Bron: Die Kerkblad, 2006. 2 bladsye.

Dietrich Bonhoeffer

Bonhoeffer🔗

… sy nalatenskap bly aktueel🔗

Waarskynlik is die meeste lesers van Die Kerkblad onbekend met die naam Dietrich Bonhoeffer, en die vraag ontstaan: Waarom aandag bestee aan so ’n onbekende teoloog (wat 100 jaar gelede op 4 Februarie 1906 gebore is) en bowendien ook ’n Lutheraan was?

Die antwoord is eenvoudig: Omdat hy een van die invloedrykste teoloë van die twintigste eeu was en reeds vir dekades wêreldwyd groot belangstelling wek – met periodieke internasionale simposiums oor sy teologiese bydrae.

Hierdie opmerking beteken geensins dat mens met alle gesigspunte van Bonhoeffer hoef saam te stem nie, maar wél dat sy optrede van so ’n aard was dat dit onmoontlik geïgnoreer kan word.

Wat maak sy optrede dan so besonders?🔗

Bonhoeffer was ’n Duitse teoloog wat hom heftig verset het teen die magsmisbruik van Hitler, teen ’n bose politieke ideologie (nazisme), teen volksverafgoding en brutale rassisme, teen die moord van (uiteindelik ses miljoen) Jode. Hy was bereid om selfs so ver te gaan om deel te word van ’n komplot om Hitler te vermoor.

Sy motivering was (hoewel hy nooit regverdiging vir sy optrede gesoek het nie): as ’n dronk bestuurder in ’n besige straat afjaag, dan is die enigste en vernaamste taak van ’n predikant nie om die slagoffer van die dwaas te begrawe en sy familie te troos nie; belangriker nog is dit om die dronklap agter die stuurwiel uit te pluk.

Bonhoeffer is egter deur die Duitse veiligheidspolisie in hegtenis geneem en op 9 April 1945, enkele weke voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog, saam met vyf ander in Flossenbürg opgehang, waarna hulle liggame verbrand is. Sommige beskou hom as ’n nuwe soort martelaar, eerder ’n politieke as kerklike martelaar.

Bonhoeffer se keuse vir ’n tiranmoord kan ons nie goedkeur nie – dit was bowendien polities uiters naïef. Daarby strook dit nie met die navolging van Christus wat nie die weg van geweld nie, maar dié van selfverloëning gekies het.

Hitler

Tog bly Bonhoeffer se optrede ’n ligbaken in ’n see van onreg, magsmisbruik en volksverafgoding. Tereg het prof. L. Floor in 1968 in ’n bespreking van die biografie van Bonhoeffer deur sy vriend Eberhard Bethge opgemerk dat hierdie boek “heilsaam vir ons situasie as kerk in Suid-Afrika (is). By ons as kerk bestaan die gevaar dat ons die nasionale wil laat heers oor die kerklike, dat die binding aan die volk belangriker geag word as die binding aan die Woord”.

Die kerk van Christus moet altyd waaksaam wees teen elke vorm – oud én nuut – van volksverafgoding, nasie-verafgoding en staatsabsolutisme. Volk en nasie en staat moet altyd beoordeel word aan die hand van die kriteria van die koninkryk van God en die evangelie van Christus.

Die kerk het ’n onnalaatbare profetiese getuienis in die samelewing wanneer die staat absolute mag aan homself toe-eien en die volk/nasie ’n afgod word.

Híérdie perspektief is een van Bonhoeffer se grootste nalatenskappe. En dit bly altyd aktueel, sowel vir die apartheid-Suid-Afrika as vir die “nuwe” Suid-Afrika.