Bron: Kerk en Woord, 2005. 4 bladsye.

Filippense 3:12 - Verbly Julle in die Here Die Jag na die Volmaaktheid in Christus

Verbly julle in die Here. Dit is die hoofsaak van al Paulus se prediking. Verbly jou in die Here. Dit is die kern van wat Christene moet glo. Wat hy sê is: Laat die Here Jesus, Hy wat julle vry gemaak het van die vloek van die sonde en die dood, Hy wat opge­staan het uit die graf en leef by sy Vader, laat Hy die persoon wees wat julle die grootste blydskap gee. In Hom het julle alles, alles wat jy nodig het vir lewe en vir sterwe ­die Here wat opgestaan het, wat lewe en Koning is aan God se regterhand. Daar is mos niks wat jou groter vastigheid gee as Hy, en wat Hy vir ons verwerf het nie.

Paulus skryf aan gemeentes wat jonk was in die geloof. Hulle het die vastig­heid so nodig gehad, want na Paulus het daar dwaalleraars gekom wat die gemeen­tes ander dinge geleer het. Hulle wou die gemeentes met ander dinge bly maak: in die besnydenis, as jy vas en in die wetsonderhouding moet jou blydskap wees.

In vers 2 waarsku Paulus die Filippense teen hierdie mense. Hy sê dit is gevaarlike mense. Daarby gebruik hy skerp taal. Hy sê: pasop vir die honde, pasop vir die slegte arbeiders, pasop vir die versnyding.

Paulus praat van die Judaïste. Hy noem hulle honde, want so het hy hulle leer ken, van gemeente tot gemeente het hulle hom gevolg. Soos honde wat al keffend, agter 'n haas aanjaag. Met verbete vasberaden­heid wou hulle Paulus se werk ongedaan maak, en het geen steen onaangeroerd gelaat nie.

Paulus sê, hulle is slegte arbeiders, want wat het hulle die gemeentes wys gemaak? Dat dit nie genoeg is om in Christus te glo nie. Daar moet iets bykom, het hierdie Judaïste gesê: besnyding, vas, onderhou van sekere dae. Ja, eintlik moet iemand wat in Christus glo, ook nog die hele wet onderhou. Anders kan jy nie vir God aan­neemlik wees nie.

So het hulle Paulus gesaboteer. So ver hulle getrek het, kon jy hulle spoor duide­lik volg. Oral waar hulle gegaan het, was die gemeentes verdeeld – hulle is verward en onseker agtergelaat. Daar is getwis en gestry. Die groot vraag: Wat is eintlik die pad waarlangs 'n mens gered word? Daarom noem Paulus die resultaat van hul werk: versnyding. Hulle het tweespalt in die gemeentes veroorsaak. Hulle het die liggaam van Christus in twee gedeel.

Tweedrag🔗

Dit kan maklik in 'n gemeente gebeur dat mense kom met allerhande godsdiens­voorskrifte wat die hoofsaak, naamlik die bevryding deur Christus, op die agter­grond skuif. Dan gebeur dit dikwels deur sulke mense met 'n onverwoesbare ywer, maar intussen skeur hulle die gemeente in twee. Paulus sê wie so maak, is nie beheers deur die Gees van Christus nie. Wie so maak, vertrou nie op wat Christus gedoen het nie. Daardie mense verwag hulle heil van die vlees. Dan bedoel hy met vlees, die godsdienstige mens wat by God aankom met wat hy presteer.

Laat ons gewaarsku wees: deur alle eeue was dit nog altyd wat mense betower het. Dit was ook die verleidelikheid van die Judaïste se leer: jou wetsonderhouding; dit wat jy doen om God te behaag. Daarvan wou Paulus die Filippense losruk: laat julle nie deur hulle betower nie, sê hy – want nie hulle is die besnydenis nie. Ons is die besnydenis, sê Paulus, ons wat God in die Gees dien en wat in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie.

Ek self, sê Paulus, het ook eers op die vlees vertrou, en dan bedoel Paulus nie daarmee dat hy 'n baie uitspattige lewe gelei het nie. Dis baie keer hoe 'n mens vlees en vleeslike verstaan. Hy verwys na sy godsdienstige prestasies toe hy nog 'n Fariseër was; hoe hy daardeur die saligheid wou bekom. As daar iemand was wat nou­geset die wet onderhou het, dan was dit Saulus van Tarsus. Dit was van sy prilste jeug af so.

Hy begin by die besnydenis. Wat besny­denis betref – ek is op die agste dag besny, presies soos die wet voorskryf. Hy was 'n opregte Jood, beide sy pa en ma was Isra­eliete, ras-eg, 'n Hebreër uit die Hebreërs. Een uit die volk wat God uitverkies het. Boonop behoort hy tot die suiwerste, godsdienstige party van die Jode, die Fariseërs. Nie maar 'n agterbanker onder die Fariseërs nie; hy het die wet, die Tora, die Ou Tes­tament, op die punte van sy vingers geken. Hy was een van die uitnemendste studente wat Jerusalem nog opgelewer het.

Toe sy studie klaar was, begin hierdie jong mannetjie dadelik werk daarvan maak om die Christengemeente uit te roei. Hulle was in sy oë die mense van die weg, 'n sekte. Hy het hulle fanaties vervolg. Alle teenstanders van die Joodse godsdiens moes uit die weg geruim word. Dit was die erns van hierdie jong student met die wet van God.

Ommekeer🔗

In die oë van die godsdienstige Jode was daar nie nog so 'n man soos Saulus van Tarsus nie, 'n opregte, 'n vroom jong man. Elkeen het van hom die hoogste ver­wagting gehad, want sy lewe was 'n offer vir ons God, 'n uitnemende voorbeeld van toewyding. Soos die ryk jong man het hy al die gebooie van God onderhou van sy jeug af. Totdat die Here Jesus aan hom verskyn het. Die woorde van die Here Jesus het hom stomgeslaan: ʺSaul, Saul, waarom vervolg jy myʺ. Toe het, meteens, alles verander. Hy het homself gesien, verblindend helder, 'n lasteraar, 'n geweldenaar, 'n vervolger, nie net van die kerk nie, maar van die Christus van die Kerk. Dit is hoe hy dit later aan Timoteus skryf.

As Saulus hom vergelyk het met sy tyd­genote, kon hy dinge noem waarin hy bo hulle almal uitgestyg het. Maar toe Christus in sy heerlikheid aan Saulus verskyn, toe sien hy homself, sy eie arm­saligheid. Alles wat vir hom wins was, alles waarop hy so trots was, het vir hom meteens waardeloos geword. Hy druk dit nog sterker uit, hy sê dit was tot sy skade. Dit is die punt waartoe elke mens moet kom, al is jy gedoop, al behoort jy aan die Gereformeerde kerk dat jy die heerlikheid van Christus, die heerlikheid van sy verlossing, die heerlikheid van al sy skatte en gawes moet sien. Dan is die grootste wat die mens tot stand kan bring, niks meer as drek nie. Dit is die woord wat Paulus gebruik, die woord vir menslike ontlasting.

In Christus verkry jy werklik alles, jy kry vergewing van jou sondes. God die Hemelse Regter, verklaar jou nie net eendag hierna regverdig nie, maar nou al. Jy kry die ewige Lewe, die heerlikheid wat Christus nou by God het. Dis wat jy alles kry, en, vergeleke by daardie heerlikhede, is dit wat jy kan presteer in jou godsdiens: skade, vuil, vodde. As jy jou daarop bly beroep en as jou saligheid daarvan afhang, dan is jy die rykdom van Christus kwyt.

Saulus het gemeen dat hy alles het wat nodig is om in God se rykdom te kom, totdat hy Christus leer ken het. Toe het hy geword soos 'n handelaar wat die kosbare pêrel gevind het. Hy het alles gaan verkoop en daardie pêrel gekoop. Hy het Christus leer ken. Daar het in sy lewe een ding oorgebly. Daarna het hy sy hele lewe gejaag: die uitnemende rykdom van Christus. Hy wou dit al dieper leer ken. Eers het hy soos 'n besetene Jesus Christus vervolg. Na sy bekering het hy soos 'n besetene Christus gevolg.

Na sy bekering teken Paulus sy lewe soos 'n atleet, atleet op die renbaan, wat hard­loop met al die krag tot sy beskikking, sy spiere soos staalkabels, sy liggaam vooroor gegooi om te wen. Want dan kry hy die prys. Hy skryf: maar een ding, ek vergeet die dinge wat agter is, soos die atleet wat nie omkyk nie. Hy jaag na wat voor is, na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Jesus Christus.

Sedert sy bekering op die Damaskuspad het 'n groot ommekeer in sy lewensuitkyk en in sy lewensdoel gekom. Sy hart was gerig op die prys wat God bestem het vir dié wat Hy deur die evangelie geroep het.

Toepassing🔗

Waarna jaag u? Waarop is jou hart gerig? Waarom draai jou lewe? Is dit 'n groot salaris, is dit 'n belangrike pos? Is dit aansien, om in die oë van mense belangrik te wees? Om in die kerk jou merk te maak? Dalk is die een en enigste ding wat vir jou belangrik is, jong man, 'n meisie! Jy jaag agter haar rok aan. Of vir jou, jong meisie, om in die oë van 'n jong man uit te staan. Waar ons ook al na jaag – as dit nie na Christus is nie – hoe verskriklik armsalig is ons lewe dan!

Paulus sê: hy jaag na die prys wat God beloof het vir die wat Hy geroep het. Dis waaroor die stryd in sy lewe gegaan het. Dan vervolg hy: nie dat ek dit al verkry het of al bereik het nie of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus gegryp is.

Baie Christene verstaan nie wat dit bete­ken om regtig in Christus te glo nie. Hulle is tevrede om gedoop te wees, tevrede om aan die kerk te behoort, tevrede dat hulle op die lidmaatregister staan. Hulle dink alles is vir hulle gedoen. Hulle kan rustig agteroor sit. Christus sal sorg dat jy in die hemel kom.

Wat Paulus in vers 12 sê is net die omge­keerde. Hy sê van die oomblik dat Chris­tus hom gegryp het, het die stryd begin. Hy het gedink hy stry toe hy agter die Christene aangejaag het op die pad na Damaskus. Maar toe Christus op hom beslag gelê het, het die stryd begin. Daarna het hy voortdurend gereik na die prys waartoe Christus hom roep. Ons moet dit ook onthou. Ons bereik nooit in hier­die lewe die punt waar ons kan sê: Ek is verby die wenpaal; ek het dit verkry, ek is volmaak.

Daar is soms in die Gereformeerde kerke 'n gearriveerdheid. Gearriveerd beteken jy het by die wenpaal aangekom. Nee, op die pad na Damaskus het Christus Paulus gegryp; toe het hy Hom begin ken. Maar die volle rykdom van die krag van die Here moes hy nog leer ken. Dáárna het Paulus die res van sy lewe gejaag.

Dit is waaruit 'n Christen se lewe moet bestaan: kry kennis van Christus. Kennis van God is nie bloot om dit wat jy van Hom geleer het, te weet nie. Dit sou suiwer verstandelike kennis wees. Die woord 'ken', verwys in die Bybel altyd na 'n verhouding. Dit is baie meer as om op die hoogte te wees van die feite rondom Christus.

Om Christus te ken, moet ons die Bybel bestudeer. Dit is waar ons leer wie Hy is en wat Hy gedoen het. Daar openbaar Hy Homself aan ons. Hoekom? Sodat ons Hom sal liefhê. So lief dat ons in al ons verhoudings, in al ons doen en late nooit iets sal aanpak sonder Hom nie. Dat ons, om 'n tipiese Bybelse uitdrukking te gebruik, altyd met Hom sal wandel; dit wil sê, jou lewe met Hom sal deel. Dat Hy dit beheers. Daarom sal ons altyd in alle sake – nie net die op die kerkraad nie, nie net op die sinode nie, maar elke dag van ons lewe – wil seker maak wat sy wil is. Soos Dawid Hom geraadpleeg het.

Is u elke dag in u lewe daarmee besig? Is dit die hoofsaak? In 'n lewe waarin alles daarom draai dat ons die Here Jesus beter leer ken, sal daar ook baie stryd wees, baie wat jy moet prysgee, baie waarin jy jouself moet verloën; jy sal baie moet bid.

Paulus het Christus se genade leer ken in sy stryd met die Judaïste. Hy noem hierdie valse leraars die doring in sy vlees, die engel van die Satan wat hom met vuiste slaan, omdat hulle oral sy werk probeer verongeluk het.

Paulus kon jou vertel wat dit hom gekos het om daardie teenstanders van die ware evangelie te moet bestry. In daardie stryd het hy ook die Here Jesus se gemeenskap leer ken. Hy het geleer om die lyding van die Here Jesus Christus te dra, nie die lyding ter wille van ons sonde nie, maar die lyding ter wille van die evangelie. Lees maar 2 Korintiërs 11 wat hy alles moes ondergaan ter wille van die verkon­diging van die evangelie. Die smaad, die lyding wat hom aangedoen is, het hy in die krag van Christus alles ook belewe, want aan die einde van sy lewe het daar 'n prys gewag. Hy praat in 2 Timoteus 4:8 daarvan en dan noem hy dit 'n krans, 'n oorwinnaarskrans. Vir die wenner van die Olimpiese Spele het die lourierkrans gewag. In Grieks word dit genoem die Brabeion. Paulus praat van God se Bra­beion, die oorwinningskrans vir almal wat tot die end van hul lewe in die Here Jesus geglo het en daarom hulle lewe met Hom aangepak het.