Aan Wie is die Evangelie Geadresseer?
Aan Wie is die Evangelie Geadresseer?
⤒🔗
Die Begin van die Reformasie in Frankryk←⤒🔗
Die herdenking van die Hervorming maak dit die moeite werd om na te gaan wat die adres van die Evangelie is. In die teologie is daar vandag nogal verskil oor die vraag tot wie die Evangelie van die koninkryk van God gerig is.
Die Duitse hervormer Luther het gesê:
Die krag van die Evangelie lê in die voornaamwoorde!Daar staan bo die wet geskrywe:
Ek is die Here jou God.Eksodus 20:2Die engel wat die Kersevangelie verkondig, sê:
Ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap.Lukas 2:10
Wie is daardie ‘jou’, wie word bedoel met ‘Julle’? In Frankryk het die Reformasie begin met die antwoord op hierdie vraag. Tydens ’n akademiese saamtrek op 1 November 1533 het die rektor van die universiteit van Parys, Nicolas Cop, ’n rede gelewer. Uitgangspunt van sy teologiese rede was die Evangelie lesing van die Roomse missaal op Allerheilige, die gedenkdag waarop die heiliges van die Roomse kerk verheerlik word (kyk, Matteus 5:3). In sy rede het Cop die armes as die adres van die Evangelie aangewys. Ons weet uit die geskiedenis dat Jean Calvin eintlik die opsteller van die rede van rektor Nicolas Cop was.
Met hierdie gedenkwaardige rede het die Franse hervormingsgeskiedenis begin. Daar was in die rede van Cop nie twyfel oor die vraag wie met die armes bedoel is nie. Ook die teenstanders van die hervorming het goed begryp wat met armes bedoel is in Cop se akademiese rede. Die Franse koning het uit Lyon waar hy vertoef het, twee pouslike briewe aan die parlement gestuur om die ‘secte luthérienne’, die Lutherse sekte uit te roei. Cop se rede in Frankryk is dadelik met die hervorming van Luther in Duitsland in verband gebring.
’n Nuwe Antwoord op ’n Ou Vraag←⤒🔗
Op die ou vraag aan wie die Evangelie gerig is, word vandag ’n nuwe antwoord gegee. Van verskillende kante hoor ons dat met armes bedoel is: die sosiale en maatskaplike armes. In die nuwere eksegese van die Bybel word Jesus dikwels voorgestel as die “Partijganger der armen”. God het, volgens hierdie Skrifverklaarders, die kant gekies van die armes en verontregtes en Hy staan teenoor die rykes, die maghebbers, die gelukkige besitters van ons tyd.
Die Evangelie is dan ook ’n boodskap van bevryding vir die mense wat onder die broodlyn lewe. Die adres van die Evangelie vind ons daarom in die sogenaamde Derde wêreld waar miljoene mense nog in bitter armoede moet lewe. Die armes is ook hulle wat sug onder politieke strukture waardeur hulle vryheid ingeperk is.
Die prediking van die kerk moet daarom ’n maatskaplike en ’n politieke prediking wees, omdat die adres van die Evangelie vir die maatskaplike, sosiale en politieke armes is.
So ’n opvatting is natuurlik ’n ernstige korreksie op die prediking van die Hervormers. Dit bring ons by die vraag: Moet ons op hierdie belangrike punt (die adres van die Evangelie) ’n aanpassing maak en die Hervorming verbeter? Of moet ons juis op hierdie punt Gereformeerd bly en in die voetspoor van die Hervormers die Evangelie adresseer aan wat die Reformasie as die juiste adres aangewys het?
Die Antwoord van die Bybel←⤒🔗
In navolging van Nicolas Cop moet ons ook maar die antwoord soek in die Woord van God. Ons hoor (in Matthéüs 11:5) uit die mond van Jesus baie duidelik die adres van die Evangelie: armes word geëvangeliseer, soos daar letterlik staan.
Die adres is dus die armes.
Dan bly egter nog die vraag: Wie is die armes? Van watter soort armoede is hier sprake? Is dit maatskaplike armoede of word hier geestelike armoede bedoel?
Wanneer ons na Lukas se weergawe van die Bergpredikasie van Jesus luister, lyk dit of maatskaplike, sosiale armes bedoel is:
Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God.Lukas 6:20
Matthéüs het ’n ietwat langer vorm, want hy skrywe:
Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.Matthéüs 5:3
Is hier sprake van ’n teenstelling tussen Lukas en Matthéüs? Daar is geleerdes wat sê dat die kort formulering van Lukas die oorspronklike is en dat Matthéüs ’n verduidelikende aanvulling gee. Daar is ook geleerdes wat sê dat ons Matthéüs se formulering moet lees teen die agtergrond van die stryd teen die Fariseïsme, terwyl Lukas se formulering gelees word teen die agtergrond van ’n kerk wat verdrukking en vervolging en daardeur ook armoede moet verduur. In ’n bekende kommentaar op die Nuwe Testament vanuit die Joodse geskrifte word gesê dat Matthéüs en Lukas met hulle verskillende formuleringe dieselfde mense bedoel, alleen beklemtoon Lukas hulle uiterlike toestand, terwyl Matthéüs die nadruk lê op hulle innerlike toestand.
Die Armes by Matthéüs←⤒🔗
Die evangelis Matthéüs dui die armes aan as armes van gees. Letterlik staan daar: die armes in of vir die gees. Ons moet hierdie uitdrukking verstaan in die lig van die Ou Testament.
In Psalm 34:19 lees ons van mense wat verslae is van gees en in Jesaja 57:15 word gewys op mense met ’n verbryselde en nederige gees of wat verbryseld en nederig van gees is. In elke geval is duidelik dat hier mense bedoel word wat hulle ten opsigte van God klein, nederig en armoedig voel. Ons kan hulle ook aandui as mense wat besef hoe baie hulle God nodig het.
In die O.T. is die arme aan die een kant die maatskaplik verdrukte, die veronregte, diegene wat sug onder die uitbuiting van die meer bevoorregte. Maar aan die ander kant is hy tewens diegene wat in sy ellende op God vertrou, diegene wat in sy nood van die Here afhanklik is.
Diepste kern van hierdie begrip arme is dat die mens in sy nood God nodig het. So ’n arme kan selfs ryk wees aan aardse goedere. Daar is ook armes van gees wat tot die rykes behoort het, so kan ons lees in die kommentaar op Matthéüs 5:3 vanuit Talmud en Midrasch, ou Joodse geskrifte.
Die begrip arme is by Matthéüs sosiaal as religieus-eties bepaal – dus hierdie woord staan in verband met aardse en geestelike armoede. Tog is die verhouding tot God die beslissende. Dit gaan hier om mense wat hulle innerlike nood teenoor die Here die God van die verbond besef. Dikwels gaan hulle geestelike afhanklikheid van die Here saam met uiterlike ellende en armoede, maar dit hoef nie altyd so te wees nie. Hierdie tipe mense behoort dikwels tot wat Jakobus noem: die armes van hierdie wêreld (Jakobus 2:5).
Die Armes by Lukas←⤒🔗
Lukas spreek in sy weergawe van die woorde van Jesus alleen van ‘armes’. Dit skep die indruk dat die evangelis Lukas die oog het op die maatskaplike, die sosiale armes. By Matthéüs sou die aksent dan meer lê op die innerlike toestand en Lukas sou meer die klem wil laat val op hulle uiterlike omstandighede.
Ons moet egter daarop let dat by Lukas iets ontbreek wat ons wel by Matthéüs vind, maar dat daar andersyds ook by Lukas weer iets toegevoeg staan wat ons by Matthéüs nie lees nie.
Lukas sê met nadruk: “Salig is julle, armes...” Jesus se woorde is gerig aan sy dissipels, hulle wat Hom gevolg het. Nie almal wat arm is, word hier deur Jesus salig gespreek, gelukkig geprys nie.
Ook volgens die Evangelie soos Lukas dit opgeskryf het, bedoel Jesus met armes diegene wat in hulle armoede die Here soek en op Hom vertrou.
Die armes is ook by Lukas mense wat hulle geestelike armoede wat bestaan in hulle sonde, ken en wat gemeenskap met God soek.
In die gelykenis van die ryk man en Lasarus wat Lukas oorgelewer het, word dit so besonder treffend aangedui. Lasarus is ook maatskaplik verskriklik arm. Dit ontbreek hom aan kos en mediese versorging (Lukas 16:19-31). Maar in die naam wat Jesus vir hom gegee het, kom tog die diepste kern van sy armoede aan die lig: Lasarus – die Here is my hulp. Hierdie naam bring tot uitdrukking dat Lasarus in sy armoede en nood op die Here vertrou het. Daarom is hy, hoewel arm van gees, tog salig.
Aan Wie moet die Evangelie Verkondig word?←⤒🔗
Stellig moet die heerlike Evangelie ook aan die maatskaplike armes en die sosiale behoeftiges verkondig word. Ons moet hulle dan egter altyd duidelik leer dat hulle nie as gevolg van hulle armoede ’n plek in die koninkryk van God kan verkry nie.
Armoede bring ’n mens nie in die hemel nie en rykdom hou hom nie buitekant die koninkryk van God nie.
Die rede van Nicolas Cop as die begin van die Franse Reformasie het duidelik gestel dat die inhoud van die Evangelie van Gods genade bedoel is vir die arme van gees.
Wanneer ons hierdie begrip ‘arme’ gaan vervlak tot ’n maatskaplike of sosiale arme, dan word ook die boodskap van verlossing veruitwendig. Jesus word dan ’n maatskappy-hervormer, ‘partijganger van de armen’, ’n politieke en sosiale bevryder. ’n Ander adres verander ook so gemaklik die inhoud van die Evangelie.
Dit is daarom van die allergrootste belang dat ons die adres van die Evangelie in navolging van die Reformasie suiwer bewaar.