Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Matteus 18:1-20 - Soek die Honderdste Skaap

As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal nie die nege-en-negentig laat staan en ... die verdwaalde een gaan soek nie.. So is dit nie die wil van julle Vader wat in die Hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.

Matt 18:1-20

verlore skaap🔗

Christus se kudde🔗

Die kerk is die kudde van die Goeie Herder, ons Here Jesus Christus.

Met hierdie kudde moet ouderlinge en lidmate omgaan soos Christus dit aan ons opdra. As daar een is wat besig is om weg te dryf, net één, al is dit die kleinste en die mees onaansienlike een, hoe staan ons teenoor hom? Die antwoord van die Here Jesus kom in geen onduidelike taal tot ons nie: Die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is en Hy stuur u en my om in opdrag van Hom ook die een wat besig is om verlore te raak, te soek en by die kudde terug te bring.

Eiebelang in die kerk🔗

Wat was die aanleiding dat Christus hom oor ’n kleintjie wat verlore kan gaan, ’n skaap wat uit die kudde wegraak, so bewoë en begaan tot sy dissipels gerig het?

Dit was ’n twis. Hulle het gestry oor wie van hulle die grootste is in die Koninkryk van die Hemele, (vs 1). Dié vraag beheers mense nog vandag in die kerk.

Die kleinste die belangrikste🔗

Wat doen die Here as hulle met dié vraag by Hom kom? Hy roep ’n seuntjie, ’n kleintjie na Hom. Verleë, ja, verlore moes die kleine kind tussen al die grootmense gestaan het. En dan sê die Here vir die manne wat so meeding om die belangrikste plek in sy koninkryk: “Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit eers in die koninkryk kom nie, wat nog te sê 'n voorste plek hê.”

Soos ’n kindjie, so afhanklik, so hulpeloos, so onmagtig om self iets vir sy redding te doen – vir sulkes het Jesus gekom. Hy het kom red dié wat verlore is, wat miskien nie eers bewus is van hulle ver­lorenheid nie.

Ons is almal sondaars en almal dus verlore, maar dink aan die kleinste en die swakste, die verstandelik vertraagde, die seniele, ja, en ook die mens wat so in die noute geraak het met homself dat hy nie meer weet hoe om daar uit te kom nie.

struikelblok🔗

Nie ’n struikelblok wees🔗

En nou waarsku Christus ons om geen enkele struikelblok in die weg van die redding van sulke kleintjies te lê nie (vs 5-9). Wie so ’n kleintjie verag, moet liefs met ’n meulsteen om sy nek in die diepte van die see verdwyn. Hoor sy erns: “Pasop dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie”. Vir sy Vader is hulle uiters kosbaar: Hy wil nie sien dat een van hulle verlore gaan nie.

Die Vader se opdrag aan ons🔗

So volg die gelykenis van die honderdste skaap, die verdwaalde een. Daardie een moet gevind word. En oor hom is die herder blyer as oor die 99 wat nie ver dwaal het nie. Is ons dalk so bly oor die groot gros meelewendes dat ons ons nie moeg maak oor die wat nie meer meedoen nie. Christus se opdrag van sy Vader is om te red wat verlore is.

Daarom gaan Hy agter daardie verlore een aan asof dit die enigste is wat Hy het! Ook vir daardie een, die geringste, het Hy sy bloed gegee. Sy kerk se opdrag is om dit ook te doen. Ons taak is om probleemlidmate te behou en nie so gou as moontlik van hulle ontslae te raak nie. Daaraan moet ons alles inspan. Daarvoor moet ons vurig bid.

Hoe ons te werk moet gaan🔗

En in hierdie verband laat Christus ons dan sien hoe ons te werk moet gaan om ’n afdwalende broeder te behou:

En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen... (vs 15)

Jou “broeder”, d.w.s. elke gemeentelid, want elkeen van hulle dra die teken (die doop) dat Christus vir hulle betaal het en hulle sy eiendom is.

As so een “sondig”, staan daar, om te sondig beteken om jou doel te mis.

Vir sy kerk het Christus ’n duur prys betaal. Deur sy redding herstel Hy ons lewe. Hy rig dit weer op die doel waarvoor God ons geskep het: om Hom te verheerlik. Maar wie sondig, mis dié doel. Hy verspeel sy redding. En as hy daarin volhard, is hy besig om verlore te gaan – vir ewig!

Onder vier oë🔗

En nou stuur Christus jou, wat sien hoe so ’n broeder verlore gaan, na hom en Hy sê: “Bestraf hom tussen jou en hom alleen”.

Bestraf beteken nie om so iemand “kaalkop die waarheid te vertel” op die manier wat ons goedvind, of om hom te kapittel nie. Bestraf kan jy ook nie van jou troontjie af met jou meerderwaardige houding nie.

Daar staan ’n woord vir “bestraf” wat beteken dat jy sy sonde vir hom aan die lig moet bring. M.a.w. uit wat jy sê en uit die manier waarop jy dit sê moet hy leer sien dat hy Christus se reddende genade verspeel.

En in jou optrede moet hy voel: hierdie man het my regtig lief. Hy wil nie sien dat ek verlore gaan nie. Hy moet agterkom dat jy besef dat jyself ’n sondaar is en nie beter nie. Maar jy kom langs hom op die sondaarsbankie sit om hom te help dat julle saam van God se genade leef.

As jou broeder na jou luister, dan het jy hom vir Christus gewin. Dan is daar niks meer nodig as groot blydskap nie. Dit is nie nodig om dit vir iemand anders te vertel nie. Dit is nie nodig om die kerkraad daarvan in kennis te stel nie. Sulke liefdevolle bewoënheid oor mekaar - ons noem dit die onderlinge tug in die kerk – dit gebeur in stilte, sonder ophef – red ’n mens van die verderf.

’n Worsteling🔗

As die sondaar na herhaalde pogings nie luister nie, moet ons nog een of twee met ons saamneem, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. Die getuies gaan saam om eerstens te sien of die sondaar werklik gesondig het. Verder stel hulle vas of my vermanings in die liefde van Christus plaasvind.

Bybel

As hulle oortuig is dat daar volhard word in sonde en ek werklik in liefde vir sy behoud worstel, spring hulle ook in, dat ons saam die verlorene mag red. Geluk dit nie, gaan ons na die gemeente: Ons maak dit aan die kerkraad bekend. Daarmee stel ons nie ten toon watter groot sondaar ons hier het nie, maar ons is bedroef dat hier ’n mens is wat verlore gaan. En so word dit na talle herhaalde besoeke en vermanings van my en die getuies en nou ook die kerkraad, ’n saak vir die hele gemeente. As dit aan hulle bekend gestel word, is dit sodat hulle vir sy behoud sal bid, dat hulle hom sal besoek. Dit word ’n gemeentelike stryd vir sy behoud.

Moeilik vir ’n sondaar om teen soveel liefde in nog te volhard!

Blyk alles egter tevergeefs, dan moet die sondaar vir ons wees soos die heiden en die tollenaar, sê Christus. Die Jode het heidene “honde” genoem, en nie met tollenare gemeng nie. Christus leer ons nie om die Jode se houding te hê nie, maar die liefde van die Vader vir verlorenes.

En wie het die evangelie nou meer nodig as die heiden en tollenaar?

Die volhardende sondaar sluit ons uit die gemeente uit, sodat hy Christus en sy liefde begin mis, sodat hy arm voel daarsonder en dit nie kan hou nie. Ons doen dit nie om hom soos pes te vermy nie.

Sulke liefdestug is nie net deur ons nie, maar van God self gedoen.

Waar twee of drie so vergader en saamstem en bid vir die behoud van ’n kleintjie, hulle vergader “tot Christus se Naam”, (vs 19, 20). En hulle het van die Here die belofte van verhoring: dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Die krag van sy liefde staan dan agter ons. Wie sulke liefde verwerp, het Christus en sy Vader self verwerp, maar ons was nie dié kleintjie se struikelblok nie.