Die Tekens van die Verbond
Die Tekens van die Verbond
⤒🔗
Besnydenis en doop←⤒🔗
Toe Hy sy verbond met Abram opgerig het, het die HERE God ʼn teken daaraan gekoppel, naamlik die besnydenis. So sal sy verbond in sy vlees wees en in die vlees van sy nageslag. Op grond van hierdie teken kan hulle daarvan seker wees dat hulle aan hierdie verbond deel het en deur God Self in ʼn besondere verhouding met Hom opgeneem is. Vir Israel het dit ʼn vaste instelling geword om ʼn seuntjie op die agtste dag te besny (vgl. Levitikus 12:3).
Die besnydenis het ook by ander volke voorgekom, soos by die Egiptenare, Midianiete, Ammoniete, Edomiete, Moabiete, Fenisiërs en Arabiere (sien Jeremia 9:26), maar nie by die Babiloniërs en die Filistyne nie. Genesis 17 neem as uitgangspunt dat Abram, wat uit Suid-Babilonië afkomstig was, aanvanklik onbesnede was en in Rigters 14:3 en 15:18 word die Filistyne uitdruklik “onbesnedenes” genoem. Die Edomiete het hierdie gewoonte om te besny in die tweede eeu voor Christus laat vaar. Vandag besny ook die Moslems hulle kinders.
Die besnydenis is beskou as ʼn baie wydverspreide volwassewordings- en wydingsritueel. Dit het plaasgevind sodra puberteit bereik is. Dit het ook plaasgevind by opname in ʼn godsdienstige of stamgemeenskap. Daar is ook melding gemaak van die higiëniese funksie daarvan. Dit het egter slegs ʼn sekondêre betekenis. Miskien moet ons dink aan die oorspronklike betekenis van ʼn offer aan die god of heer van vrugbaarheid, waarby aan die bloed wat tydens hierdie prosedure vloei ʼn versoenende en reinigende krag toegeskryf is.
In Israel het die besnydenis ʼn betekenis van ʼn heel besondere aard: dit is die teken dat iemand deel het aan die verbond wat God met Abraham en sy nageslag opgerig het. Dit is ʼn bevestiging daarvan aan die eie liggaam, ʼn seël dat die persoon in ʼn unieke verbondsverhouding met God staan, dat die persoon lewe onder sy beloftes, eise en bedreigings. Die besnydenis is ʼn instelling vir Jode in die besonder, wat kenmerkend is in hulle geledere. So is ook die Here Jesus besny (Lukas 2:21). Tot vandag toe besny die Jode hulle kinders.
In die Nuwe-Testamentiese tyd het daar proseliete of Jodegenote in Israel voorgekom. Daar was twee soorte: proseliete van die poort en proseliete van geregtigheid. Eersgenoemde het in een God geglo en beloof om die sewe Noagitiese gebooie te onderhou. Die proseliete van geregtigheid het heeltemal Joods geword en hulself ook laat besny. Later is hulle ook gedoop. Daar is nie eenstemmigheid daaroor of hierdie sg. proselietedoop al voor die verwoesting van Jerusalem voorgekom het of eers daarna nie.
Die apostelkonvent in Handelinge 15 besluit dat die gelowiges afkomstig uit die volkere hulle nie hoef te laat besny nie en hulle slegs moet onthou van wat deur die afgode besoedel is, van hoerery, van wat verwurg is en van bloed (sien v. 1 en 19). Het dit ingehou dat die Joodse lede dan wel die besnydenis volgens die gebruik van Moses behou het, sodat dit dan vir Paulus ook nie ʼn probleem was om Timoteus te besny nie (Handelinge 16:3, 21:21-24)?
Die besnydenis is dus onder Israel die teken van die verbond en daarmee saam ʼn dringende oproep van die Here om die persoon se hele lewe aan Hom te wy. Dit gaan dan ook daaroor dat die persoon sy hart sal besny om die Here sy God lief te hê met sy hele hart en siel (vgl. Deuteronomium 10:16; 30:6; Jeremia 4:4; 9:25, ens.).
Vir die gelowiges uit die heidene is die doop voorgeskryf. Die Here Jesus het aan sy dissipels opdrag gegee, kort voor sy hemelvaart, dat hulle moes heengaan deur die hele wêreld, die evangelie gaan verkondig aan die ganse skepping, dissipels van al die volke maak en hulle doop in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Waar die evangelie, die verkondiging van God se verbondsbeloftes onder die volke plaasvind en beslag kry, daar mag en moet nou gedoop word. So is die doop onder Christene die teken dat hulle opgeneem en ingelyf is in God se verbond met Abram en Israel, en van die feit dat God se verbondsbemoeienis nou ook vir hulle geld. Die doop is bedoel om bedien te word aan die kinders wat binne die verbond gebore word, en aan die volwassenes wat deur die evangelie aan die verbond deel gekry het. Die doop is vir hulle almal ʼn teken en bevestiging dat hulle deel het aan God se verbond en gemeente en dat aan hulle die verlossing van die sonde deur die bloed van Christus en die Heilige Gees, wat die geloof bewerk, belowe is (sien HK antw. 74). So kan die doop “die besnydenis van Christus” genoem word (Kolossense 2:11) en roep dit ons nie minder nie, ja selfs meer as die besnydenis – aangesien ons nou onder ʼn beter verbond en onder kragtiger beloftes lewe! – op om te glo in God se ontferming en om onsself toe te wy aan Hom wat sy bloed vir ons gestort het.
Benewens hierdie eerste teken van God se verbond en eerste seël op God se beloftes en klem op sy oproepe, het die HERE God nog ʼn tweede teken aan sy volk Israel en sy kerk uit die volke gegee. By die besnydenis word nog die paasmaaltyd gevoeg en by die doop die nagmaal.
Paasmaaltyd en nagmaal←⤒🔗
In die nag van die uittog uit Egipte moes Israel volgens God se bevel ʼn maaltyd voorberei en nuttig. Dit word genoem: “’n pasga van die HERE” en “ʼn fees tot eer van die HERE” (Eksodus 12:11 en 14).
Dit is nie nodig om die hele instelling van hierdie pasga en die bestanddele van die maaltyd te bespreek nie. Slegs die verband en die betekenis daarvan moet hier uiteengesit word. Daar is ʼn aantal aspekte van hierdie maaltyd wat ons van nader moet beskou.
Allereers is die paasmaaltyd ʼn versekering dat die HERE sy volk Israel uit die mag van Farao en Egipte sal verlos. Die pasga is ʼn teken en seël van die groot uitleiding en bevryding. Daarom moet die Israeliete die maaltyd nuttig met hulle lendene omgord, skoene aan die voete en die staf in die hand (Eksodus 12:11).
Vervolgens is die paasmaaltyd ʼn aanduiding en bevestiging dat hulle gespaar sal bly te midde van God se gerig oor Egipte. Daarom moet daar ʼn lam geslag word en die bloed daarvan opgevang word en geverf word aan albei deurposte en die bo-drumpel van hulle huise. Wanneer die HERE hierdie bloed dan sien, sal Hy by hulle verbygaan en sal daar geen vernietigende plaag onder hulle wees nie, want die HERE sal Egipte tref deur die eersgeborenes van mens en dier te tref (Eksodus 12:6, 12, 27).
In die derde plek het God bevel gegee dat hulle sewe dae lank ongesuurde brood moet eet en alle suurdeeg uit hulle huise moet verwyder. Daar mag geen sweem van bederf onder Israel oorbly nie. Dit dui daarop dat die Israeliete alle onreinheid en sonde uit hulle midde moet uitroei (Eksodus 12:8, 15, 18 e.v.).
Vervolgens word opdrag gegee dat daar aan die begin en einde van die paasfees, wat sewe dae geduur het, ʼn maaltyd gehou moet word. En ʼn maaltyd hou altyd in dat daar gemeenskap beoefen sal word. Gemeenskap met God, wat uitlei en bewaar, en gemeenskap met mekaar (Eksodus 12:16).
Ten slotte word die pasga as ʼn ewige insetting vir Israel ingestel (Eksodus 12:14, 24). Wanneer hulle kom in die land wat die HERE aan hulle sal gee, soos wat Hy beloof het, moet hulle “hierdie diens” (v. 25) onderhou. Dit word ʼn jaarlikse fees en maaltyd as onderstreping van wat God vir hulle gedoen het, wat Hy aan hulle beloof het en wat Hy uitgevoer het, met ander woorde, dat ʼn mens op Hom kan vertrou.
So getuig die paasmaaltyd daarvan dat God die volk uitgelei het, gespaar het, aanspraak gemaak het op die volk, en van sy gemeenskap met hulle en hulle gemeenskap met mekaar. Die hele gebeurtenis is ook ʼn teken van die feit dat God hierdie volk as sy volk verklaar, openlik aanwys, vir hierdie volk instaan en hulle spaar in sy gerigte oor die goddelose magte. So kan ons die paasmaaltyd ook die maaltyd van God se verbond met Israel noem.
Dit is dan ook kenmerkend dat wanneer die verbond later in Israel se geskiedenis vernuwe word, die pasga steeds weer aan die orde kom en die paasmaaltye gevier word. Allereers is dit die geval by die optrede van koning Hiskia in Juda en Jerusalem. Hy open weer die tempel en herstel die diens van die HERE. Want, sê Hiskia, dit is nou my voorneme om ʼn verbond te sluit met die HERE, die God van Israel, sodat Hy sy brandende toorn van ons sal afwend (2 Kronieke 29:10). Die priesters word geheilig, die huis van die HERE word gereinig en die diens van die HERE word herstel. Maar Hiskia laat dit nie daar nie. Hy stuur boodskappers deur die hele Israel en Juda, selfs na Efraim en Manasse, van Dan tot by Berseba, om hulle uit te nooi om na die huis van die HERE in Jerusalem te kom om voor die HERE, die God van Israel, die pasga te kom vier. So klink dit deur die land: gee jou hand vir die HERE, kom na sy heiligdom toe en bekeer jou. “Want die HERE julle God is genadig en barmhartig, en Hy sal die aangesig van julle nie afwend nie as julle jul tot Hom bekeer” (2 Kronieke 30:9b). Dit lees ons ook later van koning Josia, wat ʼn reformasie tot stand gebring het rondom die herontdekte wetboek van Moses (2 Konings 23:3). Alles wat met die afgodediens verband gehou het, is onder Juda uitgeroei. “Toe gee die koning die hele volk bevel en sê: Hou pasga vir die HERE julle God soos geskrywe is in hierdie verbondsboek. Want soos hierdie pasga is daar nie een gehou van die dae van die Rigters af wat Israel gerig het, en gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie; maar in die agttiende jaar van koning Josia is hierdie pasga vir die HERE in Jerusalem gehou” (v. 21-23; vgl. 2 Kronieke 35).
Uit hierdie geskiedenisse word dit vir ons duidelik hoe die paasmaaltyd binne die verbond van God met Israel gefunksioneer het as herinnering aan die groot uittog, as bevestiging van God se reg op die volk, as ʼn oproep om toegewyd aan Hom te lewe en as waarborg van sy reddende goedheid oor hulle deur die bloed van die lam. So vier die Jode nog altyd hierdie pasga.
Die Here Jesus het tydens hierdie paasmaaltyd met sy dissipels die nagmaal ingestel. Telkens word daar by die beskrywing van die instelling genoem (1 Korintiërs 11:17-34; Matteus 26:26-30; Markus 14:22-25; Lukas 22:14-38): “En terwyl hulle eet” – “en toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly.” Daar is ook sprake van die “beker van danksegging” as die derde beker van die paasmaaltyd. Jesus het ook van die brood geneem, dit is die paasbrood, die matso, dit gebreek en aan sy dissipels gegee. Jesus het Hom nie by elke onderdeel van die paasmaaltyd aangesluit nie, maar slegs by die twee genoemde onderdele van die derde beker en die paasbrood. Wat veral opvallend is, is dat Hy die gebruik om die paaslam te eet nie deurtrek na die instelling van die nagmaal vir die nuwe verbond nie.
Op grond hiervan kan ons die stelling maak dat die nagmaal bepaald nie gesien moet word “as ʼn Christelike vorm van die paasmaaltyd” nie. Die paasmaaltyd het nie sonder meer “oorgegaan” in die nagmaal nie. Die nagmaal is die vervulling van die pasga. Die lyn van die pasga is nie deurgetrek na die nagmaal nie, maar daarin opgeneem. Die nagmaal bevat nuwe elemente in vergelyking met die pasga, soos wat daar ook elemente is wat eie aan die pasga is in vergelyking met die nagmaal.
Dit blyk duidelik uit die instellingswoorde, in besonder die met betrekking tot die beker van die nagmaal, dat hierdie nagmaal gesien moet word as teken van die “nuwe” verbond. Want hierdie woorde lui: “Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Matteus 26:28; Markus 14:24), “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Korintiërs 11:25). Die algemene beskouing is dat met hierdie uitdrukking “nuwe testament” of “nuwe verbond” gesinspeel word op die aankondiging van die nuwe (vernieude) verbond in die profesieë van Jeremia (31:31) en van Esegiël (16:59; 37: 26). So mag ons ook Jesus se uitspraak oor sy bloed, wat vergiet word tot vergifnis van sondes, sien as ʼn verwysing na sy selfoorgawe aan die kruis en as die enigste merkteken vir sy nuwe volk, dat hulle mag deel hê in die nuwe verbond.
Hiermee kan die nagmaal vertolk word as teken en seël van God se verbond met die volke vir hierdie nuwe tye. Die “vir julle” benadruk die belofte in die uitspraak van die Middelaar van die verbond. Elkeen wat in die geloof dieselfde maaltyd vier, mag deel hê aan die versoening deur die bloed van die Lam wat vir ons geslag is (1 Korintiërs 5:7).
Die nagmaal beteken en verseël aan ons die gemeenskap met die Here Christus self en met mekaar. Tydens hierdie maaltyd mag ons die offer van Christus gedenk wat Hy vir ons volbring het, mag ons getuig dat ons behoud in Hom en sy vergote bloed en verbreekte liggaam lê en mag ons sy toekoms verwag, omdat ons die dood van die Here verkondig “totdat Hy kom" (1 Korintiërs 11:26). “Verlede, hede en toekoms word in die viering van die nagmaal aan mekaar verbind. By brood en beker gedenk ons hoe die heil veranker is in die verlede, ons verkondig hoe die heil voleindig word in die toekoms. Dit is in die alomvattende karakter van die nagmaal wat die rykdom van die viering daarvan lê.”
Die nagmaal – maaltyd van die verbond. Aan hierdie maaltyd beseël die HERE sy genade in die versoening van Jesus, roep Hy ons op tot gemeenskap met Hom en met mekaar en verwys Hy ons na sy toekoms. Naas die doop is die nagmaal dus ʼn teken en seël van die verbond wat deur die Here ingestel is om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die Evangelie des te beter te leer verstaan en dit vir ons te beseël, naamlik dat Hy ons op grond van die enige offer van Christus, wat Hy aan die kruis volbring het, vergewing van sondes en die ewige lewe uit genade skenk (HK Son. 25 antw. 66).