Bron: Kompas. 3 bladsye.

Sabbat- en jubeljaar

koringveld

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die hemel as woonplek vir Homself. En die aarde as woonplek vir die mens. Die mens word na die beeld van God geskep. Hy word die taak gegee om die potensiaal wat God in sy skepping weggelê het, te ontgin. Om ekonomies besig te gaan wees. Sonde het egter God se goeie skepping binnegedring. En dit is verál in die ekonomiese sfeer dat die sonde in al sy felheid toeneem (Genesis 4:20-22). In sy ekonomiese arrogansie begin die mens vir homself  ʼn stad bou, ’n eie naam maak (Genesis 11:4).

Dit is teen hierdie agtergrond dat die Here ʼn heeltemal nuwe begin maak. Hy gaan nie sy skepping prysgee nie. Hy gaan die aarde herskep, nuutmaak. Met een volk, ʼn eie land, gaan die Here dan verder. Israel en Kanaän is die begin van God se herstel. Kanaän word die sentrum van die wêreld – soos Eden dit in die begin was. Hiervandaan moet God se seën na die res van die mensdom gaan.

Abraham en sy nageslag funksioneer dan as ʼn model, ʼn leermeester in die beloofde land. Dít was die doel van hulle verkiesing (Genesis 18:19). Dus ʼn sendende rol: Israel moet ʼn koninkryk van priesters en ʼn heilige nasie in die midde van die ander nasies wees (Eksodus 19:6). Anders, verskillend as die nasies rondom hulle – omdat die God wat hulle dien, anders is as die gode van die omringende nasies.

Hoe Israel met die land, met mekaar en met alles in daardie land omgaan, moes ook reflekteer wat die Here aan húlle gedoen het. God het sy barmhartigheid aan hulle in Egipte bewys. Op hulle beurt moes Israel nou in Kanaän dieselfde aan mekaar doen. God se karakter – sy barmhartigheid – teenoor mekaar reflekteer. En dit het die Here genadiglik in sy onderwysing vir die volk vasgelê: in o.a. die uitoefening van die sabbat- en die jubeljaar; sien Levitikus 25.

As ons nou na hierdie Skrifgedeelte gaan kyk, dan sien ons dat spesifiek die bevryding uit Egipte weer die motivering is vir die toepassing van die sabbat- en die jubeljaar; Levitikus 25:38, 42 en 55. In Egipte was Israel slawe onder die harde heerskappy van Farao – verdruk, ekonomies uitgebuit. Die Here het hulle met ʼn magtige hand van hierdie omstandighede verlos. Nou is hulle nie meer slawe by Farao nie, maar vreemdelinge en bywoners by God – gaste by God; 25:23. Geniet hulle in Kanaän van God se gasvryheid.

Dáárom moet hulle t.o.v. mekaar dieselfde barmhartigheid, gasvryheid bewys. Nie mekaar verdruk, uitbuit nie. Maar die lewe vir mekaar ook heel konkreet leefbaar gaan maak. En dan spesifiek t.o.v. diegene wat ekonomies nie so goed daaraan toe is nie – die wees en die weduwee, die familielose, die grondlose. En ook aan elkeen wat by die God van Israel kom skuiling soek – die vreemdeling, bywoner, vlugteling. Hierdie mense was afhanklik van die barmhartigheid van andere.

Na analogie van Genesis 2:3 – God wat op die sewende dag rus van sy skeppende werk en dié dag seën – vind ons hierdie selfde gedagtes (rus en seën) in die sabbat- en die jubeljaar. Vir ʼn beter insig kan ons ook kyk na die begin van Salomo se regering: die volk wat saam met die Here rus in die beloofde land en sy mildelike seën geniet. Konkreet in die wysheid waarmee Salomo die volk regeer – nie met onreg nie, maar met reg en geregtigheid; 1 Konings 3:16-28.

Dus: in die sabbat- en die jubeljaar gaan dit nie soseer om nie werk nie. Maar die klem is op God wat in die midde van sy volk woon en hulle seën. Dit was juis die doel van die bevryding uit Egipte; Eksodus 29:46. God oefen sy reg uit op die land en sy kinders. In Kanaän word aan almal en alles reg gedoen.

geploegde grond

Selfs die grond en die werkdiere mag nie uitgebuit word nie. Vir twee jaar na mekaar – geen ploeg op die land, geen saai, oes of snoeiery nie. Die Here voorsien (seën) ook gedurende hierdie tyd – Levitikus 25:20-22. En spesifiek m.b.t. tot die jubeljaar – dit is ʼn jaar van vrylating en restourasie vir die hele land en haar bewoners. Elkeen wat sy grond of homself aan ʼn ander verhuur het, moet teruggaan na sy erfdeel of na sy familie. Nie mekaar verdruk, uitbuit wanneer daar sake met mekaar gedoen word nie. Die grond (ook huise en weiveld) mag nie permanent verkoop word nie. Geen rente op lenings nie. Kortom: niemand mag in sy ekonomiese swarigheid ongehelp gelaat word nie.

Hierdie ekonomiese verligting was egter nie die doel op sigself nie. Israel het die taak gehad om God se beeld, sy karakter en identiteit in Kanaän te gaan reflekteer – dit is dus terug na Eden. Dít is hoe die Here, die God van hemel en aarde, is. En dit alles met die doel om God aan die omringende nasies voor te stel: só lyk dié God wat ons dien; dít is sy karakter – Hy is goedertiere en barmhartig. Sodat ook die nasies kan kom tot die aanbidding van híérdie God en ook saam met Hom mag rus en mildelik van sy seën geniet. En daar vrede mag wees.

Vir die Israeliet was Kanaän alles gewees. Daar het hy geleef en gewerk. Vandag het hierdie land geen waarde meer vir ons as gelowiges nie. Dit was toe, maar wat van nóú? En hoe gaan God nou eintlik verder met sy groot plan van herstel in hierdie wêreld? En hoe word daar invulling gegee aan die sosiaalekonomiese dimensie?

Hiervoor kan ons let op Efésiërs 2:11-3:6: hier gebruik Paulus dieselfde woorde vir mense wat in Israel nie die voorreg gehad het om eie grond te besit of enige familie te hê nie – die uitlander, immigrant, vlugteling, maar ook mense soos die wees en die weduwee. In vs. 12 toon Paulus dan aan wat ons posisie vroeër was:

vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte…

Dus dieselfde as bogenoemde. Maar nou, in Christus, het ons wat eens ver was, naby gekom. Die middelmuur van skeiding is weggeneem. Gelowige Jood en Griek is nou saam in ʼn nuwe gemeenskap.

Wat Israel dus deur hulle land gehad het, het almal nou deur Christus. Ons is nou almal mede-erfgename, één liggaam en meedelers in die belofte. Met die roeping:

“Wees dan navolgers van God…”; sien 5:1.

Maar steeds bly die vraag: wat van die sosiaalekonomiese aspek wat so sentraal gestaan het in die land in die Ou Testament? Is dit alles vervul in Christus? Het dit slegs “geestelike” betekenis soos so baie dit afmaak? Het ons vandag geen sosiale en ekonomiese verantwoordelikheid t.o.v. mekaar nie?

In Efésiërs 2:18, 22 wys Paulus op die rol van die Gees van Christus in die bymekaarbring van Jood en Griek in God se huisgesin. Sien ook 4:3-6: die eenheid van die gelowiges. En nie maar net ʼn eenheid in “ons almal glo dieselfde en verder het ons niks met mekaar te doen nie.” Maar, dit is om ook konkreet sosiaalekonomies met mekaar om te gaan. Die Gees bind ons aan mekaar.

Bv. in Romeine 15:25-27 sien ons hierdie eenheid konkreet werksaam: Paulus wat ʼn kollekte insamel onder die Griekse gelowiges ten bate van die Joodse gelowiges in Jerusalem. Die Griekse gelowiges is dit aan Jerusalem verskuldig, omdat die seën van die evangelie vanuit Jerusalem na die Grieke gekom het. In 2 Korinthiërs 8:4; 9:13 prys Paulus die gemeente te Korinte aan vir hulle bereidwilligheid om mee te lewe in die insameling – dit is die bewys van hulle gehoorsaamheid aan die evangelie.

munte

Maar wat van die res van God se skepping? Hoe lewe ons as verloste mense m.b.t. tot die ander beelddraers op aarde, die plante en diere, die aarde self, met die materiële waarmee die Here ons daagliks seën? In alles – sien ons onsself as rentmeesters in God se goeie skepping; dat die aarde en sy volheid eintlik aan die Here behoort? As gelowiges het ons ʼn verantwoordelikheid teenoor God se hele skepping. In elke sfeer van hierdie lewe. Om die beeld van God te gaan vertoon, navolgers van God te wees. Want hoe jy in God se skepping leef met jou naaste, met die skepping self en alles daarop, is ʼn termometer vir die verhouding met die Here en ook vir die status wat ons as die huisgesin van God geniet.

Weer moet ons daarop let dat die sosiaalekonomiese nie die einddoel is nie. Soos Israel het die kerk vandag die rol om in dit alles ʼn lig vir die nasies te wees. Om die beeld van God, sy karakter en identiteit, in hierdie wêreld te reflekteer; sien ook 1 Petrus 2:9. En sodoende ʼn model, leermeester vir die mense in ons omgewing te wees en so intrede vir hulle by God doen. Sodat die seën steeds verder gaan.

En al die nasies uiteindelik kom tot die verheerliking van die God van hemel en aarde.

Bron:🔗

Old Testament Ethics for the people of God, Skrywer: Christopher J. H. Wright, Bladsye: p. 23-210