Ongelowiges en die Verbond
Ongelowiges en die Verbond
Een van die besware wat Baptiste teen kinderdoop opper is dat sommige kinders gedoop word wat nie gered is nie en wat ook nooit gered sal word nie. Hulle herinner diegene wat kinders doop tydig en ontydig dat hulle mense doop wat nie bekeer is en hulle geloof bely het nie. Dit lyk dan vir die Baptiste asof so ʼn doop geheel en al sonder grond of beginsel is.
In antwoord hierop sê ons dat dit onmoontlik is om in óf Baptiste óf Gereformeerde kerke net mense wat gered is, te doop. Baptiste kerke kan ook mense doop wat geloof en bekering net bely het, want die innerlike van die hart is nie aan ons bekend nie.
Wanneer ons ons Baptiste vriende en kennisse hierop wys, is hulle reaksie gewoonlik, “Maar ons doop minder mense wat nie gered is nie as julle”. Die waarheid is dat as ʼn Baptis maar net een persoon doop wat nie gered is nie, is dit nie meer “geloofsdoop” nie, maar iets wat miskien “doop van ʼn belydende” genoem kan word.
Die feit dat die Skrif besnydenis én doop doelbewus vir ongelowiges voorskryf is ewenwel hier meer ter sake. Abraham het Ismael besny nadat aan hom gesê is dat Ismael buite die verbond is (Gen. 17: 18-23), en Isak het Esau besny nadat die HERE te kenne gegee het dat Esau nie uitverkies is nie (Gen. 25: 23, 24).
Die Baptiste argumenteer hier dat besnydenis net ʼn merk van nasionale identiteit was. In die lig van wat die Skrif oor besnydenis sê, is dit eenvoudig nie waar nie. Die besnydenis was nog altyd ʼn teken van die aflegging van die “liggaam van die sondige vlees ... in die besnydenis (dood) van Christus” (Kol. 2:11; lees ook Deut. 10:16; Deut. 30:6; Jer. 4:4).
Dit is ook waar van die doop. God het die deurgang deur die Rooi See (wat in 1 Kor. 10:1, 2 as ʼn doop aangedui word) laat gebeur vir baie in wie Hy “geen welgevalle gehad” het nie en wat daarna deur Satan omgebring is (vs. 5-10). Gam is ook saam met die res van Noag se familie “gedoop” (1 Pet. 3:20).
Die enigste vraag is dít: “Waarom behaag dit God om die teken van die verbond en van die verlossing, in die Ou Testament én die Nuwe Testament, aan geredde én nie-geredde mense te gee?” Of dié mense volwassenes of kinders is, maak werklik geen verskil nie. Ook die Baptiste moet op hierdie vraag antwoord.
Die antwoord op hierdie vraag is in die ewige raad van God. Net iemand wat onwrikbaar glo dat God alle dinge van ewigheid af verordineer het, óók die verlossing van sommiges en van ander nie, kan ʼn duidelike en ondubbelsinnige antwoord hierop gee.
Die noodwendige antwoord is dat die besnydenis in die Ou Testament en die doop in die Nuwe Testament, net soos die verkondiging van die evangelie, ooreenkomstig die raad van God ʼn krag en getuienis tot redding én tot verharding en oordeel is (2 Kor. 2:14-16). Ons doop kinders én volwassenes, met die wete dat God ditooreenkomstig sy raad gebruik tot saligheid van sommige en tot oordeel van ander, soos by Ismael of Esau of Gam.