7 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Preek en die Hoorder

predikant

Predikante wil met hulle preke die gemeentelede bereik. In ons kring was ons nog altyd oortuig daarvan dat dit in die prediking gaan oor die bediening van die Woord van God aan die gemeente van Christus.1 'n Preek wat nie die Woord tot die mense onder die preekstoel laat spreek nie, is geen bediening van die Woord nie. Wie die Woord wil bedien, sal altyd die hoorders voor oë moet hê.

Tog is daar vandag stemme wat kla dat die preke te min ‘land’, dat daar oor die koppe heen gepreek word en dat mense Sondae nie aangespreek voel nie.

By ons universiteit in Kampen neem ons dié stemme ernstig op. Dit het gelei tot dieper besinning oor die plek van die hoorder in die preek en in die preekvoorbereidingsproses, ja selfs tot wat genoem word ‘ʼn eietydse gereformeerde preekbeskouing’ waarin die hoorder aandag kry.

Die bundel Preken en Horen2 en later die verhandeling van J.R. Douma3 het al bespreking tot gevolg gehad. Ek wil in enkele artikels probeer om ʼn bydrae tot die gesprek te lewer. In hierdie artikel gaan dit vir my oor die vraag: kan ons inderdaad sê dat die teks in die preek in ʼn verhouding met die hoorder gestel moet word 4 en dat, preekkundig, die opdrag van die predikant is: bring die teks en die hoorder tot ʼn verhouding en laat sien daarin die relevansie van dié Bybelwoord vir die lewe van die hoorder?5

God se Woord spreek ons aan🔗

Die Woord wat in die preek verkondig word, is die Woord wat God binne die raamwerk van sy verbond tot ons spreek. Daardie Woord het die tipiese hoedanigheid dat dit verbondswoord is. Dit het sy plek in Psalm 25:14: “Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak”. Die Here gaan om met sy volk en in dié omgang spreek Hy, maak Hy Hom aan sy kinders bekend. Israel het by Sinaï nie die gedaante van God gesien nie, maar hulle het wel sy stem gehoor (Deuteronómium 4:1-2). Na die stem moet hulle luister. Die ‘luister Israel’ is bepalend vir Israel se houding as volk van die verbond.

In watter mate hierdie luister na, en spreke van God kenmerkend is van die manier waarop Hy met ons wil omgaan, hoor ons ook in Hebreërs 1:1: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun”. Die spreke van God bereik ʼn heilshistoriese hoogtepunt in sy spreke deur die Seun. Dit impliseer ook ʼn heilshistoriese verdieping van die roeping om te luister. Dit geld nou “des te meer” (Hebreërs 2:1). Die ‘luister Israel’ kry sy diep vervulling in wat God met die oog op sy Seun sê: “Luister na Hom!” (Matthéüs 17:5); “na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek” (Handelinge 3:22).

Hierdie eeuelange spreke van God, met as hoogtepunt sy spreke deur die Seun, is deur sy besondere sorg vir ons op skrif gestel (vgl. Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 3). Ons hoor die lewende stem van God in die heilige Skrif. Mens mag nie skeiding maak tussen die Woord van God en die Skrif nie. Die Skrif is die Woord van God. In Galásiërs 3:8 en 9 stel Paulus wat die Skrif sê, gelyk aan wat God sê (vgl. Galásiërs 3:22). Petrus noem wat die profete geprofeteer het, die getuienis van die Gees van Christus (1 Petrus 1:11), waarby die apostel sekerlik ook die skriftelike vaslegging van die woorde van die profete bedoel.6

skryf

Die skrywer van die brief aan die Hebreërs haal die Ou Testamentiese Skrif aan met die inleidende woorde: “soos die Heilige Gees spreek” (3:7) of met: “en sê” (8:11), terwyl hy in hoofstuk 10:15 sê: “die Heilige Gees gee aan ons getuienis”. C. Veenhof merk hierby op ‘dat die Heilige Gees geteken word as die hiér en nóú optredende Spreker van die woord wat vir eeue reeds geskryf was. Die Heilige Gees neem dié woord as’t ware opnuut in sy mond. En só spreek Hy, Hyself, ook die kerk van vandag werklik en kragtig toe’.7

Hoeseer die stem van die Gees in die Skrif na ons kom, blyk ook uit Openbaring 2:7; 2:11; 2:17: “Wie ʼn oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê”. Johannes moet “skryf”’ (vgl. Openbaring 2:1; 2:8; 2:17). Wat hy op skrif stel, is die Woord van die Gees, dit is wat die Gees aan die gemeentes . Daar staan nie ‘hét gesê’ nie! Dit beteken: in wat Johannes op skrif gestel het, spreek die Gees. Dit is sy Woord wat gehoor moet word.

Calvyn stel dit treffend dat ons in die Skrif te doen het met ‘die Persoon van God ... wanneer Hy spreek’ (Institusie 1.7.4). Die spreke van God binne sy verbond gaan steeds voort. Wanneer ons die Skrif open, klink die lewende stem van God, hoor ons wat die Gees aan die gemeente sê. Ons hoef nie die woorde van die Skrif by die hoorder betrokke te maak nie, want die betrokkenheid is reeds daar. Die Woord van God is nie uitspreek nie, maar toespreek, aanspreek.8 God self spreek die Skrifwoord en soek sy volk daarmee op. Hy is afgestem op die hoorders. Want die Here wil by sy volk gehoor vind. God se spreke en ons hoor, is verbondsmatig onlosmaaklik met mekaar verbind! In dié sin kan ons saam met C. Wingren sê dat die teks van die preek reeds die hoorders onder die preekstoel bevat.9

Die Woord van God praat oor ons🔗

Ons word egter nie net aangespreek deur God se Woord nie. Dit gaan in die Skrif ook oor ons. God se Woord is ʼn boodskap aan ons, terselfdertyd ʼn boodskap oor ons. Ook daaruit blyk dat daar reeds ʼn betrokkenheid tussen teks en hoorder is, reeds voordat die predikant sy preek maak.

Die boodskap van die Skrif is naamlik die evangelie (vgl. 1 Korinthiërs 15:1; Galasiërs 1:11; Kolossense 1:23), die blye tyding van God se liefde in die geskenk van sy Seun vir verlore mense (vgl. Johannes 3:16). Die Skrif verkondig wat God in Christus vir ons gedoen het (vgl. Handelinge 3:26). Dit kom met die evangelie van óns behoud (Efésiërs 1:13), van Hom wat vir óns gesterf het (Romeine 5:8), van die versoening waarin óns deel (2 Korinthiërs 5:20, 21).

Die Skrif getuig van wat daar in Christus met óns gebeur het. Ons is saam met Hom gekruisig (Galasiërs 2:20), het saam met Hom gesterwe (Romeine 6:8), is saam met Hom opgewek (Kolossense 3:1) en sit saam met Hom in die hemel (Efésiërs 2:6).

Dit praat ook oor wat ons in Christus het: die verseëling met die Heilige Gees van die belofte (Efésiërs 1:13), die verlossing deur sy bloed (Efésiërs 1:7), die erfdeel (Efésiërs 1:11), die toegang met vertroue (Efésiërs 3:12), die genade van God (1 Korinthiërs 1:4), al die skatte van wysheid en kennis (Kolossense 2:3), die volheid (Kolossense 2:10) en nog soveel meer.

Die Skrif verkondig ook aan ons wat die Gees van Christus aan ons doen. Hy heilig ons (2 Thessalonicense 2:13), woon in ons (Romeine 8:11), lei ons (Romeine 8:14), leer ons bid (Romeine 8:15), kom ons te hulp (Romeine 8:26), vervul ons (Efésiërs 5:18) en werk sy vrug in ons lewe (Galasiërs 5:22).

God spreek in die Skrifwoord oor ons. Dit geld nie alleen met betrekking tot die inhoud van die evangelie nie. Dit geld ook nog op ʼn ander manier. Die Woord van God is ook by uitstek die Woord van die verbond, wat ter sprake bring hoe mense op die spreke van God reageer. God se vertroulike omgang roep verskeie dinge by mense op. Ons hoor van hulle geloof (Genesis 5:16), hulle vertroue (Psalm 56:4), hulle wete (Job 19:25), hulle hoop (Romeine 4:18), hulle volharding (Jakobus 5:11), maar ook van hulle stryd (Psalm 73:16), hulle vrae (Psalm 43:2), hulle kleingeloof (Matthéüs 14:31), hulle ongeloof (Hebreërs 4:2) en hulle nie luister na die stem van God (Rigters 2:20).

gemeente

Die Skrif getuig van die voortgang van die geskiedenis van die heil. Dit laat ons sien hoe die Here heengewerk het na die koms van ons Verlosser. Maar C. Trimp wys tereg daarop dat hierdie voortgang ingebed is in die omgang wat die Here met mense het.10 By al die aandag wat aan die heilsgeskiedenis gegee word, moet ons nie die begrip van die verbond vergeet nie. Die begrip open ons oë vir mense en hulle reaksies op wat die Here sê en doen, op die pad na Christus toe. Ons ontdek die werk van die Heilige Gees in die geskiedenisse wat die Skrif vertel. Wat die Woord van God teweegbring en oproep, vind ons baie kragtig in die boek van die Psalms. Dit is daar dat ons by uitstek hoor hoe mense op die stem van God reageer. Ons sien daar – met die woorde van Luther – die heiliges van hart.11

Die Woord van God doen iets aan ons🔗

Die mate waarin die Woord van God by die hoorder betrek word, ontdek ons ook in die manier waarop daar in die Skrif oor daardie Woord gepraat word. Die Woord is “die woord van die lewe” (Filippense 2:16), “die woord van sy genade” (Handelinge 14:3), “die woord van die versoening” (2 Korinthiërs 5:19), “die woord van die waarheid” (Jakobus 1:18). ‘Al hierdie beskrywings van die woord is nie maar net aanduidings van waaroor die woord spreek en mededelings doen nie. Nee, dit is veel méér. Vóór alles is dit die aanduiding, die omskrywing, van wat die woord géé en dóén’.12  Die evangelie is “ʼn krag van God tot redding” (Romeine 1:16). ʼn Krag wat redding bewerk. Die Woord van God “is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ʼn beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebreërs 4:12).

Wat van die Woord gesê word, geld ook vir die prediking van die Woord. In die Nuwe Testament word in byna alle gevalle waar van die Woord sprake is, die gepredikte Woord bedoel. Dié gepredikte Woord is “die krag van God” (1 Korinthiërs 1:18). F.W. Grosheide skryf hierby: ‘Die uitdrukking is baie sterk. Daar staan nie dat die prediking ʼn middel is waardeur God krag uitoefen nie, nee, dit is self die krag van God. Die lewende God openbaar Hom daarin’.13 Die gepredikte Woord vernuwe mense (vgl. 1 Petrus 1:23 en 25). Die prediking van die evangelie het tot die Thessalonicense gekom “in krag en in die Heilige Gees” (1 Thessalonicense 1:5). In die prediking is die Gees ook aan die werk. Daarom word dit “die bediening van die Gees” (2 Korinthiërs 2:8) genoem. Paulus definieer die prediking ook as “die bediening van die versoening” (2 Korinthiërs 5:18). In die prediking word die versoening aan mense ‘bedien’. Ja, in die prediking klink die stem van God self: “Laat julle met God versoen”! (2 Korinthiërs 5:20).

Op grond van wat die Nuwe Testament oor die gepredikte Woord sê, het die reformatore die heilsgebeurlike karakter van die prediking onderstreep. Daar gebeur iets wanneer die Woord bedien word! Die heil word uitgedeel, die koninkryk ontsluit, die vergewing afgekondig, die geloof gewerk. Ek herinner u aan die bekende woorde van Calvyn: ‘Wanneer die evangelie gepreek word, drup die heilige bloed van Christus saam met die stem van die prediker op ons’ (Kommentaar op Hebreërs 9:20).14

In die prediking is die Heilige Gees besig. Hy bring Christus en al sy weldade na ons toe en maak die heil ons eie. Ook daarom kan die (gepredikte) Woord nie losgedink word van die hoorder nie. As die Woord bedien word, bevind die hoorder hom in die kragveld van God die Heilige Gees!

Wat is preek?🔗

Op grond van die bostaande het ek ʼn probleem om te sê dat die teks in die preek in ʼn verhouding met die hoorder gestel moet word en dat die preekkundige opdrag van die predikant is: stel die teks en die hoorder in ʼn verhouding met mekaar. Ek kan my so ʼn formulering goed voorstel in ʼn handboek vir preekkunde (homiletiek) wat uitgaan van die standpunt dat ons in die Skrif met ʼn menslike historiese teks te doen het, ʼn teks wat nie vanself spreek nie en ʼn beroep doen op mense van hierdie tyd.15 Maar in ʼn gereformeerde homiletiek kan mens na my mening nie die saak so beskryf nie.

luister

C.J. De Ruijter en J.R. Douma kom by hierdie beskrywing vanuit ʼn bepaalde beskouing van die hoorders.16  De Ruijter praat met betrekking tot die hoorders van ʼn ‘deurgaande vervreemding’ van die vertroulike omgang met God. ‘Vervreemding van die Christelike lewe in biddende kontak met die Here’,17 wat die gevolg het dat mense dit wat in die kerk hoort, moeilik in verband bring met die alledaagse lewe. Douma skryf in die verband oor ‘die problematiek van Godsverduistering en sekularisasie’ en ‘die ervaring van God as Afwesige’. Douma praat nadruklik van ʼn ‘in verhouding stel’ van die teks en die hoorder, en sê: ‘ So ʼn formulering veronderstel die afwesigheid van hierdie verhouding’.18  Douma kom by hierdie beskrywing uit, omdat hy meen dat ʼn preekkundige omskrywing deur die werklikheid waarin gepreek word èn deur die werklikheid van die prediking, medebepaal word.

Ek beklemtoon ‘mede’. Die gereformeerde homiletiek wil aan die woordjie reg laat geskied deur prediking aan te dui as bediening van die Woord, wat bestaan uit ʼn uitleg en toepassing van die Skrifwoord, of dan ʼn uitleg, en ʼn afstem van die Skrifwoord op die gemeente van vandag. In hierdie omskrywing speel ‘die werklikheid waarin gepreek word’ ongetwyfeld ‘mede’ ʼn rol. Maar die woordjie ‘mede’ word myns insiens verskraal in die beskrywing van die prediking wat De Ruijter en Douma gee. In hierdie beskrywing kry die hoorders ʼn té bepalende rol. Want prediking word nou: die in verhouding stel van teks en hoorder. Dit is die gevolg van die beskrywing van wat die predikant moet doen vanuit ʼn bepaalde beskouing van die hoorder.

En daar lê my probleem. Myns insiens moet ons, wanneer dit gaan oor beskrywing van wat prediking in die praktyk is, begin vanuit die Woord. As ons daar begin, is dit vir my aanvegbaar om te sê dat die predikant teks en hoorder in verhouding met mekaar moet stel. Die verhouding is al op velerlei maniere daar. Dit is met die Woord van God gegee, want daardie woord is aanspraak. In die teks spreek die Here sy volk toe, lê beslag op hulle en roep hulle tot ʼn antwoord. Dié Woord is terselfdertyd ʼn krag van God tot behoud. Dit is ʼn Woord wat werksaam is, die hoorder aangryp en ʼn uitwerking in sy hart het. Dit is ook ʼn Woord waarin die hoorder ter sprake kom in alles wat ons in Christus gegee is, in alles wat die Heilige Gees vir ons doen en in alles wat die Woord by mense uitwerk en oproep. De Ruijter en Douma sal dit alles nie ontken nie, maar dit raak te veel weg wanneer hulle beskryf wat die prediker te doen staan. Ek hoor dit nie alles in hulle beskrywing nie. Myns insiens bring die predikant nie teks en hoorder in verhouding tot mekaar nie, maar verduidelik die verhouding wat reeds daar is. Hy laat sien hoe die Here in die teks tot sy volk spreek, wat die Gees vir die gemeente sê. Hy maak duidelik dat die Skrifwoord ʼn woord van God is wat die hoorders in hulle teenswoordige situasie aanspreek.

En so bly die taak van die prediker beskeie. Hy ‘bring’ niks bymekaar nie. Want teks en hoorder hoort, kragtens die aard en die inhoud van die Woord, by mekaar. Dit is nie die prediker wat die verhouding skep nie, maar die Woord van God self. Dit is naamlik die Woord wat die Gees tot die gemeente spreek, en waarmee Hy met die heil in Christus na haar toe kom!

Herkenning🔗

Die beskrywing van wat preek is vanuit die situasie van die hoorder, lei tot groot nadruk op herkenning in die preek. Die Woord is vir mense bestem. Daarom wil mens dan, ook in Kampen, ‘hoordergerig’ preek. ‘Daarmee word bedoel dat die hoorder in die preek ter sprake gebring moet word. Die preek is immers vir hom bestem en daarom is dit belangrik dat hy homself en sy lewe in dit wat op die kansel gesê word, sal herken’.19 Die hoorder is ʼn ‘aangevegte Godsoeker’. Hy wil herken en erken word in sy soeke en in sy aanvegting. Hy wil opnuut hoor dat die God van die Woord die God is van sy daaglikse werklikheid.’20 Die predikant moet ʼn taal praat ‘wat herkenning’ gee’.21

hart en kruis

As die preek by hierdie herkenning wil uitkom, dan moet die preek nie alleen op die verstand en kennis van die hoorder, op die ‘kognitiewe’ rig nie. Wat veral van belang is, is die ‘affektiewe-evaluerende’ vlak, dit is selfs ‘deurslaggewend’22,  want kennis en insig is uiteindelik van weinig waarde as die inhoud nie van harte aanvaar word nie. Persoonlike aanvaarding kom wanneer iemand nie net verstandelik aangespreek word nie, maar veral in sy affektiwiteit geraak word. ‘Hy herken in wat hy ontmoet bepaalde aspekte van sy eie menswees, funksionering en lewenssituasie. Hy ervaar ook sterk dat wat hy ontmoet relevant is vir sy ingesteldheid en funksionering as mens’.23 Die predikant probeer dan ook om die voorwaardes vir ʼn ware ontmoeting te volg, en sorg ‘dat daar in sy preek gepraat kan word van herkenbaarheid, relevansie en affektiwiteit’.24

Die relevansie van die preek is volgens hierdie betoog sterk afhanklik van die herkenning: die hoorder herken homself en sy situasie in wat hy hoor en kan dan so die relevansie van die inhoud van die preek persoonlik ervaar.25 Die emosies wat hom tot ervaring en verandering bring, ‘kom na vore wanneer die hoorder homself as mens herken in wat hy hoor, en sy eie lewensituasie daarin kan herken. Dan voel hy letterlik aangespreek’.26

Hierdie resep vir ‘aansprekend preek’ laat by my bedenkinge ontstaan. Enkeles daarvan is reeds deur K. De Vries geopper.27 Ek vind die meestes seker die moeite werd om te oorweeg. In antwoord daarop het C.J. de Ruijter onder meer gesê dat die preek nie net op herkenning moet uit wees nie. Dit vereng die blik van die gemeente tot haar eie horison. Die preek moet ook ontdekking bied. Die evangelie verruim altyd ons uitkyk en deurbreek ons horisonne. Dit is ʼn belangrike aanvulling, maar tog hou De Ruijter by die standpunt dat die eis van herkenning van minder waarde is. 28

Daar bly by my vrae. Allereers: gaan die apostels ons daarin voor? In die boek Handelinge hoor ons hoe hulle die Woord bedien het. Ek dink aan toesprake van Petrus en van Paulus. Hulle verkondig die groot dade van God in Christus, en dui aan hoe die Skrifte in Christus vervul is. Hulle benadering is nie: die hoorders moet hulle in wat ons verkondig, as mens herken nie, maar: hulle moet hoor wat God gedoen het, en hoe Hy hulle nou tot geloof roep.

Die groot beklemtoning van herkenning spruit myns insiens daaruit dat mens jou uitgangspunt het in wat die ‘aangevegte Godsoeker’ ‘verlang’29 en ‘wil’30 en dat mens die relevansie te veel van die herkenning laat afhang. Die uitgangpunt moet anders wees. Die predikers hoef in die eerste instansie nie aan wat die hoorders verlang of wil, gevolg te gee nie. Hy moet die Woord bedien, die wil van God tot sy volk spreek. En van dié God en sy spreke is die predikant die dienaar. As God wil praat, dan is die deurslaggewende vir die predikant nie: sal die hoorders hulleself herken in my preek nie, maar: sê ek wat die Here hier en nou vir sy volk wil sê? Bedien ek die Woord so, dat die gemeente kan hoor wat die Gees in hierdie Skrifwoord aan haar sê?

Ek stry nie dat daar oomblikke van herkenning in ʼn preek kan en moet wees nie. Maar ek het ʼn probleem as die aanspreek van die preek afhang van die herkenning.

Ook met die nou verband tussen herkenning en relevansie is ek dit nie eens nie. Is die preek relevant wanneer die hoorders hulself daarin herken en so die betekenis vir hul eie lewenssituasie voel? Het die Skrif nie ʼn eie seggingskrag en ʼn eie relevansie nie? En geld dit nie ook vir die preek (as die Woord getrou bedien word) nie? Gaan dié seggingskrag en relevansie nie ver uit bo wat mense (afgesien nog van hulle sondige hart) herken en voel nie? Buitendien: wie gaan bepaal wat relevant is? Is dit die hoorders, wat blykbaar ʼn prioriteitslysie het? Bepaal die hoorders wanneer die preek werklik ‘aanspreek’? Kry mens nie dan ʼn subjektiewe maatstaf waaraan die relevansie van die preek gemeet word nie?

In ʼn volgende artikel gaan ek in op wat prediking as die bediening van die Woord inhou. Daarby sal die bekende ‘uitleg en toepassing’ aandag kry.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. T. Hoekstra, Gereformeerde Homiletiek, Wageningen 1926, p. 152: ‘Die prediking van die Evangelie aan die gemeente van die Here is ʼn bediening van die Woord, diakonia tou logou Handelinge 6:4...' So is dit gesien sedert Andreas Hyperius (1564), die eerste gereformeerde homileet.
  2. ^ Preken en Horen. Op weg naar een Eigentydse Gereformeerde Preekvisie (ʼn uitgawe van de Vakgroep Praktische Theologie van die Theologiese Universiteit (Broederweg) in Kampen.
  3. ^ J. R. Douma, Veni Creator Spiritus. De Meditatie en het Preekproces, Kampen 2000.
  4. ^  C.J. de Ruijter, “Preken voor je hoorders’, in Preken en Horen, p. 17.
  5. ^  J.R. Douma, a.w., p. 59.
  6. ^ Vgl. 2 Petrus 1:20 “profesie van die Skrif”.
  7. ^ C. Veenhof, Het Woord Gods in den Brief aan de Hebreën, Terneuzen 1946, p. 42.
  8. ^  Vgl. B. Holwerda, Populair-wetenschaplijke Bijdragen, Goes 1962, p. 22,23; C. Trimp, Klank en Weerklank. Door Prediking tot Geloofservaring, Barneveld 1989, p. 23.
  9. ^ Vgl. G. Wingren, Die Predigt, Göttingen 1955, p. 33 vn. 38.
  10. ^ Vgl. C. Trimp, Heilsgeschiedenis en Prediking. Hervatting van een Onvoltooid Gesprek, Kampen 1986, p. 40: ‘Dit gaan nie in die heilsgeskiedenis oor “blote feite” nie, maar oor God se handeling in sy omgang met mense. Só kom God deur eeue en lande na ons toe’. W.H. Velema, ‘Openbaringsgeschiedenis en geloofsgeschiedenis’ in: Ambt en Aktualiteit. Opstellen aangeboden aan Prof. dr. C. Trimp, red. F.H. Folkerts e.a., Haarlem 1992, p. 170,  praat van ‘die tweeslag van verbondsvoortgang en verbondsomgang in die openbaringsgeskiedenis’.
  11. ^ Vgl. ‘De Vorrede zum Psalter’ van 1528 in Martin Luthers Psalmen-Auslegung, heruitgawe deur E. Mühlhaupt, Göttingen 1959, p. 3, 4.
  12. ^ C. Veenhof, Prediking en Uitverkiezing, Kampen 1959, p. 221. 
  13. ^ F.W. Grosheide, De Eerste Brief aan de Kerk te Korinthe, Kampen 1957, p. 58.
  14. ^ Hierby moet ons nie vergeet nie: ‘Só gaan God te werk: Hy werk die heil deur die bediening van die Woord. En ook dié werk van die heil is nie ʼn selfregulerende of outomaiese proses nie, al sou die bediening van die Woord in sigself  ʼn magiese krag besit. Die Heilige Gees is God self en Hy regeer ook oor die gang van die Woord en die ingang van die Woord in die harte van mense’ (C. Trimp, Woord, Water en Wijn, Kampen 1985, p. 25).
  15. ^  Vgl. G.D.J. Dingemans, Als Hoorder onder de Hoorders. Hermeneutische Homiletiek. Kampen 1991, p. 42: ‘Vir ʼn homiletiese teorie sal ons dus nie verder kom sonder om te besin oor hermeneutiese teorieë wat teks en hoorder op ʼn wetenskaplike manier bymekaar bring nie’. Preek is ‘bemiddeling’ tussen tussen die Bybel en die hoorders (p. 137).
  16. ^  Hierdie beskouing is nie sonder kritiek nie, vgl. J. Douma, Hoe gaan wij verder? Kampen s.j. p. 84v.; T.S. Huttenga, ‘Veni Creator spiritus’, in: De Reformatie, jg. 76, p. 783; B.P. Hagens, ‘ Kom Schepper, Geest, woon in uw kerk’, Nader Bekeken, jg. 8, p. 208v.
  17. ^ C.J. de Ruijter, ‘Horen en preken’, in: Preken en Horen, p. 9.
  18. ^  J.R. Douma, a.w., p.59.
  19. ^ Jos Douma, ‘Beeldvorming rond de hoorder’, in: Preken en Horen, p. 19.
  20. ^ Jos Douma, ‘De hoorder van de preek’, in Preken en Horen, p. 28.
  21. ^ Jos Douma, ‘De hoorder van die preek’, p. 28.
  22. ^  M.E. Hoekzema, ‘Doelgerigt preken’, in: Preken en Horen, p. 59.
  23. ^ M.E. Hoekzema, ‘Aanspreken preken’, in: Preken en Horen, p. 63.
  24. ^  M.E. Hoekzema, ibid., p. 63.
  25. ^ M.E. Hoekzema, ibid., p. 64
  26. ^  M.E. Hoekzema, ibid., p.64. Vgl. p. 66: ‘Daarby word die hoorders nie alleen deur die inhoud van die boodskap geboei nie, maar herken hulle meesal ook bepaalde aspekte van hulle eie menswees, fuksionering en lewenssituasie. Daardeur word hulle getref in hulle affektiwiteit en ervaar op die manier dat wat hulle ontmoet, relevant is vir hulle bestaan as mens en as Christen’ (kursief van die skrywer).
  27. ^ Vgl. K. de Vries, Wat te denken van de preekmethode’ (2), in: De Reformatie, jg. 76, p.2v.
  28. ^ Vgl. C.J. de Ruijter, ‘Kampen en de kansel’, in: De Reformatie, jg. 76, p. 176.
  29. ^ Jos Douma, ‘De hoorder van die preek’, p. 28.
  30. ^ Jos Douma, ibid., p. 25