Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

God, Waarom Lyk die Wêreld so? Prof. Adrio König oor die Voorsienigheid van God

die wêreld

‘Dit was moeilik! Ek het nog nooit in my lewe so moeilik aan ‘n boek geskryf nie. Ook nog nooit so lank nie. Die papier van die aantekeninge waarmee ek begin het, is al geel.

1993. Wat ‘n debat! Toe die grootkanonne opgeroep is om windbuksies van die aarde af te vee. Oor die beheer van God.’

So begin prof Adrio König sy boek getiteld ‘God, waarom lyk die wêreld so?’. En dwarsdeur die boek sit hy sy worsteling met die vraag ‘Kan ons sê: God is in beheer?’ voort.

Dit is nie om dowe neute dat König ‘n boek oor hierdie saak skryf nie. Soos hy self sê: ‘Ek kon die onderwerp nie los nie. Of miskien het die onderwerp mý nie gelos nie. In talle gesprekke het dit na vore gekom … Hoe deeglik het ek nie bewus geword dat daar omtrent geen frase is wat meer dikwels in ons godsdienstige taal voorkom nie, as: God is in beheer. Maar terselfdertyd het ek besef hoe min mense rekenskap kan gee oor wat hulle eintlik daarmee bedoel.’

Hierin moet König gelyk gegee word. Mense wat seerkry word maklik vertroos met geykte uitdrukkings soos ‘dit was so bestem’, of ‘God maak nooit ‘n fout nie’, of ‘alles het ‘n goeie doel’, of ‘eendag sal ons alles verstaan’. Bring hierdie en dergelike mooi woorde werklik troos vir ‘n vrou met drie jong kinders wat as weduwee moet verder gaan nadat haar man in ‘n vliegongeluk verbrand het? Hou dit troos in vir ‘n jong man van 25 jaar wat in ‘n kapingspoging geskiet word en lewenslank kwadrupleeg sal wees?

König se indringende besigwees met God se beheer oor ons lewens, en spesifiek God se voorsienigheid, is van die uiterste belang – vir elke gelowige.

Raamwerk🔗

Anders as talle studies wat oor God se voorsienigheid onderneem is, begin König sy boek by die probleem van die kwaad. Welbewus weerhou hy hom daarvan om ‘n algemene ‘voorsienigheidsmodel’ op die tafel neer te sit en daarná te ondersoek hoe die kwaad daarby inpas. Vanuit die staanspoor probeer hy ‘n antwoord kry op die vraag hoe God by die kwaad betrokke is.

As hy oor die kwaad skryf, probeer hy doelbewus om dit nie te versag met algemene terme soos sonde, lyding, swaarkry of smart nie. Die kwaad is spesifieke dinge soos die verskriklike volksmoord van die Jode gedurende die tweede wêreldoorlog.

In die boek word ‘n ‘(beperkte) voorsienigheidsleer in terme van ‘n eskatologiese verbondsteologie aangebied’. Dit klink na ‘n mond vol. Daarmee bedoel König dat die verbond God se einddoel (esgatos) met die skepping is, en in besonder met die mens, en dat Hy in die geskiedenis besig is om hierdie doel te bereik. Langs die weg van stryd teen die kwaad oorwin God die kwaad en bereik Hy wat Hy wil bereik.

Boek

Kwaad in ‘n Goeie Skepping🔗

König het by vier teoloë van weleer gaan ondersoek doen oor hoe daar in die verlede oor die probleem van die voorsienigheid van God en die kwaad gedink is.

  • Augustinus (354-430) gaan uit van die standpunt dat alles wat God geskep het, goed is. Die goeie kan verkeerd gebruik, of van sy goedheid beroof word. Die mense is vir die kwaad verantwoordelik deurdat hulle sonde doen (morele kwaad), waarvoor God hulle dan straf (met natuurlike kwaad soos natuurrampe). God is dus nie verantwoordelik vir die kwaad nie, maar oefen wel heerskappy daaroor uit.

  • Thomas Aquinas (1225-1274) beskou die kwaad as die ontbreking van die goeie. As ‘n oog byvoorbeeld blind is, mis die oog een van sy goeie eienskappe. Aquinas was oortuig dat God nooit die kwaad direk wil nie. Hy wil net die goeie. Tog span God die kwaad in om die goeie te bereik.

  • Johannes Calvyn (1509-1564) se voorsienigheidsleer is volgens König ‘een groot apologie vir die albeskikking van God … Calvyn se standpunt was dat God alles tot in die fynste besonderhede vooraf bepaal het, en dat alles gebeur presies net soos Hy dit bepaal het … Calvyn verwerp selfs die begrip ‘toelating’ omdat hy huiwer om God direk by die sonde te betrek … God laat nie maar net die kwaad toe nie, Hy beskik dit vooraf tot in die fynste besonderhede’. Toeval en noodlot bestaan nie. Uiteraard is dit vir die mens moeilik om te verstaan hoe God se albeskikking werk, veral as dit by die verwerking van teenspoed kom. Calvyn onderskei daarom tussen God se geopenbaarde wil (die Bybel) en sy verborge wil (die daaglikse gebeure). God se geopenbaarde wil is duidelik. Sy verborge wil, waaronder die beskikking oor die kwaad in ‘n mens se lewe, is egter deurgaans onduidelik. Daarin moet ‘n mens gelowig berus.

  • Jacob Arminius (1559-1609) – die vader van die remonstrantisme – ‘aanvaar die absolute mag van God, maar hy aanvaar ook dat God uit vrye wil hierdie mag deur sy skepping beperk het … Dit beteken dat God die wêreld eerder volgens algemene beginsels regeer as dat elke klein dingetjie vooraf in fyn besonderhede besluit en beplan is – soos Calvyn gemeen het … Alles wat gebeur, staan onder die voorsienigheid van God, só dat God die goeie bewerk (beskik), maar die slegte dade toelaat’.

Die Vaders Geweeg🔗

König wy ‘n groot deel van sy boek aan ‘n (besonder kritiese) beoordeling van die standpunte van Calvyn en Arminius.

Hy verwerp die albeskikking-standpunt van Calvyn met vrae soos: Hoe kan God die sonde beskik en die mense dan nog daaroor veroordeel? Hoe kan ‘n liefdevolle Vader sinlose lyding beskik? Volgens König lewer Calvyn se algehele voorbeskikkingsleer ernstige probleme op oor byna elke aspek van ons geloof: die mens, die verbond, sonde en lyding, die geskiedenis, die toekoms, die duiwel, en God self. Sy slotsom: ‘Dit is net nie moontlik om Calvyn se vreemde leer oor God se voorsienigheid te onderskryf as ‘n mens met ‘n Bybelse teologie werk nie’.

Oor die toelating-standpunt van Arminius oordeel König ietwat milder. Hy meen dat die meeste gereformeerde teoloë en lidmate, selfs die gereformeerde belydenis (vergelyk veral Sondag 10 HK) ‘n uitgesproke Arminiaanse inslag het. Mense is lief daarvoor om te praat oor die slegte wat deur God toegelaat word. Uiteindelik het God ‘n goeie doel daarmee. Maar – oordeel König – ‘n goeie doel kan tog nooit enige middel (bv. sinlose lyding) heilig nie.

Die vaders word geweeg – en te lig bevind.

weegskaal

Verdere Denke is Nodig🔗

Teenoor Calvyn en Arminius, ook teenoor Augustinus en Aquinas, stel König sy ‘eskatologiese, verbondsmatige voorsienigheidsleer’. Hierdie leer kan in enkele hoofpunte saamgevat word:

  • God is in beheer. Goddelike beheer beteken nie dat God oor alles beskik nie (Calvyn) of in sy almag sekere dinge toelaat nie (Arminius). Goddelike beheer kom daarop neer dat God sinvolle lewe tans moontlik maak. Hy keer dat sake nie handuit ruk nie, en Hy sal in die toekoms sy doel bereik.  

  • Stryd en oorwinning. God is vanaf die skepping in ‘n voortdurende stryd betrokke. Sy stryd is teen die chaosmagte (skeppingsverhaal – die aarde was woes en leeg), die bose geeste in die lug, en teen die gevalle mens. Die chaosmagte en die bose magte word deur God met oorweldigende mag teengestaan en verpletter. God se hewigste stryd is egter teen die gevalle mens. Die gevalle mens moet gewen word en nie uitgewis word nie. Daarvoor gebruik God oorredende mag: Hy beloof, nooi, pleit, waarsku, dreig. Terwyl God die stryd voer, ervaar Hy by herhaling mislukkings – soos die volk Israel wat hulle harte dikwels teen Hom verhard het. Die uiteinde is egter oorwinning: in en deur Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het.

  • Almag en liefde. God beskik oor geweldige groot mag, maar Hy is nie almagtig in die filosofiese sin van die woord (God kan enige oomblik enigiets doen wat Hy wil doen) nie. Hy kan byvoorbeeld nie sonde doen nie, Hy kan nie lieg nie, Hy kan nie verander nie. God gebruik sy geweldige groot mag om te doen wat Hy beloof het. Uit liefde wil Hy die gevalle mens red.

  • Sinvolle en sinlose lyding. Die mensdom ly. Soms is lyding sinvol – dit bring ‘n dwalende mens tot stilstand en inkeer. Ander kere is lyding sinloos, soos die uitmoor van Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog, en die gebeure op 11 September 2001 te New York. In sinvolle lyding word die liefdevolle hand van God gevoel. Sinlose lyding kom van die duiwel af. God beskik dit nie.

Uitroeptekens en Vrae🔗

Om in die bestek van ‘n artikel soos hierdie in diepte op fyner besonderhede van prof. König se boek in te gaan, is onmoontlik. Trouens, selfs dit wat hierbo oor sy boek weergegee is, is uiters beknop. Ter afsluiting slegs enkele kritiese vrae en opmerkings.

Eers ‘n duidelike uitroepteken! Die saak wat prof König aanspreek is van groot belang, soos in die inleiding gestel. Goedkoop troos vir mense in nood is slegter as geen troos. Om alles wat God doen te probeer verklaar – veral wat die sin van lyding betref – is uiters gevaarlik. En hoeveel keer word dit nie gedoen nie? Dink aan die vriende van Job. Let op hulle einde. Saam met prof König spreek ons die versugting uit: troos ons daadwerklik!

Máár: bied prof König se ‘eskatologiese, verbondsmatige voorsienigheidsleer’ werklik troos?

In antwoord hierop die volgende:

  • Hy beroep hom daarop dat hy binne die kader van die verbond wil dink. Buiten vir enkele los gedagtes oor die verbond, mis ‘n mens egter ten ene male die groot lyn van verbondsmatige denke. Die verband tussen verbondseën, verbondseis en verbondswraak kom nie voor nie. Dit is ‘n deurslaggewende leemte. Lyding – tydelik sowel as ewig – kan nie buite die konteks van verbondswraak gepeil en omskryf word nie.  

  • Kritiek op Calvyn en ander kerkvaders loop noodwendig uit op kritiek teen die belydenis. Nie net die betrokke Sondae en Artikels insake die voorsienigheid kom aan die orde nie. Ook dit wat ons bely van God se almag en sorg. Om met die standpunt van ‘n teoloog te verskil is een ding. Om van die kerklike belydenis af te wyk (wat König op heelparty plekke inderdaad doen) is iets anders. Prof JH van Wyk, wat in In die Skriflig van Desember 2002 met prof König in gesprek tree oor sy boek, maak tereg die opmerking: ‘My konklusie is dat König so ver wegbeweeg van die klassieke gereformeerde benadering dat hy ‘n kerklike oordeel oor sy standpunt sal moet aanvra’.

  • Opmerkings oor God se mag, as sou God nie alles kan doen wat Hy wil doen nie, doen myns insiens afbreuk aan ons God en hemelse Vader. God kan immers alles doen wat Hy wil doen! Dit is ons enigste troos in lewe en in sterwe. Om God se mag as oorredend, uitnodigend, pleitend te omskryf hou nie water nie. Sodoende word aan die mens meer toegedig as wat hom toekom.

  • Die onderskeid tussen sinlose en sinvolle lyding is onbevredigend. Wie bepaal op grond waarvan wanneer lyding sinvol is, en wanneer dit sinloos is? En hoe word dit bewys dat ‘sinvolle lyding’ van God kom, terwyl ‘sinlose lyding’ van die duiwel afkomstig is?

doodskis

Ware Troos🔗

Teenoor die ‘eskatologiese, verbondsmatige voorsienigheidsleer’ van prof König staan die ware troos van onder andere vraag en antwoord 28 HK: ‘Wat baat dit dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou? Dat ons in alle teëspoed geduldig en in alle voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie’. Met hierdie belydenis kan ons mekaar onder alle omstandighede bemoedig. Ongetwyfeld.