'n Nuwe Kalf met Ou Goud
'n Nuwe Kalf met Ou Goud
Dit is 'n bekende tegniek in kommunikasie en by onderhandelings om sake so te stel dat dit dui op 'n krisis. Die bedoeling is dan dat ou dinge eers afgegee gaan word wanneer die paniek so hoog loop dat daar na die nuwe oplossings, wat dan kunstig as die enigste uitweg voorgehou word, gegryp word. Iets hiervan vind ons by die postmoderniste (ook die in ons kerke).
Natuurlik het ons by die ideologie van postmodernisme nie te doen met 'n geheime onderduimse onderhandeling wat die kerke misterieus wil weglok nie. Ons glo nie in samesweringsteorieë nie. Maar ons kry tog by die aanhangers 'n krisiskreet-"strategie". Dinge word gesê soos: die kerk verloor sy jong mense, die nuwe geslag mense verstaan nie meer die Bybel nie, bedieningspatrone moet aanpas en inpas by die tydsgees.
Die postmodernisme word voorgehou as 'n groot golf waarteen niks of niemand iets kan doen nie, en dat ons maar — ter wille van oorlewing — al is dit onwillig, moet saam rol met die golf. Selfs die erediens en prediking moet ingespan word om die mens tuis te laat voel in sy sondige leefwêreld-werklikheid, want mens kan tog nie nou nog verwag dat die mens by God moet inpas nie. Erediens word 'n lekker medemenslike byeenkoms, en prediking word 'n gesprek waar vrae uitgeruil word. In die wetenskap word die teorie 1 van die meedoënlose opeenvolging van paradigmas ingespan om hierdie gevoel van onafwendbaarheid te skep waarteen die kerk niks kan doen as om die beste van 'n slegte saak te maak nie.
Maar is die aanspraak van die postmodernisme met die onafwendbaarheid enersyds en die klem op die nuwe werklik geldig?
Wortels⤒🔗
Ons beskou eers hulle aanspraak dat die postmodernisme 'n nuwe oplossing bied. Hulle standpunt is nie so nuut nie, om die waarheid te sê Suid-Afrikaanse postmoderniste is ver agter. As 'n voorbeeld kan die Russiese skrywer Fyodor Dostoevsky (1821-1881) genoem word, wat in sy roman "Crime and Punishment." 2
'n jong student, nadat hy 'n moord gepleeg het, God hardop vloek. Hoewel Dostoevsky teen die nihilisme gerig is, beskryf hy die sonde begrypbaar, beïnvloed hy daarmee selfs vir Karl Barth. 3
Ter verduideliking, Dostoevsky laat vir Barth dink dat daardie student, wat God vloek, op die swets-moment nader aan God is, meer met God te doen het, meer rekening hou met God se teenwoordigheid, as wat hy onbetrokke in die kerk sou sit en saam prewel. Met ander woorde, die sonde is verstaanbaar en godsdiens kan nie in voorgeskrewe bane gegiet word nie. Karl Barth se Skrifbeskouing is die teologiese voorloper van die postmodernisme. 4 Daar word die wortels van die plantjie wat nou al sy blom stoot teruggevind.
Feitefout←⤒🔗
Om in (Suid)-Afrika teen die jaar 2000 'n postmodernis te wil wees — met die aanspraak dat dit die nuutste ontwikkeling bied vir die probleem van vervreemding van God — is nie aanvaarbaar nie. Die feite weerspreek dit. Inteendeel, postmoderniste in Suid-Afrika is laat. In Europa en Amerika het die postmoderniste al hulle eie foute raakgesien naamlik dat die dood as die enigste oorblywende realiteit aanbid moet word. Die dood is hulle god. As die postmoderniste modern wil wees hier in Afrika, moet hulle nie ou wasgoed uithang soos wat mens in De Klerk se boek ("'n Vreemde God en sy mense") lees nie. Sy standpunte is maar wisselgrond wat spoedig in 'n ander rigting moet beweeg.
Dis juis hier waar mens vra na die eerlikheid van die postmoderniste wat die kerk in 'n "nuwe" rigting wil dwing. Waarom wil hulle die kerk saam neem as hulle self nie eers weet waarheen hulle oppad is nie. Terwyl ons weet — op grond van die Skrif — dit uiteindelik net op openlike afgodery gaan uitloop. Hoekom nog maak of daar 'n besorgdheid is vir die kerk, as die kerk buitendien postmodernisties gaan verdwyn? Waarom nie nou maar die kerk en sy Hoof, Jesus die Christus, vaarwel toeroep, as hul buitendien nie van plan is om te glo of te volg wat Hy sê nie. Om die waarheid te sê as hul nie eers oortuig is dat God met die kerk praat of al ooit daar gepraat het nie. Is dit eerlik om te sê: kom aanbid die HERE op 'n nuwe manier in Afrika saam met my, as jy weet dat jy van jou goue oorbel 'n kalf genaamd: postmodern gemaak het?
Nuut is die postmodernisme nie, die blare lyk dalk nuut maar die wortel is stokoud. Twyfel in God, vroeër of later, bly twyfel in God. Die feit dat ons rekenaars en internet en al die dinge het, verander nie aan die realiteit van God en sy openbaring nie. Die mens het God nie ontgroei nie, die wêreld het nie onder God se hand uit ontwikkel nie. Die mens is vervreemd van God vanweë sy sonde en nie vanweë God se sogenaamde inherente onkenbare vreemdheid nie. Postmoderniste wil hê God moet die skuld vir die sonde help dra — sonder om dit op God se voorwaardes in Jesus Christus alleen te doen.
Nie Uniek Nie←⤒🔗
Postmoderniste se unieke situasie wat hulle vir ons voorhou is nie so uniek nie. Hulle is ongeduldig met God. Hy "Vertoef" om te kom. In Eks. 32:1-6 sit Aaron met dieselfde probleem. Moses, die man en boodskapper van God het weggebly. Dis 'n vreemde situasie. Die volk verstaan nie meer die nuwe ontwikkeling nie. Om die waarheid te sê, Aaron kon beter as die huidige postmoderniste redeneer dat die situasie onafwendbaar is. Ons sit tans met 'n "beskaafde" volk terwyl hy met 'n opstandige slawevolk gesit het wat maar kort gelede van glo gehoor het. Ons kan nog praat van post-Christelik, Aaron nie.
Aaron het ook met demokratisering van die teologie te doen gekry. Die volk het rondom hom saamgedrom met die verleidelike opdrag: "Kom, maak vir ons gode wat voor ons uittrek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipte laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie". Is dit nie pragtig hoe die volk hulle eie religieuse onderbewuste gevoel verwoord nie, amper soos die postmoderniste vandag.
Hoe kostelik is hulle bewus van hulle afhanklikheid van 'n hoër hand. Hoe eg sterflik menslik kom hulle met 'n sinvolle voorstel vorendag. Maak vir ons 'n nuwe god, nie 'n ander god nie. Want God se boodskap(per) het weggeraak. Hulle het weliswaar nie oor Skrifbeskouings gestry nie, maar hulle het hulle vreemd van God gevoel. God se man, eintlik God self, het ons in die steek gelaat. Die vreemde God en sy vreemde mense in die woestyn en die vreemde God en sy mense in die jaar 2000.
En is dit nie verdienstelik dat hulle nie afgodery wil pleeg nie? Hulle wil die HERE eer, hulle wil hom net sien met 'n nuwe beeld wat pas by hulle premoderne antieke omstandighede. In hulle leefwêreld wil hulle God aktueel laat wees, hulle wil weliswaar nie wag op Christus die Beeld van die onsienlike God nie, maar mens moet tog realisties wees, wie kan nou daar in die woestyn nog hoop op eeue later se vleeswording. Tye het verander, hulle is nie meer in Egipte en die wonders van die see is ook al vergete. Ook die postmoderniste wil hiper "realisties" wees, en aanpas by die aandrang van die mensdom wat sy sonde nie ken en wil erken nie. In sommige gereformeerde kerke kom die postmoderne stemme nog steeds met dieselfde skynheiligheid. "Ons wil dieselfde HERE aanbid, laat daar tog 'n fees vir God wees — op 'n nuwe manier met 'n nuwe beeld".
Hulle vrae: 'Waar is Moses, waar is God?' moet tog beantwoord word. Mens kan die mense in hierdie nuwe situasie tog nie aan hulle self oorlaat nie. Dis 'n krisis wat roep om 'n paradigma. Nie meer 'n slawe paradigma nie, maar een van vryheid: julle kan self sê hoe lyk julle God wat julle uit Egipte verlos het.
En hier kom hulle met die hoogs kontemporêre voorstel: 'n kalf, uit ons eie goud. Is dit nie bewonderenswaardig dat hulle so offervaardig is nie, hulle gee nog voor dat hulle weet van tiendes, sodat hierdie verskriklike vreemdheid tog net kan verdwyn. Ook die postmoderniste vra opoffering. Nie geld nie, maar dapperheid om, alla Madeleine van Biljon, te erken jy twyfel; jou gesonde verstand verbied jou om te kan\wil glo.
Dwing dit nie respek af dat hulle so voorbeeldig tradisievas is nie. Hulle doen nie weg met die offers nie, dit gaan tog immers oor die bloed van die lam en God se vergifnis. Mens glo tog nie in 'n vakuum nie, mens kom van êrens af, en kan nie jou eie kerklike omgewing ontken nie — ook nie in Afrika nie.
Gee hulle nie plek aan die volle mens nie? Die volk moet iets visueel hê om aan vas te hou. Dit klink nogal bekend. "En die volk het gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel" Eks. 32:6. Praat nou van deelneem in die erediens!
Afgodery←⤒🔗
Uit bostaande redenering is die gevolgtrekking tweeledig. Ten eerste is dit so dat situasies verander, ons leef in die inligtingsrewolusie. Maar God het nie verander nie. En sy inligting (openbaring) kom nog tot ons op dieselfde manier as wat Hy nog altyd wou: deur sy Woord en Heilige Gees in sy skepping. Die postmoderniste kan dus nie die argument gebruik dat tye verander nie. Natuurlik verander dit, maar wat daarvan? Wanneer het tye nie verander nie? Dit maak egter nie 'n nuwe beeld van God noodsaaklik nie. Dit lyk dus of ons eerder hierdie postmoderne kommunikasietruuk wat die kerk op hol wil jaag moet ontbloot vir wat dit is — dringende verleiding tot afgodery.
Tweedens is postmodernisme nie so uniek en die omstandighede nie so besonder as wat hulle dit wil laat lyk nie. Wat hulle nou sê kan in 'n groot mate self op ou Israel toegepas word, soos aangetoon is. Postmodernisme se wortels is oud, so oud soos goud, en verblind nog steeds die oë. Dis net die wrange vrugte in ons tyd wat nuut is. Ons het 'n Beeld van die onsigbare God: Jesus Christus. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Enigiets anders is vervloekte afgodery.