Bron: Die Kerkblad, 2008. 3 bladsye.

Die Inspirasie van die Heilige Skrif “Die Hele Skrif is deur God ingegee ...”

Die hele Skrif is deur God ingegee ...

2 Timótheüs 3:16

boekrol en pen

Hierdie woorde in die Nuwe Testament word deur sommige beskou as die oorsprong van die soge­naamde belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif te wees. Dit sou saamhang met die betekenis van ’n spesifieke woord in hierdie vers. Die spesifieke woord wat met deur God ingegee (1933/53-vertaling van die Bybel) vertaal is, is die Griekse woord theopneustos. Hierdie woord, wat nêrens elders in die Nuwe Testament voorkom nie, is die samevoeging van twee woorde: theos en pneó, met onderskeidelik die betekenis van God en om te asem of te adem. In lyn hiermee sou die betekenis van theopneustos volgens sommige wees dat die Skrif van God uitgaan of uitgegaan het. Die Vulgaat (Latynse verta­ling van die Bybel van die vroeë kerk) gee uitdrukking aan hierdie betekenis van die Griekse woord deur dit met divinitus inspirata (deur God geïnspireer - ook die woorde van die 1983-vertaling van die Bybel) weer te gee. Hierdie Latynse vertaling van theo­pneustos is heel moontlik dan die re­de vir die verbinding van die belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif met onder andere die spesifieke woorde van 2 Timótheüs 3:16, ongeag die feit dat sommige verklaarders die woorde van 2 Timótheüs 3:16 tot die Ou Testament beperk.

Die Geskiedenis van die Belydenis van die Inspirasie van die Heilige Skrif🔗

Die inspirasie van die Heilige Skrif, dus dat die hele Skrif deur God ingegee/geïnspireer is, is van meet af aan deur die Christelike kerk bely. Die Jode het dit reeds in die vroeë geskiedenis ten opsigte van die Ou Testament geglo (hele aantal verwysings in die Nuwe Testament wat dit staaf). Ten opsigte van die Christelike kerk is reeds in die tweede eeu nC duidelike uitsprake gemaak oor wat dit sou beteken dat die Heilige Skrif deur God geïnspireer is. ’n Sekere Athenagoras sou toe reeds geleer het dat die Heilige Gees die Bybelskrywers aan hulle eie gedagtes ontruk het om hulle dan in sy diens te gebruik soos wat ’n fluit-speler op sy fluit sou speel - hulle sou dan niks anders wees as willose instrumente in die diens van die Heilige Gees nie.

Die Montaniste (ontstaan in die tweede helfte van die tweede eeu) beweer selfs dat die Bybelskrywers hulle met die inspirasie van die Heilige Skrif in ’n toestand van vervoering (ekstase) sou bevind het. Die vroeë kerk wys hierdie standpunt af en bely dat die Bybelskrywers wel by hulle selfbewussyn was (besef van eie persoon) met die inspirasie van die Heilige Skrif. Die belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif is deurentyd deur die vroeë kerk gehandhaaf en by verskil­lende kerklike vergaderings bevestig. Selfs die Konsilie van Trente (1545-1563) het die belydenis dat die Heilige Gees die outeur van die Skrif is, aanvaar. Die Jesuïete leer weer dat inspirasie alleen sou beteken dat die Heilige Gees die Bybelskrywers van dwaling bewaar het.

Die Reformatore (Luther, Calvyn e.a.) handhaaf die belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif in die sin dat die Heilige Skrif wel God se Woord is en daarom met goddelike gesag beklee is. Die Reformatore se verstaan en belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif was grootliks in die rigting van ’n tipe “organiese inspirasie” (verklaring later in artikel). Spoedig beweeg eers sekere Lutherse teoloë en later ook sekere Gereformeerde teoloë na wat as ’n meer “meganiese vorm van inspirasie” (verklaring later in artikel) beskryf sou kon word.

Alhoewel daar deurentyd teenspraak teen die belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif was, kry hierdie teenspraak eers werklik momentum in die 19de eeu. Die teoloog Schleiermacher gee hieraan stukrag deurdat in navolging van sy teologiese denke die leer van die inspiratie personalis die lig sien. Dit sou beteken dat nie die Heilige Skrif geïnspireer is nie, maar wel die Bybelskrywers. Hulle sou dan manne wees wat wel deur die Gees van God gelei is, maar dit wil nie sê dat by die teboekstelling van hulle geskrifte ’n besondere werking van die Heilige Gees plaasgevind het nie. Die Heilige Skrif is gevolglik nie prinsipieel, maar slegs gradueel te onderskei van werke van Augusti­nus, Luther, Calvyn en andere. Die Heilige Skrif verskil dus nie in wese van die geskrifte van ander teoloë nie, maar is tog verhewe daarbo omdat die Bybelskrywers volgens hierdie denkrigting in ’n meerdere mate in besit van die Heilige Gees was, en daarom is hulle geskrifte verhewe bo dié van ander uitnemende teoloë.

boeke

’n Verdere ontwikkeling ten opsigte van die belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif word onder andere by ’n teoloog van die laat 19de, begin 20ste eeu, Karl Barth, gevind. Hy wys wel die leerstellings van Schleiermacher en sy volgelinge af, maar is van oortuiging dat die inspirasie steeds voortduur en dat selfs nuwe geïnspireerde geskrifte die lig kan sien. Die laaste ontwikkeling in die geskiedenis van die belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif is die verwerping van die Heilige Skrif as God se Woord en gevolglik enige goddelike inspirasie daarmee saam.

Skrifbewyse vir die Belydenis van die Inspirasie van die Heilige Skrif🔗

Twee Skrifgedeeltes sterk op die voorgrond wanneer dit oor die belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif gaan, is die reeds genoemde 2 Timótheüs 3:16 en dan 2 Petrus 1:21. Die betekenis van 2 Timótheüs 3:16 lê grootliks in die woord theopneustos (deur God ingegee/geïnspireer) terwyl 2 Petrus 1:21 weer openbaar dat geen profesie ooit deur die wil van ’n mens voortgebring is nie, maar wel deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. Hierdie spesifieke gedeelte uit 2 Petrus 1 word ook in artikel 3 van die NGB aangehaal wat handel oor die geskrewe Woord van God. Dit wat selfgetuienis van die Skrif aangaande die goddelike oorsprong daarvan genoem kan word, word dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament in woorde gevind soos daar staan geskrywe en so­dat die woord vervul kan word wat die Here gespreek het. Uitdrukkings soos en die Here het tot hom gekom en gesê, en spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle word dikwels op verskeie plekke in die Heilige Skrif aangetref. Die mees bekende selfgetuienis is seker die woorde van Eksodus 20:1: “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê ...” (1933/ 53-vertaling van die Bybel), of: “Toe het God al hierdie gebooie aangekondig ...” (1983-vertaling van die Bybel). Vanweë die genoemde, maar ook die oormaat van ander bewysplekke in die Bybel, kan die belydenis van die inspirasie van die Heilige Skrif voorwaar as ’n egte katolieke/algemene belydenis van kerke deur die eeue beskou word.

Die Betekenis van die Woord “Inspirasie”🔗

Die betekenis van die woord inspirasie word algemeen aanvaar as ’n plotselinge ingewing of ’n geleidelike proses wat nuwe kennis, insig of energie vrystel wat voorheen nie aanwesig was nie. Dit wat dan hier as inspirasie beskryf word, sou beteken dat alle mense, gelowiges en ongelowiges, inspirasie kan beleef, met die gevolg dat dit wat uit hulle inspirasie gebore word op dieselfde vlak, naamlik op dié van menslike oorsprong of op die meeste geïnspireerde menslike oorsprong lê. Dit sou dan kon beteken dat die Bybel op dieselfde vlak lê as enige ander boek waarvoor die skrywer inspirasie ontvang het. Artikel 3 van die NGB beskryf die Bybel egter as heilig en Goddelik en dit kan van geen ander boek, ongeag die feit dat dit dalk die produk van inspirasie sou wees, gesê word nie. Die Bybel is radikaal anders as enige ander boek, en daarom kan die gewone opvatting van wat inspirasie sou wees, nie op die Bybel en op die Bybelskrywers toegepas word nie. Die inspirasie van die Heilige Skrif is dus anders as enige ander inspirasie.

Bybel🔗

Teorieë oor die (Bybelse) Inspirasie🔗

Meganiese inspirasie - Volgens hierdie teorie was die Bybelskrywers marionette in God se hand en het Hy gedikteer en hulle bloot soos penne neergeskryf. Die Bybelskrywers se eie persoonlikhede, skeppende vermoëns en gawes is dus buite rekening gelaat en hulle het as willose outomate in die hand van die Heilige Gees opgetree.

Dualistiese inspirasie - Volgens hierdie teorie kom sekere gedeeltes van die Heilige Gees (volgens die meganiese teorie geïnspireer) en sekere gedeeltes van die skrywers self, deur sy eie, persoonlike vernuf.

Dinamiese inspirasie - Volgens hierdie teorie bestaan die inspirasie daarin dat die Heilige Gees godsdienstige gedagtes en emosies by die Bybelskrywers wakker gemaak het sodat hulle die neerslag van hulle godsdienstige belewing kon neerskryf.

Aktualistiese inspirasie - Hiervolgens is die Bybel nie geïnspireer nie, maar ’n feilbare en menslike getuienis, maar kan onder bepaalde om­standighede die Woord van God word, as dit God behaag om daardeur tot iemand te spreek.

Organiese inspirasie - Hiervolgens het die Heilige Gees nie die Bybelskrywers se eie talent en aanleg verbygegaan nie, maar juis daarvan gebruik gemaak om die openbaring van God in die Heilige Skrif tot uitdrukking te bring. So is hulle in hulle volle menswees (persoonlikheid, agtergrond, ens.) as organe deur die Heilige Gees gebruik om die Woord van God op te teken. Hiervolgens is die Bybel die onfeilbare Woord van God en is die hele Skrif deur God ingegee (2 Tim 3:16) en het Bybelskrywers neergeskryf waartoe God hulle deur sy Heilige Gees gedryf het (2 Pet 1:21).

Die organiese inspirasie van die Bybel word in gereformeerde kringe (ook die GKSA) gehandhaaf as die wyse waarop die wonder van die inspirasie van die heilige Skrif plaasgevind het. Dit hou in dat die Bybelleser nie selekteer tussen wat van menslike oorsprong en wat van Goddelike oorsprong sou wees nie, maar bely dat die Bybel volkome God se Woord is wat deur mense onder inspirasie van die Heilige Gees geboekstaaf is.