Die nalatenskap van Mozart
Die nalatenskap van Mozart
24 September is Erfenisdag. Dan word nagedink oor die groot erfenisse wat aan ons nagelaat is. Ons gedagtes fokus uiteraard veral op Suid-Afrika, maar daar is ook so-iets soos wêrelderfenisse. Dan natuurlik ook erfenisse wat vir die kerk en die Christelike geloof van besondere betekenis is – en waaroor verskeie artikels in hierdie uitgawe van Die Kerkblad handel.
2006 is ’n jaar van groot herdenkings. Dis die jaar waarop die 100-jarige herdenking van die teoloog Dietrich Bonhoeffer herdenk is (en waaroor ons by ’n vorige geleentheid gehandel het); die 100-jarige geboorteherdenking van die invloedryke Suid-Afrikaanse skrywer N.P. van Wyk Louw; die 150-jarige herdenking van Siegmund Freud, die vader van die psigoanalise; die 400-jarige geboorteherdenking van die Nederlandse skilder Rembrandt van Rijn. (Ek laat na om te meld dat die Springbokrugby-embleem ook vanjaar 100 jaar oud is.)
En dan ook die 250-jarige geboorteherdenking van die komponis Wolfgang Amadeus Mozart (27 Januarie 1756 – 5 Desember 1791) – oor wie ons hier graag meer wil vertel.
Indien ek persoonlik ’n keuse moet maak van die mooiste musiek – en “mooi” is natuurlik altyd ’n relatiewe begrip – wat ek gehoor het, dan sou my keuse ongetwyfeld op Mozart val. Veral op sy Eine kleine Nachtmusik. Ek kan eenvoudig nie genoeg van die musiek van hierdie komponis kry nie, het ook verskeie boeke oor hom gelees, na sy operas en rolprent oor hom gaan kyk, sy geboorteplek in Salzburg opgesoek en ook by sy (vermeende) graf in Wene gestaan. Wat ’n geniale mens was hy nie, iemand wat, terwyl hyself dikwels in groot armoede geleef het, die wêreld met sy musiek verryk het. In een van die boeke oor Mozart word vertel dat hy voortdurend in finansiële nood was. Iemand gee hom toe die goeie raad: Pas finansiële beheer toe, en dis baie eenvoudig: neem ’n pen en stel ’n inkomste- en uitgawerekening op. Waarop Mozart reageer met: Ek het dit al dikwels probeer, maar die oomblik wanneer ek my hand op papier sit, verander die syfers eenvoudig in note!
Geniaal was Mozart inderdaad. Op vyf het hy reeds minuette gekomponeer. Op ses saam met sy suster op ’n konserttoer deur Duitsland en Oostenryk gegaan. Hierna volg vir 29 jaar ’n stortvloed van musiek: simfonieë, klavierkonserte. vioolkonserte, kerkmusiek. kamermusiek, operas, te veel om op te noem. Op 35 is sy lewe verby. Hy ontvang ’n armmansbegrafnis – die graf onbekend. Maar hy laat ’n musiekskat na wat die hele wêreld verryk. Tydloos, grensloos, van onbeskryflike skoonheid.
Dit is bekend dat die groot Switserse teoloog, Karl Barth, baie deur die musiek van Mozart geboei was. Hy het elke dag, voordat hy aan sy 13-delige dogmatiek begin werk het, eers na die musiek van Mozart geluister. Die musiek van die Towerfluit was sy gunsteling. In sy studeerkamer het daar ook ’n foto van Mozart gehang, “op dieselfde vlak as dié van Calvyn”, het Barth beduie. “As ek ooit hemel toe gaan,” het Barth by geleentheid opgemerk, "sal ek eerste Mozart opsoek en eers daarna vir Augustinus, Thomas (van Aquino), Luther, Calvyn en Schleiermacher.” Volgens Barth bevat Mozart se musiek nie ’n morele verhaal soos byvoorbeeld dié van Bach, met sy geestelike boodskap, en dié van Beethoven, met sy persoonlike belydenis nie; Mozart wil nie iets sê nie, hy wil net sing en kling. Hoewel hy in dieselfde tyd geleef het as die groot filosoof Immanuel Kant (1724-1804), asook tydens die uitbreek van die Franse Revolusie (1789), reflekteer niks hiervan in sy musiek nie. Sy aandag was net op sy musiek gefokus.
Sang en musiek neem in die Bybel ook ’n besondere plek in. Dit is waar dat sang in Handelinge 2 nie (uitdruklik) as een van die vier karaktertrekke van die eerste Christelike gemeente genoem word nie – dit het bestaan uit prediking, koinonia, nagmaal en gebede. Tog is dit opvallend dat daar in die Bybel nie ’n aparte gebedeboek opgeneem is nie, maar wel ’n aparte Psalmboek. Daarom is dit volkome begryplik dat Paulus die gemeentes van Efése en Kolosse aanmoedig om psalms, lofsange en geestelike liedere te sing (Ef 5:19; Kol 3:16). In die Groot Toekoms sal sang en musiek ’n belangrike plek inneem. (Sal die Eine kleine Nachtmusik ook “Daar” wees, maar dan gesuiwer en gelouter? – kyk Openb 21:24, 26).
’n Mens sonder sang en musiek is ’n arm mens. Die Here het in sy goedheid groot gawes aan mense gegee om sy lof te besing, sy kerk te verryk en die mensdom te verbly. Mozart was een van daardie groot gawes aan die mensdom.