4 bladsye.

Geen Christelike Lewe Sonder die Ou Testament

Bybel

Onlangs was daar ʼn debat waarin die stelling verdedig is dat die Nuwe Testament genoegsaam sou wees vir ‘n Christelike lewe. In hierdie artikel word beweer dat ‘n mens juis die Ou Testament nodig het. Dit word dan ook konkreet ingevul. Watter onderdele van ‘n Christelike lewenstyl sou gemis word as die Ou Testament eenkant toe geskuif word?

Teenstelling🔗

Die feit dat die Ou Testament as minder belangrik beskou word, is nie ‘n verrassing nie. Al hoe meer Christene sien ‘n teenstelling tussen die Ou en die Nuwe Testament. Die Ou Testament was vir Israel; die Nuwe Testament is vir die kerk. Daarby is daar toenemend weerstand teen die wet. Christene het mos niks te doen met die wet van Moses nie, maar met Jesus se Bergrede of liefdesgebod. God vertel nie vir ons inhoudelik wat goed en kwaad is nie, maar maak ons nuut deur die Gees van Christus. Dan volg goeie werke vanself en dit kan van situasie tot situasie verskil. Gereformeerdes voel heeltemal anders hieroor. Reeds sedert die tyd van Calvyn is hulle daarvan verwyt dat hulle te veel Ou-Testamenties is. Dis nie verniet dat ons in die eredienste hoofsaaklik psalms sing nie. Tog is dit die vraag of gereformeerdes in die praktyk op etiese gebied werklik soveel van die Ou Testament gebruik gemaak het. In die eerste plek was dit dikwels beperk tot die gebooie in die Ou Testament. Dan is hulle ook by voorbaat alreeds in drie kategorieë ingedeel. Die seremoniële gebooie rondom Israel se eredienste is geskrap; dis nie vir ons bedoel nie. Dieselfde het gegeld vir die burgerlike gebooie wat Israel se volksbestaan gereël het. So het slegs die morele gebooie oorgebly, woorde met God se wil vir altyd en orals. En selfs dit vat ons dan meestal weer saam in die Tien Gebooie. In die praktyk van die Christelike lewe bly dus ‘n groot deel van die Ou Testament, ook by baie gereformeerdes, buite beskouing.

Ontwikkeling🔗

Dis is inderdaad korrek om ‘n Christelike lewe in die eerste plek op die Nuwe Testament te bou. In Mattheüs 28 het Jesus aan sy leerlinge opdrag gegee om alles te onderhou wat Hy hulle beveel het. Hierby dink Hy aan die Bergrede. Dit is die grondwet van die Koninkryk en dus die basis vir ‘n Christelike lewenstyl. Ook is dit korrek om bo alles te beklemtoon dat ‘n Christelike lewe gaan oor eenheid met Jesus en navolging van Hom. Hy maak ons tot nuwe mense wat leer dink en voel soos Hy. Daarom staan die saligsprekinge in die Bergrede eerste. Dit is nie maar net ‘n lysie pligte nie, maar dit skets die buitelyne van ‘n Christelike karakter. Ook Paulus se woorde oor die vrug van die Gees in Galasiërs 5 is dieper gerig as net op ons gedrag. Dit gaan oor nuwe eienskappe.

Maar daarmee word nog nie gesê dat die konkrete inhoud van so ‘n Christelike lewe in die Nuwe Testament min of meer oop is nie. Jesus en sy apostels wys ook konkreet aan wat wel en wat nie pas by so ‘n nuwe lewe. En daarby gryp hulle dikwels terug op die Ou Testament. Daaruit ontwikkel hulle die inhoud van ‘n Christelike lewenstyl.

Byvoorbeeld in die Bergrede gee Jesus konkrete aanwysings vir ‘n Christelike lewe. En telkens laat Hy dit voortkom uit die Ou Testament. So maak Hy sy radikale boodskap oor egbreuk bekend deur iets met die sewende gebod te doen. Sy inhoudelike instruksies ontstaan deur Ou-Testamentiese woorde in die perspektief van God se naderende Koninkryk te stel. Tegelykertyd laat Jesus baie lewensterreine onbespreek. Hy praat oor egbreuk en oor omgang met vyande, maar nie oor die rusdag of oor die verhouding tussen ouers en kinders nie. Vra Hy van ons dus wel konkrete keuses op die gebied van die seksuele etiek, maar kan die res oop bly en spontaan groei? Op hierdie manier sou ons die Bergrede verkeerd verstaan. Hy daag ons juis uit om, as dit kom by ander onderwerpe, soos mondige Christene self ook te doen wat Hy in die Bergrede vir ons wys. ‘n Mens vind die inhoud van ‘n Christelike lewenstyl wanneer jy op ‘n Nuwe-Testamentiese manier te werk gaan met Ou-Testamentiese woorde.

aanwysings bord

Vermenging🔗

Dit doen die apostels dan ook steeds in hul briewe. Byvoorbeeld Paulus se instruksies vir ‘n Christelike lewe in Romeine 12-15 vorm ‘n leersame vermenging van al die faktore waarmee jy ‘n Christelike lewe konkreet kan maak. Hy skryf oor oorgawe aan God, eenheid met Jesus en die kreatiwiteit van die Gees van God. Hy herhaal regstreeks instruksies uit die onderrig van Jesus, soos byvoorbeeld die liefde vir jou vyande. Ook bring hy die Tien Gebooie na vore. En daarnaas put hy uit ander Ou-Testamentiese gedeeltes, oor die verhouding tussen Israel en die volke of oor mense met owerheidsgesag.

Ook maak die apostels nie asof daar intussen niks verander het nie. Dit gaan nie oor ʼn klakkelose herhaling van die Ou Testament nie, maar hulle bly wel oorvloedig daaruit put. En dis ook geen wonder nie. Slegs die Ou Testament was indertyd hul Bybel. Juis daardie ‘hele Skrif’ maak die mense van God wys en help hulle om goed te doen (2 Timoteus 3:16 e v).

God, Volk, Land🔗

So ‘n gebruik van die Ou Testament pas ook by die inhoud daarvan. Die Bybelwetenskaplike Christopher Wright het in die Ou Testament ‘n driehoeksverhouding tussen God, die volk Israel en die beloofde land Kanaän ontdek. Alles wat God sê en doen, is aan hierdie driehoek verbonde. Al die wette en instruksies het te make met Wie God is, met sy vorming van Israel en met die beloofde land. Die Ou Testament vertel hoe die lewende God vanuit sy verlossing ‘n nuwe lewe skep op ‘n stukkie bevryde aarde. So bied Hy ‘n model vir die hele skepping. Israel was sy koninklike priesterdom tussen die ander volke. Daarvan kon afgelei word Wie God is en wat Hy wil (Eksodus 19). Die nuwe samelewing rondom God se instruksies moes aandag trek en volke bring tot lof aan hul Skepper. Iets daarvan gebeur wanneer die koningin van Skeba vir Salomo besoek (1 Konings 10:9). So het Israel se nuwe samelewing in die driehoeksverhouding tussen God, volk en land ‘n tussenstasie gevorm op pad na God se bestemming, die herskepping. Daaruit kan ‘n mens merk dat God trou bly aan sy skepping, haar bevry en haar saamneem na sy doel.

So ‘n tussenstasie moet nie verabsoluteer word nie. Op baie punte staan ons nog maar aan die begin. Dikwels laat die wet van Moses sien wat anders gaan wees as by die ander volke wanneer Israel die ware God dien. Tog dra God sy volk nie skielik weg uit die wêreld van daardie ander volke nie. Hy maak hulle nie dadelik volmaak nie. Israel se nuwe samelewing was ‘n soort toets terwyl God se wêreldwye doel nog ver weg was. Tegelykertyd kan daardie tussenstasie ook nie sonder meer verbygegaan word nie. God se instruksies vir Israel is nie willekeurig of betekenisloos nie. Hulle het almal iets te make met God se gang vanaf skepping na Koninkryk. Hulle sê almal iets oor Wie God is, hoe die nuwe gemeenskap rondom Hom lyk en wat Hy met sy aarde wil. Dit het jy nodig om vandag, ‘n ent verder op die spoor, ‘n gepaste Christelike lewe te ontwikkel.

Veranderde Driehoek🔗

Ons moet verder in gedagte hou dat die drie hoeke van die driehoek intussen verander het. Danksy Jesus ken ons God dieper. Ons vorm nie ‘n aardse volksgeheel nie, maar ‘n wêreldwye verstrooide gemeenskap. En ons het nog nie ons eie bevryde land nie, maar ons is as pelgrims op pad na die nuwe aarde van die toekoms. Dit moet ons altyd in gedagte hou wanneer ons God se wil uit die Ou Testament probeer ontdek.

Maar wanneer ons dit doen, mag ons onsself nie beperk tot slegs die morele voorskrifte of onsself net toespits op die Tien Gebooie nie. Die hele Ou Testament vertel hoe God die samelewing in die beloofde land rondom Homself gevorm het. In beginsel help dit dus om gevolgtrekkings vir vandag daaruit te maak. Op watter manier gedeeltes uit die Ou Testament vandag toegepas kan word, is nie altyd by voorbaat duidelik nie. Daarin word die Christelike mondigheid herken. Maar juis hierdie mondigheid vra dan ook dat jy as navolger van Christus vol verwagting uit die Ou Testament put om ‘n Christelike lewe konkreet te maak.

man in veld

Samelewing en Geregtigheid🔗

Kom ons illustreer dit met enkele voorbeelde.

Slegs die Ou Testament help ons wanneer dit gaan oor ʼn Christelike visie t.o.v. ons omgang met die aarde of die regering en inrigting van ‘n samelewing. In die Nuwe Testament was dit nie aktuele kwessies nie. Christene het feitlik geen invloed in die wêreld gehad nie. Hulle was nie meer gerig op die beloofde land nie, maar op die nuwe aarde. Daarom dink hulle wel na oor hul plek in ‘n vreemde samelewing, maar hulle gaan nie eintlik in op die vraag hoe so ‘n samelewing moet lyk of regeer moet word nie. Later kry Christene die geleentheid om wel invloed daarop uit te oefen. Dan val hulle dadelik terug op die Ou Testament. Want juis die Ou Testament bevat instruksies wat blyk gee daarvan hoe God ‘n samelewing sien. Deesdae leef die omgewingvraagstuk baie sterk. Die Nuwe Testament bied ons op hierdie punt hoogstens ‘n basiese aanduiding, maar uit die Ou Testament weet ons dat diere vir God waardevol is en dat ons die aarde nie mag uitput nie.

Oor besit en ekonomie leer die Nuwe Testament dat Christene, as pelgrims wat op pad is, besit as relatief moet beskou en indien nodig soms moet prysgee. Daar is egter geen beskouings oor wat byvoorbeeld die beste ekonomiese strukture is nie. Tog word hierdie vraag vir ‘n Christen steeds belangriker. In die moderne wêreld vorm ons verseker ook deel van die ratwerk van die groot ekonomiese stelsel. Juis die Ou Testament bevat wel riglyne daarvoor, bv. oor vrylating van slawe en die kwytskelding van skulde in die jubeljaar. Hoe aktueel dit is, het onlangs geblyk toe ‘n Christen-politikus tereg daarop gewys het in verband met die onoplosbare skuldlas van Griekeland.

Dit kan as volg saamgevat word: sonder die Ou Testament sou die tradisie van die Christelike sosiale denke en Christelike besinning oor politieke verantwoordelikheid en geregtigheid nooit ontwikkel het nie. Dieselfde geld byvoorbeeld ook vir ‘n Christelike visie op geweld, op straf en op oorlog en vrede. Nog altyd was sulke ‘aardse’ toepassings van God se Woord kenmerkend van gereformeerdes. Dit het te doen met ‘n waardering vir die ‘aardse’ Ou Testament.

Wysheid en Realisme🔗

‘n Totaal ander punt van belang vir ‘n Christelike lewe is die nugter wysheid in die Ou Testament. Veral boeke soos Spreuke en Prediker laat ons goed verstaan dat ‘n mens, om te weet wat goed en wat kwaad is, doodgewoon jou oë moet oophou en na die werklikheid om jou moet kyk. Dit is nie so dat ‘n mens alles op een of ander manier uit die Bybel moet aflei nie. As jy mooi rondom jou kyk, in die eenheid met Christus en deur die bril van die Woord van God, sien jy baie dinge wat jou sal help om konkreet tussen goed en kwaad te kies. ‘n Groot deel van ‘n Christelike lewe gaan oor praktiese wysheid.

Daarby pas ook ‘n sekere realisme. Jesus se Nuwe-Testamentiese boodskap is diep en radikaal. Tog is dit nie bedoel as ‘n abstrakte ideaal nie, maar om konkreet en prakties aan die werk te spring. Soms moet daar klein begin word en gaan ‘n mens slegs met klein treetjies vorentoe. Soms gebeur dit dat die kwaad voorlopig nie wil wyk nie. Juis die Ou Testament help dan om ook in onvolmaakte situasies die mees verantwoordelike pad te vind. Ons kan hier dink aan die manier waarop Moses egskeiding voorlopig verdra het maar tegelykertyd beperk het.

Advent

Fees en Advent🔗

‘n Laaste voorbeeld raak die feeskalender vir God se Ou-Testamentiese samelewing. Dis duidelik dat God wil hê dat mense sy werke saam vier, en wel op so ‘n manier dat dit aansluit by die ritme van die seisoene in die beloofde land. Op hierdie feeste mog almal deel in God se seën, veral swakkes en vreemdelinge. Word hierdie tussenstasie verwerk vir vandag, kan ‘n mens nie sê dat sulke feeste maar net seremoniële voorskrifte was waaraan Christene nie meer gebind is nie. ‘n Mens proe daarin juis iets van God se bedoelings vir die mensdom en die aarde. Teken Openbaring 7 die Koninkryk van God nie as ‘n ewige Loofhuttefees nie?

Daarom pas dit by ‘n Christelike lewenstyl om selfstandig ‘n nuwe vorm daaraan te gee. Gelukkig is daar in die vroeë kerk ‘n Sondag asook Christelike feesdae ingestel. God se nuwe werke in Christus is gevier en verbind aan die ritme van die lydende skepping en aan die liefde vir swakkes en ander naastes. Dit leef slegs in ‘n mens se gedagtes as dit vir jou normaal is om vir ‘n Christelike lewe ook uit die Ou Testament te put. Alleen danksy die Ou Testament is dit dus ook nou weer Advent – die verwagting van die koms van Christus.