Die Sakramente
Die Sakramente
Na die prediking en die tug kom ons nou by die moeilike onderwerp van die sakramente. Aan die een kant is dit verontrustend dat die sakramente, wat deur Christus ingestel is as kenmerke van kerkeenheid, ʼn groot oorsaak van verdeeldheid in die kerk is. Aan die ander kant is die sakramente die fokuspunt van wat die kerk glo en is dit nie so buitengewoon dat hulle die onderwerp van verdeeldheid tussen kerke en tussen Christene is nie. Ons behandel die sakramente nie om skeiding te bevorder nie, maar met die hoop en die bede dat daar eenheid in die waarheid mag wees.
Wat is die sakramente? Die woord sakrament kom van ʼn Latynse woord wat “eed” beteken. Hoewel die woord nie in die Skrif voorkom nie, gebruik ons dit omdat elke sakrament ʼn sigbare en tasbare belofte of eed van Christus aan sy kerk is.
Die woord sakrament verwys na bepaalde plegtige handelinge watdeur Christus vir sy kerk ingestel is,in besonder om sy beloftes aan die kerk te bevestig. Hierdie handelinge moet in die kerk verrig word totdat Christus weer kom (Matt. 28:19, 20; 1 Kor. 11:26).
Dat hierdie seremonies simbole of tekens is, blyk duidelik daaruit dat Jesus die brood van die nagmaal van die Here “my liggaam”, en die beker “die nuwe testament in my bloed” noem (Luk. 22:20). Omdat die brood en die beker nie, soos ons sal aandui, letterlik hierdie dinge kan wees nie, is hulle tekens van die liggaam en bloed van Christus.
Dieselfde geld ten opsigte van die doop. Die Skrif noem die doop met water en die afwassing van sondes deur die bloed van Christus met dieselfde naam. Die teken én geestelike werklikheid het dieselfde naam: doop (lees ook Handelinge 2:41 en 1 Petrus 3:21).
Hierdie simbole en sigbare tekens is gegee om in ons geloof te help (Rigt. 6:36-40; Luk. 1:18-20; Luk. 2:12). Hulle help ons geloof op twee maniere: deur onsigbare, geestelike werklikhede voor te stel; en deur op Christus as die volkome Saligmaker te wys. Ons het dit nodig, omdat ons geloof dikwels swak is en omdat ons moet glo sonder om te sien (Joh. 20:29; 2 Kor. 5:7).
Omdat daar ʼn samehang tussen besnydenis en doop en tussen Pasga en die nagmaal van die Here is, beskou ons die sakramente ook as seëls (Rom. 4:11). As hulle tekens is, moet hulle inderdaad ook seëls wees, want tekens bevestig of beseël altyd iets.
Die sakramente as seëls beteken geestelike waarhede en leer die gelowige sekere dinge, én bevestig en versterk ons geloof. Die sakramente versterk ons geloof deur ons met die doop te verseker dat so seker as wat water ons liggame was, die bloed van Christus ons siele afwas, en met die nagmaal van die Here dat so seker as wat brood en wyn ons liggame voed, Christus die daaglikse voedsel, drank en lewe van ons siele is.
So is die sakramente dan ʼn wonderlike, merkwaardige getuienis van die goedheid en genade van God, wat ons nie verstoot nie, maar ons in ons swakheid dra. Daarom is die sakramente so noodsaaklik; en ons gebruik daarvan is getuienis van ons vertroue in God.