Die eer van Christus en kerklidmaatskap
Die eer van Christus en kerklidmaatskap
Wat maak dat gelowiges by ‘n spesifieke kerkverband lidmaat bly? Ten spyte van alle afvalligheid. Selfs terwyl die oortuiging by hulle heers dat die kerk(verband) van Christus afvallig geword het? Wat is dit wat lidmate gebonde hou aan ‘n spesifieke kerk(verband)? Hierdie is vrae wat ongelukkig in ons land glad nie die aandag kry wat dit verdien nie. Juis omdat kerklidmaatskap nie ‘n saak van persoonlike smaak mag wees nie.
Kerklidmaatskap het te doen met geloof in Christus en gehoorsaamheid aan Hom, daarom is dit ‘n saak wat hopeloos te min aandag ontvang. Heel oppervlakkig en ongelowig word dit dikwels afgemaak met die opmerking dat ‘n kerk ‘n mens nie red nie. Natuurlik red geen kerk ‘n mens nie. Wie sou dit ooit wou dink? Dit is Christus wat red. Maar waarvan red Hy? Hy red van alle godsdiens wat nie tot sy eer is nie. Hy red van alle godsdiens wat gerig is op die mens en sy eie selfsug. En waarvoor red Hy ons? Om te doen wat Hy beveel. Daaroor gaan dit tog vir ‘n gelowige. Aan die einde van die Bergrede noem Christus self elkeen wat sy huis bou op enigiets anders as ‘n gelowige en gehoorsame luister na sy woorde, ‘n dwaas (Matt. 7:26 ev.). Elkeen wat na die woorde van Jesus luister en dit doen vergelyk Christus met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het (Matt. 7:24).
Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) gebruik in Artikel 28 ‘n opvallende uitdrukking vir die roeping van elke gelowige om hom te voeg by die kerk waar Christus alleen regeer – “die nek onder die juk van Jesus Christus buig”. Hierdie juk is geen swaar las wat op ons gelê word om deel te wees en te bly van ‘n plaaslike kerk of kerkverband wat afvallig geword het nie. Van daardie juk het Christus ons juis kom bevry. Christus se juk is sag en sy las is lig (Matt. 11:25 – 30). Christus wil ons juis rus gee by Hom alleen.
Dit is nie verniet dat die NGB in Artikel 28 elke gelowige roep – wat sy stand of status ook mag wees – om hom in gehoorsaamheid te voeg by die gemeente waar die eenheid in die geloof bewaar word nie. Hy wat hom nie buig onder die juk van Christus nie, dien nie die opbou van die gemeente van Christus nie. Hy breek af. En belangrik : hy hou hom afsydig van die gehoorsaamheid wat elke kind van God aan Christus verskuldig is.
Ons bely heel duidelik dat kerklidmaatskap belangrik is. Trouens, ons glo dat ons saligheid nie buite die kerk te soek en te vind is nie (vgl. Artikel 28!). Die Here wou in die tyd van die verskeurde koninkryk van Israel die verlossing in Jerusalem/Sion bly uitdeel by die tempel. Dit was nie te soek en te vind by die Noordryk wat in opstandigheid hul eiesinnige erediens gaan hou het by die goue beelde in Dan nie. Dit het die ryk van die Messias verskeur! Die eenheid van die kerk word gebou daar waar elke gelowige die sagte juk van Christus op hom neem. Dan kan ons ons gawes gebruik en aanwend tot opbou van Christus se gemeente. Opbou in die geloof. Dit is ware gemeente-bou-teologie!! Nie die planne wat mense probeer beraam om geloof en ongeloof in een menslike organisasie by mekaar te laat pas nie.
Dit beteken heel konkreet dat die skeiding wat die ongehoorsames bewerk het, gestalte moet kry in ons kerkwees. Christus het nie gekom om vrede te bring nie, maar skeiding tussen man en vrou, seun en vader, dogter en moeder. Elkeen wat sy kruis nie neem en agter Christus volg nie, is Hom nie waardig nie (Matt. 10:35-42). Christus bring skeiding tussen ‘n mens en sy huisgenote. Die juk wat enige kerk op my lê mag daarom nooit iets anders wees as die juk van Christus nie. Alles in die kerk wat nie uit Christus is nie, is nie uit die geloof nie. Dit is uit die bose.
Kerklidmaatskap het daarom alles met ons redding te doen. Hoe kan ons by Christus bly, wanneer ons nie week na week en dag na dag gevoed word uit die lewende prediking van die evangelie nie? Wie is so hooghartig om hom los te maak van dit wat Christus ingestel het om ons die lewe in Hom te gee (Rom. 10:14)?
Sal ons bly redeneer dat ons saligheid nie afhang van ons kerklidmaatskap nie? Die dwaasheid van so ‘n argument blyk hopelik reeds uit bogenoemde. Maar meer. Gaan dit vir ons alleen oor ons saligheid? Dit is mos geen gesonde teologie nie. Calvyn skryf teen die Roomse Kardinaal Sadoletus van Carpentras, ’n aangrypende brief. Sadoletus wil die inwoners van die stad Geneve terugroep tot die Roomse Kerk omdat daar alleen volgens hom hulle saligheid veilig sou wees. Dit, skryf Calvyn, is die “gemoedelike teologie” van iemand wat nog nooit die skool van ‘n swaar gewetensstryd deurgemaak het nie. Mense word geroep op grond van die argument van die saligheid van hulle siele, asof dit die hoogste doel van ‘n mens se bestaan is. Vóór alles moet egter die eer van God en Christus ons hele lewenspraktyk bepaal. Ons is gebore in die eerste plek, nie vir onsself nie, maar vir God. Dan het die Here verseker sy eer self verbind aan ons saligheid. Nóóit word ons egter in die Skrif die vrypostigheid toegelaat om ons saligheid los van die eer van Christus te soek nie.
Niks is meer gevaarlik vir ons sieleheil as juis ‘n godsdiens waarin die eer van God en Christus nie alles is nie. Van só ‘n godsdiens moet ons wegvlug en geen gemeenskap met so ‘n duisternis aan die gang hou nie. Gehoorsaamheid is beter as offergawes (1 Samuel 15:22). Wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens (vs. 23).