Geloofd sy God
Geloofd sy God
Petrus skryf sy eerste brief aan die “vreemdelinge wat in die verstrooiing is”, in die verskillende dele van Klein-Asië. Hiermee word dus bedoel die christene wie se “moederland” die hemel is. Op die oomblik leef en werk hulle nog op die aarde. Hier is hulle vreemdelinge. Soos koloniste moet hulle hier die belange van die Koninkryk van die hemel dien.
Hierdie gelowiges het in baie moeilike omstandighede geleef. Hulle het gely onder swaar vervolgings. Sommige het as slaaf ʼn amper ondraaglike lot gehad. Gelowige vroue is erg deur hulle heidense mans mishandel. Die geloof het vir hierdie christene ʼn baie duidelike verswaring in hul lyding beteken. En blykbaar was dit vir hulle ʼn groot teleurstelling gewees. Hulle het, toe hulle tot geloof gekom het, hulself die toekoms baie anders voorgestel.
Petrus skryf nou aan hierdie mense om hulle te tróós. En hy begin: Geloofd sy God! (OAV = Geseënd is God, 1 Petrus 1:3). ʼn Eienaardige begin. Wie begin nou só as hy met mense praat wat deur swaar verdrukkings teleurgesteld is? Die mense kla: Dit gaan so swaar met ons! En Petrus begin sy trooswoord met: Julle het soveel om voor te dánk! Kyk hoe góéd is God! Ek en julle het soveel om Hom voor te loof!
Is dit nie bietjie onrealisties nie? Is Petrus hier nie baie ontaktvol nie? Stap hy nie maar net te maklik oor die moeites van sy lesers nie? Sal hulle nie maar net reageer met: Ja, dis maklik vir u om te sê, nie?
Vir ons sou dit beter wees as Petrus geprobeer het om hulle te wys op die ligpuntjies, en dat hulle tog nie hul seëninge wat daar nog is, moet miskyk nie. Maar dis vir ons ʼn probleem dat hy hulle moeites sommer net so ignoreer deur sy lofverheffing.
Ek dink dat ons baie keer so voel en te werk gaan omdat ons troos dikwels nog so puur wêrelds is. Ons gaan staan langs die behoeftiges en seergemaaktes en toon dan medelye. En ons troos dan deur daarop te probeer wys dat die lig, ondanks alle skaduwee, nog nie heeltemal verdwyn het nie. Maar so bly ons maar net gefokus op die mense en hul omstandighede.
Petrus troos heeltemal anders. Hy begin om oor Gód te praat! Die vraag of daar nog plek is vir ʼn lofsang, hang nie af van die omstandighede nie, maar van Gód! Petrus weet dat hy juis daarom kan troos, nie deur te wys op die ligpunte in hul omstandighede nie, maar alleen deur die woorde van geloof te spreek – daardie geloof wat nie gerig is op die dinge wat ons sien nie. Hy rig hulle blik bo die mense en bo hulle omstandighede uit, en verhef hulle harte tot God. Hy probeer nie om hulle vir ʼn tyd van hulle verdriet te laat vergeet nie, maar om hulle hul verdriet te laat sien en aanvaar in die gelóóf.
Hy wys dus nie op ligpunte teenoor die skaduwee nie. Maar op die Lig in en van hul duisternis. Daarom is die eerste woorde van Petrus vir God, “die God en Vader van onse Here Jesus Christus” (1 Petrus 1:3).
Opsetlik gebruik Petrus die volledige benaming.
God is die God en Vader van Hom wat sy amp uitgeoefen het: Christus. En wat deur sy ampsdiens verlossing van sonde gebring het: Jesus. En wat as loon die heerskappy oor alles en almal ontvang het: Here. En dit is Hy wat vir die Petrus en die lesers allermins ʼn vreemde is: ónse Here Jesus Christus.
My troos in donkerheid is, dat Hy, hiérdie God, ook agter al my moeites staan: Geloofd sy God!