Gestuur
Gestuur
So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het . . .
Johannes 3:16
Dié wonder herdenk ons met Kersfees, maar die wonder is nie verby nie. Hierdie sending van God duur voort, oral waar mense in beweging kom om daarvan te getuig. Jesus gebruik dieselfde woorde wanneer Hy sê:
Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook Johannes 20:21
Wat beteken dit vir sending en missionêr wees?
Ons het vorige keer oor die verband tussen Kersfees en missionêr wees, geskryf. Ons het gesien dat missionêr wees by God self begin. Hy is bewoë oor die behoud van mense. Daarom het die Vader sy Seun na die wêreld gestuur; daarom het Hy sy Gees gestuur om vir sy Seun plek te berei; daarom stuur Hy vandag nog sy Gees om vir sy Seun in die harte en lewens van mense plek te maak. Daar lê die bron van missionêr wees in die gemeente – by God self.
‘Soos’⤒🔗
Wanneer Jesus sy dissipels in die wêreld uitstuur, lê Hy ’n band met die manier waarop die Vader Homself na die wêreld gestuur het. Die Bybel gebruik daarvoor telkens die woord ‘soos’ of ‘net soos’. In watter opsig is die sending van die dissipels net soos die sending van Jesus?
Uiteraard staan daar nie ’n is-gelyk-aan-teken tussen die twee sendings nie. Die dissipels kom nie uit die hemel nie, is nie sondeloos nie en word nie gestuur om in die plek van mense te ly en te sterwe en die wêreld te dien deur hulleself as ’n losprys vir baie te gee nie. Wanneer Jesus sy sending in die vlees met die sending van die dissipels vergelyk, word hierdie groot verskil nie oor die hoof gesien nie.
Met die woord ‘soos’, benadruk die Here dat dieselfde krag en dieselfde liefde wat sigbaar geword het in die sending van God se Seun in die vlees, ook agter hulle sending in die wêreld is. Hulle mag weet dat, wanneer hulle in die wêreld uitgaan, dieselfde Gees hulle dra. Aan die begin van albei sendings staan die Vader. Die wêreld kom dieselfde liefde teë. So sit die kerk die beweging, wat by God begin, voort wanneer sy die wêreld ingaan op die manier waarop Christus gekom het.
Luister←⤒🔗
Vir ons as kerke beteken dit eenvoudig dat dit baie noodsaaklik is om goed te luister na wat Jesus self gedoen en gesê het. Sy werk en sy woorde is die bron én die norm vir die sending van die kerk. As ons as kerke waarlik missionêr wil wees, moet ons begin deur te luister na die sending wat by God begin het. As ons die liefde van God deurgee, wat beteken dié liefde? As ons saamgeneem word in ’n beweging wat by God begin, hoeveel tyd neem ons om in beweging te kom?
As missionêr wees dan by God begin, begin ons gedagtes daaroor ook deur steeds weer na sy stem te luister? Juis omdat dit oor die sending van die kerk gaan, is daardie luister essensieel. Dit kan goedskiks gebeur dat die baie aktiwiteite waarmee ons besig is – selfs die besinning oor die manier waarop ons ander met die evangelie kan bereik – hierdie luisterende houding in gedrang kan bring. Ons kan alleen ʼn boodskap deurgee as ons eers stil word om ons sélf vir die boodskap oop te stel; onbevange luister en stil word voor God. As ons missionêr wees nie daar begin nie, begin ons nie by die bron nie.
ʼn Mens kan dit vergelyk met die houding van Maria. Sy het letterlik die sending van God se Seun ontvang om dit as’t ware deur te gee. En ons leer van haar hoe dit moontlik is. Sy gee haar oor aan die woord wat sy nie kon begryp nie:
Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woordLukas 1:38
Deur hierdie oorgawe kon sy instrument in God se sending word. Dit is nie vandag anders nie. Om te luister vra tyd. Dit vra ’n oorgawe van binne om te wil luister, ook as God se bewoënheid ons begrip te bowe gaan.
Lewenshouding←⤒🔗
’n Ander aspek wat hiermee saamgaan, is die houding wat Jesus aan sy dissipels voorhou. Jesus waarsku sy dissipels telkens dat hulle nie moet dink dat hulle bó hulle meester kan staan nie. As ons Jesus wil volg moet ons agter Hom loop. Ook dit het te make met die ‘soos’: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook”. Die sending vra offers. Wie in die voetspoor van Jesus loop, kan teenstand verwag. Beteken dit dan die einde van die sending? Die Here het nie tot stilstand gekom toe Hy weerstand gekry het nie, en Hy sê “‘n Leerling is nie bo die meester nie en ‘n dienskneg ook nie bo sy heer nie” (Matteus 10:24).
Watter offers word van ons gevra? Wat sal ons opoffer vir die sending wat Jesus aan ons opgedra het? Ons kan sekerlik meer gee, as ons sien wat Hy prysgegee het toe die Vader Hom gestuur het, en ons dink aan sy woorde, so stuur ek julle ook...
Voordat Jesus hierdie woorde gespreek het, gee Hy ’n voorbeeld van sy diens in die wêreld. Wanneer die dissipels dit nie doen nie, buig Hy Hom neer en was die voete van sy dissipels en Hy sê: “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie” (Johannes 13:14-17). Weer klink dieselfde ‘soos’, die vergelyking. Só moet julle die ‘sending’ in die wêreld voortsit – deur dit in die praktyk toe te pas.
Die kerk in diens van die sending←⤒🔗
Die kerk staan in diens van die sending, maar die kerk kan ook die sending belemmer. Dit is al by dissipels duidelik. As mense in die kerk meer het aan hulle eie belang en stand as aan die vraag hoe ons ander met die liefde van God kan bereik, dan gebeur vandag nog wat met die dissipels gebeur het. Die waarskuwing bly vir ons geld. Hoe staan ons in diens van die beweging van God toe Hy sy Seun in die wêreld gestuur het? Is ons oop vir mekaar, vir ander? By Bybelstudie en ander aktiwiteite vir die jeug en vir die oueres?
Kom ons praat dan ook daaroor hoe ons mense buite ons eie kring kan opsoek en onnodige struikelblokke uit die weg kan ruim sodat ons vandag werklik missionêr kan wees.
Wat is onnodige struikelblokke? Dit is belemmerings wat meer te doen het met ons kerklike kultuur as met die boodskap van die evangelie. Ons moet besef dat die kultuur van baie mense vandag ’n geheel ander kultuur is as dié waarin ons dikwels as kerke lewe. Ons kan nie, om mense te bereik, van hulle vra dat hulle hulle eers by ons kerklike kultuur aanpas nie. Die diep kloof tussen die wêreld van die kerk en die kultuur van die mense wat naby ons staan en rondom ons lewe, word dikwels onderskat. Daar ís ‘n kloof wat oorbrug moet word.
Daar word soms van ‘n ‘inkarnasiemodel’ gepraat as ’n poging om los van ’n belemmerende ‘kerkkultuur’ in die kultuur van die mense om ons in te beweeg. Soos die Woord van God in die vlees gekom en mens geword het – die inkarnasie – so, word gesê, sal die kerk ook in die wêreld van die mense om ons heen moet ingaan.
Ons moet ons ewenwel afvra of die vleeswording van die Seun van God die juiste ‘model’ is vir die oorbrugging van die kloof. Die kerk sal haarself, deur vanuit die inkarnasie te dink, waarskynlik oorskat. Die kerk en die Woord is nie dieselfde nie. Die verskil tussen die koms van Jesus en sy sending van die dissipels moet nie uit die oog verloor word nie.
Gestuur deur die Heilige Gees←⤒🔗
Dit is beter om die verband met die woorde van Jesus te sien vanuit die werk van die Heilige Gees. Dan word dit dadelik duidelik dat hierdie sending meer beteken as net die teenwoordigheid van die kerk in ’n ander kultuur. Dit is die Woord van God wat in ons lewe deurbreek, wys wat fout is en dinge, wat ons in ons kulture so belangrik vind, radikaal omdraai. Dit hoort by werklike missionêr wees. Die Heilige Gees sal die wêreld van sonde oortuig, omdat ons God uit onsself nie kan ken nie, en van oordeel, as ons sonder Jesus Christus tot God wil kom.
As dissipels en kerk verdien ons dieselfde oordeel. Ons word nie soos Jesus nie. Ons staan juis as gebrekkige mense saam met die ander om op Jesus te wag. Hy het ons opgesoek en Hy doen dit steeds, deur sy Gees. Soos Hy gestuur is deur die Gees, só stuur Hy my vandag en só is Hy by my, wanneer ek my deur Hom laat stuur.