Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Wanbalans in die Samelewing

balanseer

Op die oog af lyk dit of die rugbystorm waarin die kop van mnr. Louis Luyt, voorsitter van Sarvu, uit regeringskringe geëis word, nie kommentaar verdien nie. Maar tog is daarby 'n beginsel in gedrang wat ons as Gereformeerdes baie na aan die hart lê. 'n Beginsel waarop die ordening van die hele samelewing berus. Dit is die beginsel wat "soewereiniteit in eie kring" genoem word.

Wat is "Soewereiniteit in Eie Kring"?🔗

Soewereiniteit in eie kring is een van die grondslae van die Calvinistiese samelewingsleer. Dit leer dat elke mens met sy medemens in verskillende samelewingsverbande saamleef. Dit kan ook gesien word as die sosiale "kante" van die mens se bestaan. So is daar die gesin, die huwelik, die kerk, die arbeidskring, die staat, moontlik 'n sportklub en nog 'n verskeidenheid ander strukture waaraan 'n mens verbonde kan wees. Hierdie verskeidenheid van samelewings­verbande verleen 'n ryke gevarieerdheid aan mense se saamleef hier op aarde.

Om hierdie verbande waarin mense met mekaar saamleef, reg te verstaan, is daar 'n paar basiese dinge om in gedagte te hou. In die eerste plek is dit belangrik om te onthou dat al hierdie ver­bande onder die heerskappy van God se koninkryk staan. Nie net die kerk en die huwelik of die gesin is aan die wet van God onderworpe nie, maar ook die staat en selfs 'n sportliggaam:

Weliswaar kom die gehoorsaamheid aan God se wet nie op dieselfde manier na vore in elkeen van hierdie verbande nie. Maar nie een daarvan staan buite God se gesag nie. By almal geld die eis van waarheid, liefde, betroubaarheid en al die ander gebooie van God.

Hierdie verbande is ook onderling met mekaar vervleg. So bestaan daar 'n baie noue verbintenis tussen huwelik en gesin, en tussen gesin en skool. Maar ten spyte van die vervlegtheid mag die verbande nie met mekaar vermeng of verwar word nie. Elke verband het 'n besliste eie aard en 'n baie unieke samestelling wat deurgaans eerbiedig moet word. Man en vrou moet byvoorbeeld huweliksmaats bly ten spyte daarvan dat hulle terselfdertyd ook pa en ma in die huisgesin is. As die onderskeid nie eerbie­dig word nie, is daar baie gou huweliksprobleme.

Dit alles kom daarop neer dat elke samelewingsverband die vryheid en die bevoegdheid het en moet hê om op sy eie gebied sonder inmenging van die ander te kan funksioneer. Elkeen van die verbande het 'n eie beperkte bevoegdheidsfeer — soewereiniteit in eie kring. Solank die soewereiniteit in eie kring eerbiedig word, het ons te doen met 'n gebalanseerde samelewing.

Nie Mekaar Oorheers Nie🔗

Omdat hierdie samelewingsverbande almal onder God se heerskappy staan, is dit belang­rik dat hulle onderling nie oor mekaar mag probeer heers nie.

Oorheersing van een samelewingsverband deur 'n ander vind plaas wanneer die een 'n ander se terrein binnedring. Soos wanneer die kerk begin om die funksies van die staat oor te neem, of die huwelik die werksverband ontwrig.

skaakstukke

Luister net hoe beskryf prof. B. Duvenage hierdie verhouding in sy boek Roeping en Wetenskap (1983, p. 177): "Die beginsel van soewereiniteit in eie kring waarborg die vryheid en bevoegdheid van elkeen van die verbande. Dit is byvoorbeeld nie die taak van die polisie om die tye van die erediens van die kerk te reël nie, en dit is nie die roeping van die kerk om die verkiesingsdatum vir die volgende Volksraad te bepaal nie."

Waak teen Totalitarisme🔗

En nou, in die lig van die afgelope gebeure met Sarvu, kan 'n mens daar byvoeg: dit is ook nie die taak van die staat om te besluit wie voorsitter van 'n sportliggaam mag wees en wie nie. Wanneer die staat so begin inmeng in die bevoegdheidsfeer van 'n ander samelewingsverband, word die hele samelewing ontwrig. Sulke inmenging is die eerste tree op pad na oorheersing. En wanneer een verband 'n ander oorheers, skryf prof. Duvenage, het ons te doen met totalitarisme. Daarby moet ons onthou dat staatstotalitarisme eintlik maar kommunisme in praktyk is.

Gevolglik moet die gebeure met Sarvu vir Gereformeerdes, wat tog die Bybelse beginsels van die Calvinisme eerbiedig en uitleef, tot ernstige kommer stem. Sien ons in hierdie gebeure die simptome van 'n groeiende staatstotalitaris­me? Hierdie vraag word versterk deur die feit dat die huidige regering blykbaar nie bereid is om skole se soewereiniteit in eie kring te eerbiedig nie. Dink maar aan die onverkwiklike situasie van owerheidsinmenging onlangs by die skool op Vryburg.

Dit lei tot nuwe bekommerde vrae: Kan ons op die lang duur verwag dat die owerheid met die bestaanswyse van huisgesinne sal begin in­meng? Of vir die kerk sal begin voorskryf wat ons mag bely en wat nie? Totalitarisme is immers 'n kwaad wat, soos alle sonde, 'n groeiproses deurgaan (vgl. Jak. 1:14, 15). Dit roep altyd na meer.

En die gevolge van totalitarisme is vernietigend. Dit lei daartoe dat ander verbande hulle funksies verloor. Dit lei tot die disintegrasie van gesagsverhoudinge. Die uiteinde daarvan is blatante ongeregtigheid en liefdeloosheid.

Roeping tot Reformasie🔗

Waar die bestaan van die verskillende samelewingsverbande deur die kwaad aangetas word, het ons as gelowiges die roeping om te reformeer.  Weer haal ek prof. Duvenage aan: "Daarom is dit die roeping van gesagsdraers in elke verband in besonder om toe te sien dat so 'n verband aan sy doel en bestemming beantwoord, en dat die norm van geregtigheid daarin eerbiedig word. Dit is die roeping tot reformasie wat op elke verband gelê is. Maar ook die gesagsonderdaan het die roeping om sy deel by te dra, sodat daardie verband aan sy doel beantwoord."