Geheel Anders in ’n Armoede-Kultuur
Geheel Anders in ’n Armoede-Kultuur
Kyk ʼn mens na die geskiedenis van Suid-Afrika, is dit opvallend hoeveel fortuinsoekers hulle deur die eeue in hierdie land gevestig het. Dink byvoorbeeld aan die 19e eeu, toe daar goud en diamante in Suid-Afrika ontdek is. Op ’n manier het dit die breë kultuur van ons land gestempel. ’n Kultuur waarin geld ’n deurslaggewende rol speel. ’n Lewensinstelling onder die bevolking om so gou as moontlik ryk te word. Jongmense word selfs deur hulle ouers aangespoor om beroepskeuses te maak op grond van die hoë salaris daaraan verbonde.
Die blankes was gedurende die 20ste eeu die politieke en ekonomiese leiers van die land. En, op die oog af, lyk dit of die swart deel van die bevolking maar net in die voetspore van die blankes volg. Selfbevoordeling, ten koste van ander bevolkingsgroepe. Die jaag na selfverryking (‘the pursuit of wealth’), en liefs so gou as moontlik. Daarby word dikwels nie rekening gehou met die gebooie in die Bybel nie.
Hoe is dit dan moontlik dat Suid-Afrika bekend staan as ’n Christelike land? 70% en meer van die bevolking noem hulself Christene. Deur die eeue was Suid-Afrika ook ’n land waarnatoe baie sendelinge gegaan het. Verspreid oor die hele land is sendingstasies opgerig. En daar is byna nie ’n dorp sonder ’n kerkgebou nie. Dit wil voorkom of die Evangelie slegs oppervlakkig aangeneem is. Het dit wat die Bybel leer oor geldbesteding, rentmeesterskap, nie werklik ingang gevind onder bruin, swart en witmense nie?
Kloof Tussen Arm en Ryk⤒🔗
Die titel bo hierdie artikel lui: Geheel anders in ’n armoede-kultuur. Word die Suid-Afrikaanse samelewing hiermee korrek getipeer? ’n Armoede-kultuur? Dit hang natuurlik af van waarmee ʼn mens dit vergelyk. Vergeleke met die res van Afrika is die land ryk. Vergeleke met oorsese lande miskien nie altyd nie. Miskien is dit beter om Suid-Afrika anders te tipeer: ’n land met ’n groot verskil tussen arm en ryk. Die eerste reaksie van Europeërs wat in Suid-Afrika land, is meestal verbasing. Verbasing oor die rykdom wat hulle hier aantref. Dit het hulle nie van ’n Afrikaland verwag nie. Huise, motors en swembaddens waarvan vele Europeërs nie eers kan droom nie. Verbasing is daar vervolgens ook as hulle sien dat daar tog ook krotbuurte, werkloosheid en bittere armoede in die land is.
Wat is eintlik die kerk se posisie in hierdie kultuur van so ’n groot kloof tussen die have’s en die have not’s? ’n Inkomsteverskil wat voorlopig nie kleiner sal word nie, miskien wel groter. Hoe funksioneer kerklidmate in ’n ekshibisionistiese kultuur, waarin rykes hul welvaart uitstal voor die oë van die armes?
Voordat ons meer konkreet op die onderwerp ingaan, laat ek net eers ’n paar uitgangspunte noem.
-
In die eerste plek: Volgens die Bybel is ryk wees nie sondig nie. Volgens die Bybel is arm wees ook nie sondig nie.
-
In die tweede plek: Die kerk het die taak om reformerend in die samelewing te werk. ’n Soutende sout. Ook op die gebied van geldbesteding. In hierdie verband kan genoem word dat die Bybel vol is van oproepe om die armes tegemoet te kom.
-
In die derde plek: Die kerk sal nie in staat wees om die armoede-problematiek op te los nie. “Want die armes het julle altyd by julle” (uitspraak van Jesus in Matthéüs 26:11). Wat dit betref wag ons met smart op die jongste dag, die dag van herstel van alles wat skeefgegroei het.
Sending en Finansies←⤒🔗
Binne die kader van die sendingwerk in Soshanguve is daar die afgelope jaar heelwat oor hierdie onderwerp nagedink. En dan nie soseer op nasionale vlak nie. Maar kom ons begin eerstens in ‘ons’ eie kerkverband. Arm en ryk in die VGKSA. Op grond van Galasiërs 6:10 glo ek dat, as ons iewers moet begin, dit in die kerkverband is. Paulus sê in hierdie vers: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”
’n Vraag wat ons op die oomblik in die sendingwerk besig hou, is hoe die gemeentes wat uit die sending voortgekom het, nie net selfregerend nie, maar ook selfonderhoudend kan word in die toekoms. In alle kerkverbande wêreldwyd kom daar hulpbehoewende kerke voor. Dit is meestal as gevolg van die feit dat die sieletal in die betrokke kerk laag is. Vir sendingsgemeentes geld dit dikwels ook. Hoewel daar meer redes is. Soos byvoorbeeld ’n hoë werkloosheidsyfer. En wat algemeen aangedui word as die gevolge van die ‘global rift’ tussen die eerste en die derde wêreld. Waar ’n gemeente van honderd siele in die eerste wêreld selfonderhoudend kan wees, sal dit in ʼn derde wêreldsituasie minder vanselfsprekend wees.
Tydens die ‘brainstorming’ oor hierdie onderwerp het ons probeer om ’n aantal Bybelse beginsels te formuleer. Kom ons bekyk hulle ’n bietjie:
Wedersydse Solidariteit←⤒🔗
In Handelinge 11:29 lees ons hoe die meer welvarende gemeente in Antiochië die hulpbehoewende gemeente in Jerusalem finansieel bystaan. ’n Voorbeeld van die solidariteit waarvan ons in Galasiërs 6:10 lees.
Vanuit die Bybel kan ons sê dat hierdie solidariteit nie ophou by die eie kerkmure (diakonie) nie, maar ook kerkverbandelik en selfs internasionaal vorm moet kry. In die Nuwe Testament lees ons dat nie net Antiochië nie, maar ook ander kerke ver oorsee (soos Rome) Jerusalem finansieel ondersteun het. Armoede is ook in die kerkverband van die VGKSA ’n werklikheid. Tog is dit goed om te besef dat dit nie uitsonderlik is nie. Deur die eeue heen was daar al hulpbehoewende kerke, selfs in die tyd van die Nuwe Testament.
Mededeelsaamheid←⤒🔗
Kom ons kyk ’n bietjie na wat ons in die Nuwe Testament nog meer hieroor vind. Baie bekend is wat gesê word oor die eerste gemeente na Pinkster. Handelinge 2:44-45:
En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.
Op grond van hierdie verse is in die verlede die kommunisme al verdedig. Tog is daar ’n belangrike verskil. Iemand het my dit ’n keer bondig uitgelê. ’n Kommunis sê: alles wat van jou is, is ook van my. Maar ’n Christen sê: alles wat van my is, is ook van jou. ’n Pragtige voorbeeld van hierdie mededeelsaamheid is die optrede van Joses Barnabas. Ons lees oor hom in Handelinge 4:36-37:
En Joses wie se bynaam onder die apostels Barnabas was ... het ’n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
Eerlikheid en Transparansie←⤒🔗
Hierdie inisiatief van Joses Barnabas word in Handelinge genoem in teenstelling tot die optrede van Ananias en Saffira. Ook hulle het ’n stuk grond verkoop. Maar van die opbrings het hulle slegs ’n deel aan die kerk gegee, terwyl hulle voorgegee het dat dit alles was. Ons ken die swaar straf wat hulle getref het.
Hierdie straf was nie vanweë die feit dat hulle nie al die geld vir die kerk gegee het nie. Dit was hulle eie keuse. Maar hulle is gestraf omdat hulle nie eerlik, nie transparant was nie. Petrus sê vir Ananias:
As dit nie verkoop was nie, het dit nie joune gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.Handelinge 5:4
Die beginsel wat ons hieruit kan aflei, is dat eerlikheid en deursigtigheid (transparansie) in die kerk hoog aangeskrewe staan. Ook onder kerklidmate. Daar is niks geheimsinnigs aan geld nie. Dit is ’n middel wat gebruik moet word in diens van God. In verband hiermee sou ek wou vra: waarom het dit ’n gewoonte geword dat jou salaris ’n geheim is? Hoekom is dit gebruiklik dat ander mense nie weet hoeveel jy verdien nie? Dit kan uit edele motiewe wees, maar dikwels geld ook die omgekeerde.
Eerlikheid en transparansie is iets waarsonder die kerkverband nie kan funksioneer nie. Om ’n voorbeeld te noem: ’n hulpbehoewende kerk wat aansoek doen om steun, sal eers volledige openheid van sake moet gee ten aansien van hulle eie finansiële situasie. Wanneer die eie gemeentelede nie rojaal na vermoë bydra nie, kan ’n beroep op die kerkverband om steun nie goedgekeur word nie. Maar hoe kan ’n kerkraad weet of al sy lidmate na vermoë bydra? Dit kan slegs as daar eerlikheid en transparansie is. Oók omtrent gemeentelede se inkomste.
Eerlikheid en transparansie geld net so veel vir welvarende gemeentes. Ook hulle is deel van die kerkverband. As welvarende gemeentes met minder as die ‘tiendes’ ’n sluitende begroting kan kry, wil dit nie sê dat daar dan maar met minder as die ‘tiendes’ volstaan kan word nie. Hoewel die bepalings omtrent die ‘tiendes’ uit die Ou Testament nie letterlik toegepas kan word in die Nuwe Testament nie, is dit hoegenaamd nie die bedoeling van die Nuwe Testament om dan maar met minder as die ‘tiendes’ te volstaan nie. Het ons dan nie ’n taak in die kerkverband, en selfs internasionaal nie? Daar kan nooit te min geld in Christus se kerkvergaderende werk, in sy koninkryk belê word nie!
Vertroue←⤒🔗
Eerlikheid en transparansie is deugde wat slegs kan bestaan as daar ook vertroue is. Hoe ’n ryke seën sal dit nie wees nie as in gemeentes, en óók in die kerkverband, steeds meer vertroue groei, óók wat betref finansiële sake. Vertroue in die sin dat ryk gemeentes vanuit die besef dat arm gemeentes trou hul ‘tiendes’ betaal, maar dan tog nog in finansiële nood verkeer, bereid is om vanuit hulle oorvloed die arm gemeentes te help. En ook vertroue in die sin dat arm gemeentes sien dat die rykes hul welvaart nie net vir hulself vashou nie, maar bereid is om te deel. ’n Wedersydse vertroue, wat groei deur die verkondiging van die Evangelie en die daadwerklike implementering daarvan in ons lewens. Doof die werk van die Gees nie uit nie!
Offer-Bereidheid←⤒🔗
’n Gemeente wat verlang na die prediking van die Evangelie, sal daarvoor offer. Dit geld sowel vir armes as vir rykes. Vanuit die Ou Testament ken ons die bepaling van die tiendes, wat afgesonder is vir die diens van die HERE. Hierdie sisteem van die ‘tiendes’ kan ons nie identies in vandag se tyd toepas nie. Tog bly die beginsel staan. Dit is ’n bewys van geloof, ja, dat mense verlang na die Evangelie, as daar bo-aan hulle begroting ’n deel afgesonder word vir die diens van die HERE. Daar is gesinne in die kerkverband vir wie ’n tiende vir kerk en Bybelse onderwys ’n groot offer is. Vergelyk die enkele geldstukkies van die weduwee. “Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het” (sê Jesus in Lukas 21:3). Tog blyk juis ook hieruit hulle verlange na die Evangelie. Aan die ander kant is daar ook gesinne in die kerkverband vir wie die gee van ’n tiende hulle luukse lewenstyl geensins sal affekteer nie. In die gees van die Nuwe Testament word daar van hulle juis meer as ’n tiende verlang. Spreek die bereidheid om te offer daaruit, as rykes hulle tiendes betaal asof dit niks is nie? Sou hulle bereidheid nie juis spreek uit ’n optrede in lyn van Joses Barnabas nie, wat van sy onroerende goed aan die gemeente geskenk het (Handelinge 4:36-37)?
Verantwoordelikheid en Toerekeningsvatbaarheid←⤒🔗
Vanuit die Bybel kan ons sê: dit is nie ’n skande om arm te wees nie. Dit is ook nie ’n skande om vir geld te vra nie. Dit is wel ’n skande as jy geld nie goed kan hanteer nie. Dit is wat die HERE van sy gemeentes verwag, of hulle arm of ryk is. Dat hulle goeie rentmeesters is. Dink aan die gelykenis oor die talente. As ’n gemeente arm is omdat die lidmate nie goeie rentmeesters is nie, help die kerkverband hulle van die wal in die sloot as hulle tog geld toesê. Maar as die lidmate arm is, maar goeie rentmeesters, lê die plig op die ryk gemeentes om dit vir hulle mede finansieel moontlik te maak om as gemeente voort te bestaan. Dit gebeur vanuit die verlange na die verkondiging van die Evangelie. Nie net aan jouself nie, maar ook aan ander. Dit gebeur vanuit die verlange om jou hele lewe, ook jou finansies, te belê in God se koninkryk. Dit is die ‘pêrel’ wat ons koester.
Om af te sluit, noem ek die konklusie wat ons in die konteks van die sendingwerk geformuleer het. Ons het begin met die vraag:
Hoe bereik ons ’n gemeente wat nie net selfregerend nie, maar ook selfonderhoudend is? Nadat ons egter bogenoemde Bybelse beginsels op ons laat inwerk het, lui die doelwit nou soos volg:
’n Gemeente wat, ook in finansiële opsig
-
solidêr en mededeelsaam,
-
eerlik en transparant,
-
betroubaar,
-
offerbereid,
-
verantwoordelik en toerekeningsvatbaar is.
Dit is wat die HERE van elke gemeente verwag, arm of ryk. As elke gemeente hiertoe bereid is, lei dit tot ’n kerkverband bestaande uit interafhanklike kerke. ’n Kerkverband waar laste en luste gedeel word, vanuit die blye besef hoeveel Christus met ons gedeel het!