HIerdie artikel handel oor die waarde van die Ou Testament en sentrale temas van die Skrif in sy geheel.

4 bladsye. Vertaal deur Lize Kampman.

Die Ou Testament - Nutteloos of Basis?

Die waarde van die Ou Testament🔗

Waarom sal ons vandag nog die Ou Testament lees? Is die beloftes dan nie deur Christus vervul en daarom verouderd nie?

Basis🔗

In die Nuwe Testament word nooit gesê ‘maak nou maar die Ou Testament toe’ nie. In teendeel. Daar is min bladsye waarin nie na die Ou Testament terug verwys word nie.

Dit begin reeds in Matteus 1, die geslagsregister van Jesus. Daar kry jy die geskiedenis vanaf Abraham in ʼn neutedop, maar jy sal dit nie verstaan sonder om die Ou Testament oop te slaan nie! En voortdurend laat Matteus jou sien dat die optrede van Jesus ʼn vervulling is van wat in die Ou Testament beloof is. En as jy die toesprake van Petrus, Stefanus en Paulus lees, val dit op dat hierdie evangeliepredikers telkens die lyn vanuit die Ou Testament deur trek na Christus (Handelinge 3:7, 13).

Die Ou Testament is nie ʼn oorbodige las wat die Bybel onnodig dik maak nie. Dit is die basis, die fondament, waarop die Nuwe Testament voortbou. Jy kan nie ʼn fondament onder ʼn bouwerk uithaal sonder ernstige gevolge nie!

Levitikus en Hebreërs🔗

Die Nuwe Testament kan nie reg verstaan word sonder die Oue nie. ʼn Mooi voorbeeld hiervan is die brief aan die Hebreërs.

ʼn Groot deel gaan oor die betekenis van Jesus se hoëpriesterskap. Dit kan nie begryp word sonder kennis van die diens in die tabernakel en later in die tempel nie. Hebreërs toon ooreenkomste en verskille tussen die optrede en offer van Jesus en dié van die priesters in die Ou Testament. Hebreërs is baie bemoedigend en troosvol, maar jy kan dit net begryp as jy die Ou Testament ken.

Ook andersom: Jy leer die betekenis van die Ou Testament (byvoorbeeld die offer-wette in Levitikus) begryp vanuit Hebreërs, en só kry jy meer insig in die werk van Christus. So word ‘moeilike’ Bybelboeke soos Levitikus ook bemoedigend en troosvol !

Evangelie🔗

Die groot nuus oor die redding van sondige mense deur Jesus begin nie in die Nuwe Testament nie. Dié waarheid word vir ons treffend verwoord in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 6. Op die vraag hoe jy weet dat Jesus ons verlosser is, lui die antwoord:

Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het. Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld. Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul.

Die evangelie is dus al in die paradys bekend gemaak. Na die eerste sonde van Adam en Eva het God die oorwinning in die stryd teen die duiwel beloof. Uit wat ons verder in die Bybel lees, weet ons dat die oorwinning deur Christus behaal is. Ons noem dié belofte (in Genesis 3:15) die moederbelofte, omdat dit alle ander beloftes in die Ou Testament reeds bevat.

God het die evangelie nie op een slag vertel nie, maar telkens is daar weer ʼn stukkie verder vertel deur die aartsvaders (Abraham, Isak en Jakob) en die profete.

En God het nie net vertel nie, maar dit ook geïllustreer, byvoorbeeld deur offers. Die hele Ou Testament was ʼn afbeelding, ʼn skadu, van die heil wat sou kom. Dit is wat die Kategismus in Sondag 6 verwoord.

Toespitsing🔗

Die Ou Testament bevat die geskiedenis van God met die mens op weg na die toekoms van die Verlosser. Tog gaan dit grotendeels oor één volk, Israel. Ons sien hier ʼn toespitsing van die aandag in die verloop van die verlossingsgeskiedenis.

Dis soos ʼn sandloper: Tot in Genesis 12 word oor die hele mensheid vertel. Vanaf Genesis 12 lees ons dat Abraham en sy nakomelinge deur God gekies word: uit hulle sal Christus gebore word. Terselfdertyd beloof Hy seën aan alle volke. Hy sê vir Abraham: “in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Genesis 12:3). En in Galasiërs 3 skryf Paulus dat die belofte in Jesus vervul is (vs. 8 en 14).

Hierdie konsentrasie of toespitsing in die geskiedenis gaan verder. Binne die volk Israel word die stam van Juda uitgekies: die Verlosser sal uit hulle voortkom. Binne die stam van Juda val die keuse later op koning Dawid. God beloof aan Dawid ʼn altyddurende koningskap, ʼn belofte wat vervul is met Jesus wat op die hemelse troon, aan die regterhand van die Vader sit.

In die Nuwe Testament val die soeklig uitsluitlik op Jesus, sy boodskap en sy verlossingswerk. Dan weer word die aandag wyer: met Pinkster kom alle volke weer in die beeld; die Heilige Gees laat die laat die evangelie in baie tale verkondig.

Die geskenk van die Heilige Gees beteken die vervulling van die belofte aan Abraham.

ʼn Eie plek🔗

In die werk van God beklee Israel ʼn eie plek. By Sinaï het Hy ʼn verbond met die volk gesluit. Die land Kanaän word aan Israel toegesê. Vir die lewe in daardie land het God beloftes en voorskrifte gegee (in Exodus tot en met Deuteronomium). Dit weerklink elke Sondagoggend onder die diens wanneer die tien gebooie voorgelees word: “Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.”

Ons sien dus in die Bybel nie net ʼn toespitsing van aandag op mense nie; daarmee saam is daar ook ʼn toespitsing van die aandag vanaf die wêreld na die beloofde land, Kanaän. In Kanaän lê die swaartepunt by Sion. In die tempel op Sion woon God onder sy volk. Daar word ook die offers, wat heenwys na die offer van Christus aan die kruis, gebring.

PICTURE

Ná die kruisiging verval die sentrale plek van die tempel (lees Johannes 4:21), en by die Pinksterfees kom die hele wêreld weer in sig: die apostels en evangeliste word na alle oorde uitgestuur.

Uiteindelik loop die geskiedenis uit op die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde. En in die nuwe Jerusalem wat neerdaal, sal daar geen tempel wees nie, “want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam” (Openbaring 21:22).

Uit die skadu🔗

In Kolossense 2:17 lees ons oor die voorskrifte van die wet van Moses dat dit “ ʼn skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” Wat is hierdie skaduwees?

Die offers was as ’t ware die skaduwee van die offer van Jesus, wat sou kom. As jy op ʼn sonnige dag ʼn skaduwee sien val, dan weet jy dat iemand aankom, jy sien al die vorm. So het die offers en ander gebruike heengewys na Jesus. Hý is die werklikheid; Hy bring die volmaakte offer (lees ook Hebreërs 8 en 9).

Soos die werklikheid die skaduwee oortref, só oortref die nuwe verbond die ou verbond wat op Sinaï gesluit is (lees as voorbeeld 2 Korintiërs 3). Totdat Christus gekom het, het Israel onder die toesig van die wet gestaan, maar noudat Christus die wet vervul het, is ons kinders van God wat vry is (Galasiërs 3:24-25).

Vervulling🔗

Beteken dit dat die Ou Testament afgeskaf is? Nee, Jesus het dit in die bergrede duidelik gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie” (Matteus 5:17-18). Elke jota of tittel. Ons sou sê nie ʼn kolletjie op ʼn i gaan verlore nie. Jesus skuif nie die Ou Testament eenkant nie, maar waarborg dat elke letter in vervulling gaan.

Wet🔗

Wat beteken dit vir ons? Watter betekenis het die voorskrifte van Levitikus byvoorbeeld nog? Die Nederlandse Geloofsbelydenis omskryf dit mooi in artikel 25:

Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

Ons hoef die wette dus nie meer te hou nie. Dit word in die Nuwe Testament ook duidelik aangegee. Die offers is in Christus se eenmalige offer vir die vergewing van sondes vervul (Hebreërs 10:12); en “waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie” (vs. 18). Die Here het ook aan Paulus duidelik gemaak dat die skeiding tussen wat rein is om te eet en dit wat onrein is, opgehef is: God het dit rein verklaar (Handelinge 10:15).

Ook die plek van die gemeente in die nuwe verbond is anders as dié in die ou verbond: Israel was ʼn afgesonderde (heilige) volk in ʼn aparte land. Die HERE wou hulle afgesonderd van ander volke laat lewe; daarom moes die Kananiete verdryf of gedood word; Israel moes ʼn aparte manier van lewe hê. ʼn Heilige manier: gewy aan die HERE (Deuteronomium 7).

As Israel die HERE sou dien, sou die beloofde land soos die paradys lyk. Geen oorlog of onderdrukking nie, geen onvrugbaarheid en misgeboortes nie, geen honger of gebrek nie.

Dié beloftes het ons nie. Ook gelowiges ly daaronder dat die skepping “aan die nietigheid onderworpe” is (Romeine 8:20). Ons is wel die heilige volk van God, maar ons woon nie afgesonderd van ander mense nie. Ons het juis ʼn taak te midde van die wêreld: om die groot dade van God te verkondig; om die sout te wees in die samelewing.

Die wet is wel vir ons leersaam. Ons leer van die heiligheid van God wat ʼn heilige volk vereis en ons leer dat ons God en ons naaste moet liefhê.

Profeties🔗

En dan die profetiese boeke. Dit is heel wat om Jesaja of Jeremia of Esegiël deur te lees. Wat beteken die profesieë? Is hulle nou vervul, of moet hulle nog vervul word? Hoe dan?

Allereers moet ons besef dat die profete in Israel nie toekomsvoorspellers was nie. ʼn Profeet het die woord van God in sy tyd gespreek. Hy het die lewenswyse van die volk beoordeel. Daarop pas hy dan die wet van God toe. Hy het die volk ook opgeroep om na die wil van God te lewe. Hy waarsku vir die oordeel van God as die volk sou voortgaan om te sondig.

Inderdaad gaan die profesieë óók oor die toekoms. Die toekoms is nie ʼn onvermydelike lot nie, maar ʼn waarskuwing: bekeer julle anders kom die oordeel van God oor julle. En ʼn bemoediging: God sal julle troos en red.

Soms gaan die profesieë oor die ballingskap, of die terugkeer na Jerusalem. Dié profesieë is in die tyd vervul. Ander profesieë gaan oor die redder, Jesus. Daardie profesieë is vervul tydens sy lewe en werk op aarde.

Dan is daar ook profesieë wat nog op vervulling wag, byvoorbeeld oor die oordeel van God op die dag van Jesus se wederkoms. Soms is profesieë met mekaar verweef: die koms van die redder, Jesus en sy tweede koms lê as’t ware op een lyn en word in een asem genoem, soos in Maleagi 3:1-2.

Nie alle profesieë is volledig vervul nie. Ons wag nog vol spanning op die vervulling van die belofte van die nuwe hemel en die nuwe aarde (Jesaja 66:17).

Liefde🔗

Ten slotte. Die Bybel maak nie saaklike mededelings wat (deels) verouderd en oorbodig is nie. Die Bybel is al die ‘liefdesbrief van God’ genoem. Die liefde van God heers in die Bybel. Mens wil tog graag daaroor lees; jy kry nie genoeg daarvan nie. In liefde word ʼn ‘saaklike’ mededeling ʼn feestelike mededeling – die moeite werd om te lees, en wéér te lees!