'n Donker Dag
'n Donker Dag
Dit is ʼn donker dag vir ʼn gemeente van Christus as die lidmate moet verneem dat hulle dominee geskors is. ʼn Somber dag vir kerke wat dit in die koerante moet lees. Uit die kerkorde weet jy dat daar sondes is wat hierdie tug oor ampsdraers nodig maak. Ernstige sonde is grond vir so ʼn skorsing. Wanneer jy as gemeentelid van die skorsing hoor, is jy verras, onaangenaam verras. Wat ʼn storm van gevoelens kan so ʼn berig nie in jou laat opkom nie. Teleurstelling, uit hoogagting; ontnugtering, omdat jy aan die moontlikheid selfs nie eers gedink het nie; en verdriet, omdat die heiligheid van die gemeente in gedrang kom en die naam van die Here gesmaad word. Diepe verdriet oor almal wat op een of ander manier daardeur geraak word. Jou vertroue is ook geskok – jy moet immers ʼn pastor kan vertrou. Ja, gewis ʼn donker dag.
Daar kan ook verkeerde gevoelens en verkeerde reaksies by jou opkom. Hoe gou is daar nie praatjies nie. Ek moet eerder my hand op my mond lê, want wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Ons mag wel praat, maar dan in die binnekamer, met die Here. Die gebed van die regverdige in Christus vermag veel – God verleen krag daaraan.
Waarom maak sondes van ampsdraers soveel emosie wakker? Ek dink dit hang saam met sy amptelike posisie. Voor iemand in die amp bevestig kan word, moet hy aan bepaalde vereistes voldoen. Hy moet, byvoorbeeld, onbesproke wees. Dit beteken nie dat daar nooit oor hom gepraat mag word nie, of dat die ampsdraer volmaak moet wees nie. In die kerk leef ons immers van dieselfde genade. Maar hoe kan ’n ampsdraer jou ernstig oor sonde aanspreek en tot bekering oproep, terwyl hy self in dergelike sondes leef? Wanneer daar gegronde rede is om hom uit sy amp te skors?
’n Ampsdraer moet vir die gelowiges ’n voorbeeld wees in woord, in wandel, in liefde, in geloof en in reinheid. As Christus sulke ampsdraers gee, is dit ʼn ryke geskenk. Die gemeente word opgeroep om aan hulle agting te betoon ter wille van hulle roeping. Die voorbeeld van ʼn opregte ampsdraer trek baie lidmate aan. Wie hulle diens getrou verrig, verkry vrymoedigheid in die geloof om Christus te verkondig. As dit bekend word dat ampsdraers in sonde leer of lewe, het dit dan ook gevolge vir sy posisie as ampsdraer.
Hoe magtig en listig is die duiwel nie, en hoe kwesbaar ons as gemeente en ampsdraers. Daar was eens die mees sombere dag op aarde: Adam en Mannin het in hulle val die band met die Here afgesny. Satan is magtig én slu. Maar die Here het hulle opgesoek om te troos. Hy het nie gewag tot die mens Hom terugvind nie. God beloof die Kind wat sal oorwin. Met daardie evangeliewoord het die Here die band met die bose verbreek en die mens weer na sy kant gebring. Die Heiland word beloof as die lig wat die donker sou verjaag. Die Kind word Man van smarte, maar ook die Koning wat die magte oorwin. God troos ons ook vandag met dié evangelie.
God wil sy evangelie deur swak en sondige mense bekend maak. Verskrompel sy heerlikheid nie deur die sondes van sy dienaars nie? Kan God dit nie beter doen as deur middel van sondige mense nie? Ons moet buig voor sy wil en sy wysheid. God wil mense só red en salig maak deur die verkondiging van die evangelie. Laat ons sy wysheid aanbid. Die middel van swak en sondige mense doen nie afbreuk aan sy heerlikheid nie. Sy heerlikheid en krag kom trouens des te sterker aan die lig, wanneer sy plan ondanks ons swakheid en sonde uitgevoer word. Ons moet leer om op Hom alleen te vertrou en al die goeie van Hom alleen te verwag.
Daarom is voorbidding nodig. Vir alle ampsdraers, ook woordbedienaars. Bid vir hulle, dat hulle in heilige lewenswandel sal lewe en werk ooreenkomstig die eise van die Here in sy Woord. Gebed is die drakrag in die stryd met die bose. Christus, die groot Herder van die kudde, hoor die stem van sy lammers en sy skape. In Hom is daar vergewing en genesing. Hy laat sy reddingswerk en die vergadering van sy gemeente nie misluk nie. Welke kwaad ook al, onse God keer dit ten goede; al sien ons dit nou nog nie. Hy doen dit ter wille van sy Naam.