3 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee .

Die Lydende Dienskneg

voete was

Gehoorsaamheid is die mees omvattende begrip om die verlossende werk van Christus te beskryf, so het John Murray het met goeie rede geredeneer (Redemption Accomplished and Applied, p. 19). Ander kategorieë soos opoffering en voldoening dek ʼn deel van die geheel, maar gehoorsaamheid is verreweg die mees omvattende.

Dit is natuurlik ook heeltemal Bybelgetrou. Christus het by uitstek gekom as Dienskneg, ter vervulling van Jesaja se profesie (in besonder Jes. 52:13-53:12). In ooreenstemming hiermee het Hy Homself gesien as iemand wat gekom het nie om sy eie wil te volvoer nie, maar die wil van Sy Vader wat Hom gestuur het; en aan die einde van Sy lewe het hy eenvoudig gesê dat Hy die werk wat die Vader hom gegee het om te doen, volbring het (Joh. 17:4).

Net so stel Paulus dat die kenosis van Christus daarin bestaan dat Hy die vorm van ’n dienskneg aangeneem het (Fil. 2:7). As sodanig was Sy dood ook ’n daad van gehoorsaamheid (Fil. 2:8).

Dieselfde kader is die grond vir die Christus-Adam analogie in Romeine 5, waar die fundamentele onderskeid dié is van die ongehoorsaamheid van die eerste mens en die gehoorsaamheid van die laaste mens: “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word” (Rom. 5:19).

Die lewe van Christus was duidelik een van volgehoue, vlekkelose en konsekwente gehoorsaamheid. Dit is meer as blote sondeloosheid. Dis iets dinamies. Christus het aan die Vader blye en skeppende gehoorsaamheid gebied: die gehoorsaamheid van ’n volmaakte en kosbare liefde.

Hierdie geregtigheid van Christus is ons toegereken en word die grond van ons regverdigmaking. Ons word die geregtigheid van God in Hom (2 Kor. 5:21). Ons moet die betekenis hiervan nie afwater nie. Al ons sondes word op Hom gelê; al Sy geregtigheid is oorgedra aan ons. Hy het ons skuld op Hom geneem; ons het sy geregtigheid ontvang. Ons moet ook die frase “van God” baie ernstig opneem. Ons is geregverdig is deur die geregtigheid van God die Seun; so regverdig soos God self; of, soos William Cunningham dit eens onvergeetlik gestel het, ons is geregverdig deur “die geregtigheid wat deur God se geregtigheid vereis is” (aangehaal in Hugh Martin, The Atonement, p. 203).

Latere teoloë het die idee van Christus se gehoorsaamheid verder verfyn deur ’n onderskeid te maak tussen die aktiewe en passiewe gehoorsaamheid van Christus. Hierdie onderskeid was reeds tydens die Reformasie aktueel en was as ’n gegewe beskou deur Protestantse doktore soos Wollebius en Turretin. Op sigself is dit duidelik genoeg: die passiewe gehoorsaamheid van Christus is Sy lyding aan die kruis; Sy aktiewe gehoorsaamheid is sy voldoening aan die pligte soos deur die Wet vereis. Maar as hierdie onderskeid te ver gevoer word kan dit lei tot twee gevare.

Die eerste is ons geneigdheid om Christus aan die kruis as volkome passief te beskou; asof Hy daar bloot ’n slagoffer was, wat toelaat dat dinge aan Hom gedoen word, wat beheer laat vaar het, en wat Homself verneder het tot ’n toestand van hulpeloosheid. Dit is heeltemal ʼn vals prentjie. Die kruis was nie net die hoogtepunt van Jesus se lyding nie, dit was ook die hoogtepunt van sy gehoorsaamheid. Christus was oorheersend aktief by en aan die kruis. Hy was gehoorsaam tot die dood toe. Niemand het sy lewe van Hom afgeneem nie. Hy lê dit uit Sy eie wil af, aktief en vrywillig, in ooreenstemming met die opdrag wat Hy van Sy Vader gekry het (Joh. 10:18).

kruis en kroon

Dit is hoekom ons sê dat Christus gelewe het tydens sy sterwe, Hy sorg vir die dief aan die kruis, Hy het Sy moeder versorg, Hy het versoeking afgewys, en standvastig volgehou in Sy liefde tot Sy Vader en in Sy liefde tot Sy eie. Hy was lewendig toe Hy gesterwe het, Hy het met “’n groot stem” uitgeroep voordat Hy gebiedend Sy gees oorgegee het. Hugh Martin skryf: “Sy sterwe was sy grootste daad” (The Atonement, p. 99).

Die tweede gevaar wat kan ontstaan is om die verskil tussen die aktiewe en passiewe gehoorsaamheid van Christus te ver te dryf, sodat dit ons in versoeking bring om verskillende aspekte van verlossing aan verskillende aspekte van gehoorsaamheid te koppel, asof ons sou kon sê “Sy passiewe gehoorsaamheid het hierdie verseker; Sy aktiewe gehoorsaamheid het daardie verseker.” Sommige teoloë het byvoorbeeld geargumenteer dat dit die passiewe gehoorsaamheid van Christus (Sy lydsaamheid gedurende die straf vir ons sonde) was wat ons vergewing verseker het, terwyl Sy aktiewe gehoorsaamheid die ewige lewe verseker het.

Niemand minder nie as A. A. Hodge (The Confession of Faith, p. 150) het probeer om hierdie verklaring in te lees in die woorde van die Geloofsbelydenis van Westminster. Die woorde van die Geloofsbelydenis self (Hoofstuk 8.5) lui soos volg: “Deur Sy volmaakte gehoorsaamheid en offer ... het die Here Jesus volkome  genoegdoening aan die geregtigheid van Sy Vader gegee;  en nie slegs versoening verwerf nie, maar ook ’n ewige erfdeel in die Koninkryk van die hemele...”. Hodge se kommentaar is: “Die lyding van Christus het die opheffing van die straf verseker; en deur sy aktiewe gehoorsaamheid het hy ’n reg op lewe en ewige saligheid verkry” (The Confession of Faith, p. 150).

Dit is veiliger om die standpunt van Calvyn (Institutes 2.16.5) in te neem dat Christus beide ons versoen het met God en ons geregtigheid verseker het deur die “hele verloop van sy gehoorsaamheid.” Hy sê verder: “Vanaf die oomblik dat Hy die voorkoms van ’n dienskneg aangeneem het, het Hy begin om die prys van bevryding vir ons verlossing te betaal.” Sy hele lewe was ’n daad van versoening.

Dit is die standpunt wat deur die gesaghebbende latere teoloë soos Turretin en Cunningham ingeneem is. Ons moet die werk van Christus holisties verstaan, en aandring dat beide wat Christus gedoen het en wat Christus gely het ewe veel van toepassing is op ons vergifnis en ons aanvaarding, “sonder om die onderskeie plekke of funksies te spesifiseer wat sy passiewe en aktiewe gehoorsaamheid oor die saak aantoon” (Cunningham,The Reformers and the Theology of the Reformation, p.405).

Hierdie gehoorsaamheid van Christus het menigvuldige gevolge. Dit doen boete vir sonde, dit versoen God, dit bevredig geregtigheid en dit verlos die kerk. Hierdie sake het almal die nodige klem in die Gereformeerde teologie gekry. Ons het egter nie naastenby laat reg geskied aan ’n ander Bybelse konsep nie, naamlik oorwinning. Maar dit is die wyse waarop die Skrif die eerste keer vir Christus bekend stel. Die saad van die vrou sal die saad van die slang oorwin (Gen. 3:15).

Die idee van oorwinning staan sentraal in die Nuwe Testamentiese begrip van die werk van Christus. Byvoorbeeld, volgens Kolossense 2:15 ontwapen Christus elke mag en gesag, verneder hulle in die openbaar, en triomfeer oor hulle deur die kruis. Volgens Hebreërs 2:14 het Hy die een wat mag oor die dood het, vernietig; en volgens Openbaring 20:1-3 het Hy vir Satan gegryp, hom met ’n groot ketting vasgebind, hom in die afgrond gegooi en dit bokant hom toegesluit en verseël. Eens op ’n tyd het hy die heidene in ’n greep van geestelike blindheid vasgehou. Nou hou hy hulle nie meer vas nie. Die owerste van die wêreld is uitgegooi buitentoe (Joh. 12:31), Christus regeer, en die geslagte Lam staan tussen die troon en die ouderlinge (Openb. 5:6). Die koninkryk het gekom.

ketting

Die idee dat Christus se aktiewe gehoorsaamheid Sy oorwinning verseker het, het ’n sekere aantrekkingskrag, maar dit sou gevaarlik wees om dit te durf verkondig. Terwyl in tekste soos Filippense 2:9 gesê word dat God aan Hom die hoogste eer gegee het juis in reaksie op Sy gehoorsaamheid, is daardie gehoorsaamheid dadelik deur sy dood bevestig: “Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis” (Fil. 2:8). Was dit aktief of passief? In Hebreërs 1:3 is dit juis omdat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het dat Hy triomfantelik gaan sit het aan regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Die sprekendste van alles is die getuienis in Hebreërs 2:14: Deur Sy “dood” het Hy die een wat mag het oor die dood, vernietig. Die kruis het die instrument van Sy almag geword. Die Lam het oorwin deur Sy bloed.

Een laaste waarskuwing. Somtyds word gesê dat aangesien Christus deur sy aktiewe gehoorsaamheid die Wet in ons plek vervul het, ons dus vrygestel is van die verpligting om die Wet te onderhou. Dis die logika van die antinomianisme, maar is, sekerlik, ook die logika van die Poel van vuur. Sonde is wetteloosheid (1 Joh. 3:4), en om sonder die wet te lewe is om in sonde te lewe. Christus het nie gedien en was nie gehoorsaam sodat ons wetteloos kan lewe nie. Elke teologiese lyn wys in die teenoorgestelde rigting. Christus se gehoorsaamheid staan in die lig van God se ewige besluit om ons gelykvormig aan die beeld van Sy Seun te maak, die gehoorsame, selfverloënende Dienskneg (Rom. 8:29). Christus het glad nie vir ons gesterf het sodat ons van die Wet vrygestel kan word nie. Die werklike rede waarom hy die veroordeling as gevolg van ons sonde gedra het, is juis dat ons die geregtigheid van die Wet moet vervul (Rom. 8:4); die besprinkeling met Sy bloed is onlosmaaklik verbind aan gehoorsaamheid (1 Pet. 1:2); en die feit van verlossing is net so onlosmaaklik verbind aan die bediening van die Gees (Gal. 3:14), wat verseker dat ons nie voor die begeertes van ons sondige natuur sal swig nie (Gal. 5:16).

Ons het Hom lief omdat Hy ons tot die dood toe liefgehad het; en liefde is vervulling van die Wet.