Die Toepassing van die Christelike Tug
Die Toepassing van die Christelike Tug
Omdat Christelike tug so ʼn ernstige saak is, is in die Woord sorgvuldige reëls daarvoor neergelê, in die besonder in Matthéüs 18. Hierdie reëls is onontbeerlik.
Eers begin die tug, soos ons gesien het, in die gewone loop van sake met ʼn persoonlike vermaning. Wanneer iemand teen ons gesondig het of aanstoot gegee het, word vereis dat ons eers na hom alleen gaan en hom na sy sonde wys en dat ons nie eers die saak voor die hele kerk bring nie.
Verskeie aspekte van hierdie onderlinge vermaning moet ons aandag geniet. Eerstens moet, wanneer privaat met sonde gehandel word, moet dit aan die sondaar self gesê word en nie aan enigiemand anders nie. Om aan almal van die sondes van ʼn ander te vertel, is in sigself die sonde van kwaadsprekery en skinderpraatjies wat ʼn dodelike kwaad in die kerk is (Spr. 26:20-26). Daarom sê Jesus in Matthéüs 18:15 “. . . gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen”.
Tweedens is dit die mens teen wie gesondig is wat die eerste verantwoordelikheid het om na die een wat gesondig het te gaan (vs. 15). In ons trots en woede wag ons al te dikwels dat die mens wat gesondig het na ons toe kom, met die gevolg dat ons nie met hom versoen nie.
Derdens moet vermaning oor sonde met nederigheid en liefde geskied. In Matthéüs 18 noem Jesus ons medegelowiges wat sondig “broeders”. In 2 Thessalonicense 3:15 word gesê dat selfs iemand wat afgesny is, steeds “as ʼn broeder” vermaan moet word. Dikwels is ons onvermoë om ons broeder te win, te wyte aan die manier waarop ons op sy sonde wys.
Eers wanneer die sondaar nie vermaan wil word en bekeer nie, word die saak onder die aandag van ander gebring, maar nie deur skinderpraatjies nie. Die sondaar moet weer genader word in die teenwoordigheid van getuies (Matt. 18:16; Num. 35:30) wat, as hulle oortuig is dat hy gesondig het, eweneens die verantwoordelikheid het om hom te vermaan (Matt. 18:17).
Die saak word eers na die gemeente, wat deur geordende ouderlinge funksioneer, gebring wanneer die sondaar in onbekeerlikheid voortgaan. Dan word hy oplaas afgesny oor die sonde waaroor hy vermaan is én oor sy weiering om te bekeer. Hierdie afsnyding behels, soos die woord ook aandui, dat hy van die nagmaal van die Here afgehou, en oplaas as lidmaat en van die gemeenskap van die gemeente uitgesluit word.
Daar behoort op gelet te word dat die Skrif van vermanings in die meervoud, en nie van ʼn enkele vermaning nie, praat. Die liefde eis dat alle geleentheid vir bekering gegee moet word. By vermaning moet die sondaar so veel as moontlik ontsien word, veral as hy hom bekeer (2 Kor. 2:5-8). So leer die Skrif dat die liefde sonde bedek, nie om dit weg te steek sodat nie daarmee gehandel word nie, maar om die sondaar, indien dit moontlik is, onnodige skande en oneer te bespaar (Jak. 5:19, 20).
Die Skrif dui ewenwel in ʼn paar gevalle aan dat sonde sonder versuim en in die openbaar bestraf moet word. So het Paulus met Petrus opgetree (Gal. 2:11-14), waarskynlik weens Petrus se prominente plek in die kerk. In 1 Timótheüs 5:20 word twee gevalle genoem: waar die mens voor almal, dit wil sê in die openbaar gesondig het; en waar die mens ʼn voorganger in die kerk is (Paulus praat hier in die besonder van ouderlinge).
Langs hierdie weg sal met sonde in die kerk gehandel word sodat die kerk nie vernietig word, en ons heilige God nie bespot nie, maar verheerlik word en sondaars gered word.