Doop en Besnydenis
Doop en Besnydenis
Een van die redes wat vir gesins- of kinderdoop aangevoer word, is die ooreenstemming wat daar tussen die besnydenis en die doop is. Omdat die uitwendige tekens lyk asof hulle so drasties van mekaar verskil, word die ooreenkoms nie geredelik raakgesien nie.
Die aandag moet ewenwel gevestig word op die feit dat wat ons besnydenis en doop noem net tekens is en dat die betekende saak van hierdie tekens presies dieselfde is. Die werklikheid van die doop is presies dieselfde as die werklikheid van die besnydenis.
Die ware besnydenis en die ware doop is die verlossing, naamlik die verwydering van die sonde deur die offer van Christus aan die kruis. Dit is, wat die besnydenis betref, uit Deuteronomium 30:6 en Kolossense 2:11 duidelik; enwat die doop betref, uit Romeine 6:1-6 en 1 Petrus 3:21. Wat die geestelike werklikheid betref is die tekens presies dieselfde en hoewel die tekens mag lyk asof hulle heeltemal van mekaar verskil, simboliseer albei dieselfde geestelike waarheid.
Om te sê dat doop en besnydenis heeltemal verskil, is om te sê dat daar twee verskillende weë tot saligheid is, en te verval in die dwaling van dispensasionalisme. Baptiste probeer meesal om dit te vermy deur, ten spyte van Deuteronomium 30:6 en Kolossense 2:11, te beweer dat die Ou Testamentiese besnydenis nie ʼn teken van die verlossing was nie, maar net ʼn soort merk om die lede van die volk van Israel te identifiseer.
Dit word deur Paulus in Romeine 2: 28, 29verwerp, waar hy sê dat die besnydenis wat in die openbaar sigbaar is, glad nie die werklikheid van die besnydenis is nie en om in die openbaar ʼn Jood te wees niks beteken nie; die enigste besnydenis wat saak maak is dié van die hart en die enigste Jood is dié een wat dit in sy binneste is. Almal wat wil beweer datdaariets spesiaals aan is om ʼn natuurlike afstammeling van Abraham te wees, behoort hierdie verse te lees.
Waarom is daar dan ʼn verskil tussen die uitwendige tekens van die besnydenis en die doop? Ons sien dit in die lig van die belangrikste verskil tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament. In die Ou Testament het al die dinge wat na Christus heengewys het met bloedvergieting gepaard gegaan (Heb. 9:22), maar nadat die bloed van Christus een maal vergiet is, is daar nie meer bloedvergieting nie, nie eers deur besnydenis nie.
Dit is die enigste verskil tussen die tekens van besnydenis en doop. Hulle betekenis en hulle werklikheid is presies dieselfde. Die Skrif self stel hulle gelyk in Kolossense 2:11, 12. Ons is miskien geneig om die punt wat Paulus maak, mis te kyk, omdat dit ʼn lang sin is wat oor twee verse strek. Hy sê om besny te wees, ís om gedoop te wees. Dit is een van die hoofpunte in Kolossense 2. Paulus praat met heidengelowiges en sê dat hulle in Christus alle dinge het (vs. 10, 11), óók besnydenis! In Christus, in wie al die volheid van die Godheid liggaamlik woon (vs. 9), ontbreek hulle niks.
Omdat besnydenis en doop dieselfde betekenis het én dieselfde is wat hulle geestelike werklikheid betref, moet hulle uitwendige tekens aan die volk van God, ook aan die kinders, bedien word (binne die een ewige verbond van God); onder die Ou Testament én die Nuwe Testament.