Christus in die Middelpunt
Christus in die Middelpunt
ʼn Groot verandering wat in die kerk opgemerk word, is dat daar baie meer aandag gegee word aan die mens, aan u, aan jou. Lees die evangelie volgens Johannes en ʼn mens sal daardeur getref word dat Jesus tydens persoonlike ontmoetinge mense in hul verlorenheid opsoek.
Maar so ʼn fokus bly slegs suiwer as Hý in die middelpunt staan en nie jy nie.
Indien ons bostaande reg verstaan, sal ons meer uit die erediens ontvang. Sien Christus in die middelpunt van die erediens, dan is jy beter toegerus om ʼn erediens te beleef soos wat God dit bedoel.
As jy byvoorbeeld tydens die erediens hoofsaaklik op jouself konsentreer, vergeet jy maklik dat daar ʼn verskeidenheid van mense bymekaar is in die kerk. Jy is tydens die erediens nie dié maatstaf van alle dinge nie. Die Heilige Gees is nie net aan jóú gegee nie, en wil nie net met jóú alleen werk nie.
Daar is gemeentelede wat, op geestelike vlak, ‘melk’ nodig het. Hulle is nog nie volwasse in die geloof nie. Hulle is nog afhanklik van geestelike ‘babavoeding’. Petrus skryf in 1 Petrus 2:2 die volgende aan die weergebore mense in Klein Asië, wat God nog nie lank ken nie:
Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.
As jy geproe het hoe goed God is, wil jy nog meer hê!
As jy ʼn Christen is wat lank gelede reeds vir God leer ken het, dit wil sê dat jy geestelik gesproke nie meer ʼn suigeling is nie, toon dan jou volwassenheid deur dankbaar te wees vir die melk vir nuwe weergeborenes. Moet dan nie uit die hoogte sê: “Dít is nie hiervoor (vir die melkkos) waarvoor ek na die erediens toe gekom het nie. Hierin stel ek nie belang nie.”
Wees dankbaar vir die suigelinge. Jy sit nie vir niks in die kerk nie, maar vir die Here, en vir mekaar. Geniet daarvan dat die ander gemeentelede nou kan geniet. God het ʼn voorliefde vir die wat nog klein is in die geloof (Matteus 18:10). Ag jy jou nie dalk te belangrik om van die verskeidenheid te geniet nie?!
Aan die ander kant: Die wat pas weergebore is, het nie nodig om te huil as daar ʼn erediens gehou word waar die predikant vaste voedsel uitdeel nie. In die brief aan die Hebreërs verwyt die Heilige Gees dié Christene wat altyd maar net by die eerste beginsels van die geloof wil stilstaan. Hebreërs 5 sê:
Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ʼn kind. Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.
Ons hoor baie keer van jeugdienste, kinderdienste, gastedienste ens. En daar is verseker nog groepe in die kerk waaraan ʼn mens kan dink. Jeugdienste of kinderdienste of gastedienste is alles byname, want dit gaan oor Godsdiens (om God te dien). Wat in die erediens gebeur hoef nie in lyn te wees met jou gevoel nie. Jou gevoel vir styl of gevoel vir eerbied hoef nie vir ander ʼn norm te wees nie. Die erediens hoef ook nie altyd in lyn te wees met jou stemming nie, hoe moeilik dit ook al kan wees. Miskien bevind jy jou midde in ʼn rouproses terwyl die erediens vol ‘hallelujas’ is. Miskien voel jy gelukkig, en dan word jy in die erediens met jou sonde gekonfronteer. Christus is dikwels steurend aanwesig in ons lewens. As Hý daarmee geëer word, dan is dit goed. Jy kom nie vir jou terapie nie, maar vir Sý liturgie. As jy dít besef, sal jy opmerk dat dit jou goed doen en dat Christus helend en troostend naby jou is wanneer die fokus op Hom is.
Waarmee is jy in die erediens besig? Christus trek jou uit jou selfgerigtheid weg na sy konfronterende liefde. Daarom mag jy van ʼn erediens verwag dat daar in die preek baie moeite gedoen sal word met die goeie uitleg van die Woord van God, en dat daar nie waardelose menslike praatjies en idees aangebied sal word nie. Laat ons onthou: ʼn gerigtheid na Bo is in die eerste plek ʼn gerigtheid op God se Woord. Die Woord van God is ʼn tweesnydende swaard en nie ʼn lepel vol lekkernye om geëet en verbruik te word nie. Moenie te vinnig by die noukeurige bestudering van ʼn Bybelvers begin sê nie: Is dit nou regtig nodig? So ʼn intensiewe bestudering sou juis ʼn bewys kon wees van ʼn intensiewe opkyk na Bo! En hiermee saam: ʼn Preek met ʼn hoë vermaaklikheidswaarde is daarmee nog nie noodwendig ʼn goeie preek nie. En ʼn “lekker” erediens kan wel by geleentheid ʼn erediens wees waarin jy nie die evangelie radikaal genoeg gehoor het nie.
ʼn Ontmoeting met Christus is nie noodwendig aangenaam nie, alhoewel daar tog niks mooier as dít is nie.
En laat ʼn intensiewe aandag vir die teks tog asseblief saamgaan met ʼn deurleefde Geesdrif! Niemand wag vir amusante vermaak of vertoon van geleerdheid nie. Bewaar ons tog van vervelige preke, en bewaar ons veral van preke waarin die prediker as mens vóór die Bybel of vóór Christus staan. Die prediker moet minder word sodat Christus se sy wil in die middelpunt kan wees.