Die Funksie van die Wet in die Verbond
Die Funksie van die Wet in die Verbond
In Galasiërs 3:17-21 het ons gesien dat die wet as deel van die verbond van God gegee is en deel van die verbond bly en ook dat die wet en die verbond nie téén mekaar werk nie. Die wet is nie teen die verbond of die verbondsbeloftes nie (vs. 21). Ons het ook gesien dat in die verbond die wet in die eerste plek die funksie het om ons ons sonde te leer ken (vs. 19,24). Hiermee sal min mense verskil.
Dit is nie die enigste funksie van die wet as die “boek van die verbond” (Eks. 24:7) nie. Binne die verbond is die wet ook die rigsnoer vir ʼn lewe van dankbare gehoorsaamheid waartoe Christene, as die verbondsvolk van God, geroep word.
Om dié rede noem die gelowige die wet “ ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my pad” (Psalm 119:105; Spr. 6:23). Dit ʼn betroubare rigsnoer op die lewenspad.
Om dieselfde rede word die wet ook “die volmaakte wet van die vryheid” en “die koninklike wet” genoem (Jak. 1:25; Jak. 2:8,12). In Jakobus 2:8, 12 sien ons dat dié koninklike wet nie ʼn nuwe wet is nie, maar die tien gebooie. As koninklike wet van vryheid omskryf en begrens dié wet ons vryheid om te verhoed dat ons vryheid in losbandigheid ontaard (Gal. 5:13,14).
Alreeds in die Ou Testament het God eers die wet aan die volk gegee nadat Hy hulle reeds verlos en uit slawerny in Egipte uitgelei het (Eks. 20:1,2). Hy het dit nie gedoen om hulle weer in slawerny te lei nie, maar om aan hulle, sy eie verbondsvolk, perke te stel en hulle lewe te orden, sodat hulle Hom des te beter kan dien en hulle dankbaarheid vir so ʼn groot verlossing aan Hom kan betoon.
Dit is nie vreemd nie. In ʼn vry land word vryheid deur die reg beskerm. Die reg stel perke aan die vryheid sodat die vryheid nie deur elkeen wat doen wat goed is in sy eie oë, vernietig word nie. Wanneer die reg oorboord gegooi word en elkeen doen soos hy goeddink, soos dikwels vandag gebeur, het ʼn mens eindelik nie eens die vryheid om sonder vrees sy huis te verlaat en in die strate te loop nie.
Die wet gee dus aan God se verbondsvolk struktuur en orde in hulle lewe. Dit omskryf hulle verhouding tot Hom, sodat Hy deur hulle lewe verheerlik word. Die wet kan dit doen, want dit openbaar die wese en eienskappe van God, en wys ons waaraan ʼn lewe wat God verheerlik, gekenmerk word.
Dit is nie die wet wat die mens in verbondsverhouding met God bring, of die genade gee om God in ons lewe te verheerlik nie — dít verkry ons deur Christus (Gal. 3:24) — maar dit bly nietemin die boek van die verbond, wat openbaar hoe God se verbondsvolk Hom kan behaag en in woord en daad teenoor Hom dankbaar kan wees.
Hiermee word nie ontken dat die gelowige se verhouding tot die wet deur die koms van Christus verander het nie. Gelowiges leef nie meer onder die wet nie, maar onder genade.