Deelhê aan Lyding
Deelhê aan Lyding
Toe die klok lui en ek besig was om die klaskamer te verlaat, het ʼn jong klasmaat my nader getrek om my te vra of ek vir sy ouma sal bid. Sy was baie siek in die hospitaal. Hoewel ek geskok was, het ek gewillig aan sy versoek voldoen. Minute tevore het die jongman die hele klas aangehits om my te spot omdat ek ʼn Christen is, juis toe die onderwyser uit die klaskamer was. Ek was nog ʼn taamlike jong Christen en daardie ondervinding was vir my glad nie lekker nie. Jy kan jou dus voorstel hoe groot my verbasing was toe hy my nader trek en vra om vir sy ouma te bid.
Dit was ook ʼn les in God se goedheid. Ek was jonk en swak in die geloof, en Hy het my onmiddellik met hierdie versoek bemoedig asof my Vader geweet het dat ek nie veel sou kon verduur ter wille van Sy Naam nie. Ek het op my eie beskeie manier geleer hoe om trou te wees aan Christus, selfs wanneer andere my oënskynlik verwerp het.
Ek veronderstel dat jy ook al moeilike tye beleef het. Mens kry dit op die vreemdste plekke – selfs in ons kerke en in ons huise. Baie van ons vier binnekort huweliksherdenkings (Junie is mos in die noordelike halfrond die gewildste maand om in te trou!). Selfs gedurende hierdie geseënde tye word sommige van ons opgeroep om te ly as getroue volgelinge van Christus.
Petrus het aan ʼn aantal jong Christene wat verspreid gewoon het oor die gebied wat vandag bekend staan as die westelike deel van Turkye, geskryf. Hulle was verbaas dat hulle gely het omdat hulle Christene was. Hulle het gedink dat dit vreemd was dat hulle godsdiens – wat na hul mening hulle moes gehelp het – hulle in werklikheid sou laat seerkry, ten minste deur die toedoen van sommige van hul familielede en vriende.
Ons weet nie of daar enige amptelike vervolging op daardie tydstip was nie, tog het hulle op minder georganiseerde maniere gely. Uit 4:14 blyk dit dat Petrus geweet het dat hulle “ter wille van die Naam van Christus” beledig is (1983 Vertaling). En diegene wat hulle beledig het, het daarin geslaag om hulle te laat skaam voel!
Hul gehoorsaamheid aan God het veroorsaak dat hierdie jong Christene swaargekry het, en dit het hulle gedisoriënteer en ontmoedig. Maar Petrus het vir hulle gesê dat dit nie hierdie uitwerking op hulle moet hê nie. Hulle moes hulself noukeurig afvra waarom hulle swaarkry, en dan daaroor nadink op watter manier ʼn Christen behoort te ly. Sodoende sou hulle die rede vir hul swaarkry kon heroorweeg en beter verstaan wat God se bedoeling daarmee was.
Hulle moes hulself eerstens afvra waarom hulle swaarkry. Baie van ons swaarkry bring ons oor onsself omdat ons verkeerde dinge doen. Moordenaars en diewe word agtervolg, gearresteer en gevonnis. Mense wat by ander se sake inmeng, kan gespanne verhoudinge en verbitterde harte veroorsaak. Maar dit is nie hierdie soort lyding waaroor Petrus hier skryf nie. Die lyding waaroor dit hier gaan, is die lyding wat ons ondervind omdat ons Christene is. Die Christene van sy tyd het nie swaargekry omdat hulle verkeerd gedoen het nie, maar juis omdat hulle die regte dinge gedoen het soos wat Christus self gedoen het. Wat sou dit vir hulle – of vir ons – kon beteken om te dink dat ons Christus volg en dan weier om saam met Hom te ly en selfs ʼn kruisdood te sterf? Petrus het ongetwyfeld gedink aan Jesus se woorde aan hom, nadat hy die eerste keer bely het dat Jesus die Messias is: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Matt. 16:24).
Dit kom voor asof die eerste Christene hierdie boodskap oor en oor ontvang het. En miskien is dit nodig dat ons dit ook meer dikwels hoor. Paulus het aan die Christene in Korinte geskryf dat “Christus se lyding oorvloedig oor ons kom” (2 Kor. 1:5). Paulus het aan die Christene in Filippi geskryf oor sy eie begeerte om Christus te kan ken en deel te hê aan sy lyding (Fil. 3:10). Hierdie vroeë Christene het geweet dat hulle geroep was om deel te hê aan Christus, om deelgenote aan sy lyding te wees. Net soos wat Hy aan hulle menswees deel gekry het (Heb. 2:14), so moes hulle aan Sy lyding deel kry.
Petrus het ook aan hierdie Christene geskryf oor die manier waarop hulle behoort te ly. En sy antwoord was eenvoudig, ten minste in woorde. Ons moet nie verbaas of skaam wees as ons ly nie, maar met blydskap en lofprysing vervul wees, net soos wat Christus Sy lyding aanvaar het. Ons mag aanvanklik ʼn bietjie sukkel om daaraan gewoond te raak, maar diegene van ons wat babas grootgemaak het, sal weet van die vreugde wat ons ervaar selfs te midde van die hele gedoente en tye van slapelose nagte wat deel was van hulle tandekry stadium. As ons weet dat ons swaarkry deel is van iets goeds, help dit ons om dit te verduur. Ons glo dat die beproewinge wat ons nou ondervind omdat ons Christene is, deel vorm van dit waarna Petrus in 4:13 van sy eerste Brief verwys, as deelgenote aan die lyding van Christus. Daarom kan ons ons daarin verbly. Dit is inderdaad die bewyse dat ons met Christus verenig is. Hoe wonderlik! Hierdie jong Christene was bang dat die beledigings en beproewinge wat hulle ervaar, beteken dat hulle iets verkeerd gedoen het. Petrus vertel hulle dat dit die bewys is dat hulle iets reg gedoen het!
Daar is dus swaarkry in die lewe van ʼn Christen. Maar ná die lyding volg die heerlikheid. Christus het vir ons en al sy volgelinge, meer geword as net ʼn voorbeeld, en meer as selfs ʼn plaasvervanger, alhoewel Hy hierdie albei ook is. Hy het ons met Homself verenig, en ons met Sy eie Gees vervul, om ons daardeur meer en meer aan sy eie beeld gelykvormig te maak en ons uiteindelik na Sy huis te neem.
Lyding, gevolg deur heerlikheid. Dit is Petrus se tema ten opsigte van Christus, en ten opsigte van ons almal wat Hom volg. Eendag, soos wat Petrus dit hier stel, sal die heerlikheid geopenbaar word. As ons Christene is, lewe ons in daardie lig – die lig wat hierdie heerlike hoop terugkaats tot in ons huidige donker situasie.