Die Amp van Diaken
Die Amp van Diaken
Die amp van diaken is die mees verwaarloosde amp in die kerk van Christus. Baie kerke het nie eers diakens nie, of as hulle het, vervul die diakens nie hulle Bybelse funksies nie.
In baie kerke waar diakens is, doen die diakens die werk van ouderlinge, hulle regeer in die kerk. In ander gevalle behartig hulle bloot die finansiële sake van die kerk, waarvoor ampsbevestiging nie nodig is nie.
Om die amp van die diaken te verstaan, moet ʼn mens noukeuring na Handelinge 6 kyk, waar die verhaal van die eerste diakens vertel word. Die woord wat in die Skrif met “diaken” vertaal word, is die Griekse woord vir “dienaar”, wat die Skrif gebruik om mense wat in enige hoedanigheid in die kerk of onder gelowiges dien, te beskryf (Joh. 12:26; Rom. 16:1). Desnieteenstaande maak Handelinge 6 dit duidelik dat sommiges besondere “dienaars” is.
In Handelinge 6 leer ons eerstens dat die amp van hierdie besondere dienaars, die amp van diaken, ʼn amp is waarin iemand bevestig word (vs. 3, 6; lees ook Filip. 1:1 en 1 Tim. 3:10, 13). Dit beteken dat die amp meer inhou as om die kerk se boekhouding te behartig. Dit beteken ook dat sekere geestelike gawes nodig is (Hand. 6:3; lees ook 1 Tim. 3:8-13).
Handelinge 6:3 gee te kenne dat diakens, soos ouderlinge en leraars, mans moet wees en dit word in 1 Timótheüs 3:8-13 bevestig. Dit volg uit die feit dat dit ʼn verordende amp is wat in die kerk gesag dra, al is dit nie die regeringsgesag wat aan die ouderlinge opgedra is nie. Kerke met vroue as diakens is net so ongehoorsaam aan die Woord van God as dié met vroue as leraars en ouderlinge.
Ons leer ook in Handelinge 6 oor die amp en funksie van die diakens, wanneer daar van die Griekse weduwees vertel word. Die amp behels in besonder die versorging van diegene wat behoeftig is. Uit Handelinge 4:35 is dit duidelik dat dit meer behels as om die weduwees te versorg en die tafels te bedien. Ons sien dat die “nodige saak” wat die apostels aan die diakens opgedra het, was om gawes vir die wat behoeftes het, in te samel en uit te deel.
Ons wil beklemtoon dat die diakens, wat deur Christus self geroep is tot hierdie verordende amp in die kerk, met hierdie werk meer verrig as bloot liefdadigheid. Omdat hulle tot hierdie werk in diens van Christus verorden is, is die diakens verantwoordelik om hulp te verleen in die naam van Christus en ter wille van Hom, wanneer hulle “...die middele wat gegee word tot diens van die wat in nood verkeer ... met wysheid bestee en met vertroosting uit die Skrif uitdeel”.1
Deur dit te doen vervul die diakens in die kerk ʼn priesterlike funksie. Soos die priesters van die Ou Testament is hulle amp ʼn amp van barmhartigheid waarmee hulle die gawes wat gebring word ontvang en uitdeel in diens van Christus en sy volk.
Ons glo dat hulle die reël van Galasiërs 6:10 behoort te volg sodat hulle diens eerstens en in besonder vir die kerk is. Wanneer hierdie amp in die kerk teregkom, word die woorde van Psalm 37:25 waar: “. . . maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie”.