Die Christen se Persoonlike Finansies
Die Christen se Persoonlike Finansies
In die gesprekke oor die Christen se posisie in die wêreld word altyd gesê die Christen is nie van die wêreld nie, maar in die wêreld. Dit beteken dat die Christen anders optree in die wêreld en dus ʼn ander leefstyl en gewoontes het as die nie-Christen. Is dit ook so ten opsigte van die Christen se deelname aan die ekonomie? Dit veral met verwysing na welvaartskepping en op watter manier die Christen optree in die ekonomie en hoe hy/sy sy/haar persoonlike finansies bestuur.
Die Voorsienigheid van God⤒🔗
In die Heidelbergse Kategismus Sondag 10 bely ons oor die voorsienigheid van God, dat God;
…hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat … rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy vaderhand ons toekom.
As Christen moet ons leer om in alle omstandighede op God te vertrou en glo dat Hy in sy liefde vir ons sal gee wat ons nodig het, maar ook soveel gee (of nie gee nie) as wat ons kan hanteer sonder dat ons beproef word bo wat ons kan weerstaan (Spreuke 3:4-6).
Dit beteken egter nie dat ons passief moet wees oor ons deelname aan die ekonomie en maar moet wag vir die “manna” wat God ons in sy voorsienigheid sal gee nie. God gebruik middele soos geld in ons lewe om vir ons rigting te gee, omdat dit daar is waar die meeste Christene sensitief en kwesbaar is. God belowe sy wysheid en rigting. Sy planne vir ons is egter nie altyd dieselfde as wat ons verlang nie. Ons moet die Woord van God deeglik ondersoek om die wysheid en rigting van God ook in ons persoonlike finansies te ken.
Deur ons sonde is ons geneig om ons eie pad te volg en dan van God te verwag (op grond van sy voorsienigheid) om alles vir ons uit te werk. Die voorsienigheid van God is nie ʼn versekeringspolis wat alles regmaak wat ons in ons planne sonder God verkeerd gedoen het nie. Die prys wat ons uiteindelik betaal as ons ons eie wysheid bo dié van God se wysheid stel, is nie net die geld en tyd wat andersins in sy diens gebruik kon word nie, maar veral die verlies aan vrede. Soos God in sy Woord vir ons in alle opsigte van die lewe sy wysheid openbaar oor hoe ons moet lewe, so ook gee Hy ons sy onweerspreeklike wysheid vir die hantering van geld op God se manier.
Wat sê die Bybel oor Welvaart?←⤒🔗
As ons Skrifgedeeltes soos Matteus 6:19-20, Matteus 19:23-26, Spreuke 3:13-14, Lukas 6:24, Lukas 12:21, 1 Timoteus 6:10, 2 Petrus 2:13 en Jakobus 5:1-3 lees, kan ons maklik tot die slotsom kom dat rykdom onchristelik is. Tog is daar weer ander tekste, soos Spreuke 3:16-17, 10:22, 8:18, 21:20, Psalm 118:25, Prediker 7:14 en Johannes 2:6 en 12:3, wat rykdom sekerlik nie as sonde nie, maar as seën beskryf. Wat is dan die brandpunt in die bespreking oor welvaart? Wat vir een persoon welvaart is, is kleingeld vir die ander. Byvoorbeeld vir ʼn bedelaar, ʼn arbeider, ʼn professionele persoon, ʼn eienaar van ʼn groot bedryf is die bedrag van welvaart wesenlik verskillend.
Dit gaan nie oor die welvaart self nie, maar oor ons houding ten opsigte van die verkryging en besit van welvaart. God is besorg oor ons houding teenoor welvaart en besittings. Die besit al dan nie van geld of goed affekteer nie ons verhouding met God nie, maar ons houding ten opsigte van geld wel. As ons kwaad of terneergedruk is oor ons finansiële situasie, toon ons onsself nie as kinders van God nie. Welvaart is nie moreel of immoreel nie en God het dit nie vir sy kinders beplan om alleen in armoede te leef nie. (Die apostels was arm vissermanne, maar die aartsvaders was almal welvarend.) Daar is geen inherente deug in armoede nie. Daar is eerlike en oneerlike ryk en arm mense. God het dit teen die misbruik van en die beheptheid met welvaart – nie met welvaart self nie. Welvaart onder die invloed van die sonde is ʼn gevaar vir selfverheffing. Lees Psalm 30:17 en die gelykenis van die ryk dwaas in Lukas 12:16-21, asook oor vertroue op jou welvaart, Matteus 19:23-26, of die verlange na welvaart. Waaroor dit gaan, is wat in vraag 28 van die Heidelbergse Kategismus geantwoord word:
dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees…
Die saak is dus oor hoe ons “geduldig” en “dankbaar” moet wees. In Romeine 12:5-6,8 word die gawe van uitdeel as ʼn genadegawe genoem. Beteken dit nie dat die vermoë vir die ontwikkeling van die bronne wat die welvaart produseer wat uitgedeel moet word, hierdie genadegawe impliseer nie?
←⤒🔗
Die Gevare van Welvaart en Welvaartstrewe←⤒🔗
Soos God geld kan gebruik vir die verbetering en rigting in ons lewens, kan satan dit gebruik om ons vas te vang en ons van koers af weg van God te drywe. As Christene moet ons die gevare van welvaart en welvaartstrewe kan herken. In die wêreld van vandag word skuldenaars nie meer tronk toe gestuur nie, maar dit is vervang met iets soortgelyks, nl. bekommernis en geestelike beswaring, wat weer lei tot ander lewensprobleme as gevolg van die oortreding van een of meer van die Bybelse beginsels ten opsigte van die hantering van geld. Dit gaan nie net oor die tekort aan geld wat die beswaring veroorsaak nie; ook ʼn oormaat van geld kan lei tot geestelike angs. As daar na die mening van die persoon te min geld is, is daar bekommernis om meer te verkry, en as daar te veel is, is daar die bekommernis om dit te verloor. Die houding van die Christen teenoor rykdom en armoede is die sleutel wat ons uit die Woord van God moet leer. Dan moet ons weer terug na ons belydenis van God se voorsienigheid. Ons moet bely God is Eienaar van alles in die hemel en op aarde, en nie jy self nie. Welvaart kan nie die einddoel van die lewe wees nie.
Behalwe dat welvaart vleuels kan kry en verdwyn (Spreuke 23:4-5), trek dit ons weg van ons werklike taak op aarde (Matteus 6:24, Lukas 9:25). Ons moet vergenoeg wees met die voorsienigheid van God. Dit mag egter nie ʼn verskoning wees om minder arbeidsaam te wees nie of welvaart wat aan ons geskenk kan word vir aanwending volgens God se voorskrifte, weg te wys nie. Maar ons mag vra vir balans in ons lewe, wat teen ons sondige aard is (Spreuke 3:27-28). Die Bybel verwys na ʼn persoon wat spaar (welvaart vergader) as wys, maar wys ook op die gevare van vergader van skatte (Spreuke 21:20, 15:16). Maar ons mag ook die welvaart wat aan ons toevertrou is, in blydskap aanvaar en geniet, want dit kan tot die skoonheid en veraangenaming van die lewe dien. Dink maar aan die vierdae wat ingestel was waar daar ʼn groot nadruk was op vreugde (Levitikus 23:21, 24, 27). Maar wees gewaarsku teen die verkeerde aanwending van welvaart, sien dit raak en word nie deel daarvan nie! (2 Petrus 2:13)
Die Aangaan van Skuld en Skuldafskrywing←⤒🔗
Die wêreld wil graag aan elkeen leen. Die advertensies skep oënskynlike behoeftes en groepsdruk wil individue forseer om soos die groep op te tree. As die geld nie genoeg is om dit alles te doen nie, is dit geen probleem nie, want dan kan die geld geleen word. Is die aan-gaan van lenings dan onchristelik? As ons nie mag leen nie, sou weinig Christene ʼn huis of ʼn motor kon bekostig. Die vraag wat ons moet beantwoord, is wat doen ons as ons leen? Ons verdiskonteer die toekoms. Ons neem onverdiende toekomstige inkomste nou alreeds in besit en verbind onsself aan ander tot ver in die toekoms. Die Bybel verbied nie die leen en uitleen van geld nie, maar waarsku teen die probleme wat gepaardgaan met die aangaan of gee van skuld (Spreuke 22:7, Job 31:24-25, 28).
God wil nie dat ons onsself beswaar nie, omdat dit ons vermoë om Hom te dien, kan beperk. Dit gaan dus nie oor die aangaan van ʼn lening wat volgens die ooreenkoms betaal word nie, maar die rede waarvoor die lening aangegaan word, moet in lyn wees met die lewenstaak van die Christen om God op aarde te dien. Dan is die aangaan van ʼn lening vir ʼn huis en/of ʼn motor in jou omstandighede dalk noodsaaklik. Die vraag is dus: waarvoor word die lening aangegaan? Dan sien ons hoe die jonger mense verkeerde skuld aangaan (koop van motor) sonder die vraag: Is die aankoop en aangaan van die lening nodig om God te dien in my lewe; is die item wat ek koop, bedoel om God te dien of om dit vir die wêreld te wys? Moet ek nie liewer ʼn beginnerhuis koop, sodat my verpligtings later ten opsigte van die gesin haalbaar is nie? En alhoewel weelde op sigself nie verkeerd is nie, moet die Christen waak teen verkeerde weelde. Die grens tussen goeie weelde en kwade weelde is vir elke persoon verskillend. Die feit dat jy iets kan bekostig, maak dit nie noodwendig reg om dit te besit nie. Hier kan die beginsels van soberheid, eenvoud en bekostigbaarheid dien om die kwade weelde en verkeerde aangaan van skuld te weerstaan.
Ons moet as Christen die Bybel bestudeer om ons hele lewe so te bestuur dat God sentraal daarin staan. Laat ons dit nie nalaat in ons ekonomiese optrede nie, want dit is deel van ons lewe op aarde as Christen.