kerk 91 is wat vir God se oë alleen sigbaar is, so word ons gebied om hierdie kerk wat, so ver dit mense aangaan, die kerk genoem word, te eerbiedig en gemeenskap daarmee te beoefen.92
8. Die merktekens van die kerk: dit is God se voorreg om die wat aan Hom behoort, te ken.←⤒🔗
In soverre dit in ons belang was om hierdie kerk te ken, het die Here dit daarom met bepaalde merktekens vir ons aangedui. Soos ons hierbo uit Paulus aangehaal het,93 is dit inderdaad God se besondere voorreg om te weet wie syne is.94 En daar is weliswaar ook voorsorg getref dat die mens nie onbesonne daarop inbars nie, en daaglikse gebeure vermaan ons ook hoe ver sy verborge oordele ons begrip te bowe gaan. Want mense wat oënskynlik uiters verlore was en van wie geen hoop meer gekoester word nie, word deur sy goedertierenheid weer na die (regte) pad teruggeroep terwyl mense wat oënskynlik vaster as ander staan, dikwels ineenstort. Volgens God se verborge uitverkiesing is uiters baie skape, soos Augustinus sê, buite, en baie wolwe binne.95 Hy ken en het diegene immers gemerk wat Hom nie ken nie en hulleself ook nie. Van diegene wat sy teken openlik dra, sien sy oë egter alleen wie van hulle ongeveinsd heilig is en tot die einde sal volhard96 - en dit is die kern van die saligheid.
Omdat Hy egter aan die ander kant voorsien het dat dit in 'n sekere mate tot ons voordeel is om te weet wie ons as sy kinders moet beskou, het Hy Hom in hierdie verband by ons bevatlikheid aangepas. En aangesien geloofsekerheid nie daarvoor noodsaaklik was nie, het Hy 'n sekere liefdesoordeel in die plek daarvan gestel sodat ons almal as lidmate van die kerk kan herken wat sowel in geloofsbelydenis, as in lewenswandel en die deelname in die sakramente bely dat hulle een en dieselfde God en Christus saam met ons bely.97 Hy het egter die kennis van sy liggaam met duideliker tekens aan ons voorgehou omdat Hy geweet het dat dit noodsaakliker vir ons saligheid is.98
9. Die merktekens van die ware kerk moet nie misbruik word om mense te etiketteer nie.←⤒🔗
Hieruit groei die beeld van die kerk en kom dit duidelik voor ons oë te voorskyn. Want daar kan geen twyfel wees daaroor dat waar die Woord van God ook al suiwer verkondig en aangehoor word, en waar ons merk dat die sakramente volgens die instelling van Christus bedien word, dat daar 'n kerk van God is nie.99 Sy belofte kan trouens nie faal nie: "Waar twee of drie in my Naam vergader is, daar is Ek in hulle midde".100 Maar om die somtotaal van hierdie onderwerp duidelik te begryp, moet ons, met die volgende stappe voortgaan: die universele kerk is 'n menigte mense wat uit alle volke versamel is; dit is geleë en versprei oor afgeleë plekke maar stem in die enige waarheid van die Goddelike leer ooreen en is deur die band van dieselfde godsdiens gebind. Hieronder word afsonderlike kerke wat met inagneming van die behoeftes van mense in dorpeen distrikte geleë is, so ingesluit dat elkeen van hulle tereg die naam en gesag van die kerk het. Mense afsonderlik wat godsvrug bely, word ook onder sulke kerke gereken en ofskoon hulle in werklikheid kerkvreemd is, behoort hulle tog in 'n sekere sin aan die kerk totdat hulle deur openbare oordeel daaruit geweer is. Die metode waarop mense afsonderlik en kerke opgeweeg moet word, is nogtans ietwat verskillend. Want dit kan gebeur dat ons sommige mense wat ons glad , nie die gemeenskap van die heiliges waardig ag nie, nogtans soos broers moet behandel en hulle as gelowiges moet beskou vanweë die gemeenskaplike ooreenstemming van die kerk waardeur hulle in die liggaam van Christus verdra en geduld word. Deur ons instemming keur ons sulke mense nie as lidmate van die kerk goed nie, maar ons laat vir hulle die plek wat hulle onder God se volk beklee totdat dit wettiglik van hulle weggeneem word.
Maar oor die menigte self moet ons gevoel anders wees. As hulle die Woordbediening het en dit eer, as hulle die sakramente bedien, verdien hulle ongetwyfeld om as 'n kerk beskou en gereken te word omdat sulke dinge vir seker nie sonder vrug kan wees nie. So bewaar ons die eenheid van die universele kerk wat duiwelse geeste nog altyd uit mekaar probeer skeur het, en ons ontneem wettige vergaderings wat na die behoefte van verskillende streke versprei is,101 nie hulle gesag nie.
10. Afvalligheid van hierdie kerk kom neer op verset teen God se gesag.←⤒🔗
Ons het die verkondiging van die Woord en die onderhouding van die sakramente as tekens vir die onderskeiding van die kerk geponeer.102 Hierdie tekens kan trouens nêrens bestaan sonder om vrug te dra en met God se seën voorspoed te behaal nie. Nou beweer ek nie dat, oral waar die Woord verkondig word, dadelik vrug daarop ontstaan nie, maar ek sê wel dat dit nêrens aanvaar kan word en 'n vaste setel kan hê sonder om die kragdadige werking daarvan aan die lig te bring nie. Hoe dit ook al sy, waar die verkondiging van die evangelie eerbiedig aangehoor en die sakramente nie verwaarloos word nie, daar kom die beeld van die kerk sonder bedrog en ondubbelsinnig op hierdie tydstip na vore.103 Dit is niemand geoorloof om ongestraf die gesag van hierdie kerk te verag, of die vermanings daarvan te verwerp, of die advies daarvan te weerstaan of die tug daarvan te bespot nie. Baie minder nog mag iemand daarvan afvallig word of die eenheid daarvan verbreek. Want die Here ag die gemeenskap met sy kerk van soveel waarde dat Hy almal wat hulle van enige Christelike gemeenskap wat die ware bediening van die Woord en sakramente eerbiedig, met minagting vervreem, as 'n droster en verraaier van die godsdiens beskou. Hy dra die gesag van die kerk so aan ons op dat Hy reken dat sy eie gesag verminder word as die gesag van die kerk geweld aangedoen word.
Dit is ook van geen geringe belang dat die kerk die pilaar en grondslag van die waarheiden die huis van God104 genoem word nie. Met hierdie woorde dui Paulus aan dat die kerk 'n getroue bewaarder van God se waarheid is om te voorkom dat dit in die wêreld tot niet sou gaan. God wou immers deur die dienswerk van die kerk die verkondiging van sy Woord suiwer hou en Hom as 'n Vader aan ons betoon wanneer Hy ons met geestelike voeding spysig en alles wat tot ons saligheid bydra, daarin aan ons beskikbaar stel. Dit is ook nie maar net alledaagse lof wanneer gesê word dat die kerk deur Christus as sy bruid wat sonder smet of vlek is, uitverkies en afgesonder is105 en dat die kerk sy liggaam en sy volheid is nie.106 Daaruit volg dat afvalligheid van die kerk op verloëning van God en Christus neerkom. Daarom moet ons des te meer teen so 'n goddelose skeuring waak omdat ons verdien dat Hy met die volle krag van sy toorn teen ons moet ontplof om ons te verbrysel wanneer ons probeer om die waarheid van God tot 'n val te bring. En daar kan nie 'n gruweliker misdaad bedink word as om 'n huwelik wat die eniggebore Seun van God ons waardig geag het om met Hom te sluit, met heiligskennige wantroue te skend nie.107
11. Selfs die listigheid van die Satan kan die ware tekens van die kerk nie skade aandoen nie.←⤒🔗
Ons moet daarom daardie tekens deeglik in ons gemoedere afgestempel hou en ons moet dit ooreenkomstig die oordeel van die Here hoog ag. Daar is trouens niks wat die Satan meer aandurf as om een of beide hiervan te vernietig en te verwoes nie - nou om die ware en egte onderskeiding van die kerk uit te wis deur hierdie tekens te vernietig en dit te verwoes, en dan weer deur veragting daarvoor te veroorsaak dat ons van die kerk wegskeur deur openlik daarvan afvallig te word. Deur sy lis is veroorsaak dat die suiwer verkondiging van die Woord etlike eeue verdwyn het en tans lê hy hom met dieselfde goddeloosheid daarop toe om ook die diens daarvan aan die wankel te bring en dit is 'n diens wat Christus so in die kerk verordineer het dat, as dit tot niet gemaak word, die opbou van die kerk ook tot niet gaan.108 Maar hoe gevaarlik, ja, hoe dodelik is die versoeking nie wanneer dit wel in iemand se gedagte opkom om van die gemeente te skeur waarin die tekens en merke gesien kan word waarmee die Here gedink het dat Hy sy kerk voldoende gemerk het? Ons sien hoe groot versigtigheid ons in beide gevalle aan die dag moet lê. Want om te verhoed dat ons deur die woord kerk bedrieg word, moet ons elke gemeente wat die naam kerk aan ons voorhou, aan hierdie toets soos aan 'n toetssteen109 onderwerp. As dit in die Woord en die sakramente die orde het wat deur die Here aan ons opgedra is, sal dit nie bedrieg nie en moet ons daaraan die eer wat aan kerke verskuldig is, betoon. Maar as die kerk aan die ander kant sonder Woord en sakramente met die titel kerk te koop loop, moet ons met ewe veel versigtigheid teen sulke bedrog waak as wat ons onbesonnenheid en hooghartigheid aan die ander kant moet ontwyk.
12. Selfs gebreke in die leer en die bediening van die sakramente behoort geen aanleiding tot skeurmakery te wees nie.←⤒🔗
Ons sê dat suiwer Woordbediening en 'n suiwer manier om die sakramente te vier 'n geskikte pand en borg is om die gemeenskap waarin beide voorkom, veilig as die kerk te kan omhels. Dit het ook die strekking dat ons dit nêrens mag verwerp so lank dit daarin volhard nie - selfs nie al wemel dit andersins van ander gebreke nie! Ja, daar kan selfs die een of ander fout in die bediening van öf die leer of die sakramente insluip maar dit behoort ons nie van die gemeenskap met die kerk te vervreem nie want al die hoofpunte van die ware leer het nie net een vorm nie. Sekere aspekte daarvan is so noodsaaklik om te ken dat dit vas en ontwyfelbaar by almal moet wees as besondere leerstellings van die godsdiens. Voorbeelde hiervan is dat daar een God is; dat Christus God is en die Seun van God en dat ons saligheid op God se barmhartigheid berus en dergelike dinge. Maar dan is daar ook ander aspekte wat, hoewel hulle onder kerke verskil, nie die geloofseenheid verskeur nie.110 Gestel nou dat kerke in hierdie een opsig van mekaar verskil: as die een met teuellose strydlustigheid en hardnekkige aansprake meen dat ons siele in die hemel opvlie wanneer hulle uit ons liggame verhuis, en die ander kerk nie waag om 'n beskrywing van die plek te gee nie maar vas en seker bepaal dat hulle verder vir die Here leef? Die apostel se woorde is: "Laat ons almal wat volmaak is, eensgesind wees; en as julle iets anders dink, sal die Here dit ook aan julle openbaar".111 Gee hy dan nie daarmee voldoende te kenne dat tweedrag oor sulke sake wat nie so noodsaaklik is nie, nie stof tot twis onder Christene behoort te wees nie? Die belangrike is inderdaad dat ons oor alles eensgesind moet wees maar omdat daar niemand is wat nie deur die een of ander newel van onkunde omgewe is nie, moet ons of geen kerk oorlaat nie öf die drogbeelde wat sonder om die godsdiens geweld aan te doen en sonder verlies van ons saligheid in onkunde gelaat kan word, oor die hoof sien. Hier sou ek egter selfs die geringste dwalings nie wou verdedig asof ek sou dink dat hulle gevoed moet word deur vleitaal of deur die oë daarvoor te sluit nie. Ek verklaar egter dat ons nie die kerk vanweë sekere rusietjies onbesonne moet verlaat as die leer waarop ons saligheid ongeskonde berus, daarin net veilig en ongedeerd be hou word, en die gebruik van die sakramente wat deur die Here ingestel is, daarin bewaar word nie. As ons ons intussen inspan om iets daarin te verbeter wat ons nie aanstaan nie, doen ons dit uit pligsbesef. Die volgende verklaring van Paulus het hierop betrekking: "As iets beters aan iemand wat daar sit, geopenbaar is, moet die eerste swyg".112 Hieruit is dit duidelik dat elke lidmaat van die kerk opgedra word om hom na die maat van sy genade te beywer vir die openbare stigting (van die kerk) mits hy dit paslik en ordelik doen. Dit beteken dat ons nog die gemeenskap van die kerk mag opsê, nog, as ons daarin bly, die vrede en behoorlik geordende tug daarvan mag versteur.
13. Die manier waarop struikelblokke in die kerk hanteer moet word.←⤒🔗
Ons toegeeflikheid behoort in die geval van verdraagsaamheid van 'n onvolmaakte lewe nog baie verder te strek want dit is baie maklik om hier te val en die Satan lok ons met ongewone skelmstreke in 'n lokval. Daar was trouens nog altyd mense wat deurtrek was met die valse oortuiging dat hulle volkome volmaak is asof hulle reeds demone van die lug113 geword het en omgang met alle mense verfoei het omdat hulle bemerk het dat daar nog iets mensliks in hulle aanwesig is. Sulke mense was eertyds die Katare,114 en die Donatiste115 wat baie naby aan hulle waansinnigheid gekom het. En so is ook sommige van die Wederdopers vandag wat wil hê dat dit moet lyk asof hulle meer gevorder het as ander mense.116
Dan is daar ook ander wat vanweë hulle ondeurdagte ywer vir geregtigheid eerder as vanweë waansinnige hooghartigheid sondig. Want wanneer hulle merk dat die vrug van die lewe nie by diegene vir wie hulle die evangelie verkondig, met die leer van die evangelie ooreenstem nie, is hulle dadelik van oordeel dat daar geen kerk bestaan nie.117 Dit is wel 'n baie gegronde ergernis en ons bied in hierdie uiters jammerlike tyd meer as genoeg geleentheid daarvoor. Ons mag ons eie vervloekte traagheid daarin nie verskoon nie omdat die Here dit nie ongestraf sal laat bly nie en Hy reeds begin het om dit met swaar slae te tug. Wee ons dus, as ons met sulke onverskillige losbandigheid van ons oortredings optree dat swak gewetens vanweë ons optrede gekwets word! Maar diegene wat ons vermeld het, sondig ook in hierdie opsig dat hulle nie weet hoe om hulle ontsteltenis tebeteuel nie. Want waar die Here genade van hulle eis, laat hulle dit buite rekening en gee hulle ten volle oor aan oormatige strengheid. Hulle meen immers dat daar nie 'n kerk kan bestaan waar daar nie volmaakte suiwerheid en regskapenheid van lewe bestaan nie, en as gevolg van hulle afkeer van hierdie oortredings verlaat hulle 'n wettige kerk terwyl hulle meen dat hulle hulle van 'n sekte goddelose mense af wegkeer. Hulle voer aan dat die kerk van Christus heilig is.118 Dit is ook waar, maar sodat hulle tegelyk kan begryp dat die kerk uit goeie en slegte mense saamgestel is, moet hulle na die bekende gelykenis uit die mond van Christus luister waarin die kerk met 'n net vergelyk word waarin elke soort vis versamel maar nie uitgesoek word totdat hulle op die strand neergesit is nie.119 Laat hulle hoor120 dat die kerk soos 'n ploegland is wat met goeie saad besaai is en deur die bedrog van die vyand met onkruid besmet word; maar dit word nie skoongemaak voordat die oes na die dorsvloer gebring is nie.121 Laat hulle ten slotte hoor dat die kerk die dorsvloer is waarin die koring so versamel is dat dit onder die kaf versteek is totdat dit met die waaier en die sif skoongemaak is en uiteindelik in die skuur gestoor word.122 Maar as die Here verklaar dat die kerk tot die oordeelsdag onder hierdie euwel gebuk sal gaan, naamlik dat dit deur die mengsel van goddelose mense belas sal wees, soek hulle tevergeefs na 'n kerk wat deur geen vlek besmet is nie.
14. Ten spyte van hulle dwalings het die kerk onder die Korintiërs nog bly bestaan.←⤒🔗
Maar hulle skreeu dat dit iets ondraagliks is dat 'n plaag van gebreke so wyd en syd woed. Maar ook hieroor tref ons 'n uitspraak van die apostel aan. Onder die Korintiërs het 'n groot aantal die pad byster geraak en amper die hele liggaam (van die kerk) is daardeur besmet. Daar was nie net een soort sonde nie maar baie en hulle dwalings was nie lig nie maar daar was ook verskriklike oortredings - nie alleen verminking van die sedes nie maar ook van die leer. Wat doen die heilige apostel hier – dit beteken, die instrument van die Heilige Gees deur wie se getuienis die kerk staan of val? Soek hy na afskeiding van hulle? Of verdryf hy hulle uit Christus se koninkryk? Of slaan hy hulle plat met die laaste weerligstraal van die banvloek? Nee, hy doen geeneen hiervan nie maar erken en verkondig dat hulle die kerk van Christus en die gemeenskap van die heiliges is.123 Maar die kerk bly bestaan onder die Korintiërs waar struwelinge, sektes en jaloesie opvlam;124 waar hofgedinge en tweestryd hand aan hand met hebsug hoogty vier; waar 'n misdaad openlik goedgekeur word terwyl dit selfs vir die heidene afstootlik sou wees;125 waar Paulus se naam verskeur word terwyl hulle hom as hulle vader moes eerbiedig; waar sommige die spot dryf met die opstanding van die dooies terwyl die hele evangelie in duie stort as hierdie leer tot 'n val sou kom,126 waar die genadegawes van God eersug dien en nie die liefde nie;127 waar baie dinge onbetaamlik en onordelik gedoen word! En die kerk bly bestaan omdat die bediening van Woord en sakramente nie daar verwerp word nie. Wie sou dan waag om die titel kerkweg te neem van mense aan wie nie eens 'n tiende van hierdie misdrywe vasgespyker kan word nie? Wat, vra ek jou, sou diegene wat vandag met soveel gemeenheid teen ons kerke woed, met die Galasiërs gedoen het wat amper drosters van die evangelie was hoewel dieselfde apostel nog kerke onder hulle gevind het?128
15. Die manier waarop gelowiges teenoor sondaars in die gemeente moet optree.←⤒🔗
Hulle opper ook die beswaar dat Paulus die Korintiërs ernstig teregwys omdat hulle 'n skandalige mens in hulle gemeenskap verdra.129 Daarna poneer hy 'n algemene uitspraak waarvolgens hy verklaar dat dit nie geoorloof is om met iemand wat 'n skandelike lewe voer, brood te eet nie.130 Hierop skreeu hulle: "As 'n mens nie gewone brood saam met hom mag eet nie, hoe mag ons dan die brood van die Here met hom eet?"
Ek erken in elk geval dat dit 'n groot skande is as varke en honde onder die kinders van God plaas neem - des te meer nog so as die heilige liggaam van Christus deur hulle onteer word. En as kerke goed georden is, sal hulle inderdaad nie onheiliges in hulle skoot duld nie, en hulle sal nie tegelyk mense wat dit waardig is en mense wat dit onwaardig is, tot hierdie heilige ete toelaat nie. Maar omdat herders nie altyd so deeglik waak nie, is hulle soms selfs toegeefliker as wat hulle behoort te wees, of hulle word verhinder om die streng toesig wat hulle wil, oor die mense te kan uitoefen. Die gevolg is dat selfs mense wat openlik sleg is, nie altyd uit die gemeenskap van die heiliges verwyder word nie. Ek erken dat dit 'n fout is en ek wil dit nie vergoelik nie aangesien Paulus dit in die geval van die Korintiërs bitterlik verkwalik. Maar selfs al sou die kerk in sy plig faal, is dit geen rede waarom elkeen persoonlik kan oordeel om daarvan af te skeur nie. Ek ontken inderdaad nie dat dit elke vroom mens se plig is om hom van alle persoonlike omgang met goddelose mense te onttrek en hom in geen vrywillige verbintenis met hulle te verstrik nie. Dit is egter een ding om gemeenskap met slegte mense te ontwyk, maar 'n ander om uit afkeer van hulle die gemeenskap met die kerk op te sê. Dat hulle reken dat dit heiligskennis is om die brood van die Here met hulle te deel, daarin is hulle baie onbuigsamer as Paulus. Want wanneer hy ons tot die heilige en suiwer deelname daarin aanspoor, eis hy nie dat die een die ander, of elkeen die hele kerk moet ondersoek nie maar dat elkeen homself moet ondersoek.131 As dit dan ongeoorloof sou wees om dit met iemand wat dit onwaardig is, te deel, sou Paulus beslis beveel het dat ons ondersoek moet instel of daar nie miskien iemand onder die gemeente is deur wie se onreinheid ons besmet kan word nie. Terwyl hy nou van elkeen afsonderlik vereis dat hy homself moet ondersoek, toon hy dat dit vir ons geen struikelblok is as mense wat dit onwaardig is, hulle aan ons opdring nie. En dit wat hy daarna byvoeg, het dieselfde strekking: "Iemand wat onwaardig (die brood) eet, eet en drink 'n oordeel oor homself.''132 Hy sê nie "oor ander" nie maar "oor homself". En tereg ook so, want wie dit mag ontvang en wie daarvan weerhou moet word, is nie iets wat aan die oordeel van elkeen afsonderlik onderworpe behoort te wees nie. Kennis van die ondersoek is die plig van die hele kerk en dit kan nie sonder wettige orde uitgeoefen word nie - soos later meer uitvoerig gesê sal word. Dit sal daarom onbillik wees dat iemand persoonlik deur die onwaardigheid van 'n ander besmet word wat hy nie van toetrede kan of behoort te weerhou nie.
16. Hooghartige meerderwaardigheid is ewe min rede tot skeuring.←⤒🔗
Vanweë ondeurdagte ywer vir geregtigheid kom hierdie versoeking nogtans soms selfs onder goeie mense voor. Ons sal egter vind dat hierdie uitermatige eiesinnigheid133 uit hooghartigheid, trots en 'n valse opvatting van eie heiligheid ontstaan eerder as uit ware heiligheid en ware ywer vir heiligheid. Gevolglik het diegene wat waaghalsiger as ander is om van die kerk af weg te skeur en as't ware hulle vaandeldraers is, meesal geen ander rede as om deur hulle veragting van almal aanstellerig te toon dat hulle beter as ander is nie. Augustinus stel dit derhalwe goed en ook verstandig wanneer hy sê: '''n Vroom metode en wyse van kerklike dissipline behoort besonderlik die eenheid van die Gees in die band van vrede134 in aanmerking te neem. Die apostel het ons opgedra om dit deur wedersydse verdraagsaamheid te bewaar. As dit nie behoue bly nie, word bewys dat straf as regstelling nie alleen oorbodig is nie maar selfs skadelik. Dit is daarom geen regstelling meer nie. Die mense is kinders van die kwaad wat nie soseer uit afkeer van die ongeregtighede van ander nie as uit ywer vir hulle eie rusies, swak mense wat verstrik is in die roem op eie naam, heeltemal probeer neerhaal, of in elk geval probeer afskeur. Hulle is opgeblaas van hooghartigheid, waansirmig van hardnekkigheid, oproermakers in hulle opstand, en hulle hou 'n skadu van onbuigsame gestrengheid voor om nie uitgewys te word as mense wat sonder die lig van die waarheid is nie. Hulle misbruik ook die beginsels wat in die heilige Skrif voorkom, naamlik dat ons met die oog op die verbetering van ons broeders, baie matige sorgsaamheid aan die dag moet lê met behoud van opregte liefde en bewaring van die eenheid van vrede. Hulle doel daarmee is om heiligskennige skeuring te weeg te bring en 'n geleentheid te skep om hulle (van die kerk) afte sny".135 Aan vroom en kalm mense gee hy egter die raad om waar hulle kan, met medelye tereg te wys, en waar hulle nie kan nie, dit geduldig te verdra en met liefde daaroor te sug en te rou totdat God dit of regstel en verbeter of totdat Hy die onkruid in die oes uitroei en die kaf uitwaai.136
Alle godvrugtiges moet hulle met hierdie wapens verskans om nie van die koninkryk van die hemel wat die enigste koninkryk van geregtigheid is, afvallig te word deur die indruk te wek dat hulle streng en moedige verdedigers van geregtigheid is nie. Omdat dit God se wil was dat die gemeenskap van sy kerk in hierdie uiterlike gemeenskap eerbiedig moes word, betree iemand wat uit afkeer van goddelose mense die pand van so 'n gemeenskap verbreek, 'n pad waarop die afval van die gemeenskap van die heiliges steil is. Laat hulle daaraan dink dat daar in die groot menigte verskeie mense is wat waarlik voor die Here se aangesig heilig en onskuldig is en nogtans hulle aandag ontgaan. Laat hulle daaraan dink dat daar ook onder die wat vir hulle sieklik lyk, baie is wat nie met hulle gebreke tevrede is of hulle daarmee vlei nie, maar uit ernstige vrees vir die Here hulleself voortdurend reinig en na groter opregtheid streef. Laat hulle daaraan dink dat iemand nie op grond van een daad beoordeel moet word nie, want die heiligste mense val soms as gevolg van 'n baie ernstige gebeurtenis. Laat hulle daaraan dink dat daar in die Woordbediening en die deelname aan die heilige sakramente baie groter gewig geleë is om die kerk te versamel as dat die krag daarvan deur die toedoen van sekere goddelose mense heeltemal sou verdwyn. Laat hulle ten slotte daaroor nadink dat God se oordeel meer gewig dra in die beoordeling van die kerk as die oordeel van mense.
17. Die heiligheid van die kerk.←⤒🔗
Hulle hou ook voor dat die kerk nie sonder rede heilig genoem word nie. Dit betaam ons daarom om ook te oorweeg in watter sort heiligheid die kerk uitmunt om te verhoed dat ons geen kerk oorhou as ons nie bereid is om een toe te laat tensy dit in alle opsigte volmaak is nie. Wat Paulus sê, is inderdaad waar: "Christus het Hom vir die kerk oorgegee om dit te heilig; met die waterbad het Hy dit in die Woord van die lewe gereinig om dit as verheerlikte bruid sonder vlek of rimpel aan Homself te bied", ensovoorts.137 Dit is nogtans nietemin net so waar dat die Here elke dag daaraan werk om die rimpels daarvan uit te stryk en die vlekke af te vee. Daaruit volg dat die kerk se heiligheid nog nie volmaak is nie. Die kerk is derhalwe so heilig dat dit elke dag daarin vordering maak maar nog nie volmaak is nie. Dit gaan elke dag vooruit maar het nog nie die eindpunt van heiligheid bereik nie - soos elders ook uitvoeriger verduidelik sal word.138
Die profete profeteer dat daar 'n heilige Jerusalem sal wees waar vreemdelinge nie sal deurgaan nie,139 en dat daar 'n heilige tempel sal wees wat onreines nie sal betree nie.140 Ons moet dit nie opneem asof daar in die lidmate van die kerk geen vlek oor is nie, maar omdat hulle met alle ywer na heiligheid en volkome reinheid streef, word 'n reinheid wat hulle nog nie ten volle behaal het nie, deur God se weldadigheid aan hulle verleen. En hoewel daar baie dikwels seldsame aanduidings van hierdie soort heiligmaking onder mense voorkom, moet ons nogtans daaruit vasstel dat daar sedert die skepping van die wêreld nog nooit 'n tyd was waarin die Here nie sy kerk gehad het nie en dat daar tot die voleinding van die tyd ook nooit 'n tyd sal wees dat Hy dit nie sal hê nie. Want hoewel die ganse mensdom van die begin af deur die sonde van Adam bedorwe en verontreinig is, reinig Hy nogtans uit hierdie besoedelde massa altyd houers tot eer141 sodat daar geen tydperk bestaan wat nie sy barmhartigheid ervaar nie.
Hy het dit ook met vaste beloftes hiervan getuig. Sulke beloftes is byvoorbeeld: "Ek het 'n verbond met my uitverkorenes opgerig. Ek het vir Dawid my kneg gesweer. Ek sal jou saad tot in ewigheid vermeerder; van geslag tot geslag sal Ek jou troon opbou".142 Net so: "Die Here het Sion uitverkies; Hy het dit as 'nwoning vir Hom verkies; dit is my rusplek vir ewig".143 Net so: "So het die Here gesê wat die son as 'n lig vir die dag, en die maan en die sterre as lig vir die nag gee. As hierdie wette voor my aangesig wyk, dan sal die saad van Israel ook ophou''.144
18. Die voorbeeld van die profete.←⤒🔗
Christus self, die apostels en amper al die profete het ons 'n voorbeeld hiervan gebied. Die beskrywings waarmee Jesaja, Jeremia, Joël, Habakkuk en ander profete die kwale van die kerk in Jerusalem betreur, is verskriklik. Onder die volk, onder die owerheid, onder die priesters was alles dermate bedorwe dat Jesaja nie aarsel om Jerusalem aan Sodom en Gemorra gelyk te stel nie.145 Die godsdiens was gedeeltelik verag en gedeeltelik besoedel. Sover dit die sedes aangaan, kan oral diefstal, roof, bedrog, moord en dergelike misdade aangetref word. En nogtans het die profete nie nuwe kerke vir hulle opgerig, of nuwe altare vir hulle gebou om daarop afsonderlike offerandes te bring nie. Hoedanig die mense ook al was, het hulle nogtans te midde van die vergadering van goddelose mense146 rein hande na Hom opgehef omdat hulle van mening was dat die Here sy Woord by hulle gelaat het en die seremonies ingestel het waarmee Hy daar gedien is. As hulle gemeen het dat hulle die een of ander besmetting daaruit sou opdoen, sou hulle gewis eerder duisend keer gesterf het as om toe te laat dat hulle daarheen gesleep word. Niks anders het hulle dus daarvan weerhou om nie skeuring te veroorsaak nie as hulle ywer om die eenheid te bewaar. Maar as die heilige profete beswaard was om hulle vanweë uiters baie en die grootste misdrywe, nie van een of twee mense nie, maar bykans van die hele volk, van die kerk te vervreem, eien ons ons te veel toe as ons dadelik sou waag om ons van die gemeenskap van die kerk te onttrek wanneer almal se sedes nie aan ons oordeel of aan ons Christelike belydenis voldoen nie.
19. Die voorbeeld van Christus.←⤒🔗
Maar hoe was dit in die tyd van Christus en die apostels? Die wanhopige goddeloosheid van die Fariseërs en die teuellose lewensbandeloosheid kon hulle nogtans nie verhinder om dieselfde rites saam met die volk te beoefen en om met die res in een tempel bymekaar te kom om in die openbaar hulle godsdiens te beoefen nie. Waaruit het dit anders ontstaan as dat diegene wat met 'n rein gewete aan dieselfde rites deelgeneem het, bewus was daarvan dat hulle glad nie deur gemeenskap met die goddeloses besoedel word nie? As die voorbeeld van die profete en die apostels iemand weinig beïnvloed, moet hy hom ten minste by die gesag van Christus berus. Cyprianus stel dit dus goed wanneer hy sê: "Hoewel daar oënskynlik onkruid of onrein houers in die kerk is, is dit nogtans geen rede waarom ons die kerk moet verlaat nie. Ons moet eerder swoeg om koring te wees. Ons moet daarna streef en sover ons kan, ons daarvoor inspan om 'n goue of 'n silwer houer te wees. Verder is dit die Here alleen se voorreg om erdehouers stukkend te breek omdat aan Hom 'n staf van yster gegee is;147 en niemand mag iets vir hom toe-eien wat aan die Seun alleen behoort asof hy by magte sou wees om die kaf uit te waai, die strooi te suiwer148 en alle onkruid volgens die oordeel van die mens te skei nie.149 Dit is vermetele hardnekkigheid en heiligskennige verwaandheid wat 'n bedorwe waansin homself toe-eien," ensovoorts.150
Beide die volgende punte moet dus vas bly staan, naamlik dat iemand wat vrywillig die uitwendige gemeenskap van'n kerk verlaat waar die Woord van God verkondig en die sakramente bedien word, geen verskoning het nie. Verder, dat die gebreke van 'n paar mense of van baie ons nie verhinder om daar na behore volgens die seremonies wat deur God ingestel is, ons geloof te bely nie want 'n vroom gewete word geen leed aangedoen deur die onwaardigheid van iemand anders nie, of hy nou ook al 'n herder öf 'n privaat persoon is. Die geheimenisse is ook nie vir 'n heilige en opregte mens minder rein en minder voordelig omdat hulle tegelyk deur onreines aangeraak word nie.
20. 'n Weerlegging van die beswaar dat 'n sondige kerk gelowiges nie tot volmaaktheid kan aanspoor nie.←⤒🔗
Hulle eiesinnige hooghartigheid gaan selfs nog verder want hulle erken nie 'n kerk tensy dit van selfs die geringste smette suiwer is nie;151 inteendeel, hulle erger hulle vir regskape leraars omdat hulle deur gelowiges tot vordering aan te spoor hulle leer om hulle hele lewe onder die las van hulle gebreke te sug en hulle toevlug tot vergiffenis te neem. Hulle voer aan dat gelowiges so van die volmaaktheid af weggelei word.152
Ek erken wel dat ons in ons aandrang op volmaaktheid nie traag of onverskillig moet swoeg,153 en minder nog, daarmee moet ophou nie. Ek sê dat, terwyl ons nog in hierdie wedren is, dit 'n duiwelse versinsel is as ons ons vertroue in volmaaktheid stel. Derhalwe is sondevergiffenis in die geloofsbelydenis paslik net na (die artikel oor) die kerk bygevoeg want, soos ons in die profeet lees, is dit iets wat slegs burgers en huisgenote van die kerk verkry.154 Die opbou van die hemelse Jerusalem behoort dus voorrang te geniet omdat hierdie milddadigheid van God uiteindelik hierin plaasvind sodat die ongeregtigheid van almal wat hulle daarheen begewe, uitgewis kan word. Ek sê egter dat dit eers opgebou moet word - nie dat enige kerk sonder sondevergiffenis kan bestaan nie maar dat die Here sy barmhartigheid slegs in die gemeenskap van die heiliges beloof het.155Sondevergiffenis is dus ons eerste tree in die kerk en in die koninkryk van God in en daarsonder het ons geen verbond of verbintenis met God nie. Want deur sy profeet sê Hy: "Op daardie dag sal Ek vir julle 'n verbond met die wilde diere van die veld sluit, met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde. Boog, swaard en oorlog sal Ek van die aarde afvee, en Ek sal mense sonder vrees laat slaap. Ek sal julle aan My verloof tot in ewigheid. Ek sal julle verloof, sê Ek, in geregtigheid, in oordeel, in barmhartigheid en medelye''.156 Ons sien hoe die Here ons deur sy barmhartigheid met Hom versoen. So sê Hy ook elders wanneer Hy die versameling van sy volk wat Hy in sy toorn verstrooi het, verkondig: "Ek sal hulle reinig van elke ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het".157 Ons word daarom deur die teken van afwassing in die gemeenskap van die kerk ingewy om daardeur geleer te word dat die gesin van God nie vir ons toeganklik is tensy ons vuilheid eers deur sy goedertierenheid van ons afgewas is nie.
21. Lidmate van die kerk kan nogtans van sondevergiffenis verseker wees.←⤒🔗
Die Here aanvaar en verkies ons nie alleen deur sondevergiffenis eenmaal tot sy kerk nie maar deur dieselfde sondevergiffenis bewaar en beskerm Hy ons ook daarin. Want waartoe sou dit dien dat 'n vergiffenis aan ons geskenk word wat vir ons tot geen nut sou wees nie? Elkeen van die godvrugtiges kan vir homself getuig dat die Here se barmhartigheid waardeloos en misleidend sou wees as dit slegs eenmaal met hulle sou gebeur. Elkeen is trouens sy hele lewe lank bewus van die menigvuldige swakhede wat God se barmhartigheid benodig. En God belowe hierdie genade nie verniet besonderlik aan sy huisgenote nie en Hy gebied ook nie verniet dat dieselfde boodskap van versoening elke dag aan hulle gebring moet word nie. Hoewel ons dus die oorblyfsels van die sonde ons hele lewe met ons saamdra, sal ons nouliks een oomblik in die kerk kon bly tensy ons deur die voortdurende genade van die Here in die vergiffenis van ons oortredings onderskraag word. Die Here het diegene wat aan Hom behoort, egter tot die ewige geluksaligheid geroep. Hulle behoort derhalwe daaraan te dink dat vergiffenis altyd vir hulle sondes gereed is. Daarom moet ons vir seker vasstel dat ons sondes - ons wat in die liggaam van die kerk opgeneem en ingelyf is -, deur God se vrygewigheid, deur die tussenkoms van die verdienste van Christus en deur die heiligmaking van die Gees vergewe is en elke dag vergeef word.
22. Die kerk se sleutelmag.←⤒🔗
Om ons hierdie seën deelagtig te maak, is sleutels aan die kerk gegee.158 Want toe Christus aan sy apostels opdrag gegee het en die mag om sondes te vergewe aan hulle verleen het,159 was dit nie maar net sy bedoeling dat hulle diegene wat hulle van goddeloosheid af na die geloof in Christus bekeer het, van hulle sondes moes verlos nie, maar eerder dat hulle hierdie plig voortdurend onder gelowiges moes vervul. Dit leer Paulus ons ook wanneer hy skryf dat die versoeningsboodskap by die bedienaars van die kerk gelaat is om die kerkvolk voortdurend in die Naam van Christus aan te spoor om hulle met God te versoen.160 In die gemeenskap van die heiliges word ons sondes derhalwe voortdurend deur die bediening van die kerk selfvergewe wanneer presbiters of biskoppe aan wie hierdie amp toevertrou is, godvrugtige gewetens met die beloftes van die evangelie in hulle hoop op vergiffenis en kwytskelding versterk - en dit in die openbaar sowel as privaat namate die noodsaaklikheid daarvoor dit vereis. Daar is trouens uiters baie mense wat vanweë hulle swakheid besandere vertroosting nodig het. En Paulus vertel dat hy nie alleen in die algemene prediking nie maar ook van huis tot huis van sy geloof in Christus getuig het en dat hy elkeen afsonderlik oor die leer van die saligheid vermaan het.161
Hier moet ons dus op drie aspekte let: Ten eerste, hoe groot die heiligheid ook al is wat die kinders van God het, is hulle nogtans altyd in so 'n toestand dat, so lank hulle nog in hulle sterflike liggame woon, hulle nie sonder sondevergiffenis voor God se aangesig kan staan nie. Ten tweede moet ons daarop let dat hierdie seën so besonderlik aan die kerk behoort dat ons dit slegs kan geniet as ons in die gemeenskap daarvan bly. Ten derde moet ons daarop let dat hierdie seën deur die kerk se dienaars en herders deur of die verkondiging van die evangelie of die bediening van die sakramente aan ons uitgedeel word en dat die sleutelmag wat die Here aan die gemeenskap van die heiliges verleen het, veral in hierdie opsig uitstaan. Elkeen van ons moet daarom daaroor nadink dat dit deel van sy plig is om sondevergiffenis nie elders as daar waar die Here dit geplaas het, te soek nie. Openbare versoening wat op die dissipline betrekking het, sal op die regte plek daarvoor bespreek word.162
23. 'n Weerlegging van die Novatiane en Dopers se opvatting dat die doop volle volmaaktheid teweegbring.←⤒🔗
Omdat daardie geesdrywers van wie ek gepraat het,163 probeer om hierdie unieke anker van saligheid van die kerk af weg te ruk, moet ons ons gewetens kragtiger teen so 'n verderflike opvatting versterk. Die Novatlane164 het die kerke eertyds met hierdie leerstelling in beroering gebring. In ons tyd is daar immers ook sekere Wederdopers wat nie veel van die Novatiane verskil nie, en in dieselfde waansin verval is. Hulle verbeel hulle immers dat die volk van God in die doop tot 'n suiwer lewe van die engele wederbaar word wat deur geen vuilheid van die vlees besmet is nie.165 Maar as iemand na die doop sondig, laat hulle vir hom niks anders as die onvermydelike oordeel van God nie. Kortom: vir 'n sondaar wat, nadat hy genade ontvang het, weer in sonde verval, skep hulle geen hoop op vergiffenis nie omdat hulle geen ander sondevergiffenis as die een waardeur hulle weergebore word, erken nie.166
Hoewel geen leuen duideliker deur die Skrif weerlê word nie, moet ons nogtans bondig aantoon hoe waansirmig hulle tot hulle eie en tot ander se verderf voortwoed omdat hulle mense vind aan wie hulle dit kan opdring net soos Novatus eertyds ook baie volgelinge gehad het.
Ten eerste, aangesien die heiliges op die Here se bevel elke dag hierdie bede herhaal: "Vergeef ons ons skulde,"167 bely hulle ongetwyfeld dat hulle skuldenaars is. En hulle bede is ook nie verniet nie want die Here het gebied dat hulle oral niks anders moet vra as wat Hy sal gee nie. Ja, toe Hy getuig het dat 'n gebed ten volle deur die Vader verhoor sal word, het Hy hierdie kwytskelding selfs met 'n besondere belofte beseël. Wat wil ons nog meer hê? Die Here vereis van die heiliges hulle hele lewe lank sondebelydenis, en dit inderdaad voortdurend, en Hy beloof vergiffenis. Watter verwaandheid is dit dan nie om òf hulle sondes hulle kwyt te skeld, òf, as hulle geval het, hulle heeltemal van die genade uit te sluit nie? Maar wie wil Hy hê moet ons sewentig maal sewe vergeef? Is dit nie ons broeders nie?168 Waarom skryf Hy ons dit voor anders as dat ons sy sagmoedigheid moet naboots? Hy vergewe ons dus nie net een of twee keer nie maar so dikwels ons deur die kennis van ons oortredings platgeslaan is en ons versugtinge na Hom ophef.
24. Sondevergiffenis in die wet.←⤒🔗
En om nou maar juis by die wieg van die kerk te begin: die aartsvaders is besny en uitgekles om deel te hê aan die verbond. Met die noulettendheid van hulle vader is hulle ongetwyfeld geregtigheid en opregtheid geleer toe hulle saamgesweer het om hulle broer te vermoor.169 Hier was 'n misdaad wat selfs vir die slegste rowers afstootlik moes wees. Toe hulle uiteindelik deur Juda se vermanings versag is, het hulle Josef verkoop.170 Maar dit was ook ondraaglike onmenslikheid. Na hulle ongeoorloofde wraak (vir die ontering van Dina) waarvoor hulle ook deur hulle vader veroordeel is, het Simeon en Levi hulle woede op die Sigemiete uitgehaal.171 Ruben het die bed van sy vader met die vuilste luste besoedel.172 Toe Juda hom aan hoerery wou oorgee, gaan hy buite die natuurwet by sy skoondogter in.173 Maar verre daarvan dat hulle uit die uitverkore volk geskrap word! Inteendeel, hulle word as hoofde van die volk aangewys!
Verder, wat van Dawid? Toe hy geregshoof was, met hoe 'n groot eerloosheid het hy nie deur die vergieting van onskuldige bloed vir sy blinde wellus 'n pad gebaan nie?174 Maar toe was hy alreeds weergebore en hy is met uitsonderlike lof van die Here onder die wedergeborenes versier! En nogtans het hy 'n misdaad gepleeg wat selfs onder die heidene verskriklik was en daarvoor vergiffenis ontvang.175
Maar om nou nie op elke voorbeeld afsonderlik tyd te verwyl nie: hoeveel beloftes van God se barmhartigheid jeens die Israeliete bestaan daar nie in die wet en die profete waar die Here so dikwels bewys dat Hy bereid is om die oortredings van sy volk te vergeef nie? Want wat beloof Moses sal gebeur wanneer die volk in afvalligheid verval het en weer na die Here terugkeer? "God sal jou uit die gevangeskap teruglei en Hy sal medelye met jou hê en Hy sal jou uit die volke onder wie Hy jou verstrooi het, versamel. As jy tot by die uiteindes van die hemel verstrooi is, sal Ek jou daarvandaan versamel."176
25. Sondevergiffenis onder die profete.←⤒🔗
Maar ek wil nie begin om voorbeelde op te noem waaraan daar nooit 'n einde sou wees nie. Want die profete is vol sulke beloftes wat nogtans barmhartigheid vir die volk bied ten spyte daarvan dat hulle met eindelose misdade bedek is. Watter misdaad is erger as rebellie? Dit word immers egskeiding tussen God en die kerk genoem en tag word dit deur God se goedertierenheid oortref. Deur Jeremia sê Hy: "Watter man is daar wat, as sy vrou haar liggaam in ontug aan owerspeliges oorgegee het, sou duld om haar terug te ontvang? Al die paaie is deur jou hoerery verontreinig Juda, jy het die land met jou afstootlike liefdesverhoudings gevul. Keer nogtans na My terug en Ek sal jou ontvang! Keer terug na My, jy wat jou van My weggekeer het en Ek sal my gesig nie van jou af wegkeer nie want Ek is heilig en Ek is nie vir ewig toornig nie".177 En daar kan in elk geval ook nie 'n ander gevoel wees in Hom wat verklaar dat Hy nie die dood van die sondaar wil nie, maar eerder dat hy hom moet bekeer en lewe.178 Toe Salomo die tempel ingewy het, was sy doel daarom ook dat gebede wat daar gedoen word om sondevergiffenis te verkry, verhoor moes word. Hy het gesê. "As u kinders teen U sondig want daar is geen mens wat nie sondig nie - en U toornig op hulle is en hulle aan hulle vyande oorgee, en as hulle in hulle harte berou het en hulle bekeer en U in hulle gevangeskap smeek en sê: 'Ons het gesondig en verkeerd gedoen', en hulle bid tot U in die rigting van die land wat U aan hulle vaders gegee het en in die rigting van hierdie heilige tempel: dan sal U in die hemel hulle gebede verhoor, en U sal u volk wat teen U gesondig het, vergeef en al hulle oortredings wat hulle teen U begaan het".179 Die Here het ook nie sonder rede in die wet daaglikse offerandes vir hulle sondes verordineer nie.180 As die Here immers nie voorsien het dat sy volk onder die voortdurende siektes van hulle sondes sou swoeg nie, sou Hy nooit hierdie hulpmiddels ingestel het nie.
26. Voorbeelde van hierdie genade onder die nuwe verbond.←⤒🔗
Of is hierdie weldaad deur die koms van Christus waardeur die volheid van die genade geopenbaar is, van gelowiges afweggeneem sodat hulle nie kan waag om om vergiffenis vir hulle oortredings te smeek nie en sodat hulle geen medelye kan verkry as hulle die Here vertoorn het nie? Wat sal dit anders beteken as dat Christus tot verderf en nie tot saligheid van die wat aan Hom behoort, gekom het nie: as die toegeeflikheid van God om sondes te vergewe in die Ou Testament voortdurend vir die heiliges gereed was, maar daar nou gesê word dat dit uit hulle midde weggeneem is? Maar as ons in die Skrifte glo wat uitdruklik uitroep dat die genade en toegeeflikheid van die Here uiteindelik ten volle in Christus geopenbaar is, dat die rykdom van sy barmhartigheid oor ons uitgegiet is,181 en dat die versoening tussen God en die mense volbring is,182 moet ons nie twyfel dat die sagmoedigheid van ons hemelse Vader oorvloediger te voorskyn gekom het eerder as dat dit afgesny of ingekort is nie. Bewyse daarvoor ontbreek inderdaad ook nie. Petrus wat gehoor het dat iemand wat Christus se Naam nie onder die mense bely het nie, voor die engele van God verloën sal word,183 het Christus in een nag driemaal verloën - en dit met 'n eed.184 En tog is vergiffenis hom nie ontneem nie.185 Die mense wat onordelik onder die Tessalonisensers geleef het, word so getug dat hulle tot berou genooi word.186 Selfs nie eens Simon die towenaar word in wanhoop gelaat nie maar eerder beveel om goeie hoop te koester wanneer Petrus hom aanraai om sy toevlug tot gebed te neem.187
27. God se genade is selfs in die geval van sondige kerke tot sondevergiffenis gereed.←⤒🔗
Wat daarvan dat die ernstigste sondes soms hele kerke beetgepak het en Paulus hulle nogtans met sagmoedigheid daarvan losgemaak het eerder as om hulle verlore te laat gaan? Die afvalligheid van die Galasiërs was nie maar net 'n effense misdaad nie.188 Die Korintiërs het nog minder rede tot verskoning as hulle gehad omdat hulle 'n oorvloed aan baie en ernstige oortredings gehad het. Nie een van hulle word nogtans van die barmhartigheid van die Here uitgesluit nie: inteendeel, hulle wat meer as ander in onreinheid, hoerery en onkuisheid gesondig het, word by name tot berou genooi.189 Want die onskendbare verbond van die Here bly en sal vir ewig bly. Hierdie verbond het Hy plegtig met Christus, die ware Salomo, en sy lede met die volgende woorde gesluit: "As sy kinders my wet oortree en nie in my bepalings wandel nie: as hulle my insettinge verontreinig en my gebooie nie bewaar nie, sal Ek hulle ongeregtighede met die roede besoek en hulle sondes met slae. Ek sal my barmhartigheid egter nie van hulle af wegneem nie".190 Kortom: juis deur (die volgorde) van die uiteensetting van die geloofsbelydenis word ons vermaan dat daar voortdurend genade vir ons sondes in die kerk van Christus is want nadat die kerk daar ingestel is, word sondevergiffenis nog bygevoeg.191
28. 'n Weerlegging van die opvatting dat nie alle sondes nie, maar slegs die wat uit onkunde begaan is, vergeef word.←⤒🔗
Wanneer hulle bemerk dat die leerstellings van Novatus met soveel duidelikheid deur die Skrif weerlê word, ag sommiges wat 'n bietjie verstandiger is, nie elke oortreding onvergeeflik nie maar slegs 'n vrywillige oortreding van die wet wat iemand willens en wetens began het.192 Diegene wat so sê, ag geen misdaad vergiffenis waardig nie tensy iemand die pad iewers uit onkunde byster geraak het. Maar hoe 'n groot goddeloosheid is dit nie om geen vergiffenis vir 'n vrywillige sonde toe te staan terwyl die Here in die wet gebied het dat sommige offerandes geoffer moes word vir vrywillige sondes van die gelowiges193 en ander offerandes om hulle onbewuste sondes vry te koop nie.194 Nou sê ek dat niks duideliker is as dat die enige offerande van Christus kragtig is om die vrywillige sondes van die heiliges te vergeef omdat die Here dit met vleeslike offerdiere soos met seëls betuig het.
Wie sou Dawid aan die ander kant vanweë onkunde kon verskoon terwyl dit vasstaan dat hy so deeglik in die wet onderlê was? Of het Dawid nie geweet hoe 'n groot misdaad owerspel en moord was nie terwyl hy ander mense elke dag daaroor gestraf het?195 Of het die aartsvaders gedink dat moord op 'n broer iets wettigs was?196 Of het die Korintiërs so swak gevorder dat hulle gereken het dat losbandigheid, onreinheid, hoerery, nyd en twis God behaag?197 Of was Petrus, ten spyte daarvan dat hy so deeglik daaroor vermaan is, onbewus dat dit so 'n groot oortreding was om sy Meester te verloën?198 Laat ons dus nie deur ons kwaadwilligheid die weg tot God se barmhartigheid wat so milddadig aan ons geopenbaar word, versper nie.
29. 'n Verduideliking van die kerk van ouds se standpunt in verband hiermee.←⤒🔗
Ek is weliswaar bewus daarvan dat die skrywers van ouds die sondes wat elke dag vir gelowiges vergeef word, as ligte foute vertolk het wat vanweë die swakheid van hulle vlees ingesluip het.199 Ek weet ook dat hulle gemeen het dat hulle die openbare boetedoening wat destyds vir ernstiger vergrype vereis is, net so min as die doop herhaal moes word nie.200 Ons moet hierdie opvatting nie so opneem asof hulle mense wat na hulle eerste boetedoening, weer in sonde verval het, wanhopig wou maak of dat hulle daardie foute ligter wou maak asof dit onbeduidend voor God is nie. Hulle het immers geweet dat die heiliges baie dikwels uit ongeloof struikel; dat hulle soms oorbodige ede aflê; dat hulle af en toe van toorn kook; ja, dat hulle openlik in skelwoorde uitbars en daarbenewens onder baie euwels gebuk gaan wat die Here erg verafsku. Maar hierdie skrywers noem dit so (ligte foute) om dit van openbare misdade te onderskei wat tot groot ergernis onder die kennis van die kerk gekom het. Dat hulle diegene wat die een of ander daad begaan het wat teregwysing van die kerk verdien het, so moeilik vergewe het, het nie ontstaan omdat hulle dan sou dink dat vergiffenis vir sulke rnense by die Here moeilik is nie. Met hierdie strengheid wou hulle ander egter daarvan afskrik om nie onbesonne in oortredings uit te bars waarvoor hulle verdien het om van die gemeenskap van die kerk vervreem te word nie. Nogtans skryf die Woord van die Here, wat hier as die enigste maatstaf vir ons moet dien, beslis groter selfbeheersing voor. Dit leer ons tog dat streng dissipline201 nie so ver gedryf moet word dat iemand in wie se belang dit besonderlik behoort te wees, van droefheid wegkwyn nie. Hierbo202 het ons breedvoeriger daaroor gepraat.