Bron: De Reformatie. 4 bladsye.

Wie Ore het...

ore

Luister is ’n belangrike saak in die kerk. ’n Kerkmens hoor heelwat preke in sy lewe. Minstens honderd per jaar. Jy vra jou wel soms af hoeveel opbrings dit lewer. Ja seker, ’n dominee stel soms die vraag. Maar ook as kerkganger is jy daarmee besig. Want jy merk dat dit soms lastig is om die preek aktief te verwerk. Soms gaan dit ook by die een oor in en by die ander oor uit. In hierdie artikel maak ek ’n paar opmerkings by luister na die preek.

Luisterprobleme🔗

Luister is nie maklik nie. Dit geld eintlik vir elke mens. Ek bedoel dit nou nie in die eerste plek as karaktertrek nie. Natuurlik is die een mens meer ’n prater en die ander ’n luisteraar. Maar die luister waar dit in die kerk om gaan, is veel dieper. Gehoor gee aan ’n ander is nie direk deel van ons nie. On-ge-hoor-saamheid is ’n karaktertrek wat jy vanaf jou geboorte by jou het. Maar dit word nog versterk deur ons samelewing. Ons het in hierdie wêreld taamlik selfgesentreerde mense geword. Ons het geleer om ’n eie mening te hê. En dit veral nie weg te steek nie.

Teen dié agtergrond ontstaan daar maklik luisterprobleme. Ons wêreld is vol daarvan. Dit is nie verniet dat daar in ons tyd soveel aandag aan kommunikasie bestee word nie. Dit het ook te make met ’n groot onmag om op te staan vir ’n ander. In dié lig is dit nie vreemd, dat daar ook probleme by die luister na die preek in die kerk ontstaan nie. Ek dui ’n paar van die probleme aan.

Ou nuus🔗

Daar kan al sleur wees in die gewoonte van ons kerkgang. Ons groei byna almal in ’n Christelike gesin op. Ons is van jongsaf bekend met die evangelie. Daar sit iets moois in. Die vanselfsprekende kennis wat jy van God het, gee houvas. Jy kan die Bybel eintlik nie meer uit jou lewe wegdink nie.

Maar tegelykertyd kan daar ’n versoeking in lê. As iets ’n vanselfsprekendheid geword het, kan dit ook sy glans verloor. Jy kan aan sommige dinge so gewoond raak dat jy dit nie meer duidelik sien nie. Dan gaan die verwondering weg. Kerkgang kan dan iets kry van ’n ou bekende paadjie loop. Daar is dan soms nie meer soveel verwagting by 'n kerkganger nie. Dit is dodelik vir jou luisterhouding. Die preek kan dan maklik “ou nuus” word.

Mense wat met dié probleem sit, kan baie teleurgesteld uit die kerk kom. “Dit is alles heeltemal waar, maar ons weet dit al”. So skuif jy die preek maklik eenkant. Jy voel jou nie eintlik geroepe om daarmee besig te wees nie.

Vervreemding🔗

Ons moeite om te luister, word nog van ’n ander kant versterk. Dit het baie te make met die manier waarop jy die lewe benader. Dit is ’n feit dat baie kerkmense soms ’n afstand van die evangelie voel groei. En die afstand groei dikwels vanuit die alledaagse lewe. Daar is so min wat in die gewone lewe in hierdie wêreld herinner aan God. En as jy met twee bene midde in die wêreld staan, tree daar soms vervreemding in. In ons kerke is dit besig om ’n groot probleem te word. Voor jy dit besef, gaan jy in twee wêrelde leef. Die alledaagse lewe en die lewe van jou geloof. Die wêreld van die week en die wêreld van Sondag.

voete

As jy met die vervreemding na die kerk gaan, kan dit jou behoorlik blokkeer in jou luister. Want jy luister eintlik om so te sê met ’n deur-die-week se hart. Jy luister vanuit jou daaglikse ervaring. En jy probeer ontdek wat dit met God te make het. Maar dit stel jou nie tevrede nie. Die afstand wat daar groei, val nie meteens weg nie.

Die probleem word nog erger deur die taal wat dikwels in die kerk gebruik word. Ons ken almal die bekende woorde soos sonde, geregtigheid, verbond, goedertierenheid ens. Maar die woorde kan so uitslyt, dat jy jou nouliks dit meer kan voorstel. Dit is ook woorde wat nie by ons daaglikse taalgebruik pas nie. As die taal van die preek ook tipiese kerktaal word, kan jy jou des te vreemder voel.

’n Gebruiksluisteraar🔗

Dit is duidelik dat die hindernisse vermeerder. Langsamerhand verander jy as kerkganger. En die dominees merk dit. Baie kerkgangers begin ’n ander houding teenoor die preek aanneem. Hulle is teenswoordig dikwels veral geïnteresseerd in die vraag: gaan die preek ook oor my? Dit is wat hulle graag wil hoor. Dat daar duidelik gemaak word wat die evangelie met hulle daaglikse lewe te make het. As dit nie gebeur nie gaan baie kerkgangers maklik weg.

Ek noem só ’n houding dié van ’n gebruiksluisteraar. Daarmee bedoel ek, dat jy net gerig is op wat vir jou belangrik lyk.

As ’n bewuste gebruiker kom jy na die kerk. En jy luister slegs na wat jou geval. Dit gebruik jy en die res laat jy lê. Daarmee begin jy selekteer uit die preek. En die vraag is op grond waarvan maak jy ’n seleksie.

Omgang🔗

Ek dink om ’n gebruiksluisteraar te wees is nie goed nie. Tog is daar myns insiens ’n positiewe element in. Daar spreek uit só ’n houding ten minste ’n sekere honger. Ek dink ook dat daar vandag ’n honger is na preke wat die mense raak. Daaroor kan ons bly wees. Daarin is ’n bereidheid om te luister.

Dit is egter ’n beperkte vorm van luister. Ek sou dit nou noem: luister vanuit jouself. Jy word self die maatstaf waarmee jy die preek beoordeel. En ongetwyfeld is daar dan heelwat wat nie op jou van toepassing is nie. Maar jy moet dan nie verwonderd wees as jy min oorhou nie. Goed beskou is dit ook heeltemal nie ’n luisterhouding nie. In ’n ware luisterhouding stel jy jou oop vir ’n ander. Jy is ontvanklik vir wat die ander van homself gee. So gaan dit tog in ’n verhouding. As jou hart na ’n ander uitgaan, staan jou oor ook vir ’n ander oop. Natuurlik wil jy ook dinge hoor wat op jou betrekking het. Maar jy is tog betrokke by alles wat die ander sê! Juis omdat jy by die ander hoort. Jy luister met oorgawe na die ander.

’n Luisterhouding is dus ’n kwessie van omgang. Myns insiens lê die eintlike probleem daar. As ons die ware luister afleer, kom dit omdat ons vervreemd is van die omgang met God. Ek gaan nou nie dieper daarop in nie. Maar dit is natuurlik die eintlike pastorale probleem. Daar is ’n wydverbreide onmag wat baie mense ervaar met Bybellees en bid.

hande op ore🔗

Luisterhulp🔗

Daar is baie tekens te bespeur dat hierdie soort luisterprobleme sterk na vore kom in die kerk. Die vraag is dan: hoe maak mens daarmee? Die dominees kry hier baie vrae om te verwerk. Hulle is ook ’n goeie adres daarvoor. En die vraag is dikwels: “Dominee, ek wil hê die preek moet vir my wees”. En die dominee is verstandig as hy so ’n vraag nie negeer nie. Maar dit is nie genoeg nie. As jy as hoorder nie self aktief word nie, bly die preke buite jou lewe staan. Dit is nodig om aktief met die preek besig te wees. Oor die algemeen is die mense heeltemal bereid daartoe. Jy wil graag as luisteraar die preek uit die kerk met jou saamneem. Maar dit is lastiger as wat jy dink omdat ’n mens so gou weer terugkeer na jou eie wêreld. En so bly die preek ’n eiland. Daar is meer hulp voor nodig. Hulp waarmee jy op ’n eenvoudige manier self die preek beter kan verwerk. Ek is daarom bly dat daar onlangs so ’n hulpmiddel aangebied is in ons kerke.

U kry die luisterwyser hierby afgedruk.

Luisterwyser by die preek🔗

  1. Wat was vir jou die boodskap van die preek?
  2. Hoe het hierdie preek jou vertroue op God versterk?
  3. Verander hierdie preek jou kyk op jouself, jou naaste of jou omgewing?
  4. Watter deel van hierdie preek spreek jou besonder aan? Waardeur het dit gekom?
  5. Wat van hierdie preek sal jy in jou gebed noem?
  6. Wat het in jou (luister)houding daartoe bygedra dat die preek jou getref het?

’n Middel om te gebruik🔗

Wat mens direk opval van die luisterwyser is die eenvoud. Dit is so eenvoudig dat sommige mense vir my gesê het hulle kan self daaraan gedink het. (Maar hulle het nie self daaraan gedink nie. Ten spyte daarvan dat hulle die luisterprobleem geken het). Omdat dit eenvoudig is, is dit myns insiens juis baie bruikbaar. Elke kerkmens moet aan die hand daarvan die preek benader. En hierdie duidelike vrae sal daarby ’n hulp wees.

Met hierdie vrae kan jy nie maar die preek afmaak nie. En jy word gedwing om op jou eie luisterhouding te let. As jy ernstig met hierdie vrae besig is, merk jy dat jy nie sommer in die kerk kan gaan sit nie. Biddend luister is ’n voorwaarde om eerlik die antwoord op die vrae te soek. Wat dit betref, moet ons dankbaar wees oor die inisiatief van die GVI.

Natuurlik is dit belangrik om só ’n luisterwyser voor in die kerkboek te plaas. Dit lyk na ’n goeie idee. Maar ek dink nie, dat ons die vrae ook outomaties by elke preek moet toepas nie. Elke Sondag twee-keer is ’n hoë eis. Juis daarom laat jy dit weer staan omdat jy dit nie kan bybring nie. Die belangrikste is om so af en toe daarmee te begin. En dan veral by ’n preek waaroor jy negatief was. Die vrae kan jou help om tog vrugbaar besig te wees met wat jy gehoor het. Elkeen moet vir homself bepaal hoe dikwels hy die luisterwyser sal gebruik. En uiteindelik kan dit wees dat die vrae oorbodig word. Jy kweek naamlik ’n houding aan. En dit is die doel waartoe dit moet dien.

Jy kan die luisterwyser ook baie goed in ’n groep gebruik. In die gesin terwyl jy koffie drink. Maar ook by die vereniging. Die dominee sou dit ook reëlmatig met die katkisante kan bespreek. So kan daar rondom die prediking ’n pragtige wisselwerking tot stand kom.

Luister en (s)preek🔗

Ek is dus baie entoesiasties oor hierdie luisterwyser. Tog dink ek nie dat alle probleme dadelik daarmee opgelos is nie. Ten diepste kom hierdie probleem neer op die geestelike stryd wat tot die jongste dag sal duur. Maar daarby kom, dat dit ’n probleem is wat oral nog ’n ander kant het. Ek vind die laaste gedagte baie duidelik onder woorde gebring deur die NB. Iemand het ’n brief geskryf i.v.m. inleiding van die luisterwyser. Sy brief het ongeveer hierop neergekom: “Ek sal wel ’n luisterwyser in my Bybel plak, maar dan moet die dominee ’n spreekwyser in sy Bybel plak”.

bid en Bybel

Ek stem saam. Want die dominee kan nie maar net sê: “Maak jou ore oop en daarmee klaar nie”. ’n Prediker moet ook ’n boodskap hê om sy hoorders mee te bereik. Dit is sy verpligting. Jy moet as dominee jou gemeente wil raak waar hul sit met hulle gedagtes en behoeftes. As jy dit nie wil doen nie kan jy maar opkom. Buitendien kan ’n dominee deur sy manier van preek ook afstand kweek. As die preek bokant die mense se begrip gaan, word die afstand tussen kansel en gemeente groter. Daar lê dus ’n verantwoordelikheid aan twee kante. En dit is logies. Kommunikasie is ’n kwessie van luister en praat. Dit geld ook vir die preek. Wie ore het moet leer om biddend te luister en ordentlik te wees: Die Gees spreek jou aan. Wie preek, moet biddend alles gee om die gemeente ook werklik te bereik: Die Gees gebruik jou diens. Aan die hoorder sê ons: Moenie uit jouself luister nie, maar na die Ander. Aan die prediker mag ons sê: Moenie terwille van jouself preek nie, maar vir die gemeente.

Daar mag dus naas ’n luisterwyser ook aandag wees vir ’n (s)preekwyser. Maar dan is dit ook goed om te vermeld dat daar hard aan gewerk moet word. Ek weet dat baie dominees ernstig besig is met die vraag, hoe hulle met hul preke die gemeente die beste kan bereik. Die dominees het in Nederland in die lente reeds ’n driedaagse kongres daaraan gewy. En ook by hul opleiding word daar baie aandag aan bestee.

Die gesprek rondom die preek🔗

Daar lê dus ’n wedersydse verantwoordelikheid by predikant en gemeente. Dit kom daarop aan, dat ons vir die verantwoordelikheid so goed as moontlik toegerus moet wees. Myns insiens is die luisterwyser ’n belangrike hulpmiddel daartoe. Maar laat ons nie dink, dat ons dan alles bereik het nie. Dan begin dit eers. Dan kan die gesprek oor die preek begin. Dit staan vir my vas, dat ons daaraan moet werk. Dat daar ’n konstante kontak rondom die preek tussen die dominee en die gemeente moet wees. Vervreemding oor die preek is op die oomblik duidelik te merk. Dit wys ook daarop dat die dominee dikwels te veel alleen besig is, sonder dat die gemeente daarby betrek word. Die enigste manier om daarteen te stry is om intensief oor en weer kontak te hê. Sodat die gemeente weet dat hulle betrokke is by die prediking. Sodat die dominee die gemeente betrek in hierdie belangrike werk. Wie ore het, moet wil leer om te luister. Maar ook wie preek, moet daarmee erns maak.