Die Name van die Kerk
Die Name van die Kerk
In die Skrif is daar baie verskillende name vir die kerk. Hierdie name is deel van God se openbaring aan ons oor die kerk. Elkeen sê daaroor iets belangrik aan ons.
Ons het gesien dat die naam kerk “uitgeroep” beteken, wat na die woord en werk van god verwys, waardeur hy sy volk uit die duisternis na die wonderlike lig geroep het om hulle ʼn besondere (unieke) volk te maak (1 Pet. 2:9). Dit verras nie dat die naam kerk meesal gebruik word nie. Dit wys vir ons dat die bestaan en die geluksaligheid van die kerk die gevolg van die roeping en soewereine genade van God is.
Die kerk word ook die liggaam van Christus genoem (1 Kor. 12:12-27). Hierdie naam herinner ons aan die heerlikheid van Christus as die Hoof van die kerk, die kerk se lewende band met Christus en die verhouding van die lede van die kerk tot mekaar. In dié liggaam is die Christene lede van Christus én van mekaar.
Die naam liggaam van Christus word veral in Efesiërs en Kolossense gebruik met ʼn effense verskil in klem in elke brief. In Efesiërs is die fokus op die kerk self en op haar geluksaligheid in Christus. In Kolossense is die fokus op die heerlikheid van Christus as Hoof van die kerk.
Die Skrif vergelyk die kerk ook met ʼnwynstok (Joh. 15:1-6) of ʼnboom ((Rom. 11:16-24). Dieselfde vergelykings word in die Ou Testament gemaak (Ps. 80:8; Jes. 5:1-7), wat daarop dui dat Israel en die kerk één is. Die vergelyking wys ook op die noue verhouding en eenheid van Christus met sy kerk, én op die kerk se volkome afhanklikheid van Christus. Hy is die wynstok; ons is die lote.
Die naam tempel van God (1 Kor. 3:16, 17; 2Kor. 6:16; Ef. 2:20, 21) of huis van God (1 Tim. 3:15; Heb. 3:6; 1 Pet. 2:4-9. Let daarop dat die huis van God nie die gebou waarin die kerk bymekaarkom, is nie, maar die kerk self, die versamelde gelowiges). Wanneer die kerk met ʼn gebou vergelyk word, herinner dit ons aan haar skoonheid, ordelikheid en eenheid. Elke lid het sy eie plek in dié geestelike gebou. Net soos die naam liggaam herinner dit ons aan die verskeidendheid in die kerk, waarin elke lid verskillend is en ʼn ander plek as die ander het (1 Kor. 12), maar tog één geestelike gebou wat aan God behoort.
Die hoofsaaklike betekenis van die name tempel, huis en gebou is die heerlike waarheid dat die kerk die plek is waar God by sy volk woon. Deur Christus, hulle Hoof, woon Hy onder een dak saam met hulle as ʼn familie. Daar kan God en sy volk geestelike gemeenskap met mekaar geniet, en só leef Hy in verbond met hulle en skenk aan hulle sy ewige seën.