Bron: Kompas, 2007. 5 bladsye.

Die Belydenis oor die Kerk - Aantekeninge by Artikels 27-29 NGB

kerk🔗

Die Katolieke Kerk as Gawe en Werk van God: Art 27 NGB🔗

Wanneer ons oor kerk en kerkverband praat, is die gevaar aanwesig dat ons ander kerke beoordeel vanuit die eie kerkgemeenskap, wat ons as ware kerk erken. Dan word die norm die eie gemeente of kerkverband, jou eie ervaring daarvan. God se Woord en werk moet die uitgangspunt en norm wees.

Die kerk is ’n geloofsaak, iets wat ons glo op grond van die Woord van God.

Die wesenlike van die kerk is dat die Seun van God die kerk vergader en dat Hy die Koning van die kerk is.

Ons glo nie in die kerk nie, maar in Jesus Christus. Die kerk is nie saligmakend nie, maar Christus maak salig.

Art 27 verwys as eerste na Genesis 22:18 waar God vir Abraham sê: “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.” In Christus, die nageslag van Abraham, gaan God sy seën na al die nasies laat uitgaan. So kry ons die enige algemene Christelike kerk. ’n Werk van God. Gebind aan Christus. ’n Vervulling van God se belofte aan Abraham. Dit moet ons altyd in gedagte hou wanneer ons oor die kerk praat, in verwondering en aanbidding.

Ons glo ’n enige kerk. Daar is nie twee of drie kerke nie. Daar is een kerk van Christus. “Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matthéüs 16:18). Sien verder Johannes 10:16: “dit sal wees een kudde, een herder” en Efesiërs 4:4: “Dit is een liggaam en een Gees…”

Die kerk se eenheid is ’n eenheid in die ware geloof. Gewerk deur die Gees van God. In antwoord op Christus se hoëpriesterlike gebed van Johannes 17. Die eenheid ontstaan deurdat God mense in sy Naam en in sy waarheid bewaar. Eenheid en waarheid hoort bymekaar. Die kerk is gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is (Efesiërs 2:20). Daarom bely ons ook die Christelike en apostoliese kerk. Dit is ’n eenheid in Christus en in die waarheid.

Die Griekse woord vir kerk, ekklesia, word nie net in die enkelvoud gebruik nie, maar ook in die meervoud. So het ons die briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië. Die Bybel omskryf nie presies hoe die verhouding tussen die plaaslike gemeentes en die algemene kerk is nie. Die opskrifte van die twee briewe aan die Korintiërs wys daarop dat die plaaslike gemeente wel ’n sterk band het met almal wat die Naam van die Here in elke plek aanroep en met al die heiliges wat in die hele Agaje is. Ons kan sê dat die algemene kerk hom wys in die plaaslike gemeentes. Daardie plaaslike gemeentes is die universele kerk in daardie spesifieke plekke.

Ons bely ’n katolieke of algemene kerk. Oorspronklik was dit ’n geografiese aanduiding: oor die hele wêreld versprei, uit alle volke en tale. As jy die katolisiteit van die kerk as uitgangspunt neem, dan sal daar baie blye herkenning wees, in verwondering oor God se werk van bewaring en vergadering in die waarheid. Dit sal ons beskeie maak. Die vraag van Paulus bly dan relevant:

Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?1 Korintiërs 14:36

Hierdie katolisiteit sal ons verhoed om ander kerke aan ons eie kerklike tradisie en praktyke te meet. Daar is verskillende historiese en kulturele agtergronde. Daarom kan ons nie verwag dat die kerke van die verskillende lande en nasies presies dieselfde gaan wees nie. Binne die een kerk wat Christus oor die hele wêreld vergader, is daar ’n gesonde veelvormigheid. Die belangrikste vraag is: sien jy onder hulle die vervulling van God se belofte aan Abraham en die verhoring van Christus se bede?

kerkvenster

Ons belydenis oor die kerk begin nie met Art 29 oor die kenmerke van die ware en valse kerk nie. Dit begin met Art 27 oor die eenheid en katolisiteit van die kerk. Ons begin met die kerk as gawe en werk van God. Dit kan ons daarvan bewaar om vanuit ons belewing van die ware kerk groot dele van God se kerk te diskwalifiseer. As jy uitgaan van God se ekumeniese belofte aan Abraham, kyk jy anders na wat God buite jou plaaslike gemeente besig is om te doen.

Die kerk is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Dit beteken dat baie lidmate en plaaslike gemeentes mekaar nie ken nie, o.a. vanweë afstande, verskillende historiese en kulturele agtergronde. Bowendien is die kerk nog steeds onder konstruksie, in ontwikkeling. Wat weet ons feitelik van Christus se kerk onder al die bevolkingsgroepe en in al die dele van ons land? Soms moet mense in skuilplekke vergader. Daarom weet niemand eers van hulle bestaan nie, soos Elia nie eers geweet het van die bestaan van 7000 medegelowiges nie.

Al die gemeentes van Christus waarvan baie mekaar nie ken of sien nie, is met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig. Dit wys daarop dat die eenheid waarvan Art 27 praat, nie in die eerste plek ’n organisatoriese of kerkverbandelike eenheid is nie. (Trouens, die kerke uit die eerste eeue was nie deel van ’n gestruktureerde kerkverband soos ons dit vandag ken nie). Dit is ’n eenheid in die geloof, deur die Gees gewerk. Dit het natuurlik ook gevolge vir ons soeke en verlange na groter eenheid. As jy die eenheid in Christus herken, wil jy ook aan die eenheid vorm gee.

Die kerk is nie die optelsom van alle gelowiges nie, sodat elke gelowige deur sy geloof outomaties lid van die katolieke kerk is nie. So kry jy ’n onsigbare kerk. Maar die kerk is ’n vergadering van alle gelowiges, ’n kudde wat Christus plaaslik vergader. Hoewel ons die wêreldwye kerk nie kan oorsien nie, is dit in sy plaaslike vergadering terdeë sigbaar. Jy sien die katolieke kerk in elke getroue plaaslike gemeente wat Christus in die eenheid van die geloof vergader. Deur die besondere pad wat God met ’n groep mense loop of deur God se werk van reformasie kan daar selfs vir ’n tyd meer as een plaaslike ware kerk wees. Wanneer jy dit ontdek, sal jy daarna strewe om steeds meer en meer vorm te gee aan die eenheid wat God deur sy Woord en Gees bewerk het.

Ons Roeping om Ons te Voeg by die Ware Kerk: Art 28 NGB🔗

Terwyl Art 27 oor die kerk as gawe en werk van God praat, praat Art 28 van ons roeping t.o.v. hierdie selfde kerk. Elke gelowige is verplig om hom by die ware kerk aan te sluit. Waarom? Omdat dit ’n versameling van verlostes is en daarbuite geen saligheid is nie. God belowe en skenk sy heil aan sy volk.

Daarmee bely ons nie dat daar buite die kerk niemand salig kan word nie. Of daar buite die kerk mense salig word, lê in God se soewereine hande. Ons mag God daarin nie bind nie. Maar God bind ons wel aan die kerk met sy prediking. Soos die Herder sy skape aan die kudde bind. Daar waarborg die Herder beskerming en versorging, lewe en oorvloed, deur Woord en Sakrament, deur onderlinge en amptelike diensbetoon. Om te voorkom dat jy jou aan die beskerming, wat Christus vir jou in die kerk bied, sou onttrek, klink die ernstige waarskuwing: Buite die kerk is daar geen saligheid nie.

Dit mag ons nie daartoe bring om in hoogmoed en valse gerustheid uit te roep, soos die Jode dit gedoen het: “Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!” (Jeremia 7:4). Dis bedrieglike woorde. Asof God sy belofte onvoorwaardelik aan ’n seker kerkadres verbind. So het sekere mense in hul kleingeestigheid die kerk beperk tot hul eie eksklusiewe groep. Ons sou ons daaraan skuldig maak indien ons sou sê dat daar buite die VGK geen saligheid is nie. God het Homself nie onvoorwaardelik aan een kerkadres verbind nie. Dit sou hoogmoedig wees om dit te dink.

Die lou gemeente van Laodicéa moet Christus se dreigende woorde hoor:

Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.Openbaring 3:16

uitspoeg

God kan ’n gevestigde gemeente uit sy mond spuug om êrens anders, waar jy dit nie sou verwag het nie, skielik ’n ander gemeente te laat ontstaan. Laat ons nie te klein van God dink nie. Hy kan uit klippe kinders van Abraham wek, buite die offisiële ampte. Aan die ander kant, laat ons die roeping om ons by die ware kerk aan te sluit, nie verontagsaam nie. Dit is ’n ernstige saak waaraan die Here ons bind. Dit is die norm.

Niemand, wat sy stand en status ook al is, mag hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig hou nie. Om lid van die kerk te wees, is ’n saak van nederigheid, voor God en voor die mense. Jy laat jou lei en versorg deur Christus wat daarby gewone mense inskakel. Jy onderwerp jou aan die kerklike leer en tug en jy buig jou hals onder die juk van Christus.

Ons belydenis erken dat daar gelowiges is wat nog nie by die kerk is nie. Hulle is wel van die kerk, maar nog nie in die kerk nie. Daarom word ook alle gelowiges opgeroep om hulle by die kerk aan te sluit. Wie hierdie roeping ignoreer, handel in stryd met die bevel van God. Ons oordeel nie oor die behoud van so ’n gelowige buite die kerk nie. Daardie oordeel kom God toe. Nietemin is en bly dit ’n oortreding van God se bevel.

Na analogie hiervan kan ons sê dat plaaslike kerke of kerkverbande wat nie in ander getroue kerke belangstel nie, in stryd met die bevel van God handel. Volgens Art 28 is dit ons roeping om te bly strewe na groter eenheid en samewerking met ander getroue kerke van Christus.

Die eenheid van die kerk word nie net deur individualisme bedreig nie, maar ook deur ’n binding aan mense wat feitelik nie aan die kerk behoort nie. Die roeping tot afskeiding gaan uit van ’n situasie waarin mense wat die werk van Christus teenstaan, die kerk oorheers en dit so tot valse kerk maak. Hier word dan nie langer Christus se stem gehoor nie, maar die stem van die vreemde waarvan jy jou moet afkeer (Johannes 10:5). Die heilige kerk van Christus is dan op ’n ander plek te vinde, naamlik waar die Woord van God in sy heerskappy herstel is. Daarom is daar die roeping om jou af te skei van die gemeenskap wat nie werklik kerk van Christus is nie en jou te voeg by die ware kerk (sien 2 Korintiërs 6:14-18). Dit geld ook vir getroue kerke binne ’n ontroue kerkverband. As daardie kerke gemeenskap bly onderhou met die ontroue kerke, handel hulle in stryd met die bevel van God.

Waar en Hoe vind ons die Ware Kerk: Art 29🔗

Terwyl Art 27 die katolieke kerk aan ons voorstel as werk en gawe van God en Art 28 ons wys op ons roeping om daarby aan te sluit, wys Art 29 vir ons waar ons die kerk kan vind. Art 29 wil ons help om die roeping van Art 28 waar te maak sodat ons by die katolieke kerk van Art 27 uitkom of bewaar word.

Hoewel die artikel duidelik bepaal is deur die stryd van daardie tyd en hom implisiet rig teen die Roomse kerk en die doperse groepe, is dit opvallend dat ons artikel hulle nie uitdruklik noem nie. Die belydenis wil meer as net ’n historiese dokument uit ’n sekere tyd wees. Die belydenis wil ’n Skriftuurlike dokument wees wat die rigting aanwys vir alle tye.

Die kerklike situasie het nie eenvoudiger geword nie. Daar is meer kerke en kerkverbande as destyds, wat langs mekaar bestaan en geskeie lewe, terwyl hulle sê dat hulle die gereformeerde belydenisskrifte aanvaar.

Om nog met die onderskeid tussen waar en vals te kom, word vandag as hoogmoedig beskou. Natuurlik kan hierdie onderskeiding in ’n gees van hoogmoed en selfversekerdheid gemaak word. Jy is dan versekerd van jou eie goeie keuse. Jy is lid van die ware kerk. Vervolgens gebruik jy Art 29 om ander gelowiges of groeperings te diskwalifiseer. Hulle is nie een met jou nie, dus moet hulle wel vals wees. Asof die etikette waar en vals sommer in elke situasie gebruik kan word, om die saak oorsigtelik te hou. So eenvoudig is dit nie. Dan haal jy die onderskeid waar en vals uit sy konteks en gebruik jy dit net om jouself te bevestig. Maar dit kan nooit die bedoeling van ons belydenis wees nie. Omdat dit nie die bedoeling van die Woord is nie. In die Skrif kom dit daarop aan dat jy die dinge geestelik beoordeel. Die dinge van die Gees van God (en daarby behoort ook die kerk en sy kenmerke) moet geestelik beoordeel word (1 Korintiërs 2:14).

vergrootglas

Dit is opvallend dat ons belydenis die ware kerk nie net van die valse kerk onderskei nie, maar ook van alle sektes. Die eerste helfte van die artikel noem net die sektes, terwyl eers aan die einde van die artikel die valse kerk skielik genoem word. Histories gesien lyk daar ’n onderskeid tussen die twee te wees.

Die naam sektes is ’n ruimer begrip as die naam valse kerk. Dit wys op ’n breë spektrum van vervalsing, veel meer as wat die kenmerke van die valse kerk laat sien. Die mate van dwaling en vervalsing is nie altyd dieselfde nie. Tog het elke sekte dít gemeenskaplik: deur ’n sekere vervalsing van die Skriftuurlike leer verbeur hulle die reg op die naam kerk. Wat doen ons belydenis dan? Dit help ons eers om te midde van die veelkleurige vervalsing die ware kerk te vind. Daarom word die kerk en haar lede geteken. Vervolgens wys die belydenis ook op ’n toegespitste vorm van vervalsing, naamlik die valse kerk. Alle vervalsing toon nie dieselfde kenmerke nie, maar daartussen is daar wat duidelik die kenmerke van die valse kerk vertoon. Om dit in die woorde van Art 29 te sê: alle sektes is nog geen valse kerk nie; die valse kerk is wel ’n sekte.

Hierdie reliëf in Art 29 bewaar ons vir die onvrugbare dilemma van waar of vals. As skema lei dit tot die eenvoudige konklusie: Waar die kenmerke van die ware kerk nie onmiddellik herken word nie, moet die kerk wel valse kerk wees. Anders klop die skema nie. Maar elke gemeenskap buite die ware kerk lyk nie outomaties soos die valse kerk nie. Of omgekeerd: wat nie onmiddellik die kenmerke van die valse kerk vertoon nie, moet wel ware kerk wees. Maar as ’n kerk byvoorbeeld bly weier om die eenheid in Christus met ander kerke te soek en knus op sy eie wil bly, kan jy so ’n gemeenskap wel met reg die algemene Christelike kerk van Art 27 noem? Die waar en vals skema kan nie sommer op elke situasie toegepas word nie. Ons artikel is nie bedoel om by voorbaat alle moontlike en onmoontlike kerklike situasies te kwalifiseer nie. Die belangrike vraag bly: waar vind ek, in ’n wêreld vol van vervalsing, die ware kerk? Is die kerk waarvan ek lid is, ’n egte kerk? Daarby wil die belydenis jou juis help.

Nadat ons belydenis die drie kenmerke van die ware kerk noem, vat dit kort saam waaroor dit gaan:

Kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.

Die kerk is daar waar Christus regeer deurdat sy Woord alle seggenskap het. So word die Woord van God ook die eerste en vernaamste kenmerk genoem. By al drie kenmerke gaan dit oor die Woord. By die eerste gaan dit oor die hoorbare Woord, by die tweede oor die sigbare Woord en by die derde oor die voelbare Woord.

Hierdie kenmerke beskryf drie aktiwiteite. Die kerk moet die evangelie preek, die sakramente bedien en die kerklike tug gebruik. Die kenmerke gee bepaald geen statiese beeld van die kerk nie. Daarby gaan dit ook baie duidelik om die suiwerheid. Die aktiwiteite moet ooreenkomstig God se Woord plaasvind. Nie net insidenteel nie. Nee, dit moet gewoonlik (struktureel) so in die kerk toegaan. Dit moet die gemeenskap van die kerk tipeer. Dan herken jy ook die werk van die Gees. Die aktiwiteite van die kerk is dan die instrumente van die Heilige Gees. Dis dan middele waardeur die Heilige Gees die genade skenk, ons in die genade versterk en ons by die genade bewaar. Dit is kort gesê die sin van die kenmerke van die kerk. Ons sien daarin hoe Christus sy gemeente deur sy Gees en Woord vergader, beskerm en onderhou. Die oordeel “valse kerk” verwys heel eerste na die kerk as organisasie, en nie na die ménse nie. In ’n valse kerk kan daar nog gelowiges wees, selfs predikante wat Skriftuurlik preek en waarsku. Hulle is daar egter “in stryd met die bevel van God” (Art 28).

By die kenmerke van die valse kerk gaan dit nie oor die vraag of in die kerk sonde en gebreke voorkom en of daar dwaling bestaan nie. Wat verwag jy van ’n gemeenskap van sondaars? Die ware kerk is ook nie volmaak nie. Dit gaan egter oor die vraag: wie het daar gesag? Kan Christus sy gesag ongehinderd deur sy Gees en Woord uitoefen? Of word Hy daarin deur die liggaam van die kerk teengestaan? Wie sit daar op die troon: Christus of die mens? Die punt waaroor dit by die valse kerk eintlik gaan, is dus: “dit skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God.”

bybel

Voorwaarde om die ware en valse kerk van mekaar te onderskei, is dat ons dit sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God doen. Dit kan moeilik wees. Die vervalsing is velerlei. Vinnige en oppervlakkige gevolgtrekkings dien niemand nie. Dit is nie maklik om al die gemeenskappe in hierdie land en wêreld reg te beoordeel nie. Dit is ook nie nodig nie. Ons moet naby die huis begin, plaaslik, waar God sy kerk ook al gevestig het. As jy bereid is om te buig voor die gesag van die Bybel, dan hoef jy nie onseker te bly oor waar die stem van die Goeie Herder gehoor word nie. Want Hy verseker ons self dat die skape die stem van die Herder sal uitken uit duisende (Johannes 10:4, 5).

’n Kerk wat afdwaal, selfs met betrekking tot sy prediking, is nie onmiddellik valse kerk nie. Dit word eers ’n valse kerk as hulle nie die waarskuwings (die oproep tot Reformasie) aanneem nie, en hul eiewillige koers kies met woord en daad, en op daardie dwaalpad volhard.