Eenvoudig Gereformeerd
Eenvoudig Gereformeerd
⤒🔗
Eenvoud, Geen Simplisme←⤒🔗
‘Laat ons dit maar eenvoudig hou’. So ʼn uitspraak klink aantreklik. Dit is selfs skriftuurlik. Streef nie na hoë dinge nie, maar voeg julle by die nederige, sê Paulus in Romeine 12:16. Ek weet, jy kan dit ook vertaal met: bemoei jou met die nederiges. Maar die betekenis verander nie hierdeur nie. Dit gaan steeds oor ʼn oproep tot nederigheid. Moenie uit die hoogte optree nie, bly maar normaal (vgl. Rom. 12:16). Met so ʼn eenvoud is daar niks verkeerd nie.
Maar ʼn mens kan ook die oproep om eenvoudig te bly, verkeerd gebruik. Laat ons dit maar eenvoudig hou, oftewel, laat ons tog veral nie veeleisend wees nie. Laat staan ingewikkelde diskussiepunte. Moenie te diep grawe nie. Hou die dinge eenvoudig.
As dit vir jou ‘eenvoudig gereformeerd’ is, dan neem jy te veel van ʼn kortpad. Eenvoud beteken nie daardie tipe simplisme waarby jy ʼn draai loop om moeilike vrae, nie. Die leer van die Skrif het trouens ʼn eie diepgang, wat vra dat daaroor biddend nagedink word. Die Skrif vra moeilike vrae by die uitlê van konkrete tekste. Maar ook wanneer dit gaan oor die geheel van die Bybelse leer. Petrus skryf dit reeds oor Paulus se onderwys: daarin is verskillende dinge wat moeilik is om te verstaan (2 Pet. 3:16).
Maar om dit te besef is iets anders as wat jy met ʼn beroep op die eenvoud, belangrike dele van die Bybelse leer buite beskouing laat. Jy bring dan ʼn onaanvaarbare reduksie aan. Tot skade van die lewe met die Here. Wanneer jy bewus kies vir die oppervlakkige, dan lê die verskraling van die geloofslewe op die loer. Eenvoudig gereformeerd, ja. Maar geen simplisme!
Eenvoud, Geen Dubbelhartigheid←⤒🔗
By die woorde ‘eenvoudig gereformeerd’ dink ek liewer aan dit wat in die Nuwe Testament ‘eenvoudigheid van hart’ genoem word. So word dit in Handelinge 2:46 gesê. Die Christene in Jerusalem het hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet. Soos wat die apostel Paulus later die slawe oproep om hul here gehoorsaam te wees met vrees en bewing, in ‘eenvoudigheid van hart’ (Ef. 6:5; Kol. 3:22). By hierdie eenvoud gaan dit daaroor om heeltemal op God gerig te wees. Daar is geen gespletenheid in die lewe met God nie. Nee, jy dien die Here met ʼn ongedeelde hart.
Hierdie Bybelse eenvoud staan dus teenoor elke vorm van dubbelheid en dubbelhartigheid. Dit is die manier waarop God self sy gawes gee: eenvoudig (Jak. 1:5). God het nie ʼn verborge agenda wanneer Hy sy gawes gee nie. Hy het geen stille bybedoelings nie. Nee, God gee as ʼn God met ʼn ongedeelde hart. Dit is ʼn aansporing om self ʼn bidder met ʼn ongedeelde hart te wees, nie innerlik teenstrydig nie (Jak. 1:8). Die dubbelhartigheid is presies die teendeel van die Bybelse eenvoud van hart. Dit het te doen met die volledige oorgawe aan die Here. Jy het genoeg aan die Here en aan sy Woord!
Dit is dan ook die besorgdheid wat Paulus het dat die gemeente in Korinte hulle deur dwaalleer van hierdie eenvoud laat vervreem. ‘Ek vrees dat julle sinne miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid (eenvoud) teenoor Christus, skryf die apostel (2 Kor. 11:3). Die eenvoud in Christus bewaar ons in die natuurlike en regte leer van die Evangelie, sê Calvyn in sy verklaring van hierdie Skrifwoord. Die sinne word vervals en verdorwe wanneer dit in die allergeringste sake van die suiwere leer van Christus afwyk (Zendbrieven van Paulus. Romeinen en I-II Corinthe, Goudriaan 1972, tweede druk, p. 409). Hier vind u die eenvoud van die Christelike gemeente: die bruid ken maar net een man en laat geen ander in haar lewe toe nie. Tereg sê HJ Jager dat hierdie Bybelse eenvoud geen natuurlike nie, maar ʼn Christelike eienskap is (Kernwoorden van het Nieuwe Testament II, Amsterdam 1977, tweede druk, p. 10). Dit gaan werklik oor die eenvoud van die geloof!
Die Leer van Christus←⤒🔗
Kan ʼn mens Bybelse onderwys oor die eenvoud van hart, die eenvoud in Christus, oordra op gereformeerd-wees? Mag ʼn mens ʼn ‘is-gelyk-aan-teken’ sit tussen die Bybelse leer en die gereformeerde leer?
As gereformeerdes het ons die neiging om onmiddellik ‘ja’ te sê. En net vir die duidelikheid, dit is uiteindelik ook my antwoord. Tog wil ek nie stilswyend aan die bostaande vraag verbygaan nie. Want die gereformeerde leer – sê maar die leer van die gereformeerde belydenisgeskrifte – het nie kant en klaar uit die hemel geval nie. Mense het hierdie leer uit die Bybel afgelees. Daarom bly die onderwys van ons belydenisgeskrifte ook steeds aan die Skrif onderworpe. ʼn Mens mag geskrifte van mense, hoe heilig die skrywers ook was, nie op een lyn stel met die goddelike Skrifte nie. Dit sê die gereformeerde belydenis self (art. 7 NGB). Die Skrif is norm op sigself, die kerklike belydenis – en dus die gereformeerde leer – is genormeerde norm, altyd vatbaar vir korreksie vanuit die Skrifte.
Bowendien verraai die gereformeerde leer in allerlei opsigte sy historiese bepaaldheid. In die terminologie, maar ook in die temas. In konkrete omstandighede moet sommige onderdele soms vergroot word. Dink maar aan die uitgebreide behandeling van die sakramente in die Heidelbergse Kategismus. Daar is ook sprake van ontwikkeling. ʼn Mooi voorbeeld hiervan is hoe die Dordtse Leerreëls ʼn nadere uitwerking bied van art. 16 NGB. Om besig te wees met die gereformeerde leer is meer as om maar net die antwoorde van vroeër te memoriseer. Daar mag – ook vandag – oor die gereformeerde leer deurgedink word. Ook is daar op sekere onderdele reliëf tussen die drie formuliere van enigheid en ʼn gereformeerde belydenisgeskrif soos die Westminster Konfessie. Hiermee wil ek maar net sê: jy kan nie die gereformeerde leer sonder meer met die leer van Christus in die Skrifte vereenselwig nie. Nie sonder erkenning van alle menslike faktore wat in die formulering van hierdie leer ʼn rol gespeel het nie. In die naam ‘gereformeerd’ is onmiskenbaar ʼn historiese element!
Daarom het die gereformeerde kerke in Nederland – en dit sal in Suid-Afrika nie anders wees nie, neem ek aan – ook nooit ʼn streng woordelike binding aan sy belydenisgeskrifte geëis nie. n die ondertekeningsformulier van Dordrecht 1618/19 is instemming gevra met ‘alle artikels en dele van die leer in die Belydenis en Kategismus van die Gereformeerde Kerke …, soos in alles met Gods se Woord ooreenstemmende.' In Dordt (1618/19) is volstrek nie gedink aan ʼn eed van trou op die volmaaktheid van elke segswyse nie (Vgl. JR Wiskerke, De strijd om de sleutel der kennis,1978, p. 55). Maar dit is nie ʼn vrybrief om jouself vryblywend teenoor die belydenis op te stel nie. Hierdie saaklike binding hou geen inhoudelike beperking in nie! Instemming word gevra met alle stukke van die leer omdat dit in alles met die Skrif ooreenstem.
Op daardie punt van die ooreenstemming mag daar seer sekerlik ʼn ‘is-gelyk-aan-teken’ gesit word tussen die leer van Christus en die gereformeerde leer. Die gereformeerde leer gee ʼn stem aan die leer van Christus, spreek daardie leer gehoorsaam na. Gereformeerd is dan ook meer as net ʼn historiese aanduiding. Deur die ooreenstemming met die leer van Christus mag die gereformeerde leer geld as outentiek-Bybels. En hier hoor u nou die prinsipieel gelaaide woord ‘gereformeerd’. Die gereformeerde leer bied geen eie leer nie. Maar dit spreek die leer van Christus na, die eeuoue Evangelie. Was Abraham gereformeerd?, vra HJJ Feenstra (Woord en wêreld nr. 4, Ermelo 1987). In historiese sin nie. Prinsipieel – wat die wese betref, in die kern van die saak, soos Feenstra sê (p. 8) – wel. Al het Abraham nog glad nie soveel van die Evangelie geweet soos ons nie. En tog. In een van die uitgawes van die Statenvertaling is ʼn baie sprekende sierletter met ʼn tekening van Adam, wat vir Kain en Abel voorlees uit ... die Heidelbergse Kategismus. Die geloof van die gereformeerde kerk is die geloof van die kerk van alle eeue!
Eenvoud in die Praktyk←⤒🔗
Eenvoudig gereformeerd wees. Wat hou dit in vir die kerklike praktyk? Ek wil probeer om ʼn rigting aan te wys, sonder dat ek pretendeer om volledig te wees.
-
Om te begin is eenvoudig gereformeerd wees: om sonder reserwes trou te wees aan die gereformeerde – die gesond-Bybelse – leer, soos dit vasgelê is in die gereformeerde belydenisgeskrifte. Nie om daarmee die voortgang in die denke oor die gereformeerde leer te frustreer nie. Wel om daardie voortgaande nadenke te normeer. Eenvoudig gereformeerd begin by die ondubbelsinnige aanvaarding en handhawing van die gereformeerde belydenis, juis omdat jy by die leer van Christus, die leer van die Skrif, wil bly. En dan uiteraard nie alleen in die formele sin nie. Wat ons bely, sal ons beleef in die omgang met die Here. En dit dan in ‘eenvoud van hart’. Sonder dat ons koketteer (eng: “flirt”) met dwaalleer. Of dit nou gaan oor dwaalleer van ‘links’ (uit die rigting van ʼn modernistiese teologie, beheers deur Skrifkritiek en eietydse hermeneutiese konsepte) of van ‘regs’ (die insigte vanuit die evangeliese beweging). Op hierdie afstand kan ek moeilik beoordeel van watter kant die grootste gevaar vir eenvoudig gereformeerd in Suid-Afrika kom. Beide gevare is ewe reëel en blyk hul aantrekkingskrag op gereformeerde kerkmense – en nie die minste op kerkjeug nie! – uit te oefen. Hier help alleen ʼn hartlike (ja, dit het met jou hart te make!) verworteling in die leer van Christus. Dit gaan dus nie oor ʼn steriele konserwatisme nie, waarby jy eindeloos antwoorde van gister op die vrae van vandag repeteer. Dit het wel te doen met prinsipiële kontinuïteit in geloof en denke, wanneer jy na eietydse antwoorde soek.
-
Daarom – in die verlengde van die vorige – sal ons met mekaar daaraan moet werk dat die gereformeerde leer geken word, met hoof en hart. Hoe beperk is die kennis van die gereformeerde leer soms! Hoe weinig word daar ook soms gelees! Wanneer daar gesê word dat ons die huidige ‘leerdiens’ (met die klassieke Kategismuspreek) maar kan afskaf, omdat die kennispeil vandag baie hoër is en ons oor ander kennismiddels beskik as in die Reformasietyd, dan moet ons weer dink. Is die kennispeil – wanneer dit gaan oor die Bybelse leer – wel so hoog? En in hoeverre word nuwe kennismiddele en kennismetodes ook daadwerklik gebruik? Dit is nie moontlik om met ʼn ongedeelde hart besig te wees met die leer van Christus, sonder om intens besig te wees met die leer, nie. Om te bly by die ken van die Here – dit gaan tog juis oor Hom in die leer?! Daarom wil ons ook in die geloofskennis groei, deur die krag van die Heilige Gees.
-
Eenvoudig gereformeerd wees beteken ook ten volle gerig wees op die enigste wat nodig is. Eenvoud van hart het te doen met ongedeelde oorgawe aan die Here en sy diens. Daar is ʼn wedloop om te loop, wat al jou krag en aandag vra. Om te jaag na die volmaaktheid in Christus, die prys van die roeping van God, wat van bo is, in Christus Jesus (Fil. 3:12v). En ook om jou kragte in te span om ander aan te spoor om die wedloop te loop. In die laaste dae sal ons die Evangelie uitdra, roep tot bekering en geloof in die Here. Dan kom daar ook ʼn goeie balans in die dinge wat ons aandag vra. Om na te dink oor allerhande intern-kerklike dinge (liedbundel, liturgie, ens) is op sigself ʼn sinvolle saak. Maar iets loop verkeerd, wanneer hierdie soort sake ons meeste aandag en energie in die kerk gaan opeis. Om Christus te ken en sy Naam in hierdie wêreld te bely moet voorrang hê. En hou.
-
Juis ten aansien van die liturgie moet ons nadink oor eenvoudig gereformeerd-wees. Liturgie in die gereformeerde tradisie word gekenmerk deur groot soberheid. Dit hoef allermins ten koste te gaan van die insette vir ʼn verantwoorde liturgie. Hoe het iemand soos Calvyn nie hiervan blyk gegee nie! Die wat meer hieroor wil weet, moet veral die boekie van dr T Brienen ʼn slag lees: Calvijn en de kerkdienst, Heerenveen 1999. Ook A Kuyper het homself nie onbetuigd gelaat met sy Onze eeredienst (Kampen 1911), om maar net nog ʼn keer ʼn grootsheid uit ons gereformeerde verlede te noem. Maar telkens tref die soberheid. En die versigtigheid vir vormdiens en ritualisme. Die Woord mag nie begrawe word deur allerhande liturgiese besighede nie.
-
Ten slotte, eenvoudig gereformeerd-wees kom ook voort uit die ondubbelsinnige nakom van die kerklike afsprake. Soms kan die Bybelse woord ‘eenvoud’ verwissel word met ‘opregtheid’. Ja moet ja wees, sê ons Heiland. Dit laat geen ruimte vir dubbelhartigheid nie, ook nie deur jouself gemaklik af te maak van kerklike afsprake en kerkordelike reëls nie. Dit is nie ʼn pleidooi vir verstarde formalisme nie. Kerklike reëls wil geestelik toegepas word. Maar dit is iets anders as wat jy jouself allerhande vryhede veroorloof, waarby jy in feite jou eie gang gaan. Ook in hierdie opsig sal ons eg wees, outentiek. So vertoon jy die beeld van jou Heer. En dien jy die onderlinge vrede in die kerk van hierdie Heer!