Gesonde Verlange
Gesonde Verlange
Mens kry ouers wat hulle kinders volstop met lekkergoed. Elke keer as hulle vra, kry hulle net. Of as die behoefte groter is as lekkers, word al gou geld in hulle hande gestop. Dit wil voorkom of dit al hoe moeiliker word om jou kinders iets te weier in hierdie wêreld waarin omtrent alles onmiddellik beskikbaar is. Boonop het die seuns en dogters wat in die strate rondhang nog baie meer tot hul beskikking, soms al op ʼn baie jong ouderdom. Onwillekeurig probeer jy op hierdie manier voorkom dat jou eie kinders vir hulle gevoel te kort gedoen word.
ʼn Moeder het eenkeer in gesprek met ʼn sielkundige haar nood gekla dat haar opgroeiende kinders so onbeheers is. Hulle is brutaal, ontevrede en veeleisend. Wat kan sy tog daaraan doen? Onderwyl, terwyl die gesprek aan die gang is, het haar jongste kind die een na die ander lekkertjie uit haar handsak gevat. Sy het dit wel agtergekom, maar niks gesê nie en waarskynlik gedink: 'ag, los maar, dan is sy tenminste soet'.
Op ʼn gegewe oomblik het die sielkundige haar daarop attent gemaak: 'as u u kind nie nou leer om homself te beheers nie, noudat hy nog jonk is, hoe sal hy homself gedra as hy ouer word?'
Die lekkergoed is op sigself baie onskuldig. Maar later gaan dit oor groter dinge. Of oor mense, ʼn vriend of vriendin.
Verlange is nodig⤒🔗
Beheersing van verlangens is nie die sterkste kant van ons samelewing nie, om dit sagkens te stel. Alkante staan mense klaar om enige verlange onmiddellik te vervul. Solank jy betaal. En dis nie nodig om dit onmiddellik te doen nie: geld leen en ʼn afbetalingsooreenkoms word baie verleidelik aangebied. Op so ʼn manier kom alles binne ons bereik, dis tenminste hoe dit lyk. As ek vanoggend besluit om ʼn nuwe motor te koop, kan ek dit dieselfde dag al huis toe ry. Geen probleem nie.
Nee, die probleme kom later. Nie net wanneer dit afbetaal moet word nie, maar ook omdat hierdie manier van vervulling van begeertes so oppervlakkig blyk te wees. Dit gee voldoening vir net ʼn kort tydjie. En raak jy sommer gou verveeld met die nuwe motor.
Eendag het ʼn pa vir sy seun van 14 ʼn nuwe fiets gekoop. Sommer net. Hy het dit in ʼn winkelvenster raak gesien. Natuurlik was die seun verras en bly, maar na 2 weke het hy sy fiets al nie meer skoon gemaak nie. ʼn Ander seun van dieselfde ouderdom het lank vir sy nuwe fiets gespaar. Hy was suinig met sy sakgeld en het allerhande ekstra werkies gedoen totdat sy spaargeld uiteindelik genoeg was om sy aankoop te kan doen. ʼn Splinternuwe fiets was net buite sy bereik, maar hy was tevrede met ʼn netjiese tweedehandse een. En hy was so bly en opgewonde! En hy het sy fiets elke week blink gepoets! Dit was regtig sy fiets.
Sien u wat ʼn gesonde verlange aan mens doen? Van die begin af bevorder dit die regte waardering en uiteindelik gee dit ʼn diepe voldoening en ʼn hegte band.
Daarom kan jy nie ongestraf ʼn fase van verlange oorslaan nie. Die samelewing wys dit grootliks uit: daar is maar weinig dankbaarheid oor. Begeertes word vlugtig vervul en bly daarom terug kom. Met ontevrede gesigte beskik die mens oor luukse goedere.
Liefde←⤒🔗
Maar dit gaan nie net oor dinge nie. Dit gaan ook oor mense. Op ʼn gegewe oomblik verskyn daar in jongmense se lewe ʼn vriend of vriendin. Saam met die liefde kom ook die verlangens. Hooglied is nie geheimsinnig daaroor nie. In die oë van ʼn jongman is die meisie vir hom soos ʼn pragtige tuin, ʼn hof waarin die mooiste vrugte groei. Hy sou so graag daardie vrugte wou pluk...
Ja, en wat gebeur as jy nie van jongsaf geleer is om jou verlangens te onderdruk nie? As jy alles kan kry wat jy wil hê en koop waarvoor jy lus is? Dan is dit amper onmoontlik om 'nee' te sê vir jou seksuele verlangens. Dit is bekend, dat daardie verlangens vir menigeen te sterk is. Maar die indruk bestaan ook dat dit steeds vinniger gebeur. In ʼn groeiende verhouding beswyk die meeste jongmense na omtrent 4 weke al vir die verleiding. Hulle sondig teen God deur nie te wag op die oomblik wat hulle mekaar van Hom as man en vrou kry nie. Maar ons kom later daarop terug.
Waaroor dit nou gaan is dat die vlugtige bevrediging van begeertes geen voldoening gee nie. En verseker nie 'n sterk band nie. Die verhouding is juis as gevolg daarvan oppervlakkig. Om van die effek van wisselende verhoudings nie eers te praat nie: wanneer dit elke keer allesomvattend is, raak dit al hoe moeiliker om jou regtig aan iemand te heg.
Sodoende is daar ʼn sekere samehang tussen ʼn snelle bevrediging van verlangens en die (latere) ervaring van ʼn minder sterk huweliksband.
Nie brand nie?←⤒🔗
Tog loop ek gereeld mense raak wat nie veel waarde heg aan beheersing van verlangens nie. Wat ook nie bereid is om baie moeite daarvoor te doen nie. Want staan daar nie êrens in die Bybel dat dit ongesond is om van begeerte te brand nie?
1 Korintiers 7:9 het op hierdie manier ʼn gevleuelde woord geword. Geheel ten onregte. Want in die Grieks staan net dat dit nie goed is om 'te brand' nie. As jy brand kan jy maar beter trou, staan daar. Wat beteken dit? Die vertalers het daaroor nagedink en hul eie interpretasie daaraan gegee: mens brand immers van begeerte? Daarom staan dit nou so daar in heelwat vertalings.
Maar die Skrif wys ons eerder na die ander kant toe. In Spreuke 6 gaan dit oor die verleiding van ʼn hoer, waarteen jy moet weerstand bied om nie verlore te gaan nie:
Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand? Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry?
Dit is ook die strekking van 1 Korintiers 7: jy hoef nie te trou nie, maar moenie dink dat lewe in ontug ʼn plaasvervanger vir die huwelik kan wees nie. Moet jou nie brand aan die sonde nie! Met ander woorde, beheers jou verlangens, moenie dat hulle deurslaggewend vir jou handelinge is nie. Ons kan nie sonder ʼn gesonde dosis selfbeheersing leef nie.
Verlange na God←⤒🔗
Dat die verlange in ons lewe alle ruimte kry blyk baie duidelik in ons omgang met God. Nog nooit het die HERE aan sy kinders alles in een keer gegee wat Hy van plan was nie. Hy het Abraham met weinig woorde geroep maar het hom deur die jare al hoe meer vertel. Hy het hom beloftes gegee, ook vir sy kinders, wat hulle in verwagting laat lewe het. Eeue lank is daar uitgesien na die Messias. Nou, vanaf Pinksterdag is daar nog meer rede om met reikhalsende verlange uit te sien na die koms van Jesus. Soms lyk dit nie so wanneer ons lewe deur ʼn dal gaan nie. Dan word ons verwagting beproef.
Hoekom doen die Here dit so?
Waarom laat Hy ons wag?
Waarom gee Hy ons nie direk die vervulling van ons gebede nie?
Hierdie is baie relevante vrae. Sonder twyfel het die antwoord te doen met die ontwikkeling van 'n sterk geloofsband. Staan die Psalms nie vol daarvan nie?
Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord. My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre. (Psalm 130:6)
So kom die HERE steeds meer sentraal te staan in ons lewe. Die mens wat in sy verwagting beproef word, word in sy geloof verdiep en gesterk in sy keuse vir God.
Laat daarom ʼn gesonde verlange ʼn plek kry in elkeen se lewe, in allerhande opsig. Die wat nie met verlange kan omgaan nie, kan nêrens op wag nie. Uiteindelik ook nie op God nie.