Die Christen ... en stakings
Die Christen ... en stakings
Terwyl ons hier skryf (middel-Junie), is ons land vasgevang in een van die grootste stakings in sy geskiedenis. Ná lang onderhandelings kon die twee betrokke partye mekaar nog nie vind nie, selfs ook nie ná bemiddeling van ’n derde party nie.
Hierdie situasie bring ’n hele reeks vrae na vore, byvoorbeeld: Mag ’n Christen aan ’n staking deelneem? Indien wel, op watter wyse? Wat is die taak van die staat (regering) en die roeping van die kerk in hierdie verband?
Die reg van die staker⤒🔗
Ons Grondwet erken die reg van staking (art. 2.23.2). Dit is met ander woorde ’n grondwetlik verskanste reg. Elke burger, in hierdie geval elke staatsamptenaar, het die reg om – indien hy/sy van oordeel is dat hy/sy nie ’n billike loon ontvang nie – aan ’n staking deel te neem.
Waarskynlik is die huidige staking een van die weinige kere dat ook Gereformeerdes, soos byvoorbeeld onderwysers, op beperkte wyse aan so-iets deelgeneem het. Christelik-eties gesien, kan sodanige optrede nie summier veroordeel word nie, mits dit aan bepaalde voorwaardes voldoen.
Onder “staking” word in hierdie verband dan verstaan die tydelike opskorting van arbeid ten einde regverdige(r) arbeidsvoorwaardes te beding. Staking is dan – wat genoem word – ’n “sosiale bedingingsmeganisme” om onreg en magsmisbruik teen te staan.
Die verantwoordelikheid van die staker←⤒🔗
Elke landsburger het bepaalde regte, maar ook duidelike verantwoordelikhede, wat in die geval van staking nog groter as die gewone is. ’n Staking mag, eties gesien, slegs dán oorweeg word wanneer alle middele soos onderhandeling, mediasie en arbitrasie gefaal het, met ander woorde as laaste uitweg; die intensies en redes moet goed en verantwoord wees; die eise mag nie onbillik en onhaalbaar wees nie; die styl van staking moet verantwoordelik wees, sonder saakbeskadiging; dit mag nooit noodsaaklike dienste soos onder andere gesondheidsdienste en polisiëring, en selfs ook onderwys, ontwrig en benadeel nie; dit mag ook nie onbepaald voortduur en uiteindelik anargie in ’n samelewing veroorsaak nie – as die uiteindelike gevolg is dat die ekonomie van ’n samelewing vernietig word, en daarmee die samelewing self, dien die staking geen doel nie. Daarby sal dit groot skade berokken aan die beeld van die land na buite.
Indien ’n staking momentum begin opbou en handuit ruk, is almal verloorders, en gaan die armstes en die hongerstes die meeste daaronder ly. Ons is tans onrusbarend naby aan die punt dat die huidige staking sy eie koers kies – en daarom dringend tot ’n einde behoort te kom.
Die weerhouding van noodsaaklike dienste, soos byvoorbeeld gesondheidsorg, moet ten sterkste as immoreel afgekeur word. Indien selfs net één siek pasiënt sterf vanweë afwesige verpleegpersoneel, kleef die bloed van daardie persoon aan hulle hande. Dis ondenkbaar, en totaal onaanvaarbaar, dat polisiemanne en gevangenisdienswerkers sal begin staak. Indien matrikulante nie die geleentheid het om ’n rustige eksamen te skryf nie, en sodoende die voorreg ontsê word om volgende jaar by ’n universiteit te kan inskryf, rus dit op die gewete van die stakers – en agitators.
Die verantwoordelikheid van die vakbonde←⤒🔗
Die betrokke vakbonde het in hierdie verband ’n onoorsienbare verantwoordelikheid. Hulle moet toesien dat die staking reg en ordelik verloop. Indien die opsweping van massas radikale afmetings begin aanneem, en indien die staking uiteindelik op anargie uitloop, dus totaal kontraproduktief is, en baie stakers hulle werk verloor, kan die vakbonde nie maar hulle hande in onskuld was nie. Hulle is medeverantwoordelik as daar nie meer brood op die tafel is vir die kinders van die stakers nie.
Die motivering vir ’n staking speel hier ook ’n baie belangrike rol. Politieke ondertone begin plek-plek deurslaan na botone. Dis moreel onaanvaarbaar.
Die taak van die staat←⤒🔗
Die staat (bedoel as regering) moet voor alles toesien dat staatsamptenare ’n billike loon ontvang, soos die Bybel voorhou. Dis nie ’n goeie voorbeeld indien regeringsamptenare vir húlle ’n groot loonverhoging toestaan en aan staatsamptenare ’n onbillike verhoging voorhou nie. Die arbeider is sy loon werd. En om te bepaal wat ’n billike loon in die huidige Suid-Afrikaanse konteks vir staatsamptenare soos verpleegsters, polisiemanne en onderwysers is, kan van ’n neutrale advieskomitee gebruik gemaak word. Uiteraard moet dit geskied binne die raamwerk van die landsbegroting. Maar ’n land wat R30-R50 miljard aan wapens spandeer en sy verpleegpersoneel en polisiemanne onderbetaal, is ’n dwase land.
Die regering moet ook elke staking kontroleer sodat dit nie uit die hande loop en anargie in ’n samelewing veroorsaak nie. Die polisiediens, en desnoods die weermag, moet toesien dat geen intimidasie van gewillige werkers plaasvind nie. Die regering moet sorg vir die handhawing van billikheid en orde en vryheid in ’n samelewing.
Die roeping van die kerk←⤒🔗
Die kerk sal deur middel van Woordbediening in sy wydste betekenis by gelowiges daarop aandring om onder alle omstandighede op te tree in ooreenstemming met die evangelie van Christus (Fil 1:27). Christene se lewenstyl word gekenmerk deur opbouende protes, en nie deur ’n vernietigende maak-en-breek houding nie.
Die kerk sal ook probeer om, indien moontlik, tussen die twistende partye te bemiddel, byvoorbeeld deur die regering te wys op swak lone en by die stakers te pleit op verantwoordelike optrede, en dat in alle geval ’n billike en haalbare kompromie noodsaaklik is.
En ten slotte sal die kerk, dit wil sê elke gelowige, ook vurig bid vir die regering en vir die stakers, sodat ’n spoedige en bevredigende oplossing gevind sal word en alle dienste weer na normaal kan terugkeer.
Laat dit ons gebed wees vir hierdie mooi land: “Heilige Vader, gee ons vrede in hierdie land. Ontferm U oor ons. Wees ons genadig!”